|
Foto
regs: U.S. Food and Drug Administration / U.S.
Department of Health and Human Services
UISENDE
jare gelede, in ’n grot digby die see in Suid-Afrika,
raak ’n strandbewoner boos vir sy baard. Elke keer
wanneer hy ’n vruggie of ’n vissie in sy mond wil
inprop, moet hy eers die wilde kwaste en slierte pypkan
wat in alle windrigtings om sy smoel aangegroei het. En
nou’s hy hartlik sat vir al die gesukkel met sy
gesigshare elke keer wanneer hy wil eet.
Hy gryp
dus die skulpe van ’n paar mossels en begin van die
baard wegskraap. Spoedig spog hy met ’n veel skoner
bakkies as wat hy in jare gehad het, en die bewonderende
blikke wat hierdie kêrel van die grotvroue ontvang,
oortuig die ander manne dat hulle dieselfde behoort te
doen.
Dis
natuurlik maar net ’n verhaaltjie, want hoe en of die
vroegste Suid-Afrikaanse mans hul baard afskeer het, kan
geen aardse mens vir seker sê nie.
Tog wil dit lyk of
bebaarde menere oor die wêreld heen hulle reeds
millinneums lank oorgegee het aan die eindelose siklus
van hul gesigsboskasies te laat groei net om dit dan
weer uit te roei.
Daar is wel
prehistoriese grottekeninge waarop dit lyk of die mans
besig is om te skeer met skeermesse wat van skulpe,
haaitande of gepoleerde
vuurklip
gemaak is. Die Indiane van Sentraal-Amerika sou glo
vulkaniese glas (obsidiaan) gebruik het, terwyl sekere
Noord-Amerikaanse stamlede met ligte baarde na bewering
hul kenhare eenvoudig met haartangetjies uitgepluk het.
Hoe ook al, skeermesse van brons, koper en selfs goud
het beslis die koppe van die antieke Egiptenare van die
ken tot die kroontjie verglans.

BO:
Skerp klippe of skrapers, waarmee hare en
vleis van diervelle afgeskraap is, sou ook
as primitiewe skeermesse gebruik kon gewees
het.
Krediet: U.S. National Park Service
|

BO:
Yul Brynner (1920–1985), bekende
Russies-gebore Hollywood-akteur van weleer,
wie se “handelsmerk” sy kaalgeskeerde kop
was. Hy was onder meer die Egiptiese farao
in die epiese rolprent The Ten
Commandments (1956).
Krediet: Verwerking deur MSKARG van ’n
raampie uit ’n ou lokprent vir ’n
Brynner-rolprent; die kopiereg van
die lokprent is nie hernieu nie |
Dat baard
nat moet wees om makliker geskeer te raak, is blykbaar
’n uitvindsel van die ou Romeine. Wetenskaplikes weet
vandag dat hare tot met omtrent ’n derde uitsit wanneer
dit deurweek raak, met die gevolg dat dit sagter word en
des te makliker afgemaai word.
Nie dat
skeerdery nog ooit veel meer as ’n noodsaaklike
sleurwerk was nie. En bloederig dikwels ook, soos die
somber tonele kan getuig van mans wat soggens steeds met
flappies toiletpapier op hul vernielde tronies uit die
badkamers strompel.
Vir iemand
soos die ou keiser van die Franse Napoleon Bonaparte
(1769–1821) was dit, na vertel word, ’n verskrikking om
te skeer. Ook geen wonder nie, as ’n mens na die amperse
valbyle kyk waaraan selfs keisers en konings destyds hul
harige nekke blootgestel het wanneer hul baardskeerders
hulle onder hande gehad het.
Dit was
maar eers in die twintigste eeu dat die
veiligheidskeermes vervolmaak is en ’n goeie skeer
moontlik was wat nóg tydrowend nóg gevaarlik was.
Die
probleem was altyd dat die lemme van skeermesse
onvermydelik stomp raak. Dit maak nie saak hoe glad en
vlymskerp daardie snyblad van ’n mes is nie—en van
watter wonderlike staal dit gemaak is nie—met verloop
van tyd is daar krommings, krakies en wegsplinterings
van die lem. Met die blote oog sien jy dit nie, want dis
mikroskopies klein, maar die verrinnewering van die
gesigsvelle getuig kennelik van die lemme se
verstomping.

BO: Hare wat met lemmetjies geskeer is soos
hulle onder die mikroskoop lyk. Links is ’n haar
wat netjies met ’n skerp lemmetjie gekloof is en
regs een wat deur ’n stomp lemmetjie bygekom is.
Foto’s: U.S. Federal Bureau of Investigation
Die
kwessie van hoe om jou skeerlem skerp te hou, is
uiteindelik deur ’n Amerikaanse verkoopsagent opgelos.
Hy was iemand wat behep was met net een idee: hoe om ryk
word deur iets te maak wat die gebruikers sou weggooi.
King Camp
Gillette (1855–1932) het vir ’n maatskappy gewerk wat
bottelproppe vervaardig het. Hoe meer die mense die
proppe weggeggooi het, des te meer het Gillette daarvan
verkoop. Een oggend, terwyl hy knorrig na sy stomp
skeermes gekyk en gedink het dat hy dit weer na die
slyper sal moet neem om op ’n oliesteen geslyp te word,
het die blink gedagte hom te binne geskiet: ’n
weggooibare skeermes! Dié sal mos die einde van die
herhalende treurnis kan beteken!
Gillette
het die uitvinder William Nickerson gehuur om sy plan
uit te voer, in 1901 die
American
Safety Razor Company gestig,
en in 1903
het hy altesame 51 skeermesse en 168 lemmetjies verkoop.
Nie aardskuddend baie nie, maar die bal was behoorlik
aan die rol.
Die volgende
jaar was die verkope 90 884 skeermesse en 123 648
lemmetjies.
Gillette se
skeermesse is in die kleinhandel vir ’n aanmerklike vyf
Amerikaanse dollar stuk verkoop (omtrent die helfte wat
’n werksman in ’n week kon verdien), maar het letterlik
by die miljoene van die winkelrakke afgevlieg.
Binne
enkele jare het die ryklik besnorde en bebaarde manne
wat die negentiende eeu oorheers het, plek gemaak vir
die skoongeskeerde Blink Stefaanse van ’n veranderde
wêreld. Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het
die mans al tuis geskeer en bloedmin van hulle het nog
barbiers besoek om die taak vir hulle te doen. Teen die
einde van die Tweede Wêreldoorlog was tuissskeerdery
reeds ’n daaglikse instelling.

BO: Goeie reklame het meegehelp om die skeermes
met die goedkoop weggooibare lemmetjie ’n
alledaagse gebruiksartikel te maak. Vandag is
lemmetjies veelal ingebou in plastiek-skeermesse
wat op sigself betreklik goedkoop en weggooibaar
is.
Vandag is
lemmetjies veelal ingebou in plastiek-skeermesse wat op
sigself betreklik goedkoop en weggooibaar is. En die
lemmetjies sit selfs in pare of ander veelvoude in die
skeermesse sodat ’n baardstoppel wat deur een lem gemis
word summier deur ’n volgende lem afgeknot word. Dit
bied ’n veel gladder skeer.
Tog is dit
nie net aan Gillette se goedkoop lemmetjie en dié se
opvolgers te danke dat skeer so gewild geraak het nie.
’n Afgetrede leërkolonel, Joseph Schick, het in 1928 ’n
elektriese skeermes gepatenteer, waarmee daar weggedoen
kon word met al die skuime, rome, borsels en goeters wat
nodig is om die gesigshare te laat waai. Van toe af is
daar ’n alewige stryery tussen die lemmetjie-brigade en
die kragskeer-kontingent oor watter soort skeer die
beste is.
Elke groep
weier om oor een kam geskeer te word met die manne wat
die ander soort skeerdery voorstaan.

BO: Die “nat” en die ”droog” van skeer—’n
moderne weggooibare skeermes met sy
ingeboude lemmetjies en ’n elektriese
skeermes met roterende lemme.
Krediet: MSKARG |