Besoedeling (hoofstuk 1): Lugbesoedeling

Ons versmorende wêreld

 

Skoorstene pomp rook die lug in Elke jaar word baie miljoene tonne lugvullis in die atmosfeer ingepomp. In stede regoor die aarde verstik die mense—sterf selfs—in die vuil, wasige uitskot van hul ontelbare masjiene en fabrieke. Woorde soos aardverwarming en die kweekhuis-effek het deel van die alledaagse woordeskat geword. Hoe kan lugbesoedeling dan beheer word?
    
     Foto: U.S. National Intitutes of Health

Ander hoofstukke in hierdie reeks:

2) Waterbesoedeling           3) Grondbesoedeling

  Of klik hier vir ’n ander Mieliestronk-artikel oor die verskillende soorte besoedeling—’n afsonderlike artikel wat nie ’n deel van hierdie reeks uitmaak nie


  Lugbesoedeling—bronne, uitwerkings en ander prosesse wat daarby betrokke is
Lugbesoedeling, sy gevolge en die prosesse wat daarby betrokke is

DIE U.S. Environmental Protection Agency (EPA) is ’n agentskap van die Amerikaanse federale regering wat gemoeid is met die welsyn van die mens en die beskerming van sy natuurlike omgewing—die lug, water en land. Die treffende EPA-illustrasie HIERBO is van:

bepaalde bronne van lugbesoedeling;
  voorbeelde van waar dit uitwerkings op die aarde het;
 hoe vuil lug weggevoer kan word, chemies en fisies kan verander of skadelike be­standdele in die lug verstrooi kan word;
en hoe skadelike stowwe in die lug uiteindelik weer op die aarde kan beland saam met reën of om as droë afsettings neer te sif.

Let op dat weerlig ook as ’n “besoedelingsbron” aangedui word. Wat gebeur, is dat weerlig die aard van die gasse in die lug kan verander en sodoende chemikalieë skep wat potensieel skadelik kan wees. Ook vulkane pomp allerhande giftige gasse en rook in die atmosfeer. Maar sulke prosesse is natuurlik en vorm deel van kringlope wat uit­eindelik voordelig vir die lewe op aarde is (kyk kassie verder ondertoe). Besoedeling deur menslike bedrywighede kan egter die ewewig sodanig versteur dat die wanbalans tot ekologiese rampe lei.

Grond veroorsaak ook lugbesoedeling waar byvoorbeeld fyn stof en sand deur winde in die lug ingewaai word. Dit kan die gevolg wees van droogtes, maar ook van menslike bedrywighede—waar mense toegelaat het dat die omgewing as gevolg van hul doe­nighede agteruitgegaan het en die grond as.’t ware tot stof vertrap is.

Die menslike longe moet vuil lug uit verskillende bronne hanteer

BO: Die menslike longe moet vuil lug uit verskillende bronne hanteer...

Illustrasie: U.S. Centers for Diesease Control and Prevention


Is die huidige aardverwarming nie bloot die gevolg van vulkaniese uitbarstings wat die lug besoedel nie?

ELKEEN wat al ruimtefoto’s gesien het van die massiewe aswolke wat vulkane op die aarde uitspoeg, kan maklik wonder of vuurspuwende berge dan nie meer tot die swawel- en koolgasse in die atmosfeer bydra as wat al ons motors en steenkoolkragsentrales kan hoop om te doen nie.

Dit is inderdaad so dat die vrystelling van koolstofdioksied weens menslike bedrywighede klein is as ’n mens dit met natuurlike bronne vergelyk,  reken die geleerdes. Maar die natuurlike emissies word al sedert die verre, gryse verlede van ons planeet ook natuurlikerwys verwerk sodat die samestelling van die atmosfeer deur al die baie, baie eeue nog deurentyd in ewewig gebly het.

Die mensdom se verbranding van fossielbrandstowwe veroorsaak egter ’n onrusbarende wanbalans.

Dit is dáár waar die probleem lê van lugbesoedeling wat tot aardverwarming lei, word gemeen.
 

 

P

ANDORA was volgens die Griekse mitologie die wêreld se eerste vrou. En—só lui die mite verder—sy is geskape as ’n straf vir die manne. Juis om dié rede is Pandora met vele pragtige gawes bedeel om haar onweerstaanbaar te maak.

Maar sy sou ook uit nuuskierigheid Zeus se huweliksgeskenk, ’n kis of ’n boks, oopgemaak het, waaruit allerlei rampe vir die mensdom ontsnap het. Vandag nog, wanneer daar van die “oopmaking van ’n Pandorakis” gepraat word, word ’n daad of dade bedoel waaruit eindelose probleme of ellende of onvoorsiene moeilikhede voortvloei.

Met die koms van Industriële Revolusie in die 1700’s en vroeë 1800’s, het dit gelyk of die mensdom se manier van lewe ten goede sou verander. Maar met verloop van tyd was daar hoë skoorsteenpype wat wolke van giftige gasse in die atmosfeer opgerisp het; fabrieke het toksiese afval in riviere en spruite gestort; later het motors ook nog bygekom en die lug met hul dampe besoedel.

Die ontwikkeling van nywerhede en die tegnologie het, soos die kis van Pandora, ook baie onvoorsiene moeilikhede geskep, waarvan besoedeling beslis nie die minste is nie.

(Dit bly nietemin ironies dat die kis of boks van Pandora toe al die tyd geen kis was nie, maar ’n kruik! ’n Foutiewe vertaling in die sestiende eeu van die Griekse woord vir kruik het veroorsaak dat mense tot vandag toe ’n verkeerde weergawe van die oorspronklike mite geleer word.)

Erge lugbesoedeling deur ’n aanleg

BO: Die geweldige lugbesoedeling by ’n aanleg voordat toerusting geïnstalleer is om te keer dat hoogs skadelike swaweldioksied en rookdeeltjies in die atmosfeer ingepomp word.
   

Foto: U.S. National Park Service (deel van oorspronklike weggesny)
   

Bronne van lugbesoedeling

DIE besoedeling van die lug word meestal deur die verbranding van fossielbrandstowwe soos steenkool, petrol en olie veroorsaak.

Fabrieke (nywerhede), wat verskillende soorte stowwe vrylaat, is kennelik een van die grootste bronne van besoedeling. Olieraffinaderye laat byvoorbeeld ammoniak, koolwaterstowwe, organiese sure en swaweldioksied vry.

Vervoermiddels soos motors, vliegtuie, treine en skepe is ander belangrike besoedelaars. In die dampe van motors se uitlaatpype is skadelike gasse soos koolstofmonoksied, koolwaterstowwe en stikstofoksiede.

Deur die werking van die sonlig op stikstofoksiede word weer osoon (giftige verdigte suurstof) gevorm. Dié gas kom ook natuurlikerwys in die atmosfeer voor en is ’n belangrike sonfilter in die luglae doer bo, maar hier vlak by die aarde is dit ’n besoedelende stof. Saam met koolwaterstowwe vorm osoon die bekende rookmis.

Ook die tetra-etiel-lood wat by petrol gevoeg word, word deur uitlaatpype vrygelaat en hoop in die atmosfeer op. (Geloodte petrol word gelukkig tans deur die meeste lande uitgefaseer. Die praktyk van ontloding is ook deur wetgewing in Suid-Afrika vasgelê, met baie goeie gevolge.)

Die verhitting van huise, kantore en fabrieke verhoog eweneens die besoedelingsvlak in stede, of dit nou deur middel van die verbranding van steenkool, olie of hout of met elektrisiteit geskied.

Wanneer fossielbrandstowwe verbrand word, word die swawel wat natuurlikerwys daarin voorkom, in swaweldioksied omskep. Hierdie gas beland in die atmosfeer. Vlamme met hoë temperature verander die stikstof in die lug in stikstofoksiede.

Hierdie verskillende oksiede reageer soms met die water en ander stowwe in die atmosfeer om sure te vorm. Suurvormende gasse en deeltjies kan op die aarde neersif wanneer daar geen reën is nie, of saam met reën, sneeu of mis—’n verskynsel wat suurreën genoem word.

Winde dra dikwels die suurbesmettings honderde kilometers ver, sodat die skade ver van die bron van besoedeling aangerig word.

Ook wanneer groot gemeenskappe se vullis verbrand word of massas bosse weggebrand word om vir landerye plek te maak, word die lug bevuil. Nog ’n gevaar is die sproeigif wat in die lug beland wanneer vrugte of gesaaides bespuit word.


Gevolge van lugbesoedeling

DIE mees klaarblyklike gevolg van lugbesoedeling is dat skoon, vars lug in stink en bedorwe, wasige lug verander word. Sekere weersgesteldhede vererger die toestand.

’n Termiese inversie—wanneer ’n laag warm lug oor ’n laag koeler lug lê en verhinder dat die koeler lug styg—keer dat besoedelende stowwe opstyg en versprei. Wanneer ’n termiese inversie oor ’n stad voorkom, kan dit ’n ernstige besoedelingsgevaar skep.

Lugbesoedeling kan ook die weer beïnvloed deur die temperatuur te verander. Deeltjies in die lug versprei die sonstrale en verminder die hoeveelheid sonlig wat die aardoppervlak bereik, met ’n gevolglike verlaging in die temperatuur. Daarteenoor keer gasse soos koolstofdioksied weer die son se hitte in die atmosfeer vas—die sogenaamde kweekhuis-effek.

Nog ’n ernstige gevolg van lugbesoedeling is die skadelike uitwerking wat dit op mens en dier se gesondheid het. Onder die kwale wat dit kan meebring, is irritasie van die oë en longsiektes soos asma, longontsteking en brongitis, en selfs kanker en emfiseem.

Lood in die lug word ingeasem en beland uiteindelik in die bloed, waar dit maagpyn, hoofpyn, irritasie en selfs die dood kan veroorsaak. Selfs uiters lae loodvlakke kan die breine van kinders beskadig.

Besoedelde lug is ook skadelik vir plante. Suurreën rig groot skade aan in Europese en Noord-Amerikaanse woude en by gesaaides, weens die vernietiging van die bas en blare (of naaide) van die plante.

Nie net word die groei belemmmer nie, maar die plante kan ook nie slegte weer en die aanslae van insekte en siektes so goed verduur nie.

Suurreën is egter nie net skadelik vir al wat leef nie. Selfs harde stowwe soos beton en staal loop deur. In party stede is geboue en monumente wat duisende jare lank die tand van die tyd weerstaan het, besig om onder die byt van lugbesoedeling te verkrummel.


Hoe lugbesoedeling beheer kan word

HOEWEL die probleem van lugbesoedeling steeds ernstiger word, is daar deesdae doeltreffende maniere om dit te verminder.

Daar is byvoorbeeld metodes om die swawel uit steenkool en olie te verwyder voordat dit verbrand word, waardeur minder rook afgeskei word. Fabrieke, verbrandingsoonde en kragsentrales kan met spesiale toerusting die lugbesoedeling verminder.

Besoedeling deur motorvoertuie kan beheer word deur die gebruik van skoner brandstowwe, aanpassings in die maniere waarop die masjiene werk en bepaalde flltreerders in die uitlaatstelsels.

Dis egter ’n duur saak om bestaande tegnieke deur nuwes te vervang. Party industrieë het eenvoudig nie die geld daarvoor nie of is traag om geld daarvoor te bewillig—en die publiek moet dikwels eers kla of betoog voordat beter beheermaatreëls ingestel word.

’n Belangrike bydrae wat ons almal kan lewer, is om altyd bewus te wees van enigiets wat die lug vuiler kan maak. Elkeen kan sy deel doen om te help veg vir ’n gesonder atmosfeer.

 

Blare van die spekboom

 

BO: Suid-Afrika se een tasbare bydrae tot die bekamping van die oormatige koolstofdioksied wat die mensdom in die atmosfeer inpomp, is—glo dit—massiewe aanplantings van die nederige inheemse vetplant wat as die spekboom bekend staan. Die spekboom (Portulacaria afra), ’n bekende plant in die Oos-Kaapse veld, staan ook bekend as olifantskos en kan hoër staan as wat ’n lang mens lank is. Wild vreet graag die sappige blare, maar die plante kan beweiding goed weerstaan. Daar is wetenskaplik vasgestel  dat die spekboom verstommende vermoëns het om koolstof te berg, danksy metings op die plaas van mnr. Graham Slater naby Uitenhage. Hoewel die reënval daar nie te waffers is nie, is gevind dat elke hekaar op die plaas jaarliks 4,2 ton koolstof opneem, vergelykbaar met plante in vogtige, subtropiese woude. Daar is gevolglik besluit om spekboom op duisende hektare grond te hervestig. ’n Mens skiet nie spek as jy sê dat Suid-Afrika goed bedeel is met sowel besonderse plante as vindingryke mense nie!
 

Foto deur Erin Silversmith,
Dit verskyn op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web waar gebruik vergun word ingevolge die GNU Free Documentation Licence, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe soos gepubliseer deur die Free Software Foundation

 


Meer oor fabrieke se bydrae tot lugbesoedeling

SWAWELDIOKSIED (SO2) en oksiede van stikstof (NO of NO2) word deur fabrieke en ander menslike werksaamhede in die atmosfeer vrygelaat. Dit beland óf net so op die grond, op plante en in panne en damme óf, indien hierdie gasse lank genoeg in die atmosfeer bly, verbind dit met waterstof en gaan in oplossing as sure.

Die sure los gewoonlik in die druppeltjies van wolke op en kan groot afstande aflê voordat hulle uiteindelik as suurreën op die aarde val.

Koolwaterstowwe wat byvoorbeeld deur die uitlate van motors vrygelaat word, sal in sonlig met stikstofoksiede reageer om osoon naby die aardoppervlak te vorm. Dit kan asemhalingsprobleme veroorsaak en ook die vorming van suurreën bespoedig.

Wanneer suurreën op die grond val, word die swaar metale en aluminium daarin opgelos. Wanneer dit in damme inspoel, kan die aluminium visse irriteer, hul kieue deur slym laat verstop en hulle uiteindelik doodmaak.

Namate ál meer suurreën in ’n dam val of daarin vloei, daal die pH van die water. Water wat glad nie suur of alkalies is nie, het ’n pH van 7, en met elke punt wat die pH daal, het die suurinhoud tienvoudig vermeerder.

Naderhand vrek die waterdiere, soos visse en krappe. Al wat oorbly, is ’n watermassa met ’n welige tapyt van groen alge.

 

Wolk van stikstofdioksied weens beheerde ontploffing by oop steenkoolmyn

BO: ’n Onheilspellende rooibruin wolk van hoogs gekonsentreerde en erg giftige stikstofdioksied (NO2) vul die lug weens ’n beheerde ontploffing by ’n oop myn waar daar vlak by die oppervlak na steenkool gedelf word. Stikstofdioksied is een van die berugste lugbesoedelende gasse.

Foto: U.S. Centers for Disease Control and Prevention

  

Jy is nou by hoofstuk 1
Klik onder op die skakel van jou keuse na ’n ander hoofstuk in hierdie reeks:

2) Waterbesoedeling           3) Grondbesoedeling

  Of klik hier vir ’n ander Mieliestronk-artikel oor die verskillende soorte besoedeling—’n afsonderlike artikel wat nie ’n deel van hierdie reeks uitmaak nie

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad