|
Moderne
geskiedenis: Wat het werklik gebeur tydens een van Suid-Afrika se
droewigste insidente en waarom?
DIS
21 Maart 1960, ’n dag wat nog in die annale ingegrif sal word as een van
die rampspoedigste in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Apartheid ry in
hierdie tyd op die kruin van die golf. Maar die atmosfeer van swart verset
teen dit wat as blanke dwingelandy beskou word, is vandag so dik dat ’n
mens dit met die spreekwoordelike mes kan sny. Passe
word op verskeie plekke verbrand—die gehate identiteitsdokumente wat
alle swartmense gedurig by hulle moet hê of die gevaar loop om
gearresteer te word. Dan sak die betogers op polisiekantore toe en vra dat
hulle in hegtenis geneem moet word. In die meeste woonbuurte
verloop die protesveldtog weliswaar vreedsaam. Die polisie arresteer óf
die wetsoortreders óf gelas hulle om pad te gee. Maar in die swart
woonbuurte Sharpeville, naby Vereeniging, en Langa, naby Kaapstad, verloop
sake dramaties anders. Etlike
duisende swartmense (bronne wissel van ’n geskatte 5000 tot sowat 10 000)
drom ure lank saam om die polisiekantoor in Sharpeville. Volgens verslae
sou sekere konstabels hulle naderhand bedreig gevoel het. Daar is agterna
vertel dat daar geen bevel daartoe gegee was nie, maar dat die
polisiemanne uit eie beweging met Sten-gewere en ander vuurwapens
losgebrand het. Pandemonium.
Die skare begin wild vlug. Toe die skietery bedaar, word die verskriklik
sombere nasleep daarvan duidelik. Dooies en gewondes lê gesaai oor die
gebied. In
’n nadoodse ondersoek sou dit blyk dat die meeste van dié wat aan
skietwonde dood is, van agter geskiet is. Hulle was dus reeds aan die vlug
toe die koeëls op hulle gereën het. Sharpeville
se 69 dooies en tallle meer gewondes sou in die bevrydingstryd van die
Suid-Afrikaanse swartmense as een van die tragiese hoogtepunte van die
"Struggle" uitstaan. Verslae
oor die getal gewondes het gewissel, maar dit is op 178 vasgestel. In 1998
het die Waarheids- en Versoeningskommissie in sy verslag daaroor egter
bevind dat meer as 300 gewond was. Hoe
ook al, wat dit des te tragieser maak, is dat daar, volgens sekere bronne,
agt vroue en ses kinders onder die oorledenes was, en 31 vroue en
negentien kinders onder die gewondes. Die
Waarheids- en Versoeningskommissie het ook bevind dat die polisie nagelaat
het om die skare te beveel om uit een te gaan voordat hulle begin skiet
het. Dieselfde
aand het onluste toe ook in die swart woonbuurt Langa, buitekant Kaapstad,
losgebars. Sowat 6000 betogende swartmense protesteer teen die paswette en
eis hoër lone. Ook hier skiet die polisie, ofskoon net twee van die
betogers gedood word. Hierop ruk die skare hand-uit, stig brande in Langa
en sak toe op mense in busse en motors. Die
volgende dag bly tienduisende mense in en om Kaapstad en in die
Vereeniging-gebied van hul werk af weg. Suid-Afrika huiwer op die rand van
’n volskaalse revolusie... Maar waar het dit alles begin? En wat was die gevolge van veral die Sharpeville-insident? Die verset van die ontkieserde Suid-Afrikaanse swartmense het eintlik al oor baie jare opgebou. En die nadelige uitwerking wat Sharpeville op die Suid-Afrikaanse ekonomie gehad het, is onberekenbaar.
Die
aanloop tot Sharpeville
DIE
beleid van apartheid wat ingestel is nadat die Nasionale Party in 1948
die bewind van die Verenigde Party oorgeneem het, was in baie opsigte
maar net ’n voortsetting van die meestal vrywillige skeiding
tussen blank en gekleurd wat reeds aanwesig was in die vroegste jare van
die blanke nedersetting aan die Kaap. Die
verskil was dat die Nasionale regering nou hierdie skeiding wetlik
afgedwing het—rasse verplig het om apart te wees en nie te vermeng nie.
Daar was enersyds die persepsie dat dit die enigste manier sou wees om die
voortbestaan van die blankes in die land te verseker en andersyds dat
hierdie verdeling alleen maar tot voordeel van wit én swart sou wees. Kultuurverskille
is nie net beklemtoon nie, maar sterk aangemoedig. Self het die
Nasionaliste dan ook hul beleid nie apartheid genoem nie, maar
afsonderlike ontwikkeling. Dit het egter ook beteken dat die swartmense
geen politieke regte hoegenaamd in "witmens-gebiede" gehad het
nie, maar slegs in hul landelike, grootliks onderontwikkelde
"tuislande". Baie politieke waarnemers sê vandag dis eintlik te
verwagte dat daar verset sou wees. Wat
darem nie uit die oog verloor moet word nie, is dat daar destyds by baie
Christelik opgevoede blankes ’n byna tasbare vrees bestaan het dat die
Kommunistiese Sowjet-Unie sy tentakels in Suid-Afrika sou kon inslaan. En
omdat Kommuniste so sterk in die swart bevrydingstryd na vore getree het,
moes dié met alle mag beveg word. (Die verbrokkeling van die Sowjet-Unie
veel later in die jare negentig was een van die sleutelfaktore wat tot die
blankes se bereidwillig bygedra het om hul oorheersing prys te gee en die
mag te deel.) Die
propagering van revolusionêre denke onder die swartmense het natuurlik
ook die owerheid ná 1948 glad nie aangestaan nie. In September 1955 is
die huise van honderde linksgesindes deur die polisie deurgesoek en op
’n groot aantal dokumente beslag gelê. Die dokumente is bestudeer en
meer as ’n jaar later, in Desember 1956, is 156 mense, blank en
nie-blank, weens beweerde hoogverraad gearresteer. Onder
hulle was ook mense soos Oliver Tambu, Walter Sisulu en
Nelson Mandela,
leidende figure in die African National Congress, ’n organisasie wat reeds
in 1912 gestig was om die swartmense se belange te bevorder. Op
die ou end is net 91
beskuldigdes werklik verhoor, maar dié saak het eers in November 1960
begin. In Maart 1961 is al die beskuldigdes ontslaan nadat bevind is dat
daar geen bewyse was dat hulle die regering gewelddadig wou omverwerp nie.
Die aanklag teen die oorblywende mense is toe ook teruggetrek. Maar
dit was vir die blankes baie duidelik dat daar ’n opwellende verset teen
hul oorheersing aan die ontwikkel was. In
November 1958 het ’n aantal ekstremistiese nasionaliste of "Africanists"
van die African National Congress weggebreek en enkele maande later, in
April 1959, die Pan-Africanist Congress gestig. Anders as gematigdes in
die ANC, wou die ''Africanists'' nie hoor van ’n regering waarin die mag
gedeel word nie. Wat hulle aanbetref, was die swartes is in die
meerderheid en daarom moes hulle regeer—in die woorde van hul leier,
Robert Sobukwe, ’n "regering
van die Afrikane, deur die Afrikane, vir die Afrikane". Onder
Sobukwe het die Pan-Africanist Congress so vinnig gegroei dat die
organisasie binne ’n jaar byna net so sterk soos die African National
Congress was. In gebiede waar die ANC sterk gestaan het, soos in Natal en
Oos-Kaapland, kon die PAC nie veel vorder nie, maar in Orlando (by
Johannesburg), in Sharpeville en ander woonbuurte naby Vereeniging en in
die Wes-Kaap het dit baie aanhangers gehad. Die
African National Congress en die Pan-Africanist Congress het só met
mekaar gewedywer dat die een almaardeur die ander een voor wou wees sover
dit verset teen die blanke bewind aangaan. Nadat die ANC aangekondig het
dat daar op 31 Maart 1960 met ’n versetveldtog teen die paswette begin
sou word, het die PAC besluit om reeds tien dae vroeër, op 21 Maart 1960,
met ’n soortgelyke protesveldtog te begin—en sodoende die inisiatief
te kaap. Volgens
Robert Sobukwe sou dit slegs die begin wees van ’n ál hewiger verset
wat binne drie jaar tot ’n bewindsoorname van die Pan-Africanist Congress
in Suid-Afrika moes lei. Dit
was dus in opdrag van die Pan-Africanist Congress dat die betogings
plaasgevind het wat tot die noodlottige Sharpeville-insident gelei het.
Gevolge
van Sharpeville
DIE
hete verset teen die blanke regering neem ná Sharpeville hand oor hand
toe—soseer
dat ’n jong student met die naam Philip Kgosana op 30 Maart 1960 selfs
’n optog van sowat Die
regering reageer op die bedreiging deur ’n noodtoestand in 122 van die
land se 265 distrikte af te kondig (30 Maart - 11 April). Sowat 11 500
swartmense word ook in hegtenis te neem, en eenhede van die burgermag word
opgeroep om die woonbuurte Langa en Nyanga van die buitewêreld af te sny. Sowel
die PAC as die ANC word verbied, wat daartoe lei dat dié organisasies
ondergronds of in ballingskap gaan. Hierna sou ook gematigdes hul
tradisionele strategie van nie-gewelddadige protes versaak en hulle ál
meer tot gewapende opstand wend. Die regering het dit reggekry om die
binnelandse opstande te smoor. Maar die gees van verset sou nie geblus
word nie. Die
Sharpeville-insident is in Suid-Afrika betreur, maar in die buiteland is
dit ten sterkste afgekeur en miljoene rande het die land uitgevloei. Daar
was ook ’n skerp veroordeling van die Suid-Afrikaanse bewind deur die
Verenigde Nasies. Intussen het die
ondergrondse weerstand voortgeduur. Gevang deur die polisie ná meer as
’n jaar op vrye voet, word Nelson Mandela (wat onder die naam The Black
Pimpernel bekend geword het) in Junie 1964 in die sogenaamde
Rivonia-verhoor aan sabotasie en verraad skuldig bevind en tot lewenslange
tronkstraf gevonnis. Daar was ook ander
beskuldigdes in die saak—swart en blank—en mnr. Mandela en andere is aanvanklik op
Robbeneiland aangehou,
waar hulle klippe moes kap in ’n kalkmyn. Mnr. Mandela se jarelange
tronklewe en uiteindelike triomf as die eerste swart president van ons
land is op sigself ’n epiese verhaal. Sharpeville
was ’n keerpunt in Suid-Afrika se na-oorlogse geskiedenis. In die
volgende dertig jaar sou dié land ál meer deur die internasionale
gemeenskap geïsoleer word—tot die jare negentig toe ’n nie-rassige
regering ’n heeltemal nuwe bedeling ingelui het. |