|
|
|
ERWYL Napoleon Bonaparte besig was om Europa te verower (voordat uiteindelik
egter self die onderspit gedelf het), het daar in die ooste van Suid-Afrika ’n ander
suksesvolle krygsheer en staatsman verrys. Sy
naam was Shaka. As
die verwerpte, buite-egtelik verwekte seun van ’n mindere kaptein is hy
saam met sy ma uit sy pa se kraal verban. In die wolk van skande wat hom
in sy jeug omgewe het, word vertel, het hy homself probeer bewys deur uit
te blink in alles wat hy doen.
Uit
’n kern van moontlik net sowat vyfhonderd stamlede het hy ’n magtige
leër van hoogs opgeleide en gedissiplineerde krygsmanne opgebou. Die
Zoeloe het gegroei deur ander stamme te onderwerp, wat dan polities en
kultureel geassimileer is. Binne nagenoeg ’n dekade het Shaka ’n
yslike gebied onder sy beheer gehad. Maar
toe kom die keerpunt. Shaka het obsessief bevrees begin raak dat hy
onttroon sou word en hy was diep geruk toe sy ma in 1828 oorlede is. Sy
einde later daardie jaar was so gewelddadig soos sy lewe...
Hoe
die Zoeloes se voorvaders na Suid-Afrika gekom het en die politieke
toestande wat die toneel vir Shaka se ryk help voorberei het
DIE
jongste argeologiese navorsing dui daarop dat die voorvaders
van die Suider-Afrikaanse swartmense, insluitende die Zoeloes, boere was
wat van verder noord op die vasteland gekom het. Van sowat die eerste of
tweede eeu n.C. het hulle hulle in klein gemeenskappe langs die kus van die
teenswoordige KwaZulu-Natal gevestig. Hulle
het later opwaarts versprei in die riviervalleie van die streek en nog
later tot in die hoër liggende graslande. Daar is taal- en genetiese
getuienis dat hulle noue verbintenisse gehad het met die destyds bestaande
bewoners van die streek—jagter-versamelaars wat taamlik seker
Khoisan-tale gepraat het. Dit lyk of die vroegste voorouers van die Zoeloes in betreklik groot, selfonderhoudende statte gewoon het. Ná omstreeks 1000 n.C. het hulle in kleiner wooneenhede versplinter, wat benodigdhede onder mekaar geruil het. Die
mense het sorghum en millet (voëlsaad) gekweek en beeste, bokke en
langstert-skape geteel. Spesialiste onder hulle het yster gesmelt, gesmee
en daarmee handel gedryf. Die een of ander tyd ná 1500 het hulle mielies
begin kweek, ’n Suid-Amerikaanse gewas wat moontlik deur Europese
seevaders na Afrika gebring is. Tot
die tweede helfte van die agttiende eeu was die inwoners van die
huidige KwaZulu-Natal blykbaar in klein kapteinsgebiede georganiseer waar
miskien ’n paar duisend mense op ’n paar honderd vierkante kilometer
gewoon het. Ná 1750 het
groter state begin ontwikkel, moontlik as ’n reaksie op die verspreiding
van ’n internasionale handel in ivoor, beeste en slawe na die streek. Die
bevolking het weliswaar ook toegeneem en die gemeenskappe het dus ál meer
om grond en water meegeding. Goeie weiding en water was immers nie
onbeperk nie. Maar dan was daar eweneens die wedywering was om beheer te
verkry oor die voordelige handel met blanke handelaars in Delagoabaai. Dit
het die konflikpotensiaal in die gebied verder verhoog. Teen
1800 was die proses van magskonsolidasie in die hande van enkele sterk
Nguni-kapteinskappe in Noord-Natal en Zoeloeland reeds ver gevorder. Die
gevolge van die wedywering en die daaruit voortvloeiende botsings was dat
die sterkere kapteinskappe soos die Ngwane, Ndwandwe en Mthethwa die
kleinere Nguni-kapteinskappe verower en ingelyf het. Op dié wyse het
enkele groot militêre konfederasies ontstaan. ’n
Sentrale kapteinskap in elke konfederasie het beheer uitgeoefen oor die
verowerde kapteinskappe wat nog ’n mate van outonome beheer gehad het.
Die kapteinskappe is ál meer op ’n militêre grondslag georganiseer
deur die daarstelling van ouderdomsregimente (amabutho),
wat onder die regstreekse beheer van die kaptein as soldate en ook as arbeiders
kon funksioneer. Teen
1800 was die proses reeds duidelik waarneembaar, maar dit sou eers onder
Shaka tot ’n hoogtepunt gevoer word binne die groot en magtige
Zoeloe-koninkryk wat hy tot stand gebring het.
Shaka se jeugjare
SHAKA is omstreeks 1787 gebore. Sy pa was Senzangakona, kaptein van
die klein Zoeloe-kapteinskap, wat deel was van die groter
Mthethwa-konfederasie onder die leierskap van Dingiswayo. Sy ma was Nandi,
dogter van die leier van die Langeni-kapteinskap. Daar
is ’n paar verskillende verhale rondom rondom Shaka se geboorte. Taamlike
eenstemmigheid bestaan wel dat hy ’n buite-egtelike kind was. Volgens
een vertelling was
dit ’n ernstige misstap onder die Nguni wat veral die vrou en kind se
status in die gemeenskap nadelig geraak het. Ná Shaka se geboorte het
Senzangakona vir Nandi as vrou geneem, maar sy sou, onder meer weens haar
onaangename persoonlikheid, nie lank in Senzangakona se kraal vertoef het
nie.
Volgens
’n ander relaas, wat tog in sekere mate by die vorige vertelling
aansluit, was sy ma Nandi ’n weeskind-prinses van ’n buurstam, die
Langeni. Omdat sy pa Senzangakona
tot dieselfde stam behoort het, was hul huwelik strydig met die gebruike
van Zoeloes, en hierdie stigma is na die kind Shaka uitgebrei. Die egpaar
sou geskei het toe Shaka ses jaar oud was. Hoe
ook al, Nandi het in die een of ander stadium haar seun teruggeneem na die
Langeni, waar hy ’n vaderlose jeug geslyt het tussen mense wat sy ma
verafsku het. Die
ander kinders van die gemeenskap het Shaka ook nie aanvaar nie. Hulle het
hom gespot en mishandel, terwyl hy deur sy eie optrede ook nie juis die
guns van die gemeenskap gewen het nie. Volgens
een bron is Nandi in 1802 deur die Langeni verjaag. Sy het uiteindelik
beskerming gevind by die Dletsheni, nog ’n kapteinskap van die magtige Mthethwa.
En toe Shaka 23 jaar oud was, het Dingiswayo, die Mthethwa-opperhoof,
die jongelinge van Shaka se ouderdom in die Dletsheni-substam tot
diensplig opgeroep. In die volgende ses jaar het hy hom uitmuntend as ’n
krygsman van die Mthethwa
onderskei. ’n
Ander bron sê dit was weens droogte en hongersnood dat Nandi in 1802
verplig was om met Shaka, toe reeds vyftien
jaar oud, en haar ander kind elders uitkoms te gaan soek. Ná
etlike jare van rondswerf van een gemeenskap na die ander het hulle hulle
uiteindelik onder die Mthethwa gaan vestig. Dingiswayo het hulle
vriendelik ontvang en Shaka in die sorg van sy senior militêre
aanvoerder, Ngomane, geplaas. Ambisieuse jong kryger
SHAKA was ’n sterk, atletiese jong man met duidelike
leierseienskappe en ’n besondere krygsvemuf. Hy het die krygstaktiek van
Dingiswayo se leërs aangeleer en hom as ’n besonder dapper en vreeslose
krygsman onderskei. Nadat hy as aanvoerder van een van die regimente aangestel was, het hy spoedig Dingiswayo se aandag getrek. Hy het selfs Dingiswayo se gunsteling, asook een van sy vernaamste militêre raadgewers geword.
Foto: Kopiereg © South African Tourism / Suid-Afrikaanse Toerisme
Boonop
het hy die Nguni-gevegsformasie feitlik vervolmaak. Dit het behels dat die
mag gekonsentreer was in ’n aantal regimente wat die frontaanval moes
loods, terwyl ander regimente van die flanke af moes aanval—’n formasie
in die vorm van die bors en horings van ’n bul.
Shaka se militêre koninkryk
SHAKA se pa, Senzangakona, is in 1816 oorlede.
Een van sy jonger broers het die kapteinskap van die Zoeloe oorgeneem,
maar met die hulp van Dingiswayo het Shaka sy gesag oor die stammetjie
gevestig. Die Zoeloe het toe waarskynlik nog uit
minder as 1500 siele en sowat 500 krygers bestaan en ’n gebied aan die
Wit Umfolozi-rivier bewoon.
Dog die dag toe Shaka daar aangekom het, het die Zoeloe se opmars na grootheid begin.
Shaka het van die begin af met ’n ysterhand regeer en die
geringste teenkanting onmiddellik met die doodstraf beantwoord. Boonop
kon hy sy eie magte ophou danksy die beskerming wat hy aanvanklik van
Dingiswayo ontvang het. Maar
in 1818 het Dingiswayo in ’n geveg tussen die Mthethwa en Ndwandwe
gesneuwel. Die vernuftige Shaka het egter in die dood van sy mentor ’n geleentheid vir homself gesien. Hy het sy kans waargeneem en die verslane
Mthethwa onderwerp en ingelyf. Daardeur het hy sy Zoeloe-staat vergroot en
met ’n proses van verowering begin wat sy klein staatjie in ’n magtige
koninkryk sou omskep. Zwide
van die Ndwandwe was so onrustig oor Shaka se magsopbou dat hy sy
krygsmanne in April 1818 gestuur het om die Zoeloe aan te val. Hulle moes
egter die aftog blaas. Shaka het toe sy regimente bly versterk, onder meer
deur talle nuwe krygsmanne uit die naburige kapteinskappe by sy leër te
voeg. Toe
Zwide teen die einde van 1818 weer die Zoeloe aanval, was Shaka beter
voorbereid. Die Ndwandwe is verslaan en, met die grootste teenstand uit die
weg geruim, was Shaka nou in beheer van ’n groot deel van Natal noord
van die Tugela. In
die daaropvolgende jare het hy sy leërs talle kleiner kapteinskappe
verslaan en diegene wat nie gedood is nie, by die groeiende Zoeloe-staat
ingelyf. Teen 1824 was Shaka in beheer van ’n groot gebied van die
Pongola in die noorde tot oorkant die Tugela in die suide. Deur sy
verowerings het hy sy klein Zoeloe-staatjie tot ’n groot Zoeloe-koninkryk
opgebou. Anders
as die losse konfederasies van die Mthethwa en die Ndwandwe se
kapteinskappe, was Shaka se staat ’n sterk, gesentraliseerde militêre
koninkryk. Hy was self die besitter van sy ryk se grondgebied en kon dus
grond toeken aan wie hy wou. Sodoende is hy van sy begunstigdes se
lojaliteit en onderdanigheid verseker. Geen
afvalligheid of teenstribbeling is steeds geduld nie, en met die byna
daaglikse, summiere teregstellings van teenstanders, of gewaande
teenstanders, is die koning se oppergesag met bloed afgedwing. In
Shaka se militêre koninkryk is groot nedersettings of krale vir sy leërs
opgerig, onder meer by
Bulawayo en Isiklehbe. Elke kraal was onder die beheer van ’n militêre
leier of induna, wat
deur Shaka aangestel is. Die leiers is vanweë hul bekwaamheid en
lojaliteit aangestel en nie op grond van hul tradisionele gesagsposisies
nie. Met hierdie werkwyse het Shaka die gesagsposisie van die tradisionele
kapteins aangetas. Shaka
en die indunas het
die krygsmanne so te sê ten volle beheer. Die dissipline was so streng en
die indoktrinasie so intens dat die gedugte vegters eerder sou sterf as om
verslaan van ’n slagveld af terug te kom. Die
diensplig was lank en die krygsmanne is deur Shaka verbied om in dié tyd
te trou. Eers nadat dit verby was, kon hulle met ’n normale gesinslewe
begin. Shaka self het nooit getrou nie, maar in elk van die groot krale
was daar ’n soort harem met talle vroue onder beheer van die senior
koninklike vroue. Hierdie vroue moes die koning vermaak en sekere
huishoudelike pligte nakom.
Foto: Kopiereg © South African Tourism / Suid-Afrikaanse Toerisme
Geen
ander man is daar toegelaat of kon by die vroue toenadering soek nie.
Shaka was so onversetlik hieroor dat hy eenkeer 170 jong mans en vroue
laat doodmaak het net omdat hy gedroom het dat hulle intiem met die vroue
verkeer het. As
van die vroue swanger geraak het, is hulle ook doodgemaak. Shaka was heel
waarskynlik lugtig vir die moontlikheid dat ’n opvolger probleme kon skep.
Hy egter na nooit na die vroue as sy
“vroue” verwys nie, maar as sy “susters”. Hy het ook
verklaar dat hy net die gedeeltelike intimiteit sou beoefen wat in sy
kultuur vir ongetroude paartjies toelaatbaar was (dit kon egter steeds tot
swangerskap lei). In
sy militêre koninkryk het hy ook nie ou en sieklike mense geduld nie en
hulle is doodgemaak.
Einde van die skrikbewind
TYDENS sy bewind het Shaka ook met blankes kontak gemaak. Hy het
trouens besonder goed met die witmense in Port Natal oor die weg gekom,
hoewel hy nie diplomatieke betrekkinge met Brittanje kon sluit nie. Die
handelsware van die blankes was vir hom ’n groot aantrekkingskrag en hy
het veral gehoop om vuurwapens in die hande te kry. Dit was juis terwyl hy saam met blankes gejag het dat die nuus hom bereik het dat sy ma sterwend is. Shaka was sy hele lewe lank besonder afhanklik van sy ma en haar dood was vir hom ’n geweldige skok.
In sy toestand van
emosionele verplettering het
hy gelas dat verskeie manne gedood moes word, maar in die chaos het meer
as 7000 mense gesterf. Boonop het hy sy volk feitlik tot ’n hongerdood
veroordeel deur vir die volle routyd, wat hy op ’n jaar vasgestel het,
’n verbod op landbou te plaas. Voorts is intimiteit verbied, en swanger
vroue is saam met hul mans doodgemaak. Wat die Zoeloe-koning tot hierdie drastiese maatreëls gedryf het, is iets waaroor sielkundiges stellig interessante uitsprake sal kan lewer. Maar terwyl sy leër nou saam met hom agteruit begin gaan het, het dit gelyk of hy ál meer sy houvas op die werklikheid verloor. En die saad van verset was gesaai. Op 22 September 1828 is hierdie eens magtige koning en krygsheer van Afrika vermoor. Sy halfbroers Dingane en Mhlangana het hom om die lewe gebring, met die hulp van sy lyfbediende Mbopa. Hy is herhaaldelik gesteek, waarna sy lyk in ’n leë graanpot gegooi is wat toe met klippe opgevul is.
• • • Hoofbron: Geskiedenis van Suid-Afrika tot 1984 deur H.J. van Aswegen—CD: History Reference Library, J.L. van Schaik, 1999. Ander bronne: Shaka Zulu deur E.A. Ritter, Longmans Green Ltd., 1955 / Ensiklopedie van Suidelike Afrika, saamgestel deur Eric Rosenthal, Frederick Warne & Co. Ltd., tweede uitgawe 1972 / Microsoft se Encarta-ensiklopedie op CD's, 1999 / Encyclopedia Brittanica / The Washing of the Spears deur Donald R. Morris, Somon and Schuster, Inc, 1965 / Frontiers deur Noel Mostert, Alfred A. Knopf, 1992. |
|
|
Klik hier om terug te keer na inhoudsblad |