Die verskrikking van sneeustortings

SneeustortingLawine:
wit dood van die hoë berge

Jy het dit moontlik al in die een of ander TV-fliek gesien: die magtige wit verskrikking van ’n tuimelende sneeumassa in die Alpe of elders, wat alles onder hom verpletter en dood en verwoesting saai. Maar wat veroorsaak sulke sneeustortings in hoë, besneeude berglande? En kan enigiets gedoen word om die stortings (ook lawines genoem) te voorkom?

Teks deels uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

D

IS skuins ná sesuur die middag op ’n sekere dag in 1962. Die plek: die Andesgebergte in Midde-Peru. ’n Lae dreuning kom oor die hange aangesidder—soos van ’n trein in die verte. Maar onheilspellend. Dan bewe die berge weens ’n geweldige aardskudding, en klippe, rotse en stukke sneeu en ys tuimel na benede.

Hierna kom die stilte. Die geskokte mense van die Andes hou asem op... hoop met ’n beklemmende vrees dat Moeder Natuur genoeg uiting aan haar woede gegee het. Maar sy het nog maar net begin!

Om 6.13 nm. breek ’n massiewe homp ys en sneeu, wat weens die aardbewing losgekom het, weg van die kruin van Huascarán, die hoogste tropiese berg op aarde. Die reuse-brok snel teen die hange af teen byna 100 km/h en strooi in die proses miljoene tonne ys en puin rond.

Twee minute later, om 6.15 nm., verpletter die sneeustorting die dorp Yanamachico en nabygeleë nedersettings asof hulle speelgoeddorpies is en word 800 mense gedood. Om 6.18 nm. trek hy genadiglik verby die dorp Yangay, maar sekondes later verorber hy Ranrahirca soos ’n honger reus en 2 700 mense sterf.

Wanneer die dodelike tong van ys, sneeu, rotse en ontwortelde bome uiteindelik tot rus kom, het hy 15 km afgelê en lê daar in sy spoor ’n rug van puin byna 20 m hoog. En dit alles in ’n skamele sewe minute!

Dit was een van die ergste sneeurampe in menseheugenis. Sou die berg Huascarán ooit ’n groter ellende kon bring oor die mense wat aan sy voet en teen sy hange lewe? Tóg.

Want net omtrent agt jaar later, in 1970, sterf ’n geraamde 20.000 mense toe nog ’n aardbewing ’n massa gletser-ys en rotse van byna ’n kilometer breed en meer as een en ’n halwe kilometer lank van die berg laat wegbreek. Daarna word dit ál groter namate dit vinnig na benede gly en nog ys, modder en rotse meesleur.

Teen ’n gemiddelde snelheid van meer as 150 km/h snel die dodelike konglomeraat sowat 13 km ver na Yangay, wat die vorige ramp gespaar gebly het. Dié en nog ’n dorp word begrawe.

Eers is ’n breë vallei tot omtrent 90 meter diep met gesteentes en puin bedek. Maar hier sou dit nie ophou nie. Die stortvloed sou verder deur ’n smal vallei bars en oor ’n groot gebied in die laagte uitwaaier om die menigte weerlose mense en al hul huise en aardse besittings in ’n aaklige puin- en ysmodderbad te verswelg.

Die sneeustorting van 1970 teen die berg Huascarán, die hoogste tropiese berg op aarde

SNEEUSTORTINGS. Suid-Afrikaners kan glad nie saampraat met mense in hoë berglande wat gedurig met dié “swaard” van ys bo hul koppe moet saamlewe nie.

Sulke stortings (Engels “avalanches”) word veroorsaak deur ’n onstabiliteit in hoogliggende sneeubedekkings. Wanneer sneeu op berge val, gaan lê dit teen die hange en hoop dit mettertyd op om dik yslae te vorm. Uiteindelik veroorsaak die kombinasie van die gewig van die ys en die aantrekkingskrag van die aarde (swaartekrag) dat ’n deel van die ys wegbreek en as ’n lawine ondertoe tuimel.

Sulke sneeustortings word egter meer dikwels deur die een of ander buitefaktor veroorsaak. Weerstoestande soos sneeustorms, hewige winde of die koms van die lente (wanneer die ys begin smelt) kan sneeu en ys van die berghange laat wegbrokkel.

Die skokgolwe van aardbewings in besneeude berge—soos destyds in Peru—veroorsaak feitlik altyd sneeustortings. Maar enige versteuring—hoe klein ook al—kan ’n sneeustorting aan die gang sit waar dit dreig om te gebeur: die beweging van skiërs, ’n mynontploffing onder in die vallei, ’n vliegtuig wat oor die gebied vlieg, die stemme van mense, ’n diertjie wat oor die berge skarrel, selfs ’n delikate takkie wat op die ys val.

Daar is verskillende soorte sneeustortings en boonop verskillende soorte indelings. Ons kyk na sogenaamde plaat-, natsneeu- en droësneeustortings. ’n Plaatstorting vind plaas wanneer ’n soliede plaat sneeu en ys van ’n hang af wegbreek. Die voorste deel van die plaat verbrokkel terwyl dit ondertoe gly.

Plaatstorting

 ’n Natsneeustorting begin as ’n homp dik, nat sneeu wat teen die hang afrol. In die proses versamel dit meer sneeu en raak dit ál groter (die sneeubal-effek).

’n Droësneeustorting bestaan uit droë, poeierige sneeu wat ’n ysige golfwolk honderde meters in die lug op vorm. As die hange baie steil is, kan ’n bulderende droësneeustorting tot teen 300 km/h ondertoe tuimel. ’n Kragtige windvlaag kan voor hom uitbeweeg, wat geweldige skade aanrig.

Sneeu stort bulderend ondertoe...Min mense wat deur sneeustortings oorval word, bly lewe om die verhaal te vertel. Baie sterf aan beserings weens die sneeu, ys en puin wat op hulle geval het, of omdat die lawine hulle meegesleur het. Ander, wat lewend onder die ys vasgekeer is, sterf weens die koue of ’n gebrek aan suurstof. Reddingswerk kan boonop belemmer word deurdat paaie na die rampgebied deur puin versper word.

As genoeg sneeu saamgepak het om ’n sneeustorting te veroorsaak, kan niks gedoen word om te keer dat dit gebeur nie. Beheerde ontploffings kan egter keer dat sneeu opbou en gevaarlik word.

Daar is ook verskeie maatreëls wat vooraf getref kan word om die gevaar te verminder. Paaie en spoorlyne kan byvoorbeeld deur betontonnels beskerm word. Versperrings kan bokant bergdorpies of ski-oorde aangebring word om sneeustortings te vertraag of van Sneeustorting teen Everest rigting te laat verander. Dit sluit heinings of boomplantasies in. En geboue in gevaargebiede kan met spits dakke toegerus word om lawines na die kante van die geboue weg te keer.

In party gebiede word landkaarte versprei wat die gevaarlikste plekke aandui. Ski-hange kan selfs gesluit word in die tyd wanneer sneeustortings voorkom. Sommige ontwikkelde lande het ook gevorderde waarskuwings- en ontruimingstelsels waarin helikopters en hoogs opgeleide leërpersoneel gebruik word om die slagoffers van hierdie natuurrampe te red.

Het jy geweet?

   In die Eerste Wêreldoorlog is 60 000 soldate wat in die Franse en Italiaanse Alpe geveg het deur sneeustortings gedood. Die meeste van hierdie stortings is met opset deur vyandelike kanonvuur aan die gang gesit.


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad