Skrywers in Afrikaans 

Dalene Matthee

•  Die teks en foto hieronder is met spesiale vergunning oorgeneem uit die webtuiste van NB Uitgewers. Die webtuiste bevat nog ’n ryke verskeidenheid van inligtende artikels oor die lewe en werk van ander skrywers. Besoek gerus die webtuiste van NB Uitgewers deur hier te klik

Dalene MattheeBiografiese inligting

DALENE MATTHEE (gebore Scott) is op 13 Oktober 1938 op Riversdal gebore. Sy het in 1957 daar gematrikuleer, en aan ’n musiekskool op Oudtshoorn en by die Holy Cross Covent op Graaff-Reinet musiekopleiding ontvang.

Voordat sy oornag roem verwerf het met haar eerste Bosroman, het Dalene tydskrifverhale geskryf en twee populêre romans gepubliseer: ’n Huis vir Nadia (1982) en Petronella van Aarde, Burgemeester (1983). Haar eerste boek was 'n kinderverhaal, Die twaalfuurstokkie (1970), en in 1982 het daar ook van haar ’n bundel kortverhale, Die Judasbok, verskyn.

Kringe in ’n bos (1984), haar roman oor die uitwissing van olifante en die uitbuiting van houtkappers in die Knysna-bos, was ’n internasionale sukses. Nog drie Bos-boeke het gevolg: Fiela se kind (1985), Moerbeibos (1987) en Toorbos (2003). In 1993 het Brug van die esels verskyn en in 1995 Susters van Eva. Haar roman, Pieternella van die Kaap, het in Maart 2000 verskyn.

Dalene Matthee se boeke is in sowat veertien tale vertaal, onder meer Frans, Duits, Spaans, Italiaans, Hebreeus en Yslands. Sy het die ATKV-prys vir goeie gewilde prosa vier keer verower, en in 1993 het sy in Zürich ’n Switserse literatuurprys ontvang vir haar “lewenskragtige literêre werk en haar hartstogtelike belangstelling in natuurbeskerming”.

Dalene Matthee sterf op Sondag, 20 Februarie 2005 in Mosselbaai nadat sy vir hartversaking behandel is.

Het jy geweet?

  • Van Fiela se kind is 'n rolprent onder regie van Katinka Heyns gemaak. Daar is ook ’n film gemaak oor die Engelse vertaling van haar boek Circles in a Forest.
  • Dalene het vir die skryf van Pieternella van die Kaap baie eerstehandse navorsing doen, navorsing wat haar op die ou einde R59 000 gekos het.
  • Kringe in ’n bos was ’n vervolgverhaal in ’n koerant in Dubrovnik (Kroasië). Die koerant se sirkulasie het dramaties begin styg en hulle kom toe agter dat Kringe ’n baie suksesvolle verhaal is. Sodoende het die boek ook uiteindelik in Sloweens verskyn.
  • Kringe in ’n bos het in die eerste vyf maande meer as 16 000 eksemplare verkoop, terwyl Fiela se kind in die eerste vyf maande 55 000 was. Moerbeibos het in die eerste drie maande 67 500 verkoop. Teen 2008 was daar al baie meer as ’n miljoen van haar boeke verkoop.
  • In Februarie 2008 is die Dalene Matthee-gedenkteken by Krisjan-se-Nek in die Kysnabos onthul. Haar as is ook in Februarie 2005 in dié bos gestrooi.

Boeke steeds in druk

Die Judasbok, Tafelberg (2008)
Om ’n man te koop, Tafelberg (2007)
Petronella van Aarde, Burgemeester, Tafelberg (2006)
Huis vir Nadia, Tafelberg (2006)
Fiela se kind, Tafelberg (2005)
Brug van die esels, Tafelberg (2005)
Kringe in ’n bos, Tafelberg (2005)
Moerbeibos, Tafelberg (2005)
Susters van Eva, Tafelberg (2005)
Toorbos, Tafelberg (2005)
Pieternella van die Kaap, Tafelberg (2000)  

Bekronings

ATKV-prosaprys (1984) – Kringe in ’n bos
ATKV-prosaprys (1985) – Fiela se kind
ATKV-prosaprys (1987) – Moerbeibos
Switserse literatuurprys (1993)
ATKV-prosaprys (1996) – Susters van Eva

Lys van publikasies

Prosa

1970 Die twaalfuurstokkie, Tafelberg
1982 Die Judasbok, Tafelberg
1982 ’n Huis vir Nadia, Tafelberg
1983 Petronella van Aarde, Burgemeester, Tafelberg
1984 Kringe in ’n bos, Tafelberg
1985 Fiela se kind, Tafelberg
1987 Moerbeibos, Tafelberg
1993 Brug van die esels, Tafelberg
1995 Susters van Eva, Tafelberg
2000 Pieternella van die Kaap, Tafelberg
2003 Toorbos, Tafelberg
2005 Die uitgespoeldes, Penguin

Vertalings

Kringe in ’n bos (1984)

  • Engels (Circles in a Forest), Duits (Unter dem Kalanderbaum, 1985), Nederlands (Kringen in een bos), Frans (Des Cercles Dans La Foret), Sweeds (Skymmningsskogenm 1985), Portugees, Spaans (Circulos na Floresta) , Spaans (Suid-Amerika), Italiaans en Hebreeus.

Fiela se kind (1985)

  • Engels (Fiela’s Child), Duits en Frans (Le Fils De Tiela, 1989).

Moerbeibos (1987)

  • Engels (Mulberry Forest)

Brug van die esels (1993)

  • Engels (The Day the Swallows Spoke, 1993)

Susters van Eva (1995)

  • Engels (Sisters of Eve)

Pieternella van die Kaap (2000)

  • Engels (Pieternella from the Cape)

Toorbos (2003)

  • Engels (Dreamforest, 2004)

Die uitgespoeldes (2005)

  • Engels (Driftwood, 2005)

Webtuiste

www.dalenematthee.co.za

Uittreksels uit resensies

“Hierdie verhale lees lekker: om vlot te skryf, was vir Matthee ’n natuurlike gawe en nie iets wat sy met moeite moes aanleer nie. Die stories weerspieël ’n roerende eenvoud, en die eg menslike warmte wat Matthee beroemd sou maak. In sommiges, soos “Om groot te word” en “Mercurius se Seun”, skemer iets deur van die betowering waarmee sy soveel harte gesteel het. Die titelverhaal is een van die sterkstes.” – Jaybee Roux oor Om ’n man te koop, Die Burger (2007)

“Matthee-aanhangers sal bly wees om hulle weer in die bekoorlike oerbos te bevind en al langs die voetpaadjies deur die verteller gelei te word totdat jy die loeries kan hoor sis, die statige stinkhoute kan sien optoring na die hemel en dalk selfs 'n dikbeen in die ruigtes gewaar. En dís tog waarvoor meeste lesers wil terugkeer… om vir oulaas deur die bos betower te word.” – Retha Schoeman oor Toorbos, Die Burger (2003)

“Alles bymekaar vir my ’n baie lesenswaardige boek, ook om sy dikwels gevatte taalaanwending.” – Henriette Grové oor Pieternella van die Kaap, Beeld (2000)


Klik hier vir die inhoudsblad van Skrywers in Afrikaans


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk-werf