Kortverhaal © Mieliestronk.com |
|
|
ONGIE-IE-IE!” vermaan die bekkige Bertina met die bolwangetjies, wakker ogies en welige bos hare. “Wee’ jy dan nie jy moet wegbly uit daardie nare, donker bos nie? Daar’s ’n slegte ou skulpman wat daar woon, en hy gaan jou heeltemal-heeltemal opvreet as jy nie oppas nie! Wee’ jy dit dan nie? Wee’ jy dit nie?”
Klein Peet vererg hom eers so effens vir die bemoeisieke meisiekind, wat veldlangs na hom toe aangehardloop gekom het en hom nou so beterweterig berispe.
Hy was trouens net op pad die bos in om te gaan duiwe skiet met sy kettie, toe kom hierdie klein klits met haar bangmaakstorie om al sy pret te bederf. Maar hy moet na haar luister, dit besef hy. Sy’s immers ’n kind van hierdie wêreld. Sy ken die dinge hier in en om Jackson’s Gorge baie, baie beter as hy.
Peet en sy wewenaar-pappa is algehele groentjies, splinternuwe intrekkers wat hulle maar net verlede week kom tuis maak het op hierdie afgesonderde dorpie aan die oewers van die Witkalkrivier. Sy pa het hier ’n kafee gekoop. Nie so ’n wafferse kafee nie, maar darem die enigste op Jackson’s Gorge, wat dit dus ’n betalende onderneming maak, al is dit nou nie juis om van ryk te word en rojaal te lewe nie.
Bertina en Peet het reeds eergister kennis gemaak. Hulle is in dieselfde klassie by ou-juffrou Maas. Albei graad-eentjies wat nog met moeite probeer aanvaar dat afgodiese kinderhelde soos Kersvader en kaboutertjies net deur grootmense uitgedink is en nie regtig bestaan nie.
En Bertina se ma? Wel, sy is ’n mooi jong weduwee . . .
“ ’N SKULPMAN?” vra die sproetgesig-Peet nou, en hy hou ’n kinderlike frons in bedwang, waarna hy ewe manhaftig probeer om ’n opwellende bangigheidjie met ’n siniese glimlag te verberg. “ ’n Skulpman wat ’n mens kan opvreet? Dink jy rêrig ek glo jou, meisiekind? Sê my, waar kom jy tog aan sulke nonsens, hè, sê my?”
“Aaag, toe dan, man, los dit as jy nie vir my wil glo nie,” kap die snippie terug, maar sy wink tog vir Peet om haar te volg. “Kom ons gaan terug dorp toe en dan gaan vra ons vir ou-juffrou Maas by haar huis. Sy sal ons alles van die Skulpman kan vertel. Toe, kom.”
Peet is bra min lus vir die spulletjie; hy ken nog nie sy nuwe onderwyseres so goed dat hy vir haar by haar huis wil gaan kuier nie. Maar die borrelende Bertina sing soos ’n besie om sy ore en eindelik swig hy: “Aag, nou goed dan, jong, kom ons gaan maar soontoe. E... deel sy graag koekies uit, weet jy?”
’n Rukkie later loop hulle oor die lendelam brug van die kurkdroë Witkalkrivier en met ’n stofpad langs na die sandsteenhuisie van ou-juffrou Maas. Dis nog nie werklik laatmiddag nie, maar dis al skemerig, want die son gaan hier vroeg onder.
Die rede is dat die dorp geborge in ’n canyon lê, wat die rivier in die loop van baie eeue hier ingevreet het. “Jackson’s Gorge,” het die uitlander dit genoem wat die dorpie kom vestig en ’n groot dam hoër op in die rivier gebou het. “Jackson’s Gorge” het dit onvertaald gebly vir die klein groepie mense wat die plekkie bevolk het en dit vandag nog bewoon.
En diep in die bos—halfpad tussen die groot rivierdam en die dorpie—woon die sogenaamde Skulpman, van wie Bertina en Peet nou besluit het om meer te wete te kom. In die eenvoudige huisie van die ou-juffrou word hulle alte vriendelik ontvang.
Die kinders sit op stoele in ’n gesellige voorkamer vol potplante, met iewers ’n kanarie in ’n kou en ’n wit kat wat lui-lui lê en spin teen ’n rubberboompie in ’n balie. Daar is ’n skerp reuk van tuisgebrande koffiepitte, en ou-juffrou Maas sit teenoor die kinders op ’n rusbank en sy vra hulle uit en luister simpatiek na al die sêgoed wat daar uitborrel.
Nie meer vandag se kind, sy nie. Diep plooie rem aan ’n vel wat eens mooi en sag moet gewees het; krom skouertjies en gryswit hare verklap onmiskenbaar die vele verbygegane jare. Maar die bewende stem is innig en vol deernis.
Van die twee kinders is dit natuurlik Bertina wat die meeste praatwerk doen. Oor koeitjies en kalfies en wolgrassies en waterhoenders—en uiteindelik onthou sy van die Skulpman.
“Juffrou,” sê die gladdemond-meisietjie en sy wys met ‘n voorvinger na haar maatjie langs haar, “vertel ’n bietjie vir Peet van die Skulpman. Hy glo mos nie vir my daardie gedrog vreet kinders nie.”
Die noem van die naam “Skulpman” het ’n eienaardige uitwerking op die ou onderwyseres. Sy verstyf op haar stoel en kyk ’n hele ruk lank anderpad. Toe sy terugkyk na die kleingoed voor haar, swem haar oë jou werklik in die trane.
“Julle moet liewer nou loop, kinders,” sê sy sag. “Loop liewer, en gaan slaap vanaand vroeg, hoor, sodat julle uitgerus kan wees vir môre se skool.” (Arme ou-juffrou Maas, dink die kinders, sy’t skoon vergeet dis môre Saterdag.)
BERTINA en Peet loop weer met die stofpad langs, dié keer op pad na Peet se pappa se kafee. Peet het nie nog lus vir verdere “speletjies” nie, maar hy voel hom darem “verplig” om die meisiekind te nooi om ’n sjokoladeplak en ’n paar drop-lekkers by die kafee te kom haal. Hy is self hoeka lus vir ’n soetigheidjie, want hulle is by die ou-juffrou weg sonder ’n smuldingetjie. Maar Pappa sal darem seker nie omgee as hy ’n klasmaatjie wil trakteer nie, hoop hy nou.
Wel, ja, Pa gee toe ook nie te vreeslik om nie, maar hy laat sy spruit darem mooi verstaan dat hy g’n gewoonte hiervan moet maak nie. By ’n tafeltjie in die kafee sit en verorber die tweetal nou die lekkergoed, en die smulsessie verloop so kou-kou-kou en baie stil.
En toe kom Bertina se jong weduwee-ma by die kafee ingeloop om ’n brood en die een en ander te koop by Peet se wewenaar-pa. Met ’n bruingesmeerde sjokolade-mondjie en ’n “haai, hier’s Mamma!” spring Bertina haar tegemoet.
Sy is ’n vrou van kennelik vroeg in die dertig. Blond, pragtig en nog in die fleur van haar jare, maar met iets van ’n hartseer in die sagte groen oë. ‘n Mooi mond glimlag haar iewenslustige spruitjie toe:
“Bertina, wat maak jy hier?”—en vervolg dan strenger: “Kind, waar was jy tog die hele middag? Ek het my al dood bekommer oor jou.”
Klein Bertina verduidelik vinnig van haar en Peet en die Skulpman se dinge en eindig uitasem met die ou versoek: “Vertel ’n bietjie vir Peet van die Skulpman, Mamma. Hy glo mos nie vir my die man vreet kinders nie.”
Bertina se mamma willig eintlik teësinnig in. Sy gaan sit by die kinders se tafel en bestel by ’n kelnerin ’n koppie tee en twee koeldranke. Dan vertel sy die verhaal van die Skulpman . . .
DIE SKULPMAN woon in ’n modderhut langs die rivier. Hy is ’n man met ’n lelike, eintlik afskuwelike gesig, iemand wat inderdaad vir mense wegkruip en baie selde gesien word. Hy kom wel baie onvriendelik voor, maar nee, hy eet darem seker nie regtig kinders nie! Hy hou duidelik net nie daarvan dat mense met hom moet sukkel nie, dis al.
Wie is hy? Wel, sy naam ken ons nie, maar ons weet hy was een van die werkers wat lank gelede vir ou mnr. Jackson die dam in die rivier help bou het. Hy was toe nog ’n aantreklike jong man en het ’n meisie hier op die dorp gehad. Hulle het op trou gestaan.
Toe gebeur die verskriklike dinamietongeluk. Die man se gesig word vermink terwyl daar aan die dam gebou word, en hy vlug en gaan woon in die hut by die rivier. Sy verloofde was gebroke. Hoe sy ook al geprobeer het, sy kon hom nie beweeg om na haar terug te keer nie. Hy is verteer deur sy obsessie dat al die mense hom verstoot ... dat hulle dit doen omdat hy so verfoeilik lyk ...
Hoekom hulle hom die Skulpman noem? Om die een of ander rede—ja, bes moontlik weens die eensaamheid—het hierdie man besluit om skulpe te versamel daar in sy hut langs die rivier. Soms verdwyn hy vir ’n paar maande en kom dan skielik terug met nog skulpe vir sy versameling. Sou hy dan spesiaal see toe loop daarvoor? Niemand hier weet nie.
“Maar, Mamma,” vra Bertina aan die einde van die vertelling, “hoekom het ou-juffrou Maas dan gehuil toe ons haar oor die Skulpman uitgevra het?”
“Was sy nie dalk sy meisie nie, tannie?” laat die verbeeldingryke Peet van hom hoor.
Bertina se mamma antwoord nie direk nie. Sy vermaan net die kinders om tog nooit, ooit weer met ou-juffrou Maas oor hierdie dinge te praat nie. Toe staan sy op en loop na die toonbank om vir die drinkgoed te betaal en ’n brood en nog wat te koop.
By die geldlaai staan Peet se pappa.
“Boeiende storie wat jy vir die kinders vertel het,” terg hy en glimlag. “Ek moet sê ek was self gefassineer. Maar kon jy nie vir groter dramatiese effek ook nog ’n paar lelike stiefsusters of nare wolwe bygesleep het nie, wonder ek?”
Sy is net effens onkant betrap , maar skerts dan terug: “Volgende keer vertel ek jou ’n paar skandes van die drie beertjies wat jou ore sal laat tuit, meneer!”
Toe Bertina se mamma ’n rukkie later met Bertina aan die hand by die kafee uitloop, is dit of sy en Peet se pappa mekaar reeds jare lank baie goed ken . . .
KLEIN BERTINA kan die nag nie gou slaap nie. Arme ou-juffrou Maas wat so huil oor die lelike ou Skulpman, wat tog niks met haar te doen wil hê nie! Hoe kan ’n mens tog die arme ou-juffrou help?
Vroegdag op die Saterdag spring Bertina dan ook uit die bed en hardloop na Peet se huis. “Kom, jong,” gebied sy die seun op die voorstoep. “Ons gaan vandag vir die Skulpman kuier.”
“Wáááát? Is jy betjoinks?!” Peet kan sy ore nie glo nie.
“Ja, man, kom! Mamma sê mos die Skulpman vreet nie rêrig kinders nie. Kom ons gaan sê vir hom hoe die ou-juffrou vandag nog oor hom huil . . .”
En later, ver buite die dorp, skrik die Skulpman wanneer hy die twee kinders in die droë rivierloop in sy rigting aangeloop sien kom. Hy tel ’n rivierklip op om hulle te verwilder, maar bedink hom en wag. Hy staan langs sy hut met verflenterde klere en ’n halssnoer van ruwe skulpe om sy nek.
’n Ruie grys baard bedek deels die verminkte gesig. Witgrys hare klos yl aan ’n gebruinde kopvel en knik-knik soos verdorde gras in die oggendbries.
Hoe nader Peet en Bertina aan die kluisenaar kom, des te stadiger loop hulle. Een keer lyk dit amper of hul moed hulle begewe, want hulle draai vinnig om. Maar dan sê hulle iets vir mekaar en begin weer kinderlik onverskrokke na hom toe aanstryk.
Die Skulpman verdwyn ’n paar oomblikke in sy hut. Wanneer hy weer uitkom, staan die kinders voor hom.
“Aha, twee klein-klein mensies!” gaap ’n lelike mond, wat Peet en Bertina verskrik laat terugdeins. “Het julle vir my kom kuier, hè? Nee, maar dis mooi, dis mooi . . . Het julle vir my kom kuier? Nee, maar dis baie, baie mooi . . .”
Die ongeoefende tong praat hortend en herhalend. Die gedagtes wil maar nie maklik woorde word nie. So lank laas het hy met mense gepraat.
“Ons . . . ons het net vir oom Skulpman kom vra of . . .,” begin Bertina, maar dan is die klein parmant se dapperheid daarmee heen en sy kan geen woord verder uitkry nie.
Peet neem oor. “Oom . . . oom Skulpman,” stotter hy. “Ons het gehoor hoe dit gebeur het dat oom ... e ... hier alleen in die bos kom woon het—dat oom gehelp het om die dam te bou en toe in ’n lelike ongeluk baie seergekry het ... “
Die Skulpman lag onverwags. ’n Lelike, hol roggel-lag. Hy gaan sit op sy hurke voor die kinders. “Ja?” vra hy skor.
“Oom . . . ons . . . ons het ook gehoor dat oom en ou-juffrou Maas . . .”
Dis of ’n geweldige vuishou die ou kluisenaar tref. “Alida Maas,” prewel hy dan. “My Alida . . . Wat van haar, kind?”
“Oom, sy huil nog steeds oor oom. Ons wil nie hê sy moet oor oom huil nie, oom ...”
Die ou man kom haastig orent. “Alida Maas is dood,” sê hy stroef en kyk anderpad. “Sy’s dood, hoor jy my?”
“Nee, sy’s nie dood nie, oom. Sy’s dan ons juffrou . . .”
Twee leë oë skiet skielik propvol woede, die geskende gesig raak wild en rooi—en die Skulpman skreeu dat die kranse weergalm: “Sy is dood, sê ek jou, sy is dood!”
Seker ’n volle minuut lank praat niemand nie. Die kinders staan lam geskrik en die ou man worstel met duisend gedagtes om net ’n bietjie sin te probeer maak uit sy eie patetiese chaos.
“Kom,” sê hy uiteindelik vreemd bedees, “kom ek gaan wys julle my uitvindsel.”
HULLE volg hom die hut in—bangerig maar nuuskierig. Daar is net die allernoodsaaklikste toebehore: ’n lendelam tafeltjie, ’n riempiestoel, ’n blikbord en -beker, ’n bondeltjie komberse.
Maar eenkant staan ook ander dinge: ’n rak vol pragtige skuipe met ’n eienaardige vierwielige metaalgedrog daarby.
“Dis my eie uitvindsel,” spog die Skulpman en wys na die klein meter lange karretjie. “Dis my eie uitvindsel. Myne.”
Peet en Bertina beskou die rare prakseersel met sy wronge van drade en dinge, en verwonder hulle aan die reusagtige skulp vol swartgrys poeier wat bo-op vasgesit is. “Wat’s dié, oom?” vra Peet.
Dis sy uitvindsel, hou die Skulpman vol. Om wat mee te maak? Om die SEE hiernatoe te bring, natuurlik! Om die see hierheen te bring, want hy is baie, baie lief vir die see ... en om Jackson’s Gorge van die aangesig van die aarde af weg te veeg.
Uit hierdie skulp, sê hy, gaan ’n groot-groot stroom water vloei as die “uitvindsel” aangeskakel word. Dit gaan Jackson’s Gorge totaal oorstroom. Vannag, net vannag. Ja, hy het nou skielik vas besluit: dit moet VANNAG nog gebeur!
“Want die dambouery het verdriet gebring,” sluit die Skulpman af en sy gebroke oë word selfs nog glasiger, “maar as die see eers hier is, sal dit al die verdriet vernietig. As die kalm golwe oor alles spoel, sal die vrede aanbreek.”
OP DIE dorp probeer Peet en Bertina die mense waarsku.
Tevergeefs.
Darem jammer dat die ou simpele Skulpman die kinders so op loop jaag met sy skrikstorie, sê almal wat dit hoor en hulle skud net die kop onmeewarig en glimlag.
Maar daardie nag bly Peet wakker. Sy huis is naby die rivieroewer en uit sy kamervenster sien hy dit in die nanag eerste: die rivier kom af—al hoe sterker en sterker en sterker.
’n Halfuur later vlug die dorpsbewoners ylings uit die canyon. Ligdag die volgende oggend is die meeste huise op Jackson’s Gorge onder die water.
Die burgerlike beskermingsdiens van die groot buurdorp Bloukraal stuur ’n paar busse om die haweloses op te pik. Peet se pappa en Bertina se mamma sit saam op ’n bank in die een bus terwyl hulle voortry deur die woestyn-landskap. Hy vertel haar dat hy darem nog ’n Karooplaas besit; sou sy dalk belang stel om saam te gaan . . . ?
En Bertina besluit hiervan eenkant af vir haar mamma: “Ja, natuurlik sal sy, oom!”
OP BLOUKRAAL het Peet se pa ’n koerant gekoop. Die hoofopskrif was in groot, swart letters: DAM BREEK; HELE DORP VERSWELG.
Iemand—só het die berig gelui—het die damwal met dinamiet in die lug geblaas, en ’n eienaardige toestel op wieletjies is klaarblyklik gebruik om dit te doen. Hierdie toestel is later in ’n klomp opdrifsels gevind—totaal verwronge weens die slag van die ontploffing.
En twee mense het in die ramp omgekom.
Die een was ’n eksentrieke ou kluisenaar.
Die ander een—so hartverskeurend—was ’n bejaarde skooljuffrou, wat volstrek geweier het om haar huis te verlaat toe die ander dorpenaars gevlug het.
• |
|