|
My dag van ontnugtering in die
hospitaal ‘‘waar dit nag is’’
Ná’n onaangename ondervinding met ’n brute dokter wat een
van sy “eie mense” is, word deur JOHAN BLIGNAUT behoorlik op
die hande gedra deur “vreemde” medici—en ervaar hy hoe sy ou
wêreld vol vooroordele verkrummel...
SOMMER
so uit die bloute, in ’n ommesientjie, verander my hele
lewe.
Dit begin met
’n
ding wat baie mans van my ouderdom pla. My stroom verander
skielik in ’n druppel in die emmer. My huisdokter verwys my
na ’n bekende Afrikaanse spesialis wat in ’n luuksieuse
private hospitaal praktiseer.
Daar gekom, tref dit my hoe
vol die wagkamer is. Ek moet honderd rand neersit voordat
die dokter my sal toelaat om hom te spreek, al het ek
’n mediese fonds. Ek weet nou
nog nie waarvoor nie. Dis soos ’n byenes. Alles is aan die
beweeg. Die manne kom vinniger uit as wat hulle ingaan.
My naam word geroep en ek
draf flink by die dokter in. Hy vra my vyf vrae en sê ek
moet my broek aftrek en op die bed gaan lê. Hy smeer my maag
met jellie en doen gou
’n sonar. Hy
smyt ’n bondel papier op my maag en sê ek moet skoonmaak en
aantrek.
Die nuus is dat ek
’n gespesialiseerde ondersoek
onder narkose moet ondergaan. Die hospitaal waar hy die
ondersoek wil doen, word egter nie deur my mediese fonds
onderskryf nie. “Dan het ons nou mekaar se tyd gemors,” sê
die spesialis. Dié vyf minute se tydmors kos my toe ’n
verdere R475. Teen vyftig manne soos ek per dag, kan die
dokter dit seker bekostig om soos ’n buffel met ’n kopseer
op te tree.
Die hospitaal wat my
mediese fonds onderskryf, word deur die slim spesialis
bestempel as
’n gemors. “Vandat die laaste
Afrikanerdokter daar weg is, is dit nag daar,” sê hy. My
moed sak in my skoene.
’n Afspraak
word vir my gereël by ’n spesialis in die hospitaal waar
dit nag is. Hy is ’n Shangaan. Hy het ’n vriendelike
volmaan-gesig en hy gee my ’n warm handdruk voor hy my na sy
spreekkamer begelei. Ons gesels eers lekker oor ons kinders
en vertel mekaar ons geskiedenis. Dan ondersoek hy my
deeglik. Daarna maak hy my skoon soos ek my kinders
skoongemaak het toe hulle klein was.
’n Uur later
groet ons mekaar soos broers wat mekaar uiteindelik ná baie
jare weer gevind het. Die Tshwana-sekretaresse
beduie my mooi waar om te gaan vir die reël van die
gespesialiseerde ondersoek.
By die administratiewe
afdeling verduidelik
’n vriendelike
Indiërmeisie my hoe om die vorms in te vul. Sy neem my na ’n
telefoon waar ek my mediese fonds kan bel vir ’n
magtigingsnommer. ’n Kleurlingdame loer in om te hoor of ek
regkom en of daar iets is waarmee sy kan help. Ek voel ek is
besig om baie broos te word; my wêreld van ou, vaste
vooroordele is besig om rondom my te kantel.
Met my opname vir die
gespesialiseerde ondersoek, word ek na
’n
saal geneem waar daar nie ’n enkele wit suster in sig is
nie. Die swart susters behandel my met soveer deernis.
Terwyl ek lê en wag vir my beurt in die teater, dink ek
terug aan Sanna. Sy was my tweede ma. Sy het my gevoed en
gewas en pak gegee. Ek het toe nie geweet dat ek haar
liefhet nie, want volgens ons kultuur was sy net ’n
bediende.
Toe ek in die teater kom, wag
die narkotiseur vir my. Hy lyk of hy
’n
sokkerspeler vir Chiefs kan wees. Vol energie en lewenslus.
Met sy sprankelende wit glimlag berei hy my voor vir die
prosedure. Terwyl hy my uitvra oor moontlike allergieë, vryf
hy my arm gerusstellend.
N á
alles dink ek koud terug aan my Afrikanerbroer-spesialis in
sy paleis van ’n hospitaal. En aan my dag in die hospitaal
waar dit nag is. ’n Nag met baie helder sterre en ’n blink
maan. ’n Nag met ’n môrester wat hoop vir baie mense soos ek
bring.
En ek vra met opregtheid en
dankbaarheid: “Vergewe my tog asseblief so baie dinge. En
hern ieu
asseblief my denke sodat ek in hierdie nag die sterretjies
en die maan en die Môrester duideliker sal sien.”
Na bo
|
Die
skok: jou 'familiewapen' is waardeloos!
Is
jy so trots soos ’n pou op jou familiewapen—die een met die
pragtige vergulde raam wat reeds donkiejare lank in jou gang hang?
Jammer om jou vandag so wreed te moet ontnugter, skryf JOHNNY DU TOIT.
Kenners weet te vertel dat die meeste van ons sogenaamde
"familiewapens" heraldies heeltemal waardeloos is!
DIT
is lankal tyd dat ons mense bewus gemaak moet word van die ongerymdheid.
En wapenkundiges probeer dit ook al jare by die groot publiek tuisbring:
’n menigte van die wapens wat steeds met groot hovaardigheid in ons
land as familiebesit beskou word, is eintlik niks anders as historiese
misvormings of, ten beste, onbewese erfenisse nie!
Baie
van ons Europese stamvaders in Suid-Afrika was immers gewone boere,
soldate, matrose of ambagsmanne, wat van huis uit geen behoefte aan ’n
wapen gehad het nie.
Maar
in die afgelope eeu, met ’n hernieude belangstelling in die heraldiek,
het talle mense na hul eie, egte “familiewapen” begin soek.
Baiemaal was dit tevergeefs. Dikwels is ’n heraldiese boek dan bloot
oopgeslaan en is enige wapen wat toevallig by dieselfde van as dié van
die “navorser” verskyn het, klakkeloos oorgeneem.
Verskeie
bestaande wapens is ook tot een geheel saamgevoeg of so verander dat
hulle heraldies heeltemal nuwe, maar ongelukkig waardelose skeppings
geword het.
Boonop
het smouse ná die Tweede Wêreldoorlog ook die land met sogenaamde
“familiewapens” deurkruis en is wapens vanuit die buiteland
verkoop aan Suid-Afrikaanse van-draers wat heel waarskynlik geen bewese
verbintenis met die oorspronklike wapenvoerder het nie.
Dit
is naamlik ’n grondbeginsel van wapenvoering dat wapens in die direkte
manlike lyn van geslag tot geslag oorgeërf word, volgens heraldici.
Slegs
diegene wat bewys kan lewer dat hulle direkte afstammelinge is van ’n
persoon wat regmatig ’n bepaalde wapen voer, of gevoer het, het enige
aanspraak op die betrokke wapen.
Waarop
dit neerkom, is dat elkeen ’n wapen kan aanvaar en voer mits dit nie
met ’n ander persoon se wapen bots nie. Dit is dan sy wapen en syne
alleen—asook sy seuns en kleinseuns en agterkleinseuns s’n ad
infinitum, indien hulle dit so verkies.
Hierdie
beginsel, met geringe klemverskille, geld ook in die lande waarvandaan
Suid-Afrika se heraldiese tradisie hoofsaaklik afkomstig is.
Maar,
soos gesê, is die probleem in ons land dat almal wat dieselfde
familienaam het alte dikwels in die verlede in ’n sekere stadium
blindelings die wapen oorgeneem het van iemand anders uit die verlede
wat maar net dieselfde van gehad het—sonder dat ’n regstreekse
afstammelingslyn ooit bewys is.
Dus:
bêre gerus maar daardie stukkie familietrots diep weg. Tien teen een is
dit ’n familieprul waarop jy hoegenaamd nie kan roem nie!
Na bo
Herkoms
van die Afrikaner: Ons is Duits eerder as Nederlands!
Waar kom die
Afrikaner, die “Boerevolk”, eintlik
vandaan? As jy nog altyd gedink het ons is die nasate van Nederlanders
wat hulle aan die Kaap kom vestig het (met so ’n skeut Franse bloed
vanweë die koms van die Hugenote) kan jy dalk ontnugter word.
P.W.P. van B., die skrywer van die meegaande kort artikel, redeneer ons
is van huis uit eintlik Duitsers en nie soseer Nederlanders nie...
ORAL
in die eietydse media en selfs historiese werke bestaan die dwaling: die
Afrikaner word as ’n ver verwyderde loot van die Hollandse stam beskou
word. Ons sou meestal van die Nederlanders afstam, word vertel, want ons
taal is immers ’n “verworde” Nederlands.
Maar
hierdie nosie is nie eens halfpad juis nie, dog slegs ’n derde korrek,
indien enigsins soveel.
Laat
ek gou sê dat ek hoegenaamd nie die Nederlanders (vir wie ek ’n groot
respek en deernis het) met hierdie stelling wil aanvat of te na kom nie.
Die bedoeling is bloot om by die werklike wortels van die Afrikaner uit
te kom—in die geskiedkundige sin en nie om enige ander rede nie.
(Miskien sal dit selfs vir sekere Nederlanders ’n verligting wees om
te verneem dat hulle nie so naby verwant is aan die “Boere” as
wat hulle altyd gedink het nie!)
As
die Afrikaner hoegenaamd ’n spesifieke bakermat in Europa moet hê, lê
dit waarskynlik meer in die teenswoordige Duitsland as in enige ander
land. Duitsland as verenigde moondheid het toe weliswaar nog nie bestaan
nie, maar Duitse state digby Nederland, soos Nedersakse, was ’n
geweldige voedingsbron van soldate en matrose vir die Hollandse VOC.
Dis
boonop merkwaardig dat meer Nederlanders na Suid-Afrika verhuis het in
die sowat dertig jaar van 1808 tot 1837, toe die Kaap onder blywende Britse bestuur
was, as in die vorige twee dekades van 1787 tot 1807, toe die Kaap nog grotendeels onder
Nederlandse bewind was. Maar hul getalle word totaal oorskadu deur die
30 000 tot 40 000 Duitsers wat hulle in die negentiende eeu in
Suid-Afrika gevestig het.
’n
Navorser soos dr. J.A. Heese het die samestelling van die Afrikaner as
volg bereken: Nederlands 34,8%, Duits 33,7%. Frans 13,2%, Brits 5,2%,
ensovoorts. Dog die stroom name van Duitse stamvaders loop veel dikker
deur ons genealogiese verlede as dié van Nederlanders.
Die
eenvoudige rede waarom daar tog nog ’n bietjie minder Duitse bloed
in ons samestelling blyk te wees, is dat daar reeds dekades lank
gevestigde Hollandse burgers met baie groot gesinne aan die Kaap was
voordat die talle Duitsers hierheen gekom het. Ofskoon ons dus byna
eweveel “Duits” as “Hollands” van afkoms is, is die
Duitse bydrae tot ons gene-poel kwantitatief baie groter.
Ons
het, om dit eenvoudiger te stel, straks byna eweveel Nederlandse en
Duitse bloed in ons are, maar wat die genetiese verskeidenheid
aanbetref, is ons deur en deur Duits. Daar is baie, baie meer
verskillende Duitse vanne onder die Afrikaner, hoewel die (Nederlandse)
Van der Merwes, Van Wyks, Nels, ens. gemaklik elk meer as 60 000 siele
tel. Maar selfs mense met die laasgenoemde vanne het weens die groot
Suid-Afrikaanse vermenging ook ’n dik klomp Duitse gene.
Die
besef van die Duitse erfenis is stellig van geslag tot geslag oorgedra
in die Afrikaner, al het baie mense naderhand nie meer geweet presies
waarvandaan hul oor-oupagrootjies gekom het nie.
Sou
dit miskien help verklaar waarom soveel Afrikaners—benewens
weens
die verwydering tussen Boer en Brit wat deur die Anglo-Boereoorlog
veroorsaak is—in die Tweede Wêreldoorlog so ’n
geestelike
verwantskap met die Duitsers aangevoel het? En hoekom daar in so baie
Afrikaner-huise in die verlede nooit juis ’n
besondere band met
Nederland bestaan het nie?
Selfs
in ons “Heimat”, op die Duitse platteland in die einste
Nedersakse, bestaan die historiese verwydering tussen Nederlands en
Duits blykbaar vandag nog, soos
ek dit tydens besoeke in die afgelope jare beleef het. Vanweë ’n
“ryk” Nederland en ’n destyds minder vermoënde
Noordwes-Duitse bevolking van kleinboere bly die kloof tussen hierdie
volkere ’n lewende
erfenis in daardie wêrelddeel.
Ander
kan wel redeneer dat die bloedverskil tussen “Duits” en
“Nederlands” op haarklowery neerkom. Altwee is tog Germaans en
tot in die sestiende eeu het Nederland selfs deel uitgemaak van die
Duitse Ryk.
Maar
die historiese politieke verwydering tussen hierdie twee nasies kan nie
weggeredeneer word nie.
Na bo
Redenaarspraatjies
Motiveringstoespraak:
Om ’n rugbyspan aan te moedig om hul beste te
lewer en binne die reëls van die spel te bly
KOM
nou, manne, julle ken self jul potensiaal. Julle het die afgelope weke
met hart en siel geoefen en julle weet hoe top-fiks julle werklik is. Ek
moet eerlik sê dat ek nog nooit ’n rugbyspan in hierdie liga gesien het
wat soveel positiewe energie uitstraal soos julle nie. Tog is daar een
ding wat dalk vandag tussen julle en die Groot Beker kan staan. Dit is
dat julle miskien kop sal verloor wanneer dit werklik saak maak.
Moet
om hemelsnaam nie dat dit gebeur nie, manne. Ek weet daar is ’n
geneigdheid onder sekeres van julle om warm onder die boordjie te raak
wanneer dinge ’n slag regtig warm op die veld word. Nou ja,
aggressie is ’n goeie ding, sê ek altyd. Dit motiveer ’n mens om bo uit
te kom en rugby gaan immers daaroor om te wen.
Dit
kan ’n mens egter in die verderf laat beland as dit buite die reëls van
goeie sportmanskap aangewend word. Dan is aggressie soos ’n veelkoppige
monster wat niemand kan doodkry nie. Dan sal dit die een verfoeilike
onheil op die ander laat volg.
Respek
vir die reëls van die spel bly immers ook die wagwoorde as ’n mens
werklik jou beste wil lewer. Julle weet net so goed as ek hoe die beste
rugbyspanne ter wêreld al in die verlede hul eie ondergang bewerk het—nie omdat hulle nie superfiks was nie, nie omdat hulle die bal nie
uitstekend kon hanteer nie, maar doodeenvoudig omdat hulle in hul dolle
ywer onderduims begin raak het.
Goeie
rugby gaan oor skoon spel, manne, nie oor ’n kleinlike gekonkel en
kansvatterye om te sien hoe ver jy kan oortree voordat die skeidsregter
jou sluwe agterbakshede raaksien nie. Gaan uit en doen net wat van jou
verwag word. Onthou jou eerlike beste is altyd heeltemal goed genoeg.
Nou
goed, die tyd het aangebreek, manne. Die oomblik van waarheid is hier.
Nou kan julle op die veld draf met ’n wil om vandag die Koperkapel-span
te vermorsel sonder om agterna deur jul gewete gery te word dat
julle nie jul skoon kant gebring het nie. Sa, vat hulle, ouens! Julle is
die héél beste en julle gáán wen!!!
Na bo
Werkloosheid:
’n Kykie na een van
die groot vraagstukke van ons tyd en hoe die spreker reken ’n werklose
sy probleem kan hanteer
Uitgepos na die web op 28 April
2009
DIT
kan soos ’n wolk van wanhoop oor ’n gesin hang—die verskrikking van
werkloosheid. Pa, ma, die kinders wat al groot genoeg is om ’n geldjie
te verdien... almal dwaal lusteloos in die huis rond. Of hulle lê
afgetrokke op die rusbanke en beddens of peuter hier en daar aan ’n
stokperdjie om die lange ure van neerslagtige verveling te probeer
verwyl.
In
die ergste gevalle word die ontsettende honger ’n deel van hul lewe.
Krieseltjies muwwe brood moet verskeie monde voed. Selfs die kopermunte
word weer en weer omgedraai voordat dit bestee word om net die absoluut
noodsaaklike te koop.
Spoedig kan die gesin nie meer hul huis bekostig nie, en trek hulle in
by familie of vriende met wie dit dalk ewe sleg gaan en waar ook niemand
meer ’n werk het nie.
Die
uiteinde vir sulke gesinne is dalk ’n plakkerskamp... sterftes weens
ondervoeding... bloedige struwelinge onderling en die grootste
ellende...
’n
Geleerde wat werkloosheid bestudeer het, het eenmaal gevind dat, telkens
wanneer die getal werkloses in ’n gemeenskap beduidend styg, daar die
volgende nadelige veranderings in hul omstandighede is:
-
Daar is
meer sterftes;
-
meer
gevalle van hartbloedvatsiekte;
-
meer
gevalle van sirrose;
-
meer selfmoorde;
-
meer
inhegtenisnemings; en
-
meer
aanrandings wat aan die polisie gerapporteer word.
In
Suid-Afrika, waar die persentasie werkloses in die laaste kwartaal van
2008 op 21,9% geraam is, kan ’n mens wel vra in watter mate ons hoë
misdaadsyfer aan werkloosheid en karige lone gewyt kan word. ’n Mens kan
aanneem dat die verslegting in die wêreldwye finansiële krisis die
persentasie werkloses intussen onrusbarend laat styg het.
Miljoene wêreldwyd lewe reeds onder broodlyn en daar word verwag dat dit
hier in 2009 die lot van nog miljoene meer sal word.
Volgens ’n persvrystelling in Januarie vanjaar deur die Internasionale
Arbeidsorganisasie in Genève, Switsersland, bly Afrika besuide die
Sahara—wat Suid-Afrika insluit—een van die streke met die armste werkers
op aarde. ’n Mens kan jou skaars die haglike omstandighede voorstel wat
kan volg wanneer sulke brandarm mense boonop werkloos raak en selfs die
bietjie geld wat hulle nog verdien het heeltemal verdwyn het.
Maar
werkloosheid kweek nie net bittere armoede nie. Dit kweek ook verset.
Baie regerings is al in die verlede gewelddadig omvergewerp deur ’n
oproerige gepeupel wat nie meer die middele gehad het om siel en liggaam
aan mekaar te hou nie.
Ons
eie politici wat in die afgelope verkiesing groot beloftes oor
werkskepping gedoen het, sal dus ernstig moet besin in watter mate hulle
die beloftes gestand kan doen. Die skep van yslike verwagtinge wat nie
vervul kon word nie, was in die geskiedenis al meermale die resep vir ’n
politieke en maatskaplike ramp.
Maar
wat, kan ’n mens jou wel afvra, is die oplossing om werkloosheid te
verminder? Een van die grootste teenvoeters vir die probleem, is
natuurlik entrepreneurskap.
In
plaas daarvan om met ’n bordjie om die nek langs die verkeersligte te
staan en bedel, kan die werklose ’n plan probeer maak om homself en
andere met ’n klein informele sakeonderneming te onderhou. Soos om die
lekkerste, vullendste toebroodjies te maak en dit op strategiese plekke
te verkoop waar baie werkers in die etensuur byeenkom of smiddags ná
werk verbyloop.
Namate die besigheidjie geld genereer, kan die toebroodjies deur
worsbroodjies, ensovoorts aangevul word. Die moontlikhede vir vernuftige
entrepreneurs is legio. ’n Mens kan egter gerus onthou dat jy met
kosverkope nie te ver verkeerd kan gaan nie, want almal moet tog eet!
My
boodskap dus aan almal wat deur ’n afdanking getref is of die
moontlikheid in die gesig staar om hul werk te verloor... my beskeie
boodskap aan diesulkes is om nie in swartgalligheid te versink nie.
Hou
die kop omhoog en doen voortaan jou eie ding.
Met
geloof, hoop en liefde kan jy die wa deur die drif trek!
Na bo
Sepies
is hier om te bly:
om die
argument te weerlê dat die sepies op TV net ’n fase is en dat mense
nog daarvoor sal moeg raak
SAANS
as 7de Laan aan die beurt kom, sien jy dit in menige huise: Hele
gesinne kliek en kloek gesellig saam voor die televisie en wonder of dié
en daardie karakter uiteindelik weer in mekaar se arms gaan beland. Of
hulle gis oor watter verskriklike konkoksie die een persoon nou weer
gaan optower of wat die ander een gaan doen as sy die dag moet agterkom
dat haar gladdebek-vertroueling sommer net ’n opperste skarminkel is.
Nee,
sowaar, kykers raak hopeloos verslaaf aan sulke sepies. As hulle nie hul
daaglikse dosis seepsop kry nie, raak hulle totaal omgesukkel.
Dit baat ’n mens dan ook nie om andersom te redeneer nie, sepies is hier om te bly—en ek het drie belangrike
argumente waarmee ek my bewering wil staaf.
In
die eerste plek leer die geskiedenis
ons dat mense altyd graag van die lotgevalle van ander mense in stories
wil verneem. ’n Geslag of twee gelede, toe daar nog geen televisie was
nie, het Suid-Afrikaners saans vasgenael gesit voor die radio wanneer Die
Duplooys van Soetmelksvlei uitgesaai is. Die ouer mense vertel my
ook van sulke radio-sepies soos Liefdeslied en ander wat bedags
aangebied is en hope mense laat lag en huil en in vervoering gehad het.
In
die tweede plek is sepies hier om te bly omdat mense daarin ontvlugting
soek van die daaglikse spanninge. In die halfuurtjie waarin hulle kyk na
die wedervaringe van ander mense in ’n wêreld buitekant hul eie, word
die stres en geworstel van hul eie bestaan net so effens vergeet.
Ten
derde sal mense altyd sepies wil hê omdat hulle hulself
daarheen verplaas en as’t ware deel word van die kammaland.
Die sepieskryfster Karen Hart, gewese redakteur van die tydskrif TVPlus,
het op ’n keer in die tydskrif Sanlamklub in ’n interesssante
artikel juis na hierdie soort sielkundige verplasing verwys. Dit lyk of
dit in die menslike aard is om ewig antwoorde en vervulling te soek in
die sfere van die denkbeeldige—om daarin op te gaan en self soos die
houtkapper te word wat Rooikappie se ouma van die wolf gered het.
En
daarmee dink ek dat ek my saak gestel het dat die mens nie moeg sal raak
vir sepies nie. Op stuk van sake is hulle maar net ’n voorsetting van
die sprokies wat eeue gelede saans om kampvure of waar ook al vertel is.
Eergister
se Sneeuwitjie en Pinocchio skuil dus vandag nog in
Isidingo,
The Bold and The Beautiful en 7de Laan en sal maar altyd weer
in ’n nuwe sepie-gedaante ontpop namate die tegnologie vorder.
Na bo
My
geliefde Afrikaans
—’n kort praatjie vir ’n
jong leerder in die laer grade
EK
praat Afrikaans omdat ek my taal liefhet. Ek praat Afrikaans omdat hy so
lekker-lekker op my tong lê. Afrikaans is net so ’n deel van ons land
as die Karoo se bossieveld of die goud van Gauteng. Die taal is mos in
Suid-Afrika gebore—hier waar dit ontwikkel het uit die taal
Nederlands wat die mense voorheen hier gepraat het.
Sekere taalmense
is vandag baie bekommerd dat Afrikaans nie meer baie lank gaan bestaan
nie. Hulle sê ons sal op die ou end maar almal Engels praat in ons
land. Hulle wys ’n mens daarop dat Engels tog die een taal is wat regoor
die wêreld gepraat word. Dan sê hulle beterweterig: Oor ’n klompie
jare is Afrikaans heeltemal dood.
Ek
stem nie saam nie. Sulke mense hou nie hul ore oop nie. Hulle hoor nie
of hulle WIL nie hoor wat om hulle aangaan nie. Elkeen wat luister, sal
weet hoe op en wakker en LEWEND die Afrikaanse taal is.
Rondom
my hoor ek gereeld Afrikaans in al sy mooiste, blinkste woorde
en elke aand gaan slaap ek gerus dat my Afrikaans veilig voortleef in
ons harte en monde.
Afrikaans
bo!
Na bo
Die
toekoms in Suid-Afrika
(vir
’n leerder in die laer grade)
IS
JY OF ek onder daardie mense wat sommer net wil weghol? Daardie
mense wat sê daar kan nooit ’n mooi toekoms vir hierdie land wees nie?
Ek
hoop nie dis soos jy voel nie, want ek voel beslis nie so nie. Ek dink
daar wag ’n wonderlike toekoms as ons net wil leer om daarvoor te werk.
Goed,
daar is verskriklik baie verkeerde dinge in Suid-Afrika. Mense word
helder oordag in die strate beroof. Kindertjies word mishandel. Mense
vermoor mekaar koelbloedig.
Maar
ons woon ook in ’n land met die meeste goud op aarde en soveel pragtige
geleenthede dat ’n mens nooit kan ophou om daaroor te praat nie. Ons
woon in ’n land van melk en heuning... byna soos die Bybel se Kanaän... as ons net om
ons wil kyk en leer om ook die duisend goeie dinge raak te sien.
Almal
sal net goed moet leer verstaan dat niks met roof en steel en
bakhand-staan bereik kan word nie. Glo my, ek dink daar wag ’n
blink toekoms op Suid-Afrika. Laat ons net onthou dat ons die moue
moet oprol en dat ons self moet help om alles blink te vryf. Want
niemand anders gaan dit vir ons doen nie. Ons wonderlike toekoms lê in
ons eie hande!
Na bo
Hoekom seuns en meisies verskillend behandel
moet word
’n
Redenaarspraatjie oor geslagsgelykheid en
hoe ons hierdie term eintlik moet verstaan
MOET
seuns en meisies verskillend behandel word? Ek sê ja. En ek sê dit met
groot oortuiging, hoewel miljoene meeste mense blykbaar nie met my sal
saamstem nie. Die rede is dat daar in die moderne samelewing soveel klem
op geslagsgelykheid geplaas word.
Maar laat my verduidelik
waarom ek so stroom op swem teen die openbare mening.
Natuurlik moet die regte van
kinders nie misken word sover dit hul ras, nasionaliteit, vermoëns en,
ja, ook hul geslag aangaan nie. In daardie opsig moet seuns en meisies
NIE verskillend behandel word nie.
Kortom, ’n mens moet almal
met dieselfde respek en gesindheid van omgee benader... elke man en
vrou, seun en meisie, ongeag hoe dié lyk, hoe hy of sy grootgeword het
of wat die persoon se gewaande status ook al is op hierdie aarde waarop
ons woon.
Indien ons meisies en seuns egter nie verskillend behandel nie, wat sal
gebeur? Ons sal ’n soort uniseks-gemeenskap kweek waarin die twee
geslagte geen flenter omgee oor wie in beheer van wat is nie. En wanneer
daardie meisies en seuns self ouers word, sal daar geen moeder- of
vaderfiguur in die huis wees nie, maar net twee vaal en vervelige
“eenslagtiges” wat ewe moederlik en vaderlik kan wees, net soos die
situasie vereis.
Hoeveel verwarring skep dit vir nie vir kinders nie. En watter
bedroewende toestand sal dit nie wees nie. ’n Mens kan jou die gevolge
voorstel. Op sy ergste kan vroue straks begin vra dat wetenskaplikes ’n
metode moet vind om mans ook swanger te laat word. Só kan die “las” van
kindergeboortes mos gelykop tussen die geslagte verdeel word!
Maar
presies hoe, kan u miskien vra, dink ek dat meisies en seuns verskillend
behandel moet word?
Ek
dink die tradisionele rolle van seuns en meisies moet baie meer
beklemtoon word.
Net
soos meisies nie aangemoedig sal word om hul “man” in die bokskryt of op
die rugbyveld te staan nie (wel, meestal nie), só moet die jong dames
nie aangepor word om die seuns in elke liewe faset van hul jong
gemeenskap aan te vat nie.
Meisies moet natuurlik nie opgevoed word om nederige onderdaniges te
wees nie—allermins—maar hul vroulikheid moet gerespekteer en aangemoedig
word, en hulle moet leer dat dit lofwaardig is om vroulik te wees.
Daarteenoor moet seuns as seuns behandel word en nie soos ontmande
lammetjies of kapaters wat nooit in die lewe hul fisieke krag mag wys
nie.
Vive la différence,
sê die Franse mos.
Ja-nee, lank lewe die verskil!
Na bo
Jou
toekoms in die sterre? Nooit!
’n
Redenaarspraatjie teen sterrewiggelary
JA,
KOM laat ons toegee... dit wil mos vir my ook so lyk. Dit kom my voor of
sekere mense wat saam in sekere maande van die jaar gebore is, soms nogal taamlik
eenderse geaardhede kan hê.
Maar,
indien dit inderdaad so is, my genugtig, moet daar immers nugter wetenskaplike verklarings
daarvoor wees. Vergeet van die onsinnigheid dat die sterre en planete
daarvoor verantwoordelik is—dat hulle die lewe op aarde so dramaties kan beïnvloed
soos die teekoppielesers en handpalmkykers en kwansuise “ontleders” van
die sterre wil beweer.
Neem nou maar byvoorbeeld die sogenaamde Gemini-mense. Wie weet, dalk
het hul eenderse inborste eintlik maar net te doen met menslike bioritmes,
of so iets. Word die bioritmes telkens met die koms van die winter op
dieselfde manier in menslike embrio’s gevorm? En beïnvloed die ritmes
die psige sodanig dat dit ’n soortgelyke stempel op die karakter laat
van ’n ieder en ’n elk wat in Junie gebore word?
Of miskien is die eendershede
van die verskillende verjaarmaand-genote die gevolg van iets heeltemal anders wat iemand nog moet ontdek.
Maar kan die planete en die sterre dit veroorsaak? Aikôna, dit kan ek
eenvoudig nie glo nie!
Die
maan is so naby aan die aarde dat sy swaartekrag-invloed seker biljoene
kere groter is as dié van die nietige dwergplaneetjie Pluto op sy eensame wentelbaan doer in die buitewyke van ons sonnestelsel.
En
die son en die maan laat darem die getye op die aarde ontstaan, en dalk
beïnvloed hul swaartekragte ons ook op duistere maniere waarvoor
daar eenvoudige fisies-biologiese verklarings kan wees wat net nog nie
opgespoor kon word nie. Party mense voel hoeka of hulle soos
wolwe wil huil as die maan die aand vol is!
Maar
die einste dwergplaneet Pluto bied kritici van die kammakastige
astrologiese “wetenskap” deesdae interessante skietgoed in hul pogings
om die
dwaalweë van die sterrewiggelary te weerlê.
Pluto
is maar eers so onlangs as in 1930 ontdek, dadelik as ’n
volbloed-planeet aanvaar, en daarna het die
sterrewaarsêers hom natuurlik ook ewe gerieflik betrek om hul kaarte van die
menslike wel en weë te trek.
Wie
weet hoeveel voorspellings en kwasi-berekeninge is gedoen op grond van
die aanname dat, sê, Pluto en Jupiter se bane gekruis het of dat
Mercurius, Uranus en Venus en Pluto in ’n lyn staan. Of hoeveel
uitsprake gelewer is dat ’n mens só en só ’n karakter het omdat Pluto in
die presiese maand en jaar van jou geboorte deur die gesternte van die
Suiderkruis of die Malteserpoedel of wat ook al beweeg het.
Maar
toe kom die geleerde mense ’n klompie jare gelede agter dat
die raaiselagtige Pluto wat hulle vir ’n groterige planeet
aangesien het, in der waarheid die samegestelde beeld van ’n piepklein
hemelliggaampie en sy eie maantjie is.
Goeiste!
Wat
nou? Sterk wetenskaplike agitasies het natuurlik gevolg
totdat Pluto uiteindelik van sy status
as volwaardige planeet gestroop is en vandag net bekend staan as ’n
dwergplaneet. Trouens, Pluto is so klein dat ons
eie maan en die grootste mane van die planete Jupiter en Saturnus groter
is as hy.
Wat
sê dit alles vir ons van die astroloë se Plutoniese voorspellings?
Hulle het al die tyd hul fortuinvertellery gebaseer op ’n “planeet” wat
nie naastenby die naam
planeet werd nie!
En
die sterre dan? Kan die sterre op hul beurt ons lewens beïnvloed? Nee,
hoegenaamd nie.
Die
sterre in die hemelruim is verskriklik ver van ons af. Die heel naaste
een (uitgesonderd ons eie son wat natuurlik ook ’n ster is) se lig
neem, as ek dit reg het, meer as vier jaar om ons te bereik. Vergelyk
dit met ons son se lig wat ná slegs agt minute by ons aankom—teen ’n snelheid van sowat 300 000 km per sekonde.
Watter uitwerking, vra ek jou, kan die ontsettend verafgeleë sterre op
ons geaardhede en ons samestellings hê? Die lemoen daar in my skooltas
of die tennisraket in die laai moet, indien enigsins, ’n onberekenbaar
groter fisiese invloed op my uitoefen as die sterre doer ver in die
astronomiese verskiet!
Nee,
asseblief, mense, as julle nie wil glo dat sterrewiggelary toon hoe
geslaag die belyers van sekere vreemde godsdienste met hul “sendingwerk” onder
ons was nie, besef dan ten minste dat die “sterretekens” nie iets kan wees waarmee enige sober,
denkende mens hom behoort te vermoei nie.
Dis eintlik ’n jiggie
affêre, om die minste daarvan te sê. Maar al wat ’n mens is,
glo dit mos deesdae soos evangelie...
Na bo
Kos en dissipline
(vir
’n leerder in die laer grade)
’N MENS se
mond is darem maar ’n wonderlike ding. As ’n mens daarmee praat, moet jy
keer dat jy nie liederlike dinge daarUIT laat kom nie. En as jy daarmee
eet, moet jy weer sorg dat jy nie liederlike dinge daarIN laat beland
nie!
Met liederlike dinge in kos bedoel ek daardie kosse wat nie gesond vir
’n mens is nie. Dis nou dinge soos te veel lekkergoed. Of spyse soos
vetterige hamburgers en spierwit witbrood en al sulke nare onheilighede.
Maar selfs met gesonde kosse moet ’n mens versigtig wees as dit kom by
hoeveel daarvan jy eet. As jy elke dag ’n hele bruin brood verslind, sal
jy sommer gou-gou vet genoeg wees om nie soggens skool toe te loop nie,
maar skool toe te rol!
Die wagwoord as dit by kos en eet kom, is dus altyd DISSIPLINE. Ons moet
reg eet en ons kan goed eet, maar ons moenie elke keer eet asof ons
nooit vorentoe weer ’n krieseltjie kos in ons borde gaan ontvang nie.
Mense wat geen dissipline ken as dit by eet en drink kom nie, word vrate
genoem. Ander woorde vir hulle is gulsigaards of brassers of
fuiwers–selfs gulsbekke of gulssakke.
Die beste is dus om jou mond toe te hou soveel as wat jy moontlik kan.
Aan die een kant sal jy dan nie so maklik dinge sê wat jy nooit gesê
moes gewees het nie. En aan die ander kant sal jy nie soveel dinge deur
jou keelgat laat gaan wat eintlik nooit as te nimmer in jou maag moes
geëindig het nie.
Ja-nee, alles kom maar neer op dissipline.
En ek is self nou gedissiplineerd genoeg om een ding baie goed te weet:
dit is dat dit tyd vir my geword om dadelik op te hou praat!
(Die spreker of spreekster gaan sit skielik en hou
die hand betekenisvol voor die mond.)
Na bo
|