Haal die rk uit die snork!

Wat om te doen as jy of jou geliefde snags brul soos 'n bees...

D

AARS verskeie variasies van die naarste geluid op aarde     luister maar net na jou eie geliefdes in die middel van die nag. Pa snork soos n woer-woer, Ma gons soos n heuningby en Oupa saag balke dat die huis se dak amper lig. Selfs in die tienerkamer tril die kleintongetjies soos histeriese klepels in die donker.

Een rasende geronk van inkruiptyd tot sonop!

Snork is so oud as wat slaap self is, en is in talle grappe verewig, maar vir baie slagoffers van die geroggel is dit hoegenaamd niks om oor te lag nie.

Vyf-en-veertig persent van alle grootmense snork ten minste af en toe, vertel die dokters, en 25 persent is gewoonte-snorkers. Probleemsnorkery kom meer by mans en vet mense voor, en dit raak gewoonlik erger namate die lyers oud word.

Daar is verskeie redes waarom party mense snork en ander nie. Snork vind primr plaas wanneer n mens se keelspiere te erg ontspan terwyl jy slaap en jy dan probeer asemhaal deur n vernoude opening agter in jou keel. Dit laat die sagte verhemelte vibreer. Maar as n mens dieper op die aandoening ingaan, is daar eintlik n paar vername oorsake.
   Die belangrikste is inderdaad die kwaai verslapping van die spiere in die tong en keel. Die verslapping kan f deur alkohol veroorsaak word f deur middels wat n mens lomerig maak. Dit kan ook gebeur wanneer n mens diep slaap. Die tong val terug in die lugwe van die keel of die keelspiere beweeg van die kante af in op die lugwe.
   Buitensporige dik keelweefsel. Kinders met groot mangels en adenoede snork dikwels. Vet mense het ook dik nekweefsel. Daarbenewens kan siste en gewasse weefselverdikking veroorsaak, maar dit gebeur gelukkig darem selde.
   n Lang sagte verhemelte of kleintongetjie. n Lang verhemelte vernou die opening van die neus na die keel. Sodra die slaper ontspanne asemhaal, verslap dit tot n raserige, fladderende klep. n Lang kleintongetjie maak sake selfs erger.

   Obstruksie in die lugwe van die neus. Om lug deur n toerige neus in te trek, verg ekstra inspanning. Dit skep n vergrote lugleegte in die keel wat die slap weefsels in die keel laat saamtrek en n mens laat snork. Mense met hooikoors, verkoue of sinusprobleme is dus dikwels geneig om te snork.

Misvormings van die neus of die wand wat die een neusgat van die ander skei, kan eweneens so n obstruksie veroorsaak.

Soveel snorkers soveel diagnoses, beaam n dokter by n groot hospitaal. Vir party mense is dit net n geluid wat hulle maakdit ontstel dalk hul gades, maar dis geen mediese probleem nie. By ander mense is dit werklik n dramatiese worsteling om asem te kry. Dit dui op die sogenaamde obstruktiewe slaapapnee, n ernstige slaapsteurnis.

APNEE-LYERS kry geen volle nag se rus nie. Wat gebeur, is dat hulle regdeur die nag telkens ophou asemhaal net om n n tydjie weer hul asem met n ruk terug te kry. Sodra die suurstof in hul bloed tot n gevaarlike vlak daal, skrik hulle wakker om weer te begin asemhaal. Dis daardie skielike gehyg wat n mens soms hoor by mense wat kwaai snork. Apnee-lyers kan tussen dertig en driehonderd sulke snakke per nag beleef.

Frans Toerien*), n voorstedelike oupa wat ons met hierdie ondersoek raakgeloop het, s hy ken vandag slaapapnee se potensile gevare. 

Jy skrik jou oor n mik as dit met jou gebeur, s hy.

Frans het veertig jaar lank in vrede gesnork totdat sy toestand vererger en hy apnee ontwikkel het. Die slaapsteurnisse het veroorsaak dat hy bedags skielik aan die slaap geraak hetpartykeer in die middel van n gesprek, by die werk en twee keer selfs agter sy motor se stuurwiel.

Die laaste keer was daar drie van ons kleinkinders op die agterste sitplek, vertel sy vrou, Irene. Hyt volgehou hy 


wil bestuur al was ek gereed om dit te doen. Die volgende dag was ons by die dokter.

Toe moes Frans hoor waarmee hy eintlik te kampe het. Navorsers s daar is sterk getuienis dat n swaar gesnork en slaap-apnee n streep kwale kan veroorsaak soos ho bloeddruk, geheueprobleme, verminderde seksuele prestasies en selfs persoonlikheids­veranderings.

Frans sou dit sekerlik al oorweeg het om aan sy keel en verhemelte laat sny. Daar is wel operasies vir apnee-lyers waarin die papperige mond-en-keelweefsels versterk en die lugwe oper gemaak word.

Maar eintlik ontwikkel die tegnieke ook so vinnig dat n mens skaars kan tred hou. Navorsers by Stanford het byvoorbeeld al n revolusionre nuwe tegniek beproef waarin oortollige weefsel agterin die keel met radiogolwe gebombardeer word.

MAAR is daar dan enige algemene raad wat werk vir snork in al sy verskillende vorms?

In Amerika is meer as driehonderd toestelle by die patentekantoor geregistreer wat volgens hul ontwerpers die demper op hortende slaapgeluide kan plaas. Party is blote variasies van die ou raad om n sokkie met n tennisbal daarin aan die rugkant van n slaappak vas te werk en sodoende die snorker te dwing om op sy sy te slaap. (Snorkery is dikwels erger wanneer n slaper op sy rug l.)

Party kontrepsies laat die onderkakebeen vorentoe uitstaan, sommige maak toe neuse oop, n paar ander jaag sulke onaangename prikkels deur die slaper se lyf sodra hy begin snork dat hy glo gekondisioneer mt raak om daarmee op te hou.

Maar die waarheid is dat geen snorker sy snorkery kan beheer nienie met die beste wil ter wreld nie. As die toestelle n mens help om nie te snork nie, reken een dokter, is dit waarskynlik omdat hulle jou wakker hou.

Nie dat mense ooit sal ophou om die magiese elikser teen die nagtelike lawaaimakery te probeer vind nie.

Navorsers aan die Universiteit van Pennsilvani het al selfs probeer vasstel of n sekere chemikalie genaamd serotonin gebruik kan word om Engelse bulhonde te help wat weens hul kenmerkende gesigsvorm geneig is om te snork en aan apnee te ly. Laboratoriumproewe het getoon dat dit die honde se kele oophou terwyl hulle slaap.

Sweef jy op die Internet, word jy ook met n duisternis rate teen snork oorval. Een middel word geadverteer as n volledig natuurlike kruiesproei wat die keel, verhemelte en kleintongetjie smeer met ryke versagtingsmiddels soos amandelolie, olyfolie, sonneblomolie, plus vitamiene B6, C en E. Hierdie spesiaal gepatenteerde liposoom-formule sorg vir mikroskopies klein druppeltjies wat onmiddellik begin werk om tot agt uur lank verligting te bied van die geraas wat met snork geassosieer word.

Zzzzzzzzzz, was een hewige snorker se kommentaar hierop . . .

MAAR met dit alles ges, wat doen n snorker intussenterwyl hy of sy wag op die finale, goue geneesmiddel wat snork vir altyd sal verdelg?

Mense wat gereeld en kwaai snork, moet dokter toe, eerder vroer as later. Di wie se keelgate snags nie te erg en te dikwels aan die bewe gaan nie, kan die volgende wenke met vrug volg:

 *   Leef gesond en oefen genoeg om oortollige gewig af te skud en goeie spierweefsels te ontwikkel. As jy rook, hou op.

 *   Vermy kalmeermiddels en antihistamiene voor slaaptyd.

 *   Moenie binne minstens vier uur voordat jy gaan slaap enige alkohol gebruik of swaar maaltye nuttig nie.

 *   Kweek gereelde slaappatrone aan.

 *   Slaap liewer op jou sy as op jou rug.

 *   Lig die koppenent van jou bed minstens 10 cm. Iemand stel selfs voor dat n mens n groot wig onder die matras plaas wat jy van planke aanmekaarflans.

En lekker slaap!


*) Nie sy regte naam nie

Sodra jy wakker is, kan jy hier klik om na die inhoudsblad terug te keer...