|
EITLIK
alles wat ons in die hemelruim daarbo waarneem, is sinsbedrog.
Nie een van die sterre is soos hulle vandag lyk nie, maar soos
hulle tientalle, honderde, duisende of baie meer jare gelede
gelyk het toe die lig wat ons hulle nou sien uitstraal die lang
tog na die aarde begin het. Al beweeg lig teen ’n
duiselingwekkende snelheid van sowat 300 000 km per sekonde,
neem dit die lig van ons heel naaste buur-ster nog omtrent 4,3
jaar om ons te bereik.
Die
enigste ster wat net ’n hanetreetjie van ons is—gemiddeld
149 600 000 km ver—is die son, waarvan die lig ná slegs iets
meer as agt minute op die aarde aanland.
Nog
’n yslike illusie is die oënskynlike beweging bedags van die
einste son oor die hemelkoepel bokant ons. Ons weet natuurlik
almal dat dit nie rêrig die son is wat om die aarde beweeg nie,
maar dat die son relatief tot die aarde “stilstaan” terwyl
die aarde om sy eie as wentel.
Ons
weet ook daardie aardas is denkbeeldig—daar is nie werklik
’n as wat regdeur ons planeet loop nie, maar dit is tog die
spil waarom ons planeet wentel soos ’n speelgoedtol rondom sy
middelspyker.
Die
wenteling van die aarde om sy as word sy rotasie genoem, en dié
rotasie sorg vir die verskynsel van dag en nag. Die aarde roteer
een keer in 24 uur om sy as. Dit is een van die twee belangrike
bewegings van die aardbol.
Die
tweede belangrike beweging is die aarde se voortdurende
rondtomtalie in ’n kringbaan om die son. Daar is een
omwenteling, of revolusie, in elke sonjaar, oftewel in nagenoeg
365 en ’n kwart dag.
(Daar
is nog ’n beweging van die aarde, die revolusie saam met die
son om die middelpunt van die plaaslike sterrestelsel—die
Melkweg—maar dit vind oor só ’n baie lang tyd plaas dat dit
ons, sover ons weet, glad nie raak in die kort tydjie wat ons
hier op aarde beskore is nie.)
Die
aarde se betreklike nabyheid aan die son maak dat feitlik alle
lewe hier regstreeks of onregstreeks vir hul energie totaal
afhanklik van hierdie vurige hemelliggaam is. Die son veroorsaak
ook allerhande klimaatverskynsels op die aarde.
Maar
as die aarde se draai-as penorent sou gestaan het op die vlak van sy
baan om die son, sou ons wêreld ’n bra eentonige plek gewees
het om op te woon. Die son sou gedurig loodreg op die ewenaar
(’n denkbeeldige lyn om die middel van die aarde, halfpad
tussen die pole) geskyn het en ons sou nooit die afwisseling van
somerhitte en winterkoue geken het nie. Plante sou ook nooit
’n wintertydse rus gehad het om daarna met hernieude groeikrag
te ontluik nie.
Gelukkig
is dit egter anders. Pleks daarvan dat die aarde se draai-as
loodreg op sy jaarbaan om die son staan, staan dit skuins. Dit
hel naamlik met ’n hoek van 23,5 grade op die jaarbaan
oor—en wat meer sê, die as wys ook altyd in dieselfde
rigting.
Die
as korrel naamlik noordwaarts in die rigting van die Poolster,
tans Polaris, ook bekend as Alpha Ursae Minoris, in die
konstellasie Ursa Minor (Klein Beer). Omdat Polaris so
ontsettend ver van die aarde af is, wys die aardas steeds
soontoe, ongeag waar die aarde hom ook al op sy baan om die son
bevind.
(Die
Poolster is weliswaar nie altyd dieselfde ster nie. Met verloop
van eeue vind daar verskuiwings in die as plaas waardeur ’n
nuwe ster elke paar duisend jaar die Poolster word.)
Hoe
ook al, die skuinste van die aardas het ’n uiters belangrike
gevolg. Die son bestraal elkeen van die twee halfronde van die
aardbol ses maande lank om die beurt méér as die ander deel.
Die twee helftes suid en noord van die ewenaar word die
Suidelike en Noordelike Halfrond genoem. Wanneer dit somer in
die een halfrond is, skyn die son min of meer loodreg op daardie
halfrond, terwyl die ander deel winter het omdat die son se
strale meer skuins daarop val.
Strale
wat die aarde loodreg tref, verskaf meer hitte en lig as strale
wat skuins val. Waar hulle die grond bereik, is die lig
gekonsentreerd. Skuins strale moet deur ’n groter dikte van
die atmosfeer beweeg en verloor baie van hul hitte. Omdat hulle
die grond skuins bereik, word die lig oor ’n groter gebied
versprei.
Nog
denkbeeldige lyne, die sogenaamde Steenbokskeerkring en
Kreefskeerkring, onderskeidelik suid en noord van die ewenaar,
is waar die son se strale in Desember en Junie die meeste
loodreg val. Wanneer dit gebeur, word van ’n sonstilstand
gepraat.
Ons
kan self hierdie skynbare verskuiwing van die son in die
hemelruim sien. In die lente, namate die dae langer raak, lyk
dit of die son elke dag hoër oor die hemel beweeg. Die dag
waarop die somerson sy hoogste middagpunt bereik, is die
somer-sonstilstand. Dit is ’n dag of drie, vier voor Kersfees
en dan het ons die langste dag van die jaar—die somer het
“amptelik” aangebreek.
In
die volgende ses maande is die middagpunt al hoe laer in die
hemelruim. Die dag waarop die son sy laagste middagpunt bereik
en “stilstaan” om sy draai te maak—teen 20, 21
Junie—begin ons winter. Dit
is ons winter-stilstand in die Suidelike Halfrond. In die
Noordelike Halfrond gebeur dinge vanselfsprekend andersom.
In
die lente en herfs (September en Maart) val die son se strale
die meeste loodreg by die ewenaar.
Die
temperatuurwisselings en lengte van die daglig wat met die
seisoensveranderinge gepaard gaan, verskil aanmerklik namate
’n mens van die ewenaar af in die rigting van die pole beweeg.
By die pole is die somer een lang dag en die winter een lang
nag. Naby die ewenaar, daarenteen, bly die dae en nagte regdeur
die jaar sowat twaalf uur lank.
|