|
AAT die water in die toilet spoel, of trek die
prop van jou bad uit. Laat die skottelgoed- of wasgoedwater in die
riool wegloop. Die vuil water verdwyn. Maar verdwyn dit regtig?
Nee, ongelukkig nie, besoedelde water kan nooit net “wegraak” nie.
Inteendeel, dit laat ’n spoor van dood en skade agter waarheen dit
ook al vloei.
Jou eie aandeel aan waterbesoedeling met jou gewone huishoudelike
werksaamhede is miskien nie so groot nie. Maar die grootste
besoedeling vind plaas wanneer mense water bevuil met dinge soos
fabrieksafval, landbou-chemikalieë, olie en rommel. Rioolvuil wat
nie deur owerhede korrek hanteer word nie, is ’n ewe groot probleem.

BO: Waterbesoedeling
bring die dood...
Foto: Center for Coastal
Environmental Health and Biomolecular Research / NOAA
REGS:
’n Oranje riviertjie, maar darem nie die Oranjerivier van ons eie
wêrelddeel nie! Só ’n oranje neerslag kan voorkom by waterlope wat
deur suur water uit myne besoedel word.
Foto: U.S. Geological Survey
Fabrieke en myne
FABRIEKSAFVAL en
afvloeiings uit myne kan groot skenders van die omgewing wees as die
nodige maatreëls nie getref word om besoedeling te voorkom nie. Die
afvalwater van fabrieke bevat byvoorbeeld giftige chemikalieë soos
kwik, koper, lood, sink en arseen, wat in ons waterlope kan beland.
Dan is daar ook nog swawel- en stikstofoksiede, wat gevorm word
wanneer fabrieke, kragsentrales en motors fossielbrandstowwe
verbrand en wat mettertyd, in die teenwoordigheid van ander
besoedelende stowwe, in vretende sure verander. Hierdie sure beland
dan as suurreën in riviere en mere. (Kyk die artikel oor
lugbesoedeling).
Suurreën kan ’n meer se plante- en dierelewe grootliks vernietig. In
die Noordelike Halfrond is salms en forelle al in hul menigtes op
hierdie manier doodgemaak.
Rioolvuil
RIOOLVUIL is ’n mengsel van
menslike uitskeiding, water wat vir bad, stort en was gebruik is en
ander stowwe wat in afvoerpype afgespoel is, asook afvalwater van
fabrieke wat nie op ander maniere van hul afval ontslae raak nie.
Die ideaal is dat rioolvuil by ’n rioolaanleg behandel moet word
voordat dit byvoorbeeld in die see gestort word—’n behandeling wat die natuurlike prosesse vir die afbreking van die afval versnel.
Alle rioolvuil word egter nie behandel nie. Klein hoeveelhede
onbehandelde rioolvuil kan wel deur bakterieë afgebreek word, maar
groot hoeveelhede is rampspoedig vir die omgewing.
Dis ’n soort bemestingstof vir alge, wat dan wild aan die groei
gaan. En wanneer die alge doodgaan, is die water des te meer
besoedel.
Die bakterieë wat die afval opbreek, gebruik soveel suurstof dat
die visse vrek. Dik lae alge keer dat lig die water binnedring,
sodat fotosintese nie by die waterplante kan plaasvind nie en kos
nie vir waterdiere geproduseer kan word nie.
Virusse en bakterieë in rioolvuil besmet watervoorrade en strande,
wat dodelike siektes soos ingewandskoors, cholera en disenterie
veroorsaak.
Bepaalde reinigingsmiddels, ensieme en bleikmiddels in waspoeiers is
ook ’n besoedelingsgevaar. Fosfate wat by waspoeier gevoeg word om
te keer dat skuim vorm, is een van die groot sondaars.
Landbou
’N DERDE groot bron van
waterbesoedeling is die plaagdoders, kunsmis en onkruidmiddels wat
boere in hul boorde en landerye gebruik. Wanneer dit reën, beland
hierdie chemikalieë in spruite en riviere, en uiteindelik in die
see.
DDT is ’n besondere probleem. Dit kos net een deeltjie DDT in baie,
baie miljoene dele water om sekere visse en garnale dood te maak.
Die mis van diere kan ook strome besoedel, veral op plekke waar vee
saamgebondel word.

BO: Olie op die rotse.
Foto: NOAA
Olie
VREEMD genoeg, maar daar is
al verklaar dat tenkskip-ongelukke nie die grootste bron van
oliebesoedeling is nie, dog wel skepe en raffinaderye wat met opset
olie in die see stort. Hoewel daar streng wette daarteen is, gebeur
dit nog.
Oliestorting is ’n hoogs sigbare en verwoestende soort besoedeling.
Seevoëls is onder die eerste slagoffers. Hulle raak so besmeer dan
hulle nie meer kan vlieg nie, en versmoor dan in die olie of
verdrink. Of hulle vergiftig hulself wanneer hulle hul vere met hul
snawels bestryk.
Watersoogdiere soos otters en robbe kan op die water dryf en bly
warm danksy lug wat in hul pelse vasgevang is. Olie vernietig die
pelse se waterdigting en isolering, en die diere verdrink of vrek
van die koue.
Rommel
DIE see het ’n alte
gerieflike stortplek vir die mens se vullis geword. Elke jaar beland
miljoene der miljoene tonne afval in die oseane—vanuit skepe, maar
ook as gevolg van rommelstrooiery op die land.
REGS:
Bourommel, plastiek en ander gemors op ’n strand.
Detail van foto deur Annette L. Olson /
NBII / U.S. Geological Survey
Plastiekbesoedeling, veral, is onrusbarend.
Sakkies, houers en hoeveel ander dinge van plastiek verstrengel die
seediere, of hulle vreet dit in die waan dat dit kos is. Dan vrek
hulle van verstopping of vergiftiging. Suid-Afrika se betreklik nuwe
inisiatief om die verspreiding van plastieksakke te beperk, is
daarom des te lofwaardiger.
Ook nette wat byvoorbeeld vir tunavangste gebruik word, raak
baiemaal soek in die see. Allerhande seediere raak daarin verstrik
en die verwoestingswerk eindig eers wanneer die nette so swaar
gelaai is van die dooie diere dat hulle na die seebodem toe afsink.
Die stryd teen waterbesoedeling
DIE besoedeling van die see
moet by sy bron vasgevat word—wat meestal op die land is. Owerhede
moet strenger beheer uitoefen oor besoedeling en fabrieksafval, en
beter maatreëls tref met rioolvuil.
Daar is baie wat ons self kan doen om waterbesoedeling te bestry.
Gooi eerder skadelike stowwe in houers en plaas hulle in jou
vullisblik as om hulle in die rioolpype te laat wegspoel. En as jy
van fabrieke weet wat willens en wetens ons waters besoedel, meld
dit dadelik aan. Jy kan desnoods weier om hul produkte te koop as
hulle daarmee volhard.
Hou ook ons spruite, riviere en damme skoon as jy gaan piekniek
maak, en laat dit vir jou ’n eer wees om nooit rommel te strooi nie.
Waterbesoedeling in ’n
neutedop
BAIE van die mens se doenighede veroorsaak
waterbesoedeling en skend die omgewing. Plaagdoders wat op gewasse
gespuit word, kan deur reën in riviere ingespoel word. Swaar reën
kan die bogrond laat wegspoel van landerye wat ontbos is. Die grond
raak armer en riviere kan toeslik. In koue lande word miljoene tonne
sout in die winter op paaie gegooi om die ys te laat smelt. Die sout
spoel in riviere in en is skadelik vir die natuurlewe.
Huise is vol chemikalieë wat ironies genoeg juis vir reiniging
gebruik word. Rioolvuil vloei onbehandel see toe en besmet die
gety-slik. Kombuisafval veroorsaak ’n toksiese afvloei. Die
deursypeling van fabrieksafval wat begrawe is, is gevaarliker. Party
fabrieke stort hul afval selfs regstreeks in riviere in.
Plaagdoders en van die bemestingstowwe wat boere gebruik, bevat
baiemaal gevaarlike besoedelende stowwe. Intensiewe veeboerdery
veroorsaak ’n opeenhoping van mis, wat in riviere beland en dit
besmet. Rioolvuil wat deur skepe in die see gestort word, bevat
chemikalieë wat in die see se voedselketting beland. Baie visse wat
deur mense geëet word, bevat spore van hierdie stowwe.
|