Skilpaddop

Dop en dam

Seeskilpad

Skilpaaie van die land en die water

 

’n “Portret” van ou SkillieHierdie ou skilpad met die verweerde gesig wat lyk of dit uit sandsteen gevorm is, sou maklik aangesien kon word vir ’n vreemde besoeker uit die ruimte. Maar wie’t ooit gesę voorkoms is alles! Baie skilpaaie kan immers horingoud word en ons mense met goed ’n eeu of langer oorleef. Lees hieronder nog interessante vertellings oor landskilpaaie en hul neefs van die water...

 

Foto: DLS / U.S. Fish & Wildlife Service

Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Węreld

Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

 

I

N Aesopus se beroemde fabel oor die skilpad en die haas is die haas so seker dat hy die skilpad in hul resies sal klop dat hy halfpad besluit om ’n rukkie te dut. Hy boet bitter vir sy selfversekerdheid. Toe hy weer sy oë uitvee, ploeter die stadige ou reptiel oor die wenstreep.

 

Skilpaaie is inderdaad trae harmansdruppe, maar soos die een in die fabel kan hulle eenstryk aanhou en boonop verbasend ver kom—die swaar dop en dik, stomp pote ten spyt.

 

Alle skilpaaie—of hulle nou op land lewe, in vars water hou of in die see woon—behoort tot die orde Chelonia van die klas Reptilia. Al die landskilpaaie van Suid-Afrika behoort tot die suborde Cryptodira en die familie Testudinidae. Die baie verskillende soorte skilpaaie wissel van die reuse-skilpad wat tot 1,2 m lank kan wees tot die padloper van Suid-Afrika van slegs 6 tot 9 cm.

 

Daar is twee soorte reuse-skilpaaie. Een hou op die Galápagos-eilande by Suid-Amerika, die ander op die Aldabra-eilande, wat in die omgewing van Madagaskar in die Indiese Oseaan lę en aan die Seychelle behoort.

 

Sowel die Galápagos- as die Aldabra-reptiele kan tot meer as ’n meter lank word en meer as 250 kg weeg—die oudstes onder hulle ’n verstommende 300 kg. Aantekeninge bestaan oor skilpaaie wat 150 jaar oud geword het.

   

Aldabra-skilpadreus

BO:  Ou kalant, lank in die land,
vreet die gras sonder ’n enkele tand!

’n Aldabra-skilpadreus van die Aldabra-eilande, afgeneem in ’n dieretuin in Engeland. (Skilpaaie het nie tande nie, maar horingagtige bekke met skerp kante en die kos word ingesluk sonder dat hulle dit kou.)

Foto: Adrian Pingstone, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het

Soos ander reptiele is skilpaaie koudbloedig. Hulle hou gevolglik op plekke waar dit die grootste deel van die jaar warm is, soos in Afrika, Suid-Europa, Asië en Noord- en Suid-Amerika.

 

’n WoestynskilpadLINKS: ’n Woestynskilpad van Noord-Amerika—wat vir die leek net sowel ’n skilpad van ons eie Karoo kon gewees het

 

Foto: U.S. National Park Service

    

   

Skilpaaie lę elke oggend in die son sodat hul liggame kan warm word en behoorlik kan funksioneer. Dié wat op plekke met ’n koue klimaat voorkom, hiberneer in die winter. Hulle grawe in die grond in of skuil onder plante en bly in hierdie soort slaaptoestand totdat die lente kom.

 

Die meeste skilpaaie vreet slegs plante, hoewel party ook slakke, naakslakke, wurms, duisendpote en insekte verorber. Hulle het nie tande nie, maar horingagtige bekke met skerp kante om blare af te skeur of stukke vleis fyn te sny. Die kos word ingesluk sonder dat hulle dit kou.

 

Die dop waarvoor die skilpad so beroemd is, beskerm die dier. Wanneer hy in sy dop kruip, is die kop, pote en stert gewoonlik veilig buite bereik van ’n vyand. Hoewel die vorms, kleure en patrone van die doppe van verskillende soorte skilpaaie verskil, bestaan alle skilpaddoppe uit twee lae: ’n buitelaag van horingagtige plate en ’n benerige binnelaag.

 

Die binnelaag is ’n deel van die skilpad se geraamte. Die geronde deel van die dop word die karapaks genoem en die platterige deel onder die buik die plastron. Die karapaks en plastron is aan die liggaam geheg deur ’n benerige struktuur wat die brug genoem word.

 

Die skelet van die skilpadLINKS: Die skelet van die skilpad.

 

Aanpassing van ’n illustrasie in Kennis-ensiklopedie

 

n Skilpad word nooit groter as sy dop nie, omdat die dop saam met hom groter word. Die horingagtige plate dy in die proses buitentoe uit en vorm groeiringe. Wanneer skilpaaie sowat twintig jaar oud is, hou hulle op met groei en ontwikkel geen groeiringe meer nie. ’n Mens kan wel die ouderdom van ’n jong skilpad bepaal deur die getal groeiringe op elke plaat te tel.

 

Skilpaaie teel aan deur eiers te lę, wat hulle in gate in die grond begrawe. Hulle grawe die gate met hul sterk, gekloude agterpote. Sodra sy haar eiers klaar gelę het, verdwyn die ma en los sy hulle oor aan die genade van die son en eiervretende roofvyande. As alles goed verloop, ontwikkel die lewe in die eiers en broei die kleintjies uiteindelik uit.

 

Die inkubasieperiode (tyd wat dit duur om uit te broei) van die eiers van byvoorbeeld ons bergskilpad is agt tot veertien maande. By skildpadeiers hang die broeityd grootliks af van die temperatuur, maar dan wissel dit ook van spesie tot spesie. Daar word vertel dat dit, afhangende van die klimaat en skilpadsoorte, van dertig dae tot drie jaar kan duur. Só ’n skilpadma sal drie somers later seker hoeka al “vergeet” het dat sy haar eiers gelę het en dan kruip haar krosie eers uit hul dop!

 

Maar dan is dit natuurlik ook te betwyfel of só ’n kille reptielwyfie hoegenaamd sal “weet” van die gevolge van haar instinktiewe eierlęery—buiten om dalk ’n baie vae en misteriese “oerbesef” te hę dat dit help om haar gene te laat voortlewe en die voortbestaan van haar soort te verseker. Sy lę bes moontlik haar eiers met dieselfde soort ingeskape impuls as wat jy ervaar wanneer jy skielik jou hand van ’n warm stoof af wegruk sonder om eers met jouself te redeneer of dit nodig is dat jy dit moet doen of nie.

 

Die babaskilpad het ’n skerp uitgroeisel, wat die eiertand genoem word, aan die bo-kaak, waarmee hy sy pad uit sy dop-gevangenissie oopkerf. Die eiertand val later af. Sodra hulle uitgebroei het, begin die klein reptieletjies hul węreld verken.

 

REGS: ’n Seeskilpadwyfie lę haar eiers in die sand langs die see in ’n gat wat sy daar gegrawe het. Hierdie spesifieke soort lę van 80 tot 150 eiers per “broeisel”—maar skilpadwyfies broei natuurlik glad nie self nie. Die seeskilpaaie kom net uit die see uit land toe om die lę-werk te doen en dan kry hulle weer koers. Sodra die son die kleintjies uitgebroei het, spartel hulle uit die sand en kruip instinktief die ent see toe. Voordat hulle die betreklike veiligheid van die water bereik, is hulle egter maklike prooi vir roofvyande en baie word gevang.

Seeskilpadwyfie lę haar eiers

Foto: U.S. National Park Service

   

Ma Skillie en haar krosie... volslae vreemdelinge vir mekaar

BO: Ma Woestynskilpad en haar nuwe krosie, wat wegloop om die węreld te verken... maar hulle is volslae vreemdelinge vir mekaar. Want dit kan glo van dertig dae tot drie jaar duur vir skilpadeiers om op hul eentjie met behulp van die son se warmte uit te broei (sonder enige verdere betrokkendheid van die wyfie), afhangende van die skilpadspesie en die omgewingstemperatuur.

Samegestelde foto van MSKARG uit foto’s deur US NPS e.a.
     

 

Seeskilpaaie

DAAR is, sover bekend, slegs sewe, agt soorte seeskilpaaie wat tot in die moderne tyd oorleef het. Die meeste van die oorlewende soorte hou in warm, tropiese oseane en swem in der waarheid duisende kilometers ver op soek na kos. Een soort, die leerskilpad, word partykeer ook in koue waters aangetref. Soos landskilpaaie het die meeste seeskilpaaie benerige doppe wat met horingagtige plate bedek is, hoewel die dop by sommige met ’n harde vel toegemaak is.

 

Seeskilpaaie kan nie die kop en pote in die dop intrek om te keer dat roofvyande hulle vreet nie. Pleks daarvan ontsnap hulle aan hul vyande deur so vinnig moontlik weg te swem.

 

GroenseeskilpadREGS: ’n Groenseeskilpad, een van die handvol soorte seeskilpaaie.

 

Foto: Kopiereg © Ursula Keuper-Bennett / Peter Bennett / NOAA, wat goedgunstiglik gebruik van die foto vergun mits hul eienaarskap erken word

  

Die dop van ’n seeskilpad is anders gevorm as dié van die landskilpaaie. ’n Landskilpad se dop is hoog en rond, terwyl ’n seeskilpad s’n afgeplat is sodat hy maklik deur die water kan beweeg. Die pote van ’n seeskilspad is vlerkagtige swempote wat hy op en af roer om deur die water te beweeg.

 

Seeskilpaaie vreet visse, jellievisse, pylinkvisse, sponse, krappe, alge en seewier. Soos landskilpaaie het hulle ook nie tande nie, maar hulle gebruik hul skerp kake om die plante en diere op te sny wat hulle vreet.

 

Hoewel seeskilpaaie in die see hou, lę die wyfies van die meeste soorte hul eiers op die land. Die wyfies swem partymaal baie, baie ver om hul broeiplekke te bereik. Hulle klouter uit die water uit, lę hul eiers in gate wat hulle met hul swempote in die sand gemaak het en keer dan terug see toe.

 

Die kleintjies skarrel ook vinnig water toe sodra hulle uitgebroei het, want daar is baie roofvyande wat hulle probeer opvreet. Net ’n paar seeskilpaaie bly lewe tot volwassenheid. Dié gelukkiges keer uiteindelik terug na dieselfde strand waar hulle uitgebroei het om op hul beurt eiers te lę.

 

’n Prehistoriese seewaterskilpad

“Diamondback terrapin”

BO: ’n Voorstelling van die geraamte van ’n prehistoriese seewaterskilpad in ’n museum. 

Grootliks verkleinde weergawe van ’n groot foto deur David Bjorgen, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web beskikbaar stel ingevolge die Creative Commons ShareAlike License 2.5

BO: Nie alle waterskilpaaie kom óf in die oop see óf in varswatermassas voor nie. Die “diamondback terrapin” word in die gety-inhamme by riviermondings aan die Atlantiese kus en Golfkus van die VSA aangetref—in waters waarvan die soutgehalte en diepte gedurig wissel.

Foto: Jeff Lovich / U.S. Geological Survey

    

Varswaterskilpaaie

DAAR is byna tweehonderd soorte varswaterskilpaaie, waarvan die hougebiede wissel van spruite en riviere tot damme, moerasse en lagunes. Nie alle soorte bly deurentyd in die water nie. Party bring net ’n deel van die tyd in die water deur en die res daarvan op die land.

 

Soos ander skilpaaie het byna alle varswaterskilpaaie ’n benerige dop wat met horingagtige plate bedek is. By ’n paar soorte is die dop egter met vel bedek. Die meeste kan die kop, ledemate en stert in die dop intrek, wat hulle teen vyande beskerm.

 

Geleerdes verdeel soms die varswaterskilpaaie in twee groepe volgens die manier waarop hulle die kop intrek: party trek die nek reguit in die dop in, ander buig die nek in die proses sywaarts.

 

Dié wat nie in hul dop kan kruip nie, het ander maniere om hulself te verdedig. Baie van hulle laat indringers les opsę deur hulle geniepsig stukkend te byt. Ander het spesiale kliere wat ’n vrot reuk afgee en roofdiere weghou.

 

Varswaterskilpaaie het gewebde pote wat hulle vinnig laat swem. Hulle vreet waterplante en diertjies soos insekte, slakke, naakslakke, visse, paddas, garnale en varswaterkrewe. Byterskilpaaie woon in varswatermere, riviere en poele in Noord-, Suid- en Sentraal-Amerika, waar hulle vis, watervoëls, paddas en selfs klein alligators vang. As onbehoedsame baaiers hul geplas in die water geniet, kan die byterskilpaaie hulle ook probeer byt.

 

Alligator-snapskilpadREGS: ’n Alligator-snapskilpad. Sy soort word as seker van die kwaaiste skilpaaie ter węreld bestempel. ’n Plank van twee, drie sentimeter dik word sommerso deurgebyt, en waar die skilpad vasbyt, daar hou hy.  

 

Foto: DLS / U.S. Fish & Wildlife Service

  

   

Soos die seeskilpaaie lę die meeste varswaterskilpaaie hul eiers op die land. Daarvoor grawe hulle gate in die sand aan rivier- of meer-oewers. Die eiers word ook aan die genade van prooidiere oorgelaat nadat hulle gelę is.

 

Skilpaaie en mense

 

DIE mens se bedrywighede is besig om die voortbestaan van verskeie soorte skilpaaie te bedreig. Die uitwissing van natuurlike plantegroei en vleilande om vir plase, dorpe en stede plek te maak, maak die hougebiede van land- en waterskilpaaie kleiner.

 

Plastieksakke wat op die water dryf, word maklik vir kos aangesien, en hul slagoffers stik daaraan en vrek. Baie skilpaaie word doodgemaak vir hul vleis en vir hul doppe, waarvan aandenkings vir toeriste gemaak word. Boonop word die voortbestaan van sekere soorte seeskilpaaie ernstig bedreig deur die diefstal van hul eiers op strande. (Die broeiplekke van die leer- en karetskilpad word in Suid-Afrika beskerm.)

 

LeerskilpadLINKS: ’n Leerskilpad-ma, blykbaar besig om  haar eiers toe  te maak op ’n strand.

 

Foto: NOAA

 

Dan is daar ook nog mense wat, wederregtelik, skilpaaie as troeteldiere aanhou. Die praktyk van sekere mense om landskilpaaie langs ons paaie op te tel en saam met hul huis toe te neem, is nie net onwettig nie, maar sulke mense is ook besonder onbedagsaam. Skilpaaie word baiemaal só uit hul hougebied in die vrye natuur verwyder om in ’n totaal ander klimaat in ’n kampie in ’n agterplaas aangehou te word. Daar vrek hulle mettertyd weens die veranderde habitat... as die gesin se hond hulle nie voor dit reeds met dop en al opvreet nie.

 

Het jy geweet?

 

   Gesonde skilpaaie wat omgedop is, kry byna altyd weer die koepelkant bo, maar die siekes of swakkes is nie altyd so gelukkig nie. ’n Skilpad wat nie weer op sy pote kan kom nie, vrek van die honger of bak dood in die son.

 

   Die ploegskaarskilpad van Madagaskar het ’n ongewone kenmerk: die plastron vorm ’n duidelike haak onderkant die nek. In die paartyd gebruik die mannetjies hierdie hake om mededingers om te dop en hulle uit die paringswedloop te kry.

 

   Volwasse groenseeskilpaaie kan ’n verstommende vyf uur lank onder die water bly, maar die jonges moet meer dikwels boontoe swem om lug te skep.
  

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad