Skerpsinnige
Skerpioen...
|
||||
Y’S ’n nare ding, erg afskuwelik, sou ’n mens
kon sê. En selfs ’n bobbejaan loop maar lig vir hom. Angel in die lug
skarrel hy rond as jy niksvermoedend ’n klip omkeer waaronder hy geskuil
het, en as jy nie jou hand blitsvinnig van hom wegruk nie, boor hy sy
"dolk" in jou vinger in. Nie verniet dat die grotbewoners van
ouds al geweet het jy sukkel nooit met ’n omgesukkelde skerpioen nie... Wat meer sê, tot natuurkundiges deins vandag terug
as hulle die klein gediertetjie met die gevaarlike stert sien, die kalant
met die skrikaanjaende krom wapen wat ’n mens kan brand soos die warmste
kool in ’n vuur. Dit lyk immers of hy ’n oervrees in die mens wakker
maak wat in ons vroegste geskiedenis kon begin het toe die mense nog na
aan die natuur gelewe en die skerpioen wel deeglik ’n deel van hul wêreld
was. Ook in die
Bybel word vertel van ’n vyf maande lange pyniging "soos die
pyniging van ’n skerpioen wanneer hy ’n mens steek" (Openbaring
9:5). Maar al is die meeste mense so doodbang vir ’n
skerpioen dat hulle voet in die wind sal slaan of hom dadelik sal wil
vermorsel as hulle hom gewaar, is dit tog interessant dat die steek van
die meeste skerpioensoorte nie gevaarlik vir die mens is nie. Die
steekplek kan wel baie pynlik wees en soms sal die weefsels daar rondom
opswel, maar dodelik? Darem nie sommer nie. Tog is dit bekend dat kinders in Suid-Afrika al aan
skerpioensteek beswyk het, en dit is dus raadsaam om die groot soorte te
vermy. Simptome van skerpioensteek by die mens (veral
klein kinders en verswaktes) kan die volgende insluit: ongemak, sweet,
verhoogde bloeddruk, kwyling, mislikheid, braking, allergiese reaksies en
stuiptrekkings. Medici beveel die volgende aan as jy gesteek word:
Maar voorkoming is altyd beter as genesing en as jy
in ’n streek woon waar skerpioene lastig is, moet jy onthou dat hulle
nagdiertjies is en dat jou kanse groter is om snags gesteek te word as
bedags. Wees versigtig by barste in bouwerk of by klippe of plante waar
skerpioene kan skuil. Kyk altyd eers of daar nie ’n onwelkome een in jou
skoene, kaste of bed wegkruip nie. Skud alle klere uit voor jy dit aantrek
en moenie snags kaalvoet rondloop nie. Die
bou en sintuie van die skerpioen
BAIE mense weet dit nie, maar
skerpioene is nie insekte nie. Soos die spinnekoppe behoort hulle tot die Arachnida
of Spinagtiges, ’n klas goggas met agt pote. Skerpioenmannetjies
en -wyfies verskil ook in voorkoms. Die wyfie is gewoonlik groter en
stewiger as haar tingeriger ou jansalie, wat darem in die reël ’n langer
stert as sy het om sy tekortkominge te vergoed. Hoe ook al, soos die spinnekop bestaan die liggaam
van die skerpioen uit twee hoofdele, die sogenaamde prosoma (die
kopborsstuk) en die opistosoma
(die agterlyf, wat ook die metasoma of stert insluit). Die stert het vyf
segmente, asook die einddeel met die angel. Net
soos al die ander Spinagtiges het die skerpioen ook ’n paar sogenaamde
"kake" voor aan die kopborsstuk. Hierdie kake is klein en in die
vorm van skêrkake en nie kloukake nie. Hulle is soos dié van die
jagspinnekoppe. Baie opmerklik
egter—benewens die gevreesde angel, natuurlik—is die skerpioen se
kaaktasters met knypers wat soos dié van 'n krap of kreef is. Hierdie
kaaktasters met die knypers is nie net tasorgane nie, maar hulle is ook die
skerpioen se hande waarmee hy sy prooi vang en vashou. As ’n skerpioen
loop, hou hy die "hande" reguit voor hom uit. Met hulle—en die
fyngevoelige hare wat daarop voorkom—voel-voel hy letterlik sy weg deur sy
wêreld. Maar ook nie slegs daarmee nie, want die
tassin is baie belangrik vir skerpioene. Op die kaaktasters volg naamlik
vier pote aan elke kant met sterk kloutjies aan die punte daarvan. Maar aan
elke kant onder die agterste paar pote is ’n voelkammetjie—’n heel
spesiale tasorgaan. Met hierdie voelkammetjies betas die skerpioen die grond
of ander oppervlak waarop hy beweeg en raak hy bewus van enige hindernis of
probleem in sy pad. Sekere kenners het ook al die moontlikheid genoem
dat die voelkammetjies boonop iets soos reukorgane kan wees. Die rede is dat
’n skerpioen wat oor ’n dooie insek geloop het, soms summier in sy spore
sal vasteek en omdraai om die karkassie te ondersoek. Skerpioene
kan dus dalk op ’n manier ruik, maar hoor soos ons mense kan hulle nie.
Hulle kan wel trillings op die grond deur hul fyngevoelige hare waargeneem.
En doof of te nie, kan sowel ons dunstert- as dikstertskerpioene geluide
maak—kners- of sisgeluide wat hul vyande of ander ongewenste indringers
moet afskrik. By
die dikstertsoorte is daar rasperagtige korreltjies op die eerste twee litte
van die stertdeel. Wanneer ’n mens hierdie soort skerpioen terg, skraap hy
met sy skerp angel oor dié korrelrige oppervlak, met die gevolg dat hy
skraapgeluidjies voortbring. Daarteenoor het die Kaapse dunstertskerpioen
’n aantal sterk dorinkies aan die binnekant van sy skêrkake.
Wanneer hy hierdie dorinkies aanhoudend teen mekaar vryf, word ’n
waarskuwende sis- of ritselgeluid gehoor. Die skerpioen haal natuurlik ook asem. Dit doen hy deur middel van waaierlonge of boeklonge waarvan ’n mens die openinge kan sien: vier splete aan elke kant onder in die buik. In hierdie opsig stem skerpioene ooreen met die spinnekoppe. Skerpioene
het gewoonlik van drie tot selfs ses pare oë, afhangende van die soort,
maar daar is tog sekere grotskerpioene wat geen oë het nie en heel goed met
behulp van hul ander sintuie in die stikdonker spelonke regkom. Kenners
reken in elk geval dat selfs die siende skerpioene se oë so primitief is
dat hulle net vlakke kan uitken waar die ligsterkte skerp wissel, soos die
horison. Tog
is hul oë baie sensitief en sekere geleerdes het al bespiegel dat hulle
dalk die skerpioene kan help om snags hul pad in die lig van die sterre te
vind. Dit is egter twyfelagtig of hulle hul oë gebruik om hul prooi te
vang. Maar
uiteindelik bly die skerpioen se angel vir die mens sy belangrikste
liggaamsdeel—juis omdat dit ons so met vrees vervul. Die
angel-deel bestaan uit ’n knopagtige verdikking en ’n skerp, krom angel,
waarvan die punt so skerp soos ’n naald is. Naby die punt is ’n
piepklein gaatjie aan elke kant wat nie met die blote oog sigbaar is nie.
Binne-in die knopagtige deel is twee gifkliere wat met ’n spierlaag omhul
is, en uit elkeen loop ’n afvoerbuisie wat die gaatjies met die kliere
verbind. Hoe
gebruik die skerpioen sy angel?
Trouens,
skerpioengif is dodelik vir die meeste ongewerwelde diere, en selfs paddas,
geitjies en ander klein gewerwelde diertjies—tot voëls en visse—word
daardeur gedood. Die gif
tas veral die senuweeknope en senuweestring aan en verlam ook die
asemhalingstelsel. Sodra
’n insek deur ’n skerpioen gesteek is, kry hy stuiptrekkings. Die
weerlose slagoffer se voelhorings, liptasters en pote begin bewe. Gou is hy
heeltemal verlam en kort daarna vrek hy. Daar is al vertel dat skerpioengif
dieselfde uitwerking op die senuweestelsel het as kobragif. Skerpioengif is
net minder dodelik vir die mens omdat heelwat minder in jou ingespuit word
as die gif wat die kobra afskei wanneer hy jou pik. Skerpioene
kry hul prooi met hul knypers beet, maar as die slagoffer
te sterk is of te veel weerstand bied, lig die skerpioen sy stert op sodat
die angel vorentoe wys. Hy buig die stert heeltemal bo-oor sy kop en met die
angel steek-steek hy herwaarts en derwaarts om ’n sagte deel in sy prooi
se liggaam te vind. Die meeste slagoffers word in of om die monddele
gesteek. Die skerpioen maak doodseker dat die gif sy teiken vind deur
herhaaldelik sy dodelike angel in die slagoffer se liggaam in te druk. Die
larwes van sekere insekte is nietemin teen skerpioengif bestand. Ten spyte
van wat vertel word, kom ’n skerpioen ook niks oor as hy homself per
ongeluk met sy eie angel raaksteek nie. Ook die bewering dat ’n skerpioen
selfmoord pleeg as hy binne ’n kring gloeiende kole geplaas word, is
ongegrond. Wat
volgens een bron in werklikheid gebeur, is dat hy heen en weer skarrel om te
probeer ontsnap en dus êrens aan die gloeiende kole raak, wat hy dan vir
’n vyand aansien wat hy verbete probeer beveg. Dan kan dit kan gebeur dat
hy homself voor in sy kopborsstuk raaksteek. Hy vrek egter uiteindelik nie
van sy eie gif nie, maar omdat die hete kole hom doodbrand. Volgens
’n ander bron kon die wanopvatting ontstaan het omdat skerpioene
koudbloedig is en hul metaboliese prosesse onklaar raak wanneer hulle aan
intense hitte blootgestel word. Dit veroorsaak dat die skerpioen wild aan
die ruk gaan, wat dit kan laat lyk of hy besig is om homself te steek. Dit
is ook onwaar daar alhohol skerpioene sal prikkel om hulself dood te steek. Suid-Afrika
se skerpioene—die diksterte en die dunsterte IN
vergelyking met ander lande is Suid-Afrika betreklik ryk aan skerpioene.
Trouens, in die Karoo en ander droë dele van ons land is ’n groot klomp
afsonderlike soorte reeds aangeteken. Regoor die wêreld is minstens
16 families, 159 genera en 1260 spesies al beskryf. Skerpioene
is baie goed toegerus om in verskillende omgewings te oorleef, van reënwoude
en oop vlaktes tot woestyne en
hoë berge. Hulle is egter die volopste in die droë dele en die
grootste verskeidenheid van spesies word ook aangetref waar daar min water
is. Nieu-Seeland is een plek waar daar geen skerpioene is nie. Die dunstertskerpioene,
wat nie giftig is nie, behoort tot die superfamilie Scorpionoidea, en
ons onderskei families soos Scorpionidae, Ischnuridae en Bothriuridae.
By die erg giftige dikstertskerpioene in die superfamilie Buthoidea
kry ons die familie Buthidae. Die
diksterte het, soos hul naam aandui, dik en sterk ontwikkelde sterte. Hul
knypers is betreklik swak ontwikkel. Hierdie kêrels kan kwaai steek, en die
dik stert en angel is hul vernaamste wapen. ’n Mens kry hulle gewoonlik
onder klippe of stompe of in los sand onder graspolle in die noordelike dele
van ons land, in die Kalahari en in Namibië. Die
dunsterte het op hul beurt groot
en sterk ontwikkelde knypers en betreklik dun sterte in verhouding tot die
knypers. Die bekendste soorte onder hulle is die ou bekende Karoo-skerpioene.
Pleks van hul sterte en angels aan te wend, maak hulle meer van hul
knypers gebruik om prooi te vang. Hulle kan egter ook steek. Daar is ook nog soorte soos streepskerpioene en klipskerpioene, wat saam met al die ander die lys veels te lank maak om in ’n oorsigtelike artikel soos hierdie te bespreek.
Paringsdans,
geboorte en ontwikkeling van die skerpioen BY
die meeste skerpioenspesies in dit die mannetjies wat met die hofmakery
begin, maar daar is tog soorte waar die wyfie die aanvoorwerk doen. Hoe ook
al, die bruilofte vind in die reël in die lente plaas, wanneer die
mannetjies en wyfies begin ronddwaal om mekaar te soek. Wanneer ’n kennismaking plaasvind, groet die mannetjie en wyfie mekaar deur byna op hul koppe te staan en hul sterte te kruis.
Die
twee haak hul angels aan mekaar vas en dan los hulle mekaar weer. As hulle
nie hou van wat hulle gevind het nie, kies elkeen weer sy eie koers. Sou
hulle egter aan mekaar se smaak voldoen, kry die bruidegom sy bruid se
knypers met sy eie knypers beet. Hand aan hand dans hulle dan verder in ’n
paringsdans wat van ’n halfminuut tot, só word vertel, ’n yslike twee
dae kan duur! Sodra
hulle by ’n geskikte gaatjie onder ’n klip kom, dwing die mannetjie die
wyfie om saam met hom onder die klip in te kruip en word die huwelik
volvoer. Drie
tot ’n verstommende agttiende maande ná die eienaardige troue word die
klein skerpioentjies gebore. Die draagtyd van anderhalf jaar is een van die
langstes onder die ongewerwelde diere. Ons het gesê "gebore" en
"draagtyd", want skerpioentjies broei nie uit eiers wat deur die
ma buite haar liggaam gelê word nie, maar ontwikkel in eiers binne-in haar
en kom dus "lewend" in die wêreld. Die
getal kleintjies verskil van soort tot soort—by party is daar net een, by
ander miskien twintig en by nog ander kan daar meer as honderd wees. Die
pasgebore klein skerpioentjies is nog nie heeltemal ontwikkel nie. Hulle is
nog in ’n dun sakkie. En die ma—wat normaalweg so ’n wrede roofdier is
en destyds selfs haar eie eggenoot wou verorber—is nou skielik ’n
liefhebbende moeder. Versigtig neem sy elke sakkie met die een knyper en
skeur dit met die ander knyper oop. Haar span kleingoed moet tog net nie
seerkry nie! Sodra
sy almal uit hul sakkies gehaal het, hou sy haar knyper plat op die grond
sodat die kleintjies dit as ’n leer kan gebruik. Hulle klouter daarteen op
en maak hulle tuis op haar rug. Daarna krap sy die babaklere bymekaar en
sluk dit alles in. ’n Geruime tyd lank sal sy haar kinders abba net soos
sekere wolfspinnekoppe dit ook doen. Die
kleintjies is eers witterig, maar hulle vervel soos die tyd aanstap en word
mettertyd bruiner. Ná elke vervelling ontwikkel hul monddele en hul
pootjies ook meer, maar in die hele tyd op hul mamma se rug eet hulle glad
nie. Dit gebeur nou en dan dat enetjie afval, maar dan klim hy eenvoudig
weer op. Naderhand waag hulle darem al hoe meer om van hul ma af weg te
dwaal om eie prooi te vang—totdat die laaste een uiteindelik sy ma verlaat
om sy eie potjie te gaan krap tussen die klippe. En
voortaan sy angel arrogant en dreigend hoog te hou om in die harde buitewêreld
te oorleef! |
||||
| REDAKSIONELE NOTA: ’n Groot deel van die inligting vir hierdie artikel kom met dank uit die Afrikaanse Kinderensiklopedie, maar heelparty ander bronne is ook geraadpleeg. Verskille in die bronne maak dit egter moeilik om altyd presiese gegewens te verstrek, sodat ons plek-plek die een of ander middeweg moes kies. Ons sal dus enige opbouende kritiek, voorstelle en aanbevelings van erkende skerpioenkenners verwelkom. | ||||