|

|
7
wonders
van ons wetenskaplike wêreld |
|
1
Talle lewensvorme
2 Swaartekrag
3 Energie
4 Ruimte en tyd
5 Beweging
6 Dierlike instink
7 Vernuftige mens
|
|
As ’n buite-aardse
wese uit ’n heeltemal ander dimensie kon kom om ons wêreld te
bestudeer, watter sewe dinge sou hom hier die heel meeste tref? Dis ’n
hipotetiese vraag wat erg na wetenskap-fiksie klink. Tog kan
dit ’n baie interessante oefening wees op dit te probeer beantwoord—veral as ’n mens dit met behulp van aanskoulike foto’s doen...
|
|
1
Ons bonte verskeidenheid van
lewensvorme
REGS:
Verkeerd geraai. Hierdie monster is nie een van die nagmerries van die
Star Wars-flieke nie. Dié logge gedrog is ’n sogenaamde baskewer, wat
deur die elektron-mikroskoop van naderby bekyk word. Só is daar op aarde
’n magdom lewensvorme wat totaal anders is as enigiets wat op ons eie
vlak aan ons bekend is. En al hoe meer daarvan word gedurig ontdek.
REGS:
Oral ter wêreld voer die hordes verskillende spesies ’n gedurige
stryd om oorlewing, baiemaal jammerlik ten koste ander spesies. ’n
Muskiet suig hier bloed uit die oog van een van die baie
inheemse Hawaiiese voëls wat deur hierdie ingevoerde insekte met
uitwissing bedreig word. Dog die gevaar lê nie in die muskiete self
nie, maar in ’n parasiet. Die muskiete dra dit met hulle saam en
verwek ’n soort malaria wat voëls doodmaak.
|
|
2 Swaartekrag
LINKS:
Ouma,
hoekom is ouma se tande dan so skerp? Dit lyk of hierdie hangende padda
maar net kan laat los en veilig grond toe kan val—dat hy dus kan
staat maak op die aarde se swaartekrag om hom van ’n aaklige dood in
die kake van die Nylkrokodil te red. Sonder swaartekragwerking
(gravitasie) is die lewe op aarde ondenkbaar. Vra maar vir ons eie Mark
Shuttleworth hoe onaards dit voel om gewigloos in die ruimte rond te
sweef!
|
|
3
Energie
REGS:
Waar kry hierdie armadil die energie vandaan wat hom duidelik hoog van
die grond af laat opwip? Armadille is mos skaam nagloper-soogdiere, wat
gewoonlik net op die woudbodem in
die Suid-Amerikaanse reënwoud rondskarrel. Die verklaring vir sy
optrede lê in die fotograaf se lig wat hom sleg laat skrik het. Maar
die energie wat hy verbruik het om dit te doen—soos die energie wat
jy self verbruik as jy enigiets aanvang, selfs net jou oë knip—kom
miljoene kilometers ver van die son af. Hierdie stelling klink dalk vir
jou koddig. Maar dis ’n fisiese wet dat energie nie
vernietig word nie... die een vorm word eenvoudig in ’n ander
vorm omgeskakel. So word die hitte-energie van die son deur plante in
chemiese energie verander, waarna diere of mense die plante eet, of
straks ander diere verorber wat plante gevreet het. Die krag wat jy van
jou kos kry, en waarsonder jy nie eens jou brein kan gebruik om te dink
nie, is dus maar net ’n voortsetting van die son se krag!
|
|
4
Ruimte en tyd
LINKS:
Gevries in die tyd—die presiese oomblik wanneer ’n koeël deur ’n
appel klief dat die appelmoes so spat! Tog is dit absurd om te wil
beweer dat tyd werklik gevries kan word... net so vergesog as aan te
voer dat ’n mens lengte kan vries sodat net breedte en hoogte oorbly.
Tyd is immers ’n onlosmaaklike deel van die hele geskape werklikheid,
iets soos ’n vierde dimensie wat nie regtig van die ander drie geskei
kan word nie. Sy berekeninge hieroor het die Duits-Joodse fisikus Albert
Einstein (1879-1955) wêreldberoemd gemaak. Einstein het ons ingelei in
’n wêreld waarin die natuurkundige wette heeltemal verskil van ons
eie en waarin selfs die begrippe van tyd en ruimte verander en
verstrengel raak.
|
|
5
Beweging
REGS: ’n Mens
sou dink dat energie en beweging dieselfde is, maar dit is nie. Energie
kan latent wees, as ’t ware "rustend'', soos waar ’n swaar
ystervoorwerp roerloos bo-op ’n kartonboks lê en eers grondwaarts sal
val wanneer die boks onder die yster se gewig inmekaarvou. Beweging kan
egter nooit terseldertyd ook rus wees nie. Kyk maar na die
skilderagtige "reën" van "verskietende
sterre" (meteore) op hierdie foto. Uiteindelik sal daardie
meteore se "as" wel op die aarde tot rus moet kom, maar daar is tog geen
"rus'' in die
atome waaruit dit bestaan nie. Trouens, daar is al bereken dat
elektrone dermiljoene kere per sekonde om die kerns van atome wentel—onophoudelik. Vergelyk dit voorts met die 1 600 km per uur waarteen
die aarde om sy eie as draai, die 30 km per sekonde van die aarde om die
son, die son se 217 km per sekonde om die middelpunt van die Melkweg,
die Melkweg se onbekende snelheid terwyl dit heel waarskynlik self
voortduisel deur die oneindigheid . . . Alles is dus gedurig in
beweging. Meer nog, soos iemand al gesê het, dit lyk of alles in der
waarheid beweging IS!
|
|
6 Dierlike
instink
REGS: Hoe weet ’n tier
soos dié een om op ’n snikwarm dag
die lafenis van poel water op te soek—selfs al is katte gewoonlik
doodvies vir nattigheid? Wat spoor ’n leeu aan om
onderkant die wind te kom sodat sy prooi hom nie moet ruik nie? Hoekom
hamer ’n seëvierende gorilla met sy hande op sy bors en voer hy nie
bloot ’n oorwinningdans met sy voete uit nie? Het hulle sulke soorte
gedrag van hul ouers geleer? ’n Bietjie daarvan, miskien. Maar die
antwoord lê primêr in wat die geleerdes instink noem, die ingeskape
drif by diere om doeltreffend te handel sonder om werklik te ``dink''
hoe en hoekom hulle sekere dinge doen. Instinktiewe gedrag kan uiters
ingewikkeld wees, selfs in betreklik eenvoudige diere. Dink maar aan die
merkwaardige vermoëns van heuningbye om die roetes na blomme te vind en
met mekaar te kommunikeer. Die rol wat instink
in die gedrag van die mens speel, is egter nie so duidelik nie. Party
navorsers reken dat menslike gedragspatrone soos aggressie en
gebiedsgebondenheid instinktiewe komponente kan hê. Ander voel dat so
’n gevolgtrekking totaal ongegrond is en dat menslike gedrag
aanmerklik van dié van diere verskil.
|
|
7 ...en menslike
vindingrykheid!
LINKS:
Die dae van enjins wat met petrol werk, is getel, want die
fossielbrandstowwe op aarde is nie onuitputlik nie. Die petrolaangedrewe
motor sal mettertyd vervang moet word deur iets anders, dalk 'n sonkrag-motor
soos hierdie een—wat nogal iets vertel van die mens se wonderlike
vermoë om planne te maak. Daarmee troon hy uit ver bokant selfs die
slimste diere op ons planeet. Ondanks
sekere ooreenkomste is daar duidelik iets in ons samestellings wat ons
baie, baie verskillend van mekaar maak. Iets wat die mens in staat stel
om te kan lees en teoretiseer en in die buitenste ruimte rond te wandel,
terwyl die groot ape soos sjimpansees in die oerwoud rondploeter, bome
klim en rysmiere vreet wat hulle met takkies probeer vang. Ja-nee,
aapgedagtes is nie mensgedagtes nie. Vergelyk ook maar net die basiese
gille en gromme van hardebaard-sjimpansees met die ingewikkelde
sintaktiese strukture in die taal van menslike kleuters.
|
|
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad
|