Wonders van kuslyn-erosie en die ewige stryd tussen land en water

 

See—die magtige beeldhouer
 

BO: Oor ’n afstand van sowat 160 kilometer (van Chameisbaai tot by Lüderitz) is die kuslyn van Namibië soos ’n kunsmuseum van beeldhouwerke. Imposante kranswande, aflandige naaldrotse en boogrotse laat die gebied getand en keperig lyk. Op die foto is die bekende landmerk genaamd Bogenfels, ’n 70 meter hoë boogrots van swart dolomiet.

 

Foto deur Brian McMorrow, wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web geplaas het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, gebruik word vergun mits die eienaar behoorlik erken en dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie identies aan hierdie een. Amptelike lisensie
 

Golwe knak teen die rotse of sprei hul skuim oor die strande. Dag en nag, eeu ná eeu, millennium ná millennium knaag die see aan die kus. Kordate kranse word naderhand tot nederige hellings vergruis. Plate seesand word meegevoer om elders groot sandbanke te vorm. Lees hier van die fassinerende maniere waarop die oseane beeldhou en weer breek...
 


 

D

IS ’n grenslose geworstel, dié tussen die see en die kuslyn. Op die een plek oortree die see onbeskroomd op die land, en rye rotswande word tot fantastiese formasies verweer.

 

Elders neffens die kus gaar die see weer sy buit op. Dit is lang sandbanke of plate spoelgruis—saamgespoelde verhewenhede op sy bodem.

 

REGS: See en rots... dis ’n onophoudelike proses van vorming en vervorming...

 

Foto deur Earth Network Editor, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“in the public domain”)

 

Die wind, die branders, die getye en die strome, alles sweer saam om te verbrysel of onherroeplik te vervorm. Gaandeweg word ’n kordate krans dan ook tot ’n nederige helling weggekalwe, en die ouderdom van ’n kuslyn kan werklik bepaal word deur die mate waarin dit met verloop van tyd gelyk gestryk is.

 

Selfs die mees weerbarstige rots is nie bestand teen die eons se aanslae van die branders nie.

 

By die meeste kuslyne is daar etlike tekens van erosie en afsettings, wat elk die invloed van verskeie faktore demonstreer.

 

BO: Kaap die Goeie Hoop... in die korte paar honderd jaar wat hierdie landformasie op die landkaarte aangedui word, kon dit nie veel teen die see se aanslag geswig het nie, maar oor vele millenniums sou dit ’n heeltemal ander storie kon wees. Want selfs die mees weerbarstige rots is nie bestand teen die eons se aanslae van die branders nie. Wanneer sou die see dan uiteindelik hierdie stryd kon wen om die hele Kaappunt onder die golwe te laat verdwyn?

 

 

 
Foto deur Paddy Briggs, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“in the public domain”)

Die ewig rustelose branders wat die sterkste klipmassas kan laat verkrummel
 

WAT vind plaas waar die branders ’n kuslyn só bly skep en herskep?

 

Wanneer ’n golf die vlak water bereik, word sy onderkant deur wrywing met die bodem vertraag, terwyl sy kruin met sy oorspronklike snelheid voortsnel en hy gevolglik as ’n brander breek.

 

Die druk in só ’n brekende brander kan tien tot twintig ton per vierkante meter wees. ’n Enkele storm kan tot ’n meter of twee van sekere rotsmure wegvreet, en ’n storm kan ook tonne sand van ’n strand af meesleur.

 

Maar die vernaamste instrumente van see-erosie is die skuurwerk van tallose klippe, gruis en sand wat deur die branders op die strand of teen rotse geslinger word. Sagte rotse word sommer in ‘n ommesientjie weggebeitel.

 

In Maart 2007 is miljoene rande skade aan die KwaZulu-Natalse kus aangerig toe strande deur ’n buitengewoon onstuimige see verniel is. In sulke gevalle kan paaie verkrummel en geboue weens die aanslag van die water ineenstort.

 

’n Ander bekende geval van groot skade weens see-erosie was dié by Barmston aan Engeland se noordooskus, waar ’n groep strandhuise bo-op kranse gebou is. Geen dertig jaar later nie moes die huisies afgebreek word. Die kranse was so weggevreet dat ’n strandhuis—en die een muur van ’n ander—reeds oor die afgrond getuimel het.

 

Maar wat is al die gevolge van die erosie in die onstuimige wêreld waar land en see mekaar ontmoet? Dis ’n hele reeks van verskillende rotsformasies en ander verskynsels...

 

Die imposante strandkranse wat aanhoudend agteruitwyk en hoër word

  

STRANDKRANSE is geneig om te vorm waar ’n steil landoppervlak onderkant die watervlak inloop. Dit kan wees waar land onder die see ingesink of waar die seevlak gestyg het (vanweë periodieke dalings en deinings in die aardkors).

 

Die gedurige smelting van oeroue gletsers (langsaam bewegende ysmassas) in die koue streke, is volgens wetenskaplikes ook besig om die seevlak wêreldwyd te laat styg. Die meeste strandkranse is in geologiese terme dus nog betreklik jonk.

 

Branders begin hul aanslag op die landoppervlak deur ’n keep in die harde rotsbodem uit te kerf. Mettertyd word die rots so weggebrokkel dat ’n krans ontstaan wat ál groter word namate dit al hoe verder die binneland in verskuif.

 

Kranse by die see wissel egter baie in grootte, hoogte en steilheid. Baie word deur strande of sogenaamde erosiestoepe begrens, terwyl ander weer regaf in die water neerdaal.

 

BO: ’n Strandkrans, met ’n betreklik onlangse inkalwing daarvoor. Sulke strandkranse kan al hoe hoër raak namate die see ál dieper in die rots van die hoër wordende land invreet. Die rooi gesteente op hierdie foto (Hunstanton Cliffs, Norfolk, Brittanje) is ’n soort kalkklip wat as rooi kryt (“red chalk”) bekend staan. By die ingestorte gedeelte is die rotslae en gras steeds sigbaar.
 

 Foto © Andrew Dunn ( webwerf: http://www.andrewdunnphoto.com/ ) wat dit op hierdie bladsy indie Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web geplaas het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.0-lisensie. Kortom, gebruik word vergun mits die kopiereghouer behoorlik erken en dit slegs versprei word ingevolge hierdie of ’n soortgelyke lisensie.

    

Grotte, boë en naaldrotse... skouspelagtige ruïnes

 

GOLWE kalwe veral die betreklik swak plekke in rotse weg (die nate en die breuke), en met die geweldige drukking op die lug wat tussen die splete vasgevang word, word gate of grotte in die rotswande gevorm.

 

Dit gebeur baie dikwels dat die landoppervlak styg of die seevlak daal, waardeur strande aan die landkant begrens word deur kranse met grotte wat vroeër deur die see daarin geëts is.

 

Die dak van ’n grot kan soms instort en só ’n vertikale skoorsteen laat wat na die seegrot daaronder lei. Hierdie verskynsel staan bekend as ’n blaasgat, en dit kan ’n groot skouspel wees as die water wild daaruit spuit wanneer ’n golf die grot binnerol.

 

Wanneer ’n grot gevorm word aan die voet van ’n smal kaap (’n strook met ’n steil kranswand wat in die see uitloop) kan die branders naderhand dwarsdeur vreet om ’n natuurlike boogrots te vorm (kyk die foto van Bogenfels bo-aan hierdie bladsy). Oplaas kan die boog ook instort om ’n alleenstaande kolom, wat ’n naaldrots genoem word, in die see agter te laat.

 

En mettertyd word selfs die naaldrotse weggeslyt. Hulle vorm dan rotseilande.

 

BO: Die verkenning van ’n seegrot by Mendocino County, in die Amerikaanse staat Kalifornië.

 

Foto deur Dave Bunnell, wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web geplaas het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, gebruik word vergun mits die eienaar behoorlik erken en dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie identies aan hierdie een. Amptelike lisensie

 

BO: Nie in die see nie, maar in die groot Georgiaanse baai van die Huronmeer in Ontario, Kanada, staan hierdie naaldrots of rotspilaar in die vorm van ’n blompot op die sogenaamde Blompoteiland (“Flowerpot Island”). Daar is twee sulke “blompotte” op die eiland en hierdie een staan bekend as die “Big Flowerpot”. Die Huronmeer is ’n varswatermeer en is die naasgrootste van die vyf Groot Mere van Noord-Amerika.

Foto deur Borbrav, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“in the public domain”)

 

BO: Die Duiwerots (of die Rots van Raouché of La Grotte aux Pigeons) by Beirut, Libanon, is die imposante ruïnes van verweerde gesteentes wat soos twee reuse-brandwagte in die see staan.
 

Foto deur Heretiq, wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web geplaas het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, gebruik word vergun mits die eienaar behoorlik erken en dit slegs versprei word ingevolge ’n lisensie identies aan hierdie een. Amptelike lisensie

 

BO: Die Kiama-blaasgat by die dorp Kiama in Nieu-Suid-Wallis, Australië, wat na bewering die grootste blaasgat ter wêreld is en partymaal water tot 25 meter hoog kan uitspuit. En ja, pas op maar, hy spuit jou waternat as jy te naby staan!

Foto (waarvan ’n deel deur ons weggesny is) oorspronklik op die wêreldwye web geplaas in Flickr deur Eonn by http://flickr.com/photos/73295874@N00/1012334612, waar dit gelisensieer is ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.0-lisensie. Kortom, gebruik word vergun mits die eienaar behoorlik erken en dit slegs versprei word ingevolge hierdie of ’n soortgelyke lisensie.

 

Die strand... stille getuienis van ’n bitter vete

  

WANNEER die see oplaas die rotse aan die kus vergruis het en die krans self tot ’n skotige helling verrinneweer is, is ’n breë strand die getuienis van die groot vete wat  eens daar gewoed het. Strande (wat uit neerslae van sand of spoelgruis bestaan) word deur die opwelling en terugtrekking van branders veroorsaak. Dis byna of die see aan die land teruggee wat hy van hom gesteel het.

 

Omdat verwering vinniger plaasvind in sagte as harde rots, kry ons inhamme of baaie by sagte stroke—en kape of stukke land wat spits in die see uitloop waar die rotslae hard is.

 

 BO: ’n Breë strand—die serene getuienis van ’n verbete stryd wat
eens daar tussen rotse en die see gewoed het.

Foto: U.S. National Park Service

 

 

Die verskuiwende sandmassas wat selfs tonge in die see kan vorm

  

WAAR seestrome nie sterk genoeg is om alle strandmateriaal mee te voer nie, versamel die materiaal ’n ent van die strand af net agter die branderlyn. Die gevolg is ’n sandbank, wat naderhand tot ’n sigbare wal ontwikkel, en wat ewewydig met die strand loop. Namate ’n nuwe strand teen hierdie wal vorm, word ’n lagune daaragter gevorm.

 

Waar sogenaamde strandmigrasie teen die kus af plaasvind en die kus skielik land in wegbuig, word sedimente neergelaat om ’n sandtong te vorm, wat ’n ent ver die see instrek. Branderwerking laat só ’n sandtong met verloop van tyd ombuig, en ’n haakwal ontstaan. Sou ’n sandtong dwarsoor ’n baai ontwikkel, vorm dit ’n baaimondwal, weer eens met ’n lagune daaragter.

 

Lagunes kan natuurlik mettertyd opdroog, met die verplasing van die hele kuslyn seewaarts. Dit is glad nie ongewoon dat nedersettings aangelê word waar die branders eenmaal ru en ongebreidel geklots het nie.
 

 

BO: Hierdie reëlmatige tongvorm skep ’n ongewone soort skiereilandjie by Lošinj, ’n Kroatiese eiland in die noordelike Adriatiese See.

 

Foto deur Kork, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“in the public domain”)
 

BO: ’n Kuslyn aan die Golf van Biskaje, Noord-Spanje. Dit lyk veel gehawender en onrustiger as die een op die foto van die Kroatiese eiland daar bokant en vertel sy eie, oeroue verhaal van die aanslag van die see.
 

 Foto deur Buron444, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“in the public domain”)

 


Temmers van die golwe

  

BO: Dit was ’n Suid-Afrikaner, Eric Merrifielden, wat besef het dat die woeste branders van die see getem kan word—by hawens en installasies aan die kus waar hulle baiemaal soveel skade aanrig—deur massiewe betonblokke van ongewone vorms as versperring te gebruik. Merrifield se sogenaamde “dolosse” is genoem na die middelvoetbene van diere wat deur sangomas gebruik word om die toekoms te voorspel en waarmee Boerekinders ook vroeër gespeel het. Sy betonkolosse is die eerste keer in die Oos-Londense hawe geïnstalleer en hulle het hulle so doeltreffend bewys dat hulle nou oral ter wêreld gebruik word. Hier beskerm ineensluitende dolosse die breekwatermuur by Durban se Suidpier.

Foto deur Henry Trotter, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“in the public domain”)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad