Spesiale reeks in ses hoofstukke

Die aarde se oseane (6)

Wonderwęreld

van die wiere

 

Die treffende blare van ’n groen alg


BO: Die treffende blare van ’n groen alg (Anadyomene lacerata) in die see.

 

Foto: NOAA

Seegras, só noem jy dit waarskynlik... daardie groot mariene alge wat byna uitsluitend in die vlak water aan die rand van die węreld se oseane groei. Maar moenie hierdie wiere sommer as nuttelose “grasse” afmaak nie. Trouens, met meer studies oor die seelewe behoort daar groter waardering te kom vir die belangrikheid van die wiere in die natuur en vir die mens...

 

Seewier onder die see

BO: Naby die wateroppervlak met baie sonlig kan seewier welig groei.

 

Foto: Paige Gill / NOAA Photo Library

 

I

N Afrikaans praat baie mense sommer daarvan as “seegras” en die Engelssprekendes noem dit “seeweeds”. Maar om dit “gras” of “onkruid” te noem, is nie net onjuis nie, maar omtrent ’n belediging vir die wiere!

 

Ons het immers so baie dinge aan seewiere te danke. Die ekstrakte daarvan word vandag in duisende alledaagse produkte gevind: van troeteldierkos tot kunstandvorms, van tandepastas tot slaaisouse, ook in melkdrankies, skoonheidsmiddels, selfs in sweisstawe—die lys is lank.

 

Boonop is seewiere werklik onontbeerlik in die natuur. Saam met fitoplankton (die mikroskopiese klein drywende plantjies) vorm hulle die basis van die voedselketting in die see. Die tallose klein diertjies wat op die seewiere teer, word op hul beurt deur groter diere geëet en dié weer deur nog groteres tot by die visse en dalk selfs die mens.

 

Seewiere is ook noodsaaklik as ’n habitat vir allerhande soorte mariene organismes, en ’n kus sonder hierdie alge sal ręrig ’n woestyn wees.

 

Seewiere

BO: Seewiere kom in allerhande vorms voor, maar daar is drie vername groepe, uitgeken aan hul pigmente wat hulle kenmerkend groen, bruin of rooi maak.

Foto: Pacific Northwest National Laboratory/  US Department of Energy.

 

 

Alge is hulle inderdaad—groot mariene alge wat byna uitsluitend in die vlak water aan die rand van die węreld se oseane groei. En as plante gebruik hulle natuurlik die son se energie om koolhidrate uit koolstofdioksied en water te maak (fotosintese).

 

Hulle is egter eenvoudiger as die landplante, hoofsaaklik omdat hulle die voedingstowwe wat hulle nodig het uit die water om hulle absorbeer en dus nie wortels of ingewikkelde vaatbundels nodig het nie.

 

Party groot seewiere, byvoorbeeld die kelpe, het wel wortelagtige dele, maar dié is net daar om die wiere aan rotse te anker. Die meeste seewiere moet aan iets vaskleef om te oorleef en slegs ’n paar sal groei terwyl hulle los in die see ronddryf.

 

Sargassum-wierREGS: Nie druiwekorrels tussen die slaai nie, maar sargassum-wier. Die korrels is vlotjies gevul met koolstofdioksied en hul drywe op die water om te verseker dat die wier bo bly. Sargassum-wier is genoem na die Atlantiese Oseaan se Sargassosee, waar ’n groot menigte en verskeie spesies van hierdie soort wiere voorkom.

 

Foto: NOAA (detail)

 

 

Daar is drie groepe seewiere, uitgeken aan hul pigmente wat hulle kenmerkend groen, bruin of rooi maak. Omdat hulle lig nodig het om te bly lewe, word seewiere slegs in die betreklike vlak dele van die oseane aangetref, met ander woorde langs die kus.

 

Van die vyf- tot sesduisend seewierspesies op aarde word 720 langs die Suid-Afrikaanse kus aangetref. Sommige soorte groei slegs in die warm waters van KwaZulu-Natal, ander weer net in die koeler waters van die Wes-Kaap. Baie soorte kom slegs hier en nęrens elders ter węreld voor nie en dit maak ons seewierflora dus uniek.

 

Benewens die reeds genoemde produkte wat die mens van seewier kry, is daar ook nog die belangrike agar. Dit is ’n jellie wat ’n mens in

sommige rooi seewiere kry—’n onvervangbare medium vir die kweek van swamme en bakterieë vir mediese navorsing.

 

Boonop is daar in die Ooste reuse-plase waar seewiere vir kos gekweek word. Met die sogenaamde "nori" (’n rooi seewier) word jaarliks etlike honderde miljoene Amerikaanse dollars verdien.

 

Dis jammer dat ons Westerlinge se aptyt vir seewiere so beroerd is, want dis baie gesond en veral ryk aan sekere vitamiene en spoorelemente.

 

Seewier-preparaat vir die las van gebreekte bene

Seewier-preparaat vir die las van gebreekte bene

BO: Sekere seewiere word vandag in proefnemings gebruik wat  dokters hope­lik sal help om beter rekonstruktruksies van beskadigde gesigsbeendere te maak. In ’n nuwe soort “sement” vir beenfrakture, word kraletjies van ’n natuurlike poli­meer van seewiere aangewend. Dit is maar net een van die talle maniere waarop seewier-ekstrakte in diens van die mens ingespan word—in enigiets van tande­pastas en slaaisouse tot melk­drankies, skoonheidsmiddels en selfs in sweisstawe.

Krediet: M. Weir, American Dental Association Foundation /
U.S. National Institute of Standards and Technology

  

 

Wit ontploffing van die alge

Blouwit ontploffing van die alge
 

BO: Wanneer van wiere gepraat word, word baiemaal net die groter plante van die see bedoel. Tog word baie mikroskopiese organismes ook by die wiere ingedeel—in die mate dat die wiere steeds as ’n enkele groep gereken word (hoewel plantkundiges dit vandag nie meer só beskou nie). Die periodieke groot “ontploffings” van alge-lewe in die see kan nietemin vir skouspelagtige ruimte­foto’s sorg—soos hierdie een wat in 1999 geneem is. Wat na blouwit wolke in die seewater langs die suide van Engeland lyk, is in der waarheid die weerkaatste lig van triljoene der triljoene kalsium­houdende plaatjies van eensellige alge wat kokkolitofore genoem word.


Krediet vir Landsat-foto: Steve Groom /  Plymouth Marine Laboratories /  NASA

 

Seewiere in Suid-Afrika

IN ons land word sekere rooi seewiere langs die Oos-Kaapse kus (verskeie Gelidium-spesies) en in Saldanhabaai (Gracilaria) geoes om vir die maak van agar uitgevoer te word.

 

Ons seebamboesGroot beddings kelp (“seebamboes”) groei langs die Wes-Kaapse kus, waar baie tydens storms van die rotse losgeruk word en later op die strande uitspoel. Baie hiervan word versamel en óf vir die maak van algenate uitgevoer óf plaaslik in kunsmis gebruik.

 

Soort seebamboesREGS: Ons seebamboes en (LINKS) ’n klaarblyklik verwante spesie.

 

Kleiner hoeveelhede vars kelp word afgesny vir die produksie van ’n seewier­konsentraat wat ’n goeie węreldmark in die landbou het.

Die jaarlikse verdienste van ons seewierbedryf is etlike miljoene rande—en dit het die potensiaal om nog baie uit te brei.

 

Die bewaring en benutting van Suid-Afrika se mariene hulpbronne word van owerheidsweë beheer. Ook ons seewiere word beskerm, en met meer studies oor die seelewe behoort daar groter waardering te kom vir die belangrikheid van die wiere in die natuur en vir die mens.

Klik onder op ’n skakel om voort te beweeg na
die volgende hoofstuk van jou keuse:

1. Reis na die kelders van die see
2. Die lewe tussen die getye
3. Diere op die bodem van die see
4. Die oop see
5. Rare diere van die donker diepsee
6. Wonderwęreld van die wiere
•  Lees ook: Die see as beeldhouer

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk-werf