Skedel van die seerowervlag

Seerowers!

Terreur van die geslepe skurke van die see

 

Seerowers van die ou dae baklei onder mekaar oor ’n kis met skatte

BO: Seerowers van die ou dae baklei onder mekaar oor ’n kis met kosbare skatte... ’n ietwat gewysigde illustrasie uit ’n ou boek.

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)

 

Soos die struikrower wat reisigers op openbare weë beroof, is die seerower ’n geweldenaar van die ose­ane. Vandag is seerowery in enige vorm ’n misdaad teen alle nasies. Maar dit was nie altyd en oral so nie...

D

IE matroos in die kraaines gewaar dit eerste—in sy uitkykplek boaan die skeepsmas van die ryk belaaide ou seilskip. Hy het nog verveeld en flou-oog oor die oop see heen gestaar, en met ’n stukkie splinterhout in die ooptes tussen sy ruwe tande gepeuter om die laaste reste van vanoggend se veselryke vis-ontbyt weg te prik. Toe sien hy in die verte die roering van die duiwelse vaartuig, die skoener wat doelgerig vanuit die noorde aangesidder kom.

 

Die geharde seeman word doodsbleek en hou sy kop vas. Sy oë is wydgesper. Hy kyk biddend hemelwaarts. Dan galm hy sy oorverdowende waarskuwing uit aan die res van die bemanning van die handelskip.

 

“Seerowers!” skreeu die matroos, en in sy paniese skrik maal sy arms woes deur die lug. “Seerowers!’’ bulder hy weer. “Seerowerskip! Seerowerskoener!”

 

Vaartbelyn weens sy skerp boeg, en boonop met ’n fris noordelike bries in sy seile, snel die rowers se skoener so vinnig nader dat die groter seilskip onmoontlik vir hom kan wegvaar. Die swart vlag met die wit kopbeen aan die mas van die seerowerskip wapper onheilspellend in die vroeë môre se kilheid. ’n Ruk later is dit asof die hel losbars wanneer die rowers die handelskip met skroot uit hul skeepskanonne bestook.

 

Spoedig enter hulle. Dit beteken dat hulle die twee skepe met hake bymekaar trek en daarna meedoënloos na die handelskip toe oorklouter. In ’n verwoede en bloedige geveg word die matrose van die handelskip oorweldig. Wanneer die ongelyke stryd verby is, lę dooies gestrooi oor die dek.

 

Die slagoffers wat dit oorleef, word genadeloos gedwing om in die see te spring en te verdrink. Een word egter as gyselaar meegevoer sodat ’n losprys vir hom geëis kan word. Hy is immers ’n baie vername persoon in sy land, en die seerowers weet sy landgenote sal baie geld betaal om hom terug te kry.

 

Só was seerowery in lank vergange tye—en só, op ’n manier, word dit vandag nog gepleeg, natuurlik net met ander soorte skepe en ander scenario’s vir ons eietydse seeroofdramas. Bes moontlik was daar in elke eeu sedert die mens op die see begin vaar het, ’n aantal gulsige seerowers wat die wye oseaan as ’n maklike terrein beskou het om hul roofaanvalle uit te voer.

 

Ons kan dus sę dat seerowery vrywel so oud moet wees as skeepvaart self. Dit was byvoorbeeld al bekend in die tyd van die Romeinse staatsman en generaal Julius Caesar (ca. 100 v.C.- 44 v.C.), wat eenmaal in eie persoon deur Silisiese seerowers gevang is. Nadat vyftig talente goud vir sy vrylating betaal was, het hy ’n vloot byeengebring, die seerowers agternagesit, gevang en hulle laat doodmaak.

 

Seerowery het in die sewentiende eeu n.C. ’n verskrikking vir seevarende Spanjaarde geword toe die sogenaamde boekaniers in groot getalle op die kuste van Amerika toegesak en op Spaanse skepe jag gemaak het.

 

Baie van die boekaniers was Engelse matrose wat hul werk verloor het weens ’n slapte in die Engelse handel. Gevolglik het hulle onder meer hul oë gewend het na die skepe van die Spanjaarde, wat met kosbare skatte van Amerika af huiswaarts gekeer het. Dis interessant dat die boekaniers dikwels in hul vaderland as helde beskou is, manne soos sir Francis Drake, sir John Hawkins en sir Henry Morgan.

 

In die moderne tyd het seerowery weer onrusbarend begin toeneem, veral sedert die 1970’s en 1980’s. As rede vir die toename word aangevoer dat Westerse seesoldate hulle nie meer so kragdadig op die węreld se oseane laat geld as in vorige tye nie. Dit bied seerowers die kans om in verskillende węrelddele geil onder vragskepe met kosbare ladings te maai.

 

Gebiede waar skeepsbemannings dit al moes ontgeld, is die see by Suid- en Suidoos-Asië (die Suid-Chinese See), die see by dele van Suid-Amerika, die Indiese Oseaan, die suide van die Rooi See en die Golf van Aden. Seerowers sak met klein, vinnige bote op vragskepe toe, wat weens meganisasie deesdae nie meer so baie bemanningslede het nie en daarom des te makliker oorrompel kan word.

 

Dit gaan eenvoudig van erg tot erger met die seerooftogte. Só is daar bereken dat die aantal plunderings in die dekade tussen 1993 en 2003 drievoudig vermeerder het. En tot oormaat van ramp het ’n wettelose land soos Somalië in Afrika in een enorme broeiplek vir seerowery ontaard. Sedert die jongste eeuwisseling was daar só ’n intensiewe oplewing van rowery ter see langs die Somaliese kus dat dit ’n groot bedreiging vir die internasionale skeepvaart geword het.

 

Maar wie is die seerowers van Somalië—hierdie boosdoeners wat na vertel word, net in die twaalf maande voor November 2008, meer as 150 miljoen Amerikaanse dollar met hul onheilige bedrywighede “verdien” het?

 

En hoe gaan hulle te werk?

 

Beweerde Somaliese skeepsbuitersREGS: Die Somaliese seerowers is georganiseerd en goed gewapen. Hier is sekere beweerde Somaliese skeepsbuiters, afgeneem deur ’n lid van die Amerikaanse vloot. Behalwe dat hul oë hier met swart balkies versluier is, is die res van hul gesigte ook verdof om dit onherkenbaar te maak. Dit is in ooreenstemming met die goeie Suid-Afrikaanse praktyk om nie verdagtes te identifiseer voordat hulle formeel in ’n hof verskyn het nie—al ressorteer hierdie Somaliërs natuurlik nie onder die Suid-Afrikaanse jurisdiksie nie.

 

Foto’s: Mass communication Specialist 2nd Class Jason R. Zalasky / U.S. Navy Photo

 

 

Party van die Somaliese seerowers is gewese vissers. Hulle beweer hulle het hul werk verloor weens anderlandse treilers—vissersbote met sleepnette—wat van wyd en syd oor die węreld soheentoe kom en die haglike politieke toestand in Somalië uitbuit om in die land se gebiedswaters vis te vang. (Kyk kaart van Somalië reg onderaan hierdie artikel. Daarby is ook ’n kort geskiedenis van hierdie erg onrustige land.)

 

Wanneer die Somaliese seerowers op ’n skip toeslaan, lę hulle beslag op die vrag, hou die bemanning as gyselaars aan en eis hulle ’n losprys.

 

Die beloning is ryk in ’n land waarin daar geen werk is nie en byna die helfte van die bevolking voedselhulp nodig het ná byna twee dekades se konflikte. Die rowers gebruik ’n deel van die geld om vir verdere seerooftogte te betaal: kragtiger wapens, vinniger bote en meer gesofistikeerde toerusting.

 

Gesofistikeerd is die regte woord. ’n Somaliese seerower is nie jou argetipiese seevarende woestaard met ’n swart oogklap en een houtbeen, wat sy kortstondige skrikbewinde volvoer met ’n mes wat hy tussen sy tande vasbyt nie. Nee, hierdie misdadigers gebruik die nuutste tegnologiese toerusting soos satellietfone en dies meer. Hulle is ook tot die tande toe gewapen met vuurpylaangedrewe granate en AK-47’s. Hulle gebruik snelbote met buiteboordmasjiene om op hul teikens af te pyl, en partykeer selfs vuurpylaandrewe hake om ’n greep op ’n skip te kry voordat hulle met toue en lere aan boord klim.

 

Sodra hulle die beheer oor ’n skip oorgeneem het, vaar die seerowers na ęrens aan die kus waar die gyselaars gewoonlik aan land gebring word. Daar word in die reël goed na die gyselaars omgesien totdat ’n losprys betaal is en hulle vrygelaat word.

 

Gewapendes wat van seerowery verdink word, op ’n boot in die oop see naby Somalië REGS: Gewapendes wat van seerowery verdink word, op ’n boot in internasionale waters naby die kus van Somalië.

 

Foto: U.S. Navy Photo
 

 

MAAR hoe word seerowery ingevolge die volkereg beoordeel? Die moderne konsensus is dat dit as niks meer as roof op die oop see beskou kan word nie. Daar kan in ons tyd nooit enige regverdiging daarvoor wees nie, al kom watter seerowersgroep ook al vorendag met welke verduideliking om hul dade te wil goedpraat en hulself te probeer verontskuldig.

 

Soos die struikrower wat reisigers op openbare weë beroof, is die seerower ’n geweldenaar van die oseane. Vandag is seerowery in enige gedaante ’n misdaad teen alle nasies. Elke moderne boekanier sal dus sy rieme baie vinnig styfloop, veral in die ontwikkelde węreld, wat nog te sę tot ridder geslaan word soos Francis Drake-hulle destyds!

 

Omdat seerowers internasionale kriminele is, en aangesien hul misdade buite die jurisdiksie van enige land gepleeg word, mag hulle in die howe van enige land verhoor word.

 

Uiteindelik moet hulle—ook die Somaliese seerowers—leer dat misdaad nie betaal nie en dat enige rooftog ter see ’n uiters gevaarlike “avontuur” is. Miskien sal party darem afgeskrik word deur die lot van sekere booswigte wat in April 2009 die Amerikaanse Maersk Alabama, ’n vragskip van 17 000 ton, gekaap het. Hierdie seerowers is deur sluipskutters van die Amerikaanse vloot doodgeskiet.

 

Op die keper beskou is daar niks romanties omtrent seerowery nie—al is seeboewery in die verlede reeds in hoeveel verhale met ’n taamlike skeut romantiek gekrui (byvoorbeeld in Robert Louis Stevenson se Treasure Island).

’n Kort geskiedenis van Somalië

 

Kaart van Somalië in die Horing van Afrika
Kaart (deur ons verafrikaans en effens gewysig) uit die World Factbook van die Amerikaanse CIA

 

SOMALIË, vandag ’n Moslem-land in die Horing van Afrika, was in die Oudheid en daarna ’n baie belangrike handel­sentrum. Die stad Mogadisjoe het mettertyd as die stad van Islam bekend geraak en ver­skeie eeue lank die Oos-Afri­kaanse goudhandel beheer. In die Middeleeue het etlike mag­tige Somaliese ryke die streek­handel oorheers.

 

Met die Westerse kolonisasie van Afrika het sowel Brittanje as Italië hul vlae ook hier in die noordooste van die “don­ker” vasteland laat wapper. In 1960 het Britttanje hom egter aan Brits-Somaliland onttrek sodat sy protektoraat saam met Italiaans-Somaliland die nuwe land Somalië kon vorm. In 1969 het ’n staatsgreep onder leiding van Mohamed SIAD Barre ’n outoritęre sosialistiese heerskappy gevestig, wat daarin kon slaag om ’n paar dekades lank ’n sekere mate van bestendigheid in die land te bring. Maar nadat die regime vroeg in 1991 ineengestort het, het Somalië in onrus, faksiegevegte en anargie verval.

 

In Mei 1991 het noordelike stamme ’n onafhanklike Republiek van Somaliland uit­geroep, wat op geen internasionale erkenning sou kon reken nie, maar wel in eie geledere ’n sekere stabiliteit kon bewerkstellig en steeds probeer om ’n grondwet­like demokrasie tot stand te bring. Naburige streke het hulle in die selfverklaarde staat Puntland verenig, wat op hul beurt met Somaliland oorhoops sou lę oor waar die grense tussen hulle getrek moes word.

 

Pogings om vrede te bring, het in 2004 tot die totstandkoming van die Federale Oor­gangsregering van Somalië gelei, maar dié word weer in die strewe om versoening te bewerkstellig deur die gewelddadige verset van ekstrimistiese elemente gestrem.

 

Alles skep die klimaat waarin misdadigers—soos seerowers—kan floreer.

 

’n Algemene verkiesing in 2011 word darem as die ideaal voorgehou in hierdie on­rustige land.

 

Terug na hoofteks

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad