Spesiale reeks in ses hoofstukke

Die aarde se oseane (5)

 Rare diere in ’n ewige duisternis

 
Drake en spoke
 van

die donker diepsee
 

In die ysige, swart węreld diep, diep onder die see is dit net die  “drake”  en “spoke” wat kan oorleef. Dit is die tuiste van die visse wat hul eie lig maak, die groteske palings, die jellierige skimme. En sekere van hulle maak die onheilspellendste ge­lui­de: miaau soos katte, skreeu soos uile, kwaak en brul. Dis omtrent nes ’n kolossale spookhuis daar in die ewige duistenis!

Hengelvis

Hengelvis

Njar! My naam is Visser!

 

BO en REGS: Met die “visstok” wat bengel, word vaardig ge­hengel! En die aas wat die prooi moet aan­lok, glim jou werklik ook met sy eie lig in die ewige nag. Só doen die bultrug-henge­laarsvis of swartduiwel (Melano­cetus johnsonii) in­stinktief wat mens­like vissers eers moet leer. Dié soort hengelaarsvisse word aan­ge­tref in die stikdonker diep­te van so­wat twee kilometer in die tro­piese tot gema­tigde dele van die verskillende oseane. En hulle sou beslis as monsters ge­reken kon gewees het, as hulle nie so klein was nie. Die wyfie is ook baie groter as die  mannetjie (sy word tot omtrent 20 cm lank, maar haar bleeksielige en petie­terige wederhelftetjie haal skaars 3 cm).

Foto bo: Edith Widder / HBOI / NOAA

Ilustrasie regs bo: Histories (“PD Old”)

•  Lees ook ondertoe in hierdie hoofstuk die passasie oor “Die vis wat hengel”

•  En kyk ook die ander Mieliestronk-artikel oor die lewe in die diepsee: klik hier

Diepsee-jellievis in wit lig afgeneem...

Diepsee-jellievis in wit lig afgeneem

BO: Atolla wyvillei, ’n skifosoďese kwal (jellievis) van die diepsee, soos dit lyk wanneer dit in wit lig afgeneem word. In die stikdonkerte glim die kwal egter ook met sy eie lig, soos op die foto ONDER gesien kan word, wat geneem is toe die lig uitgedoof is.

Foto’s met vergunning van E. Widder / via NOAA

Diepsee-jellievis glim met sy eie lig in die duisternis...

Diepsee-jellievis glim met sy eie lig in die duisternis


Diepsee-skimme

BO: Vreemde klein organismes van die diepsee, soos ktenofore en ander.

Krediete:

Links bo: R. Griswold / OAR / National Undersea Research Program (NURP); National Marine Fisheries Service / NOAA

Links onder: vergunning Marsh Youngbluth / via NOAA

Regs bo: Kevin Raskoff, MBARI / NOAA

Regs onder: Russ Hopcroft, Institute of Marine Science, University of Alaska Fairbanks (UAF) & NOAA.jpg

 

T

OT in die negentiende eeu het wetenskaplikes gedink dat daar geen lewe dieper as 600 meter onder die see kan wees nie. Hulle het nie besef watter ongelooflike rare węreld hulle gemis het nie.

 

Maar toe die ondersese telegraafkabel tussen Sardinië en Tunisië in 1860 opgehys is van waar dit op ’n diepte van meer as 1800 meter gelę het, is ’n verstommende ontdekking gedoen. Die kabel was aangepak met ’n konglomeraat van vreemde seesterre en -wurms en talle ander seediere wat die geleerdes in hul dag des lewens nog nooit gesien het nie.

 

’n Aantal ekspedisies is hierna aangepak om die diepsee te verken. Maar dit was eers ná die ontwikkeling van gespesialiseerde toerusting in die twintigste eeu dat die verstommende węreld van die dieper see werklik vir die mens blootgelę is.

 

Hierdie sone kan selfs tot ’n ongehoorde diepte van so agt, nege kilometer strek. Die diepseebodem is ’n ontsaglike vlakte wat met diep trôe (insinkings) afgewissel word.

 

Dis ’n plek van algehele duisternis. En dis baie koud. Plante wat lig nodig het vir fotosintese, kan glad nie hier groei nie, en daarom is kos vir die diere skaars. Die diere moet ook die geweldige drukking van die water bokant hulle weerstaan.

 

Geen wonder dat dit ’n hoogs gespesialiseerde soort dier is wat hier ’n bestaanstryd moet voer nie. Baie van hulle leef van dooie plante- en dieremateriaal, plankton en larwes wat van bo af neersif. Hierdie diere het trouens nie eens nodig om veel te beweeg nie, omdat die strome maar gedurig kos na hulle toe aanstu.

 

Maar daar is ook die roofdiere wat nie van die manna van bo af lewe nie. Om prooi in die stikdonker te soek, sou egter ’n onbegonne taak gewees het as hierdie vleisvreters nie met besondere vermoëns toegerus was nie.

 

Naakslak in die donkerte

REGS: Waar dit die hele tyd pikdonker is, is kleur mos nie ter sprake nie. Hierdie naakslak vertoon nie die flambojante kleure van sy neefs elders in hierdie reeks nie. 

 

 

Gebruik van foto met spesiale vergunning aan Mieliestronk.com

deur SERTC- personeel (Susan Thornton-DeVictor, David Knott, Rachael King). SERTC staan vir die “Southeastern Regional Taxonomic Center” in South Carolina in die Verenigde State van Amerika. Hul webbladsy bladsy met ’n menigte foto’s van seediere kan op die internet bereik word deur hier te klik.

 

Party van die roofdiere in die diepsee het vreeslike kake met tande wat agtertoe staan. Baie het bekke en mae wat groot genoeg is om ’n prooidier drie keer groter as hulleself in te sluk. Kos is immers moeilik verkrygbaar in hierdie abissale onherbergsaamheid. Geen greintjie daarvan mag verlore gaan nie.

 

Van die diere het ook liggewende organe op hul liggame. Dit kan óf wees om ander diere af te skrik (waar dit die dier se vorm anders laat lyk en roofdiere verwar) óf om prooi aan te lok. Sulke “verloklike liggies” is by sekere diere aan lang “stingels” wat uit die mond of kop loop, of in netjiese rytjies langs die lyf.

 

Party abissale skaaldiere kamoefleer hulself selfs in ’n glimmende wolk. Die glimmende lig dien vermoedelik ook ’n doel in die paarseisoen deurdat lede van dieselfde spesie mekaar daaraan kan uitken.

 

Wat sou hierdie lig dan wees? In sekere gevalle word dit blykbaar deur bakterieë op dele van die vis se lyf opgewek. Ander visse het hul eie ligopwekkers net onder die vel, maar presies hoe dit werk, is nog ’n raaisel.

 

Baie visse kan selfs hul ligte na willekeur aan- en afskakel. Vreemd genoeg werk hierdie ligte net in die donker diepsee en nie meer as sulke visse na die oppervlak gebring word nie.

 

Die donker waters van die oseane is allesbehalwe stille waters. Navorsers wat bandopnemers daarin laat afsak het, het vasgestel dat party diepseevisse soos katte miaau. Ander skreeu soos uile en nog ander kwaak en brul. Dit klink soos ’n spookhuis met al die vreeslike geluide so deurmekaar!

 

Maar dan is die roofvisse darem nie heeltemal so grotesk as wat hulle dikwels op hul paaiboelie-foto’s lyk nie—baie van hulle is in werklikheid baie klein en broos, met klein vinnetjies en deurskynende, jellieagtige liggaampies.

 

Die meeste diepseediere (behalwe die garnale en ’n paar soorte seekatte, pylinkvisse en plankton, wat rooi is) is donker gekleur—bruin, swart, donkerpers—of deurskynend. Dit laat ’n mens onthou dat kleur eintlik nie in die donkerte bestaan nie en dat kleure bloot die wyse is waarop dinge die lig weerkaats wat daarop val...

Die vis wat hengel
 

HengelvisHENGELAARS weet lankal dat seediere deur lig aangelok word—nie gewone daglig nie, maar ligte wat in die water flikker. Daarom gebruik hulle ook glimmende aas.

 

Maar die mens was nie die ontwerper van hierdie doeltreffende hengeltegniek nie. Sekere vissoorte is naamlik met hul eie glimmende ligte bedeel. En een van dié, die hengelvis of swartduiwel, het selfs ’n stok, lyn en aas op die koop toe.

 

 

Daar is sowat 350 verskillende spesies van hierdie vis in die see. Party leef selfs in die vlak water en het ’n rooi, wurmagtige aas vooraan hul “visstokke”.

 

Ander is diepseediere wat omtrent heeltyd stilweg wag dat die vis moet byt! As die prooi nader kom om ondersoek in te stel, bring die hengelaarsvis geleidelik die aas nader aan sy bek.

 

Natuurlik wil ta nie hę die prooi moet sy aas opvreet nie. Hy pluk dit dus op die nippertjie weg en maak terselfdertyd sy groot kake oop. Die water stroom in sy bek in en die prooi word saam ingesleur.

 

Waps! Dis klaar met waterkees.

 

Hengelaarsvisse leef feitlik net op ander visse soos lanternvis en ongewerwelde diere. Hulle is erg lelik en het yslike kake en elastiese mae sodat hulle visse kan insluk wat net so groot of groter as hulleself is. Omdat hul tande agtertoe wys, kan hul prooi nie ontsnap as dit eers gevang is nie.

 

Hulle is verbasend lomp, het klein vinne en kan nie hul prooi agternasit nie, al probeer hulle ook.

 

Die “visstok” is in der waarheid een van die penne van die rugvin wat bo-oor die kop buig, met die aas vooraan. Hierdie pen se lengte verskil van soort tot soort. Die lokmiddel is ’n lelletjie vel en dié wissel ook van ’n eenvoudige, opgehewe bolletjie tot ’n ingewikkelde, veselagtige samestelling.

 

By party soorte is dit net die wyfie wat ’n lokmiddel het. Die mannetjie is piepklein (in party gevalle, ongelooflik, tot 20 000 keer ligter as die wyfie) en hy klou aan haar vel vas waar hy soos ’n parasiet, of sę maar ’n luis, leef!

 

Sy kake versmelt geleidelik in haar vel en bloedvate en die twee visse word letterlik een. In ruil vir die voeding wat die wyfie verskaf, is die mannetjie altyd byderhand om haar eiers te bevrug.

 

Party hengelaarsvisse se “visstok” is altyd gereed, terwyl ander dit in ’n gleuf in die kop wegbęre wanneer hulle nie werklik hengel nie.

 

Die mens het waarskynlik nog maar net ’n breukdeeltjie van die kreature ontdek wat die donker dieptes van die see bewoon. Miskien sal ons nog eendag baie meer van die diepsee leer met sy sonderlinge en wonderlike diere, soos die hengelaarsvis, en van hul verstommende gewoontes.

Klik onder op ’n skakel om voort te beweeg na
die volgende hoofstuk van jou keuse:

1. Reis na die kelders van die see
2. Die lewe tussen die getye
3. Diere op die bodem van die see
4. Die oop see
5. Rare diere van die donker diepsee
6. Wonderwęreld van die wiere
•  Lees ook: Die see as beeldhouer

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk-werf