Figuur op geldnoot van LesothoLesotho—sy hulpbronne en minerale


Koninkrykie in die berge…


Kaart wat die ligging van Lesotho binne-in Suid-Afrika aantoonVASGEKLUISTER in die binneland van die vooruitstrewende Suid-Afrika is een van die armste landjies op die hele aardbol: die veel minder ontwikkelde Lesotho, waarvan ’n hele twee derdes uit bergland bestaan. Hier woon, volgens die jongste raming, ’n rapsie meer as twee miljoen mense. Maar volgens een bron is die mense van Lesotho se lewensverwagting by geboorte ’n skamele 34,4 jaar (teenoor 42,73 jaar vir alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika, 77,85 jaar in die VSA en 78,54 jaar in Brittanje).

Bewerkbare grond is uiters skaars in hierdie enklave, minerale hulpbronne is beperk en die land se waardevolste hulpbron is water. Die berge in Lesotho vorm dan ook inderdaad die belangrikste waterskeiding in Suidelike Afrika. Dit is waarom een van die wêreld se grootste en ingewikkeldste ingenieursprojekte in hierdie verarmde gebied onderneem word.

Malealea-nedersetting in Lesotoho-hooglandReeds in 1986 is ’n ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Lesotho gesluit vir ’n ambisieuse projek om water uit die Malutiberge na die Vaalrivier-opvanggebied in Suid-Afrika te herlei. Die Lesotho-Hoogland-waterprojek van miljarde rande sou die bou van ’n reeks tonnels en damme behels om water van Lesotho na die provinsie Gauteng te bring, na die hartland van Suid-Afrika se nywerhede. Lesotho sou op sy beurt enorm baie baat vind by die verkoop van die water.

Die Katsedam, die hoofdam van die projek, sou uiteindelik ’n kolossale watermassa word—die damwal ’n yslike 180 m hoog en die kruinlengte daarvan 685 m [FOTO REGS ONDER]. Die Katsedam is voltooi en daar word nou gewerk aan die tweede dam in die veeldammige skema, die sogenaamde Mohale. (Miskien sal jy ook onthou Katsedamdat die Katsedam ’n klompie jare gelede in die nuus was toe ’n helikopter van die Lesotho-weermag met ’n filmspan dramaties in die dam neergestort en twee mense verdrink het. Meer onlangs, in die lente van 2006, was die dam voller as vol en het ingenieurs angstig gekyk of die damwal sou hou. Dit het.)

Die Lesotho-Hoogland-waterskema is ’n langtermyn-projek wat oor baie jare moet strek. Maar die projek word ongelukkig ook deur allerhande onbeantwoorde vrae omgeef. Byvoorbeeld: wat sal die invloed daarvan op die omgewing wees? Sal die damme nie dalk toeslik nie? Wat sal die uitwerking laer af wees op die oewerbewoners van ’n Oranjerivier waarvan die helfte van die water weggekeer word?

Hoe ook al, die grawende masjiene dreun voort om dele van Lesotho in mere te verander...

Hoe die Katsedam die Lesotho-landskap verander hetREGS: Twee foto’s vanuit die ruimte wat duidelik toon hoe die Katsedam die Lesotho-landskap verander het. Waar daar in 1989 net barre berge was, sprei die water in 2001 soos ink uit oor die terrein.

Krediet: Earth Obervatory / NASA

Maar water is darem nie die enigste hulpbron in hierdie ingeperkte bergkoninkrykie nie. Gelukkig is hier ook sekere minerale—’n besonder nuttige bate, want die ekologie is uiters broos weens die bergagtigheid, die dun grondlagie en die beperkte plantbedekkings. Hoewel 86 persent van die land se plaaslike werkers steeds ’n bestaan uit die uitgeputte en verspoelde grond probeer maak met die verbouing van mielies, sorghum en koring (en die teel van onder meer skape en beeste) moet party Sotho's noodgedwonge na ander weë soek om hul beursies (en kinders se honger mae) te vul.

Mineraleproduksie het tot dusver egter nie ’n beduiende deel van die ekonomie gevorm nie en het tussen 1995 en 2001 maar sowat drie persent tot die totale binnelandse produk bygedra. Ambagslui het wel ’n klein bietjie klei, sand en gruis vir plaaslike verbruik geproduseer. Die kommersiële belangstelling in die mineralehulpbronne van Lesotho was tot diamante beperk. En toe kom die uraan-vonds…

Uraan-neerslae wat gevind is naby Teyateyaneng, sowat 50 km noordoos van die hoofstad Maseru, kan Lesotho se ekonomie ’n geweldige hupstoot gee... mits die neerslae natuurlik ontginbaar is. Feite hieroor is ongelukkig egter baie skraps en volgens een bron is die neerslae nie juis veel werd nie.

Sotho-boerMaar wat die diamante aanbetref: in die afgelope jare is tientalle kimberlietpype en ander diamantdraende plekke in die noorde geïdentifiseer. Groot dele van die landjie bestaan uit vloeiinge van basalt (harde, vulkaniese klip) wat deur die vulkaniese uitbarsting van die Drakensberge neergelaat is. Die kimberlietpype en -intrusiegange dateer uit die sogenaamde Kryt-tydperk, aan die einde waarvan die dinosourusse van die aarde af verdwyn het.

Die opbloei van ’n diamantbedryf sal beslis hoop bied vir baie Sotho-mynwerkers wat vroeër werk in die Suid-Afrikaanse goudmyne gehad het maar noodgedwonge afbetaal is.

Miskien is dit juis ’n onblusbare optimisme wat Lesotho help staande hou. Ook op sy betreklik nuut aanvaarde landsvlag is daar ’n groen baan wat die "groenigheid" van die gebied voorstel—verspoelde donga-land ofte nie.

Nou ja, wie weet... met sy opgegaarde water, sy diamante en miskien-miskien sy uraan kan Lesotho in die 21ste eeu dalk meer vermag as wat baie pessimiste reken. Vir Suid-Afrika, wat swaar help dra aan die laste van sy baie hulpbehoewende klein buurman, sal so iets natuurlik die mees onverwagte bonus wees.

Sneeupatroon op die berge van Lesotho

Sneeupatroon op die berge van Lesotho

 

 

LINKS: Dramaties belyn in wit, kontrasteer die ontydige sneeu wat in die lente van 2001 op die bergwêreld van Lesotho geval het, met die bruin landskap van ’n betreklik droë Suidelike Afrika. Rooi kolletjies soos dié wat regs bo op hierdie ruimtefoto gesien kan word, dui op brande.

 

Detail van ’n foto verkry van Visible Earth / NASA


Moshoeshoe IMoshoeshoe I

LINKS: Moshoeshoe I.

MOSHOESHOE I (uitgespreek Mo-sjwe-sjwe) was die Morena e Moholo of Groot Koning en grondlegger van die Suid-Sotho-volk.  Gebore omstreeks 1786 in Menkhoaneng in die noordelike deel van die teenswoordige Lesotho, was hy die oudste seun van 'n mindere stamopperhoof. Hy was iets in die dertig toe hy sy eie stamgroep gevorm en die opperhoof daarvan geword het.

 

Moshoeshoe het die beheer verkry oor verskeie groepe Sotho-sprekers wat deur die mfecane verstrooi is. Die mfecane (in Sotho bekend as die difaqane) was ’n tydperk van oorlogvoering en gedwonge verhuisings van Suid-Afrikaanse volkere wat deur die miltante Zoeloekoning Shaka begin is. Dit het van 1818 tot 1840 geduur.

 

Onder Moshoeshoe se vindingryke leierskap het hy en sy volgelinge uitgewyk na die berg Thaba Bosiu, wat maklik teen aanvallers verdedig kon word. Van hier af het hy sy bergkoninkryk uitgebou.

 

Die heerskappy van Moshoeshoe het ook saamgeval met die Groot Trek toe duisende Boere vanuit die oostelike grensgebiede van die Brits-beheerde Kaapkolonie oor die Oranjerivier getrek het. Gevegte en twiste oor veral grondgebied het eers geëindig nadat Moshoeshoe hom tot koningin Victoria van Brittanje gewend het en die destydse Basoetoland in 1868 tot ’n Britse protektoraat verklaar is. In 1869 het die Boere en Britte ’n verdrag onderteken waarin die grense getrek is van die land wat byna ’n eeu later Lesotho genoem sou word—met Basoetoland se onafhanklikwording op 4 Oktober 1966.

 

Moshoeshoe I is op 11 Maart 1870 oorlede. Sy nagedagtenis word jaarliks op sy sterfdag gedenk, wat ’n nasionale vakansiedag in Lesotho is.

 

Die land het vandag steeds ’n koning, te wete Letsie III (gebore 1963), wat sy pa, Moshoeshoe II, opgevolg het. Die koning het egter glad nie meer die absolute mag soos van ouds nie, want die eintlike mag is gesetel in 'n demokraties verkose regering—’n regeringsvorming wat bekend staan as ’n konstitusionele monargie.
 


Lesotho se nuwe landsvlag

Nuwe Lesotho-vlag’n NUWE landsvlag [REGS] vir Lesotho is op 4 Oktober 2006 aanvaar, ná toenemende eise dat die vorige een (wat in 1987 ná ’n staatsgreep in gebruik geneem is) vervang moes word.

Die aanvaarding van die nuwe vlag het saamgeval met die veertigste herdenking van die land se onfhanklikheid. Dié vlag, met sy horisontale blou, wit en groen bane, vertoon ’n swart mokorotlo (tradisionele Sotho-hoed) op die wit baan.

Eerste Lesotho-vlagBogenoemde is die derde landsvlag van Lesotho in sy vier dekades van onafhanklikheid. Die eerste vlag [LINKS] is op 4 Oktober 1966 in gebruik geneem toe die protektoraat Basoetoland sy onafhanklikheid van Brittanje verkry en Lesotho geword het. Die mokorotlo op daardie vlag was in wit op blou, met smal vertikale groen en rooi bane links (teenaan die vlagpaal). Die kleure van die regerende Basutoland National Party is in dié vlag gebruik. 

Lesotho-vlag ná staatsgreepOp 20 Januarie 1987 is die tweede landsvlag [REGS] in gebruik geneem, nadat die regering van die Basutoland National Party die vorige jaar in ’n staatsgreep omver gewerp is. Die vlag het uit drie oorhoekse stroke bestaan: wit (vir vrede), blou (vir reën) en groen (vir voorspoed), met ’n silhoeët van ’n skild, spies en knopkierie op die wit strook, wat daarop gedui het dat die klein landjie gereed sou wees om homself te verdedig. 

Die derde (huidige) vlag sou na berig word die bergkoninkie se strewe na vrede versinnebeeld. Die tweede landsvlag was in elk geval ’n twisappel, nie die minste nie sedert die militêre regering in 1993 weer die mag aan ’n demokratiese regering oorhandig het.
     


  
Die bergkoninkrykie in ’n neutedop

Lesotho-kaartHoofstad: Maseru, aan die Caledonrivier, 130 km oos van Bloemfontein.
Oppervlakte: 30 355 vk. km.
Onafhanklikheid verkry: 4 Oktober 1966 (van Brittanje).
Bevolkingstal: 2 022 331 (raming vir Julie 2006).

Etniese groepe: Sotho 99,7%; Europeërs, Asiate en ander 0,3%.
Godsdienste: Christelik 80%, inheemse gelowe 20%.
Tale: Sesotho (Suid-Sotho), Engels (amptelik), Zoeloe, Xhosa.
Natuurlike hulpbronne: water, saai- en weigrond, ’n hoeveelheid diamante en ander minerale.
Werkkragte:
86% van die bevolking wat nie in Suid-Afrika werk nie, is aangewese op broodwinning met vee en gesaaides op die karige landbougrond, terwyl 14% met vervaardiging en dienste gemoeid is. Om en by 35% van die aktiewe manlike broodwinners werk in Suid-Afrika.
Geldstelsel: 1 loti (L) = 100 lisente; let wel—maloti (M) is meervoudsvorm van loti. Suid-Afrikaanse geld kan ook in kooptransaksies gebruik word. Die rand en loti is op gelyke voet.

     Lesotho-kaart : Amerikaanse CIA se World Factbook (openbare besit — “public domain”)

Mokorotlo (Sotho-hoed) en die spitskop wat as “model” daarvoor dienFototjie heel regs van Qiloane is ’n baie verkleinde weergawe van ’n foto deur Martin Schärli, wat kopiëring in die Duitse weergawe van die vrye Wikipedia-ensiklopedie vergun ingevolge die GNU Free Documentation License, weergawe 1,2 of later 

Spiraal-aalwyn  
BO: Die spiraal-aalwyn (Aloe polyphylla) is ’n bedreigde inheemse plant van die Malutiberge in Lesotho. Dit groei in rotsskeure hoog in die berge en is die enigste alpiene lid van die genus Aloe. Redes vir sy skaarste is sy gewildheid by plantversamelaars, die geloof dat dit medisinale waarde het en die feit dat sy bestuiwende suikerbekkie-voëltjie, die jangroentjie, ook al hoe minder gesien word.
 

Foto: U.S. Botanic Garden


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad