Hoe die bebaardes van die 19de eeu plek gemaak het vir die Blink Stefaanse van die 20ste

Luimige verhaal van skeermesse en lemmetjies
—’n ligte vertelling oor die ewige stryd van die manne met hul moestasse, bakkebaarde en bokkies

 

  LemskeermesseLemmetjie

LINKS BO: Vanmelewe se lemskeermesse… watter marteling moet dit nie gewees het om die baard met so iets te probeer afskraap nie!

REGS BO: Die weggooibare lemmetjie wat alles verander het.

Moenie gekskeer met

’n geskeer nie!

 

 

King Camp GilletteREGS: King Camp Gillette.

 

In sy leeftyd verwyder die gemiddelde man meer as agt meter baard van sy gesig. In die ou dae kon só ’n skeerdery ’n bloedige en gevaarlike affêre wees. Maar toe kom King Camp Gillette met sy goedkoop, weggooibare veiligheidslemmetjie…
 

 

Man aan die skeerFoto regs: U.S.  Food and Drug Administration / U.S.  Department of Health and Human Services

 

 

D

UISENDE jare gelede, in ’n grot digby die see in Suid-Afrika, raak ’n strandbewoner boos vir sy baard. Elke keer wanneer hy ’n vruggie of ’n vissie in sy mond wil inprop, moet hy eers die wilde kwaste en slierte pypkan wat in alle windrigtings om sy smoel aangegroei het. En nou’s hy hartlik sat vir al die gesukkel met sy gesigshare elke keer wanneer hy wil eet.

 

Hy gryp dus die skulpe van ’n paar mossels en begin van die baard wegskraap. Spoedig spog hy met ’n veel skoner bakkies as wat hy in jare gehad het, en die bewonderende blikke wat hierdie kêrel van die grotvroue ontvang, oortuig die ander manne dat hulle dieselfde behoort te doen. 

 

Dis natuurlik maar net ’n verhaaltjie, want hoe en of die vroegste Suid-Afrikaanse mans hul baard afskeer het, kan geen aardse mens vir seker sê nie. Tog wil dit lyk of bebaarde menere oor die wêreld heen hulle reeds millinneums lank oorgegee het aan die eindelose siklus van hul gesigsboskasies te laat groei net om dit dan weer uit te roei.

 

Daar is wel prehistoriese grottekeninge waarop dit lyk of die mans besig is om te skeer met skeermesse wat van skulpe, haaitande of gepoleerde vuurklip gemaak is. Die Indiane van Sentraal-Amerika sou glo vulkaniese glas (obsidiaan) gebruik het, terwyl sekere Noord-Amerikaanse stamlede met ligte baarde na bewering hul kenhare eenvoudig met haartangetjies uitgepluk het. Hoe ook al, skeermesse van brons, koper en selfs goud het beslis die koppe van die antieke Egiptenare van die ken tot die kroontjie verglans.
 

Skraper

 

BO: Skerp klippe of skrapers, waarmee hare en vleis van diervelle afgeskraap is, sou ook as primitiewe skeermesse gebruik kon gewees het.

 

Krediet: U.S. National Park Service

Yul Brynner

BO: Yul Brynner (1920–1985), bekende Russies-gebore Hollywood-akteur van weleer, wie se “handelsmerk” sy kaalgeskeerde kop was. Hy was onder meer die Egiptiese farao in die epiese rolprent The Ten Commandments (1956).

Krediet: Verwerking deur MSKARG van ’n raampie uit ’n ou lokprent vir ’n Brynner-rolprent; die kopiereg van die lokprent is nie hernieu nie

    

Dat baard nat moet wees om makliker geskeer te raak, is blykbaar ’n uitvindsel van die ou Romeine. Wetenskaplikes weet vandag dat hare tot met omtrent ’n derde uitsit wanneer dit deurweek raak, met die gevolg dat dit sagter word en des te makliker afgemaai word.

 

Nie dat skeerdery nog ooit veel meer as ’n noodsaaklike sleurwerk was nie. En bloederig dikwels ook, soos die somber tonele kan getuig van mans wat soggens steeds met flappies toiletpapier op hul vernielde tronies uit die badkamers strompel.

 

Vir iemand soos die ou keiser van die Franse Napoleon Bonaparte (1769–1821) was dit, na vertel word, ’n verskrikking om te skeer. Ook geen wonder nie, as ’n mens na die amperse valbyle kyk waaraan selfs keisers en konings destyds hul harige nekke blootgestel het wanneer hul baardskeerders hulle onder hande gehad het.

 

Dit was maar eers in die twintigste eeu dat die veiligheidskeermes vervolmaak is en ’n goeie skeer moontlik was wat nóg tydrowend nóg gevaarlik was.

 

Die probleem was altyd dat die lemme van skeermesse onvermydelik stomp raak. Dit maak nie saak hoe glad en vlymskerp daardie snyblad van ’n mes is nie—en van watter wonderlike staal dit gemaak is nie—met verloop van tyd is daar krommings, krakies en wegsplinterings van die lem. Met die blote oog sien jy dit nie, want dis mikroskopies klein, maar die verrinnewering van die gesigsvelle getuig kennelik van die lemme se verstomping.

 

 Hare wat met lemmetjies geskeer is soos hulle onder die mikroskoop lyk

BO: Hare wat met lemmetjies geskeer is soos hulle onder die mikroskoop lyk. Links is ’n haar wat netjies met ’n skerp lemmetjie gekloof is en regs een wat deur ’n stomp lemmetjie bygekom is.

 

Foto’s: U.S. Federal Bureau of Investigation

 

Die kwessie van hoe om jou skeerlem skerp te hou, is uiteindelik deur ’n Amerikaanse verkoopsagent opgelos. Hy was iemand wat behep was met net een idee: hoe om ryk word deur iets te maak wat die gebruikers sou weggooi.

 

King Camp Gillette (1855–1932) het vir ’n maatskappy gewerk wat bottelproppe vervaardig het. Hoe meer die mense die proppe weggeggooi het, des te meer het Gillette daarvan verkoop. Een oggend, terwyl hy knorrig na sy stomp skeermes gekyk en gedink het dat hy dit weer na die slyper sal moet neem om op ’n oliesteen geslyp te word, het die blink gedagte hom te binne geskiet: ’n weggooibare skeermes! Dié sal mos die einde van die herhalende treurnis kan beteken!

 

Gillette het die uitvinder William Nickerson gehuur om sy plan uit te voer, in 1901 die American Safety Razor Company gestig, en in 1903 het hy altesame 51 skeermesse en 168 lemmetjies verkoop. Nie aardskuddend baie nie, maar die bal was behoorlik aan die rol. Die volgende jaar was die verkope 90 884 skeermesse en 123 648 lemmetjies.

 

Gillette se skeermesse is in die kleinhandel vir ’n aanmerklike vyf Amerikaanse dollar stuk verkoop (omtrent die helfte wat ’n werksman in ’n week kon verdien), maar het letterlik by die miljoene van die winkelrakke afgevlieg.

 

Binne enkele jare het die ryklik besnorde en bebaarde manne wat die negentiende eeu oorheers het, plek gemaak vir die skoongeskeerde Blink Stefaanse van ’n veranderde wêreld. Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die mans al tuis geskeer en bloedmin van hulle het nog barbiers besoek om die taak vir hulle te doen. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog was tuissskeerdery reeds ’n daaglikse instelling.

 

 Goeie reklame het meegehelp om die skeermes met die goedkoop weggooibare lemmetjie ’n alledaagse gebruiksartikel te maak

BO: Goeie reklame het meegehelp om die skeermes met die goedkoop weggooibare lemmetjie ’n alledaagse gebruiksartikel te maak. Vandag is lemmetjies veelal ingebou in plastiek-skeermesse wat op sigself betreklik goedkoop en weggooibaar is.

 

Vandag is lemmetjies veelal ingebou in plastiek-skeermesse wat op sigself betreklik goedkoop en weggooibaar is. En die lemmetjies sit selfs in pare of ander veelvoude in die skeermesse sodat ’n baardstoppel wat deur een lem gemis word summier deur ’n volgende lem afgeknot word. Dit bied ’n veel gladder skeer.

 

Tog is dit nie net aan Gillette se goedkoop lemmetjie en dié se opvolgers te danke dat skeer so gewild geraak het nie. ’n Afgetrede leërkolonel, Joseph Schick, het in 1928 ’n elektriese skeermes gepatenteer, waarmee daar weggedoen kon word met al die skuime, rome, borsels en goeters wat nodig is om die gesigshare te laat waai. Van toe af is daar ’n alewige stryery tussen die lemmetjie-brigade en die kragskeer-kontingent oor watter soort skeer die beste is.

 

Elke groep weier om oor een kam geskeer te word met die manne wat die ander soort skeerdery voorstaan.

 

 Moderne weggooibare skeermes met sy ingeboude lemmetjies en ’n elektriese skeermes met roterende lemme

BO: Die “nat” en die ”droog” van skeer—’n moderne weggooibare skeermes met sy ingeboude lemmetjies en ’n elektriese skeermes met roterende lemme.

Krediet: MSKARG

King Camp Gillette

King Camp GilletteKING CAMP GILLETTE (foto REGS) moet ’n enigsins eksentrieke kêrel gewees het. Hy het byvoorbeeld in ’n boek die gedagte verkondig dat alle fabrieke in Amerika aan die publiek moes behoort en dat al die Amerikaners in een stad, genaamd Metropolis, moes woon. Die krag vir die stad sou dan deur die Niagara-waterval verskaf word.

 

Ryk soos sy skeermesse en lemmetjies hom gemaak het, was hy feitlik bankkrot toe hy in 1932 oorlede is. Een van die redes was dat hy baie geld aan eiendom bestee het wat hy dit nie later weer in genoeg geld kon omskakel nie. Nog ’n rede was dat hy baie verloor het toe die waarde van sy aandele in die Groot Depressie van die 1930’s geval het.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad