Simbiose (1): Mutualisme en kommensalisme


  Verstommende vertellings van helpmekaar in die diereryk


 

Dierbare bondgenote
 

Bosluisvoëls vreet ’n koei se parasiete... tot voël en bees se wedersydse  voordeel

 

LINKS: Bosluisvoëls vreet ’n koei se parasiete... tot voël en bees se wedersydse  voordeel.

 

As twee hande mekaar was, lui die ou gesegde, word altwee skoon. Maar só ’n samewerking kry ’n mens ook in die diereryk—tussen heeltemal ongelyksoortige skepsels...

   
Foto van koei: Keith Weller / ARS / U.S. Departement of Agriculture (USDA) (foto gewysig
deur superponering van voëls op die oorspronklike beeld)

        

  Klik hier vir Simbiose (2): Parasitisme

 


 

OR die Nylkrokodil en die krokodilvoël het die ou Griek hom kennelik verwonder. Kyk dan net hoe pik die voël die bloedsuiers van die tandvleis van die reptiel af.

 

En die krokodil, wat in die water met die parasiete besmet geraak het, lê oopbek en laat die voël maar begaan. Trouens, hy is só dankbaar vir dié diens dat hy sy geveerde lakei nooit sal opvreet nie.

 

Praat van twee hande wat mekaar was... dit gebeur ook in die dierewêreld, was die man se waarneming. Die ou Griek van wie ons hier vertel,  was die historikus Herodotus, wat sowat 2500 jaar gelede gelewe en hierdie saambestaan van die krokodil en die Afrika-voël beskrywe het.

 

Maar mense wat sy verslag destyds gelees het, het hom nie geglo nie. Die idee dat diere mekaar só kan help, het darem net te vergesog geklink. Jare later is egter getoon dat krokodilvoëls inderdaad bloedsuiers tussen

 

Krokodilvoël vreet lasposte in krokodil se bek

 

die tande van krokodille uitgaps—en dat só ’n saamboerdery van verskillende diere hoegenaamd geen vreemde verskynsel is nie.

 

Waar twee diere saamleef tot die voordeel van een van hulle of van albei, word van simbiose gepraat. Dit kom van die Griekse syn, wat saam beteken, en bios, wat met bestaan vertaal kan word. Daar is drie vorms van simbiose:

 

As altwee diere deur die verhouding bevoordeel word, staan dit bekend as mutualisme. Word slegs een bevoordeel en die ander party nie geraak nie, word dit kommensalisme genoem. Indien een party voordeel trek tot nadeel van die ander, is dit parasitisme.

 

In die eerste van ons reeks van twee dele oor simbiose, kyk ons na ’n paar voorbeelde van mutualisme en kommensalisme. In die ander afdeling ondersoek ons parasitisme.

 

’n Nar wat nie grappies maak nie

BAIE steekdiere van die see lewe op interessante maniere saam met ander diere, wat op hul beurt deur eersgenoemde se stekels beskerm word.

 

Die narvis van die koraalriwwe vertoef byvoorbeeld dikwels by die groot see-anemoon (nie ’n blom nie, maar ’n dier) waar die narvis tussen die anemoon se wriemelende tentakels deurgly. Hy is immuun teen die anemoon se steke, terwyl ander visse gevang en opgevreet word. Hy waag dit selde ver van die anemoon af, omdat dié hom beskerm teen roofdiere wat nie naby die stekels durf kom nie.

 

’n Narvis tussen die tentakels van ’n see-anemoonREGS: ’n Narvis tussen die tentakels van ’n see-anemoon.

 

Foto deur "Janderk", wat dit in die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“public domain”) verklaar het

 

Die gasheer word weer bevoordeel deurdat die narvisse prooi vir die anemoon aanlok. Die nar vreet ook soms die dooie weefsels en afval van sy gasheer.

 

Een soort narvis gaan selfs ’n stap verder. Wanneer ’n roofvis die anemoon nader, spring die nar onder die tentakels uit en wys sy tande om die indringer te verjaag.

 

Ander diere wat die beskerming van steekdiere opsoek, sluit in die kleintjies van die kabeljou, skelvis en marsbanker, wat onder die sambrele van jellievisse wegkruip, en ’n klein blou en silwer gestreepte vissie wat ’n groot deel van sy lewe tussen die stekelige tentakels van die bloublasie verwyl.

 

En daar is ’n soort kluisenaarkreef wat selfs ’n groot anemoon bo-op sy dop saamdra. Namate die kreef groei, moet hy ’n groter woonplek gaan soek. Wanneer hy ’n nuwe skulp kry wat hom pas, hou hy die leë skulp met sy knypers vas, verwyder die anemoon met sy ander pote en plaas dit op sy nuwe tuiste.

 

’n Kreef in die Indiese Oseaan het ’n anemoon op elke poot. As ’n roofdier hom pla, smyt hy ’n vuis vol stekende tentakels in sy gesig.

 

Skoonmaakdienste

BAIE diere maak ander soorte diere skoon deur die parasiete te vreet wat op hulle woon.

 

In die see is daar, sover bekend, meer as veertig soorte visse en minstens ses soorte garnale wat só ’n skoonmaakdiens lewer.

 

SkoonmaakdiensREGS: Skoonmakery is ’n algemene verskynsel in die ekosisteme van tropiese en subtropiese riwwe. Hier is ’n alte gewillige vissie besig om ’n veel groter mede-rifbewoner van ongewenste aanhangels te suiwer—want in dié proses raak hy immers self gevoed.
    
      

Foto: Flower Garden Banks National Marine Sanctuary / NOAA

 

Sonvisse wat bo-op die water dryf, ontbloot weer hul sye sodat seemeeue kan afduik om die visluise te verwyder.

 

Op koraalriwwe is daar—glo dit—selfs klein “diensstasietjies” waar visse kan inswem om deur sogenaamde lipvisse en garnale “versorg” te word.

 

Die lipvis, met ’n blou en wit gestreepte “uniform”, dans voor sy klant, wat sy kieudeksels oophou en sy bek in ’n posisie van aanvaarding.

 

Dis dan ’n hele gewerskaf soos die lipvis stukkies dooie vel, swamme en visluise van sy klant afknaag en wonde skoonmaak—reg in die bek inswem en weer deur die oop kieudeksels uitkom.

 

Baie visse besoek hierdie skoonmaakplekke gereeld. Hoewel die skoonmakers tot 300 klante in ses uur kan bedien, vorm die visse dikwels toue om hul beurt af te wag!

 

Op die Galapagoseilande is ’n kreef wat bosluise van die iguanas verwyder en ’n vink wat die reuse-skilpaaie versorg.

 

Die vink bied sy dienste aan deur lewendig op en af voor die skilpad te wip, wat weer sy geneentheid om skoongemaak te word sal betoon deur sy nek uit te strek en sy dop op te lig.

 

Dan spring die vink aan die werk. Hy inspekteer die nek en bene vir onplesierige parasiete en verwyder dié wat hy kry. Intussen staan die skilpad doodstil.

 

Vreet saam op die vreedsame vlaktes...

DIESELFDE soort diens bestaan op die vasteland van Afrika, waar ’n aantal voëls “agente” gebruik om insekte op te jaag wat hulle dan vreet. Die bekende bosluisvoëls swerm gewoonlik om die pote van graasdiere soos beeste, bokke, buffels, seekoeie en olifante.

 

Namate die groot diere deur die gras beweeg, steur hulle die sprinkane wat opvlieg om weer ’n paar meter verder in die gras te verdwyn. Wanneer die insekte só versit, gryp die bosluisvoëls hulle.

 

Dis darem nie net die voëls wat by dié verhouding baat vind nie. Die voëls wei ook dikwels op die rûe van die weidiere om hul bosluise weg te pik (soos op die foto bo-aan hierdie artikel).

 

Nog ’n Afrika-voël, die renostervoël, het selfs ’n hegter verbintenis met die graasdiere. Hy vreet niks anders as die bosluise, vlooie en maaiers wat hulle op sy vennote tuis gemaak het nie, en sy liggaam is volmaak toegerus vir sy soort lewe.

 

Sy snawel is plat sodat hy sy kop eenkant toe kan draai, diep in die hare van sy gasheer kan indring en die bosluis behoorlik kan beetkry. Sy kloue is besonder lank sodat hy stewig aan die gasheer kan vasklou, selfs wanneer dié vinnig beweeg. Sy stert is kort en styf en verleen steun wanneer hy die dier van die kant af beklouter.

 

Sonder hierdie diens sou graasdiere nooit ontslae geraak het van bosluise aan die ore of maaiers by die stert nie. Gevolglik laat die gashere die voëls toe om te loop waar hulle wil. Die renostervoël is so tuis op sy gasheer dat hy selfs paringsvertonings op sy lewende verhoog lewer.

 

Behalwe dat hulle bosluise verwyder, waarsku die renostervoëls ook hul vennote wanneer gevaar dreig. Eers uiter hulle sagte waarskuwingskrete wat harder word na gelang die gevaar—dikwels grootwildjagters—nader kom.

 

Byevreters vreet ook die insekte wat deur graasdiere opgejaag word, maar doen niks in ruil vir die groot diere nie—’n voorbeeld van kommensalisme.

 

Ai, kyk so ’n “motgevrete” pels!

SUID-AMERIKA se rare ai, of drievingerige luiaard, het nie net alge in sy pels nie, maar word ook dikwels deur ’n swetterjoel malende motte vergesel. Vroeër is gedink dat die motte die alge vreet, maar vandag weet ons dat hulle die ai se haarkleed as ’n bewegende tapyt gebruik om van een broeigebied na ’n ander te verhuis.

 

Aangesien die ai blykbaar geen voordeel uit die verhouding trek nie, is dit ’n voorbeeld van kommensalisme.

  

Een van die soorte luidiere wat inheems is in die tropiese woude van Suid- en Sentraal-AmerikaLINKS: Een van die soorte luidiere wat inheems is in die tropiese woude van Suid- en Sentraal-Amerika. Dit verbaas ’n mens nie eintlik dat motte hul intrek in so ’n ruie “jas” sal wil neem nie!

 

Foto met verguning van
http:// www. freejunglepictures. com 

 

Só is daar ook ’n dosyn soorte vis, die sogenaamde remoras, wat ’n suigskyf bo-op die kop het. Hulle heg hulself met dié suier aan ’n haai of waterskilpad vas en word só rondgedra. In ruil vir dié vervoerdiens vreet hulle die parasiete wat hulle op die gasheer tuis gemaak het. As die gasheer ’n prooidier gevang het, maak die remora homself los en vreet die stukkies afvalvleis.

 

In die oerwoude van Costa Rica is weer ’n muisie wat ’n soort taxi vir kewers is. Met hul buitengewoon groot kake kleef die kewers aan die ore en nek van die knaagdiere wanneer dié snags deur die bosse skarrel.

Dit lyk of hierdie vennootskap muis sowel as kewer bevoordeel. Bedags verlaat die kewers die muis se pels en vreet die vlooie in sy neste om die muis gesonder te hou. 

Mier word ’n “melkboer”

MIERE sluit van die merkwaardigste vennootskappe met ander organismes in die diereryk. Die bekendste van alle miervennote is die plantluise, wat in troppe aangehou en deur die miere vir hul heuningdou “gemelk” word, kompleet nes suiwelboere en hul beeste. Die plantluise word in ruil deur die miere versorg.

 

’n Mier besig om plantluise vir hul heuningdou te “melk”REGS: ’n Mier besig om plantluise vir hul heuningdou te “melk”.


Foto deur gebruiker Guido Gerding (XN) beskikbaar gestel in die Duitse weergawe van die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web en wel in die artikel oor “Ameisen” (miere). Die groter weergawe van die foto verskyn in die Wikipedia by hierdie skakel, waar vertel word dat kopiëring vergun word ingevolge die Gnu Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe, soos deur die Free Software Foundation gepubliseer.

 

Daar is die mooi voorbeeld van een soort Amerikaanse mier en ’n plantluis wat van mieliewortels leef. In die winter word die luiseiers in die mierneste bewaar.

 

Wanneer die eiers in die lente uitbroei, is die mieliewortels nog nie op die spyskaart nie en word die jong luisies deur die miere na die wortels van ander plante afgedra. Wanneer die mielies bekwaam is, dra die miere die plantluise na die mieliewortels.

 

Daar is ’n meer ongewone verhouding tussen die Australiese groenboommier en die ruspe van die blou  eikevlinder. Die miere vreet gewoonlik ruspers, maar maak ’n uitsondering met hierdie een, wat vanuit ’n tepel op sy rug ’n suikeragtige vloeistof afskei wat ook heuningdou genoem word, asook aminosure vanuit sy vel.

 

Toegewyd versorg die miere die rusper. Hulle maak ’n skuilte vir hom waar hy oornag. Hulle vergesel hom waar hy ook al gaan vreet en hardloop rasend om hom soos wafferse swaar gewapende vegters en verdryf sy vyande met mieresuur.

 

   Klik hier vir Simbiose (2): Parasitisme.

Mutualisme, oftewel wedersyds winsgewende vennootskappe in die natuur, kom nie net onderling by ongelyksoortige diere voor nie. Baiemaal kan ’n dier en ’n plant mekaar só ondersteun. Of selfs ’n swam en ’n plant!

 

Miere en plante, beste maats

 

In die woude van Borneo het ’n bekerplant en die sogenaamde Colobopsis-miere ’n sonderlinge transaksie beklink. Die plant is die miere se losieshuis. Op hul beurt help die miere die plant met sy vertering van insekte…

 

DIE onlosmaaklike verhouding tussen ’n insektevangende plant van die berge by Ceres in die Wes-Kaap en ’n vlytige kewertjie wat op die plant woon... hieroor was daar ’n tyd gelede ’n interessante insetsel in die program 50/50 op die TV.

 

Insekte kleef aan die plant se taai afskeidings vas, maar die plant het self geen verteringsorganismes nie. Die vertering word vir hom gedoen deur die kewertjie, wat om die een of ander rede nie ook aan die kleefstof vassit nie en die gevange insekte namens hulle altwee verorber. Die plant leef naamlik van die kewertjie se uitwerpsels.

 

Ook dit is mutualisme—die intieme saamleef van dierlike en plantaardige organismes tot albei se voordeel. Trouens, selfs ’n swam en ’n plant kan mekaar mutualisties ondersteun.

 

’n Klassieke voorbeeld is korsmos. Dit is daardie swamagtige groeisel wat jy soms as ’n ruwe kors op bome, rotse en mure sal aantref. Korsmos is egter nie net ’n swam nie, maar ook ’n alg. Die twee lewe in volmaakte harmonie saam deurdat die alg kos vir die swam produseer deur middel van fotosintese, terwyl die swam die alg beskerming bied en water en minerale uit hul omgewing absorbeer.

 

Nog ’n wonderlike voorbeeld van wedersyds voordelige simbiose is in die woude van Borneo gevind. Hier is dit ’n mier en ’n plant wat op mekaar aangewese is.

 

’n Vleisvretende bekerplant (Nepenthes bicalcarata) van dié woude stel ’n dodelike strik vir die insekte wat hy verorber. Sy beker is vol vloeistof en insekte wat daarin beland, kan nie weer uitkom nie, maar hulle verdrink. Dan word hulle deur die plant verteer.

  

Ter illustrasie: die hegrank van ’n bekerplantMaar nou is daar Colobopsis-miere wat in die hegrank van die beker woon, wat ’n belangrike rol speel om die plant gesond te hou. Die miere verlaat taks hul tuiste in die hegrank om in die plant se verterende sappe in te duik en daarin rond te swem—net om weer heelhuids uit die doodsput te klim, anders as ander insekte wat dit onmoontlik vind om daaruit te ontsnap.

Boonop versamel hulle groterige prooidiere soos byvoorbeeld krieke wat in die verteringsappe beland het. As sulke groot insekte in die beker sou opgehoop en begin ontbind het, sou die verteringsappe sleg geword het—en die plant slegte spysvertering ondervind het, om dit so te stel.

 

Die miere se rol is egter juis om die groot bielies uit die vloeistof te verwyder. Verskeie werkers is nodig om die swaar prooi vir die miere-fees weg te sleep. Maar hoekom gly die miere dan nie ook teen die gladde wande van die beker af soos ander insekte wat met die beste wil ter wêreld nie daarteen kan opklim nie? Dit moes nog vasgestel word toe die inligting ontvang is waaruit hierdie artikel saamgestel is.

 

Die bekerplant Nepenthes bicalcarataLINKS: Die bekerplant Nepenthes bicalcarata, wat deur miere-opruimers sindelik gehou word... werkers wat beloon word met al die onhanteerbare oorskiet-kosse wat die plant nie self kan verorber nie.

 

Foto deur sy eienaar in die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“public domain”) verklaar (buiterand deur ons verwyder)

 

Op sekere onvrugbare sandsteen-heuwels in Borneo is daar, volgens geleerdes, weer Philidris-miere wat soos mobiele wortelstelsels voedingstowwe na hul gasheer-plante bring. ’n Varing voed sy mierkolonie met eetbare massas olierige oranje spore. Die miere lewe in die varing se bespikkelde stingels, waarheen hulle voedingryke oorblyfsels sleep om ’n soort kompos vir die plant te skep.

 

Tussen die stingels groei ’n ander plant wat in vennootskap met die Philidris-miere gedy. As ’n mens ’n blaar van die plant Dischidia oopsny, vind jy allig ’n florende Philidris-kwekery tussen die plant se slanke wit wortels. Vanweë hul unieke ligging binne-in die blare kan die wortels voedingstowwe onttrek uit die dele van insekte wat die Philidris-miere versamel en na hul huis aansleep.

 

Nog ’n plant, die grysbruin Hydnophytum, wat aan boomstamme groei, verskaf ook woonruimte aan die Philidris-miere in ruil vir só ’n “bemestingstof”.

 

Miere kan hul plante soms verwoed verdedig. Daar is al waargeneem hoe  ’n kontingent van miere in Singapoer ’n rottangpalm beskut—asof dié plant se eie stekels hom nie genoeg beskerming bied nie.

 

Selfs aggressiewer nog is die Suid-Amerikaanse miere Pachycondyla goeldiii, wat maklik verbygangers sal aanval om die plante te beskerm wat keer dat die miere se brose neste en tuine soos karton in die reën versmelt. As ywerige tuinmakers sowel as lojale verdedigers saai die miere ook plantsaad in die tuine wat onder die blaredak versprei lê.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad