Spesiale reeks in ses hoofstukke

 Die aarde se oseane (3)

Diere op die
bodem van die see

Kleurryke naakslak

BO: ’n Naakslak wat beslis die bewering staaf dat naakslakke soos blomme lyk (lees ook die afdeling “Diere wat soos blomme lyk” ondertoe in hierdie hoofstuk).
 

Foto: Magnus Kjćrgaard,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die węreldwye web geplaas en gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution ShareAlike 2.5-lisensie. Kortom, vrye gebruik word vergun op voorwaarde dat die eienaarskap vn die foto behoorlik erken word en dit slegs versprei sal word ingevolge ’n lisensie identies aan hierdie een. Amptelike lisensie


 

Dis ’n skouspel van vorms en kleure soos ons land­gebonde mense ons nie kan indink nie... in die stil, troe­bel skemer­land onderkant die deining. Maar namate ’n mens dieper gaan en die lig verminder, betree jy nog nuwe węrelde... totdat jy uiteindelik uitkom by die rare organismes  wat in volslae duisternis woon...

 

V

AN die raarste kreature in die kelders van die see—só is die diere wat op die bodems van die oseane woon. Party lyk presies soos plante. Hulle lei hul niksvermoedende prooidiere letterlik om die “bos” en reg in hul wagtende kloue in. Ander skarrel weer soekend op die seebedding rond na brokkies kos wat soos “manna” van bo af neergesif het.

 

En nog ander, soos die merkwaardige platvisse, kamoefleer hulself teen die agtergrond van die seevloer. Geduldig wag hulle dat hul ete moet verbykom—skoon skewebek van al die platlę—met beweeglike oë wat sywaarts die jagveld bespied in die stil, troebel skemerland onderkant die deining.

Pasifiese heilbot op die seebodem

LINKS: ’n Regte ou skewebek, dié Pasifiese heilbot op die seebodem. Kyk mooi waar sit sy oë en hoe potsierlik en skeef sit daardie mond. Hierdie heilbotte is die grootste platvisse in die see. Hulle kan langer as twee meter word en tot 180 kg of meer weeg.

Foto: NOAA

Die seebodem strek van die laagwatermerk met die vastelandsplat af tot ’n diepte van sowat 200 meter, en van daar langs die vastelandshelling verder afwaarts na die diepseebodem, so 3000, 4000, miskien tot 6000 meter diep, maar partymaal selfs 8000 meter onder die oppervlak van die water.  Die gemiddelde diepte van die węreld se oseane is 3790 meter.

 

Challenger Deep—in die Mariana-trog in die westelike deel van die Stille Oseaan naby die eiland Guam—is die diepste punt in die aarde se oseane. Dit lę ’n verbysterende 10 924 meter onder die see-oppervlak. Die hoogste berg Everest (8850 meter hoog, volgens ’n berekening in 1999) sou gerieflik daarin kon “verdrink”.

 

Die plante en diere van die seebodem word deur wetenskaplikes bodembewoners of bentoniese gemeenskappe genoem. Hulle wissel van die groot seegrasse en korale van die vlak water tot die eienaardige diere wat op en onder die sagte sand en modder van die seebodem leef.

 

Die eerste streek van die seebodem, die vastelandsplat, ontvang baie sonlig, en daarom kan fotosintese op hierdie vlak plaasvind. Dit is trouens die enigste sone waar plante kan groei. Danksy die plantevoeding kry ons hier ook ’n oorvloed van diere van verskillende soorte.

 

Omdat dit na aan die kus is, is die water ryk aan voedingstowwe. Die fel uitwerking van die gety word skaars hier gevoel.

 

Die meer stabiele en voorspelbare toestande (teenoor dié in die tussentyse sone) sorg ook vir ’n groter verskeidenheid van dierelewe in dié streek. Baie van die diere wat in die beskutte poele in die tussentyse sone aangetref word—see-anemone, seekastaiings en seesterre,  asook skaal- en weekdiere—word hier verteenwoordig. Ander, meer kwesbare soorte, soos sagte korale en sponse, sluit hulle by hulle aan.

 

Namate die seebodem ál met die vastelandsplat afdaal, ontvang dit al hoe minder lig. Dit strem die groei van plante, en dus ook die voorkoms van diere, wat ál minder word na gelang die water dieper word.

 

Seesterre en slangsterre kom algemeen voor waar die vastelandsplat in die vastelandshelling oorgaan.

 

Die diepseebodem, wat wetenskaplikes die abissale bentoniese sone noem, is ’n węreld van volslae duisternis.

 

Organismes wat dié sone—en ook die trôe verder ondertoe—bewoon, word aan geweldige druk blootgestel, maar die blote feit dat hulle bestaan, toon dat daar blykbaar geen deel van die see is waar daar nie lewe is nie. Seediere van verskillende soorte kan in die felste omstandighede oorleef.

 

Sekere spesies seespinnekoppe, wat lang speekbene het om die liggaam bo die modder te hou, is algemeen in die abissale bentoniese sone.

 

Daar is drie hoofsoorte diere wat op die seebodem woon. Een tipe heg hulle aan die seebodem vas. Dit sluit seeanemone, sakpype, sponse, oesters en mossels in. Baie van dié diere lyk soos plante en lei ’n plantagtige lewe op een plek.

 

Dit is nie vir hulle nodig om rond te swem en kos te soek nie; hulle het spesiale siwwe waarin hulle kos vang of dit filtreer. Hulle lewe van oorblyfsels wat van die boonste vlak van die see afgesak het. Die larwes van baie diere is ook ’n bron van kos vir baie organismes.

 

Die tweede groep diere kruip oor die seebodem of grawe hulle daarin in. Dit sluit krewe, garnale, seesterre, slangsterre, seelelies en verskillende spesies seeslakke en -wurms in. Om onder die afsaksels in te grawe, is ’n uitmuntende manier om van roofdiere weg te kom.

 

Die derde klas diere bestaan uit visse wat hul kos op die seebodem kry, soos pylstertvisse, barbers, knorhane, rifvisse en sekere haaie en rogge. Baie van dié visse se smaakorgane is aan die buitekant. Hulle swem ver oor die seebodem op soek na kos, en lę dikwels heeltemal bewegingloos op die bodem sodat hul prooi hulle nie raaksien nie.

Mantarog

 

BO: ’n Mantarog styg op uit die sand op die seebodem.

 

Foto: OAR / National Undersea Research Program (NURP) / NOAA Photo Library


Diere wat soos blomme lyk

Naakslak wat soos blom lykLINKS: Geen blom van die oseaan nie, maar ’n veelkleurige diertjie. Naakslakke met hul sagte liggame maak van giftige chemikalieë gebruik om hulle teen roofvyande te beskerm. Hulle kan byvoorbeeld onsmaaklike stowwe verkry uit die sponse wat hulle verorber.

Foto: Dr. Bill Rudman / NOAA

 

MIN seediere kan die kleurryke skoonheid en veelheid van vorms ewenaar van die “Nudibranchia” of naakslakke, soos hulle algemeen, maar ten onregte, genoem word. Veeragtige kieue wat by die rug van dié diere uitspruit, het hulle die naam besorg, wat “naakte kieue” beteken.

 

Anders as baie ander seediere wat met beskermende skilde beklee is of met hul omgewing saamsmelt, kom die naakslakke in elke vorm en kleur denkbaar voor.

 

Die wetenskap kon nog nie die rede vir hul opvallende merke vasstel nie, maar dit lyk asof dit roofdiere wil waarsku dat hulle oneetbaar of baie giftig is.

 

Naakslakke wat soos blomme lykLINKS: Nog seeanemone van verskillende kleure.

 

Foto’s: NOAA

 

 

Die meeste naakslakke word weerloos gebore en verkry hul gif van hul prooi. Sommige spesies vreet sponse, selfs die mees giftiges. Die gif van die sponse word deur hul eie weefsels geabsorbeer om ook die naakslakke giftig te maak.

 

Ander spesies maak op jellievisse, bloublasies en anemone jag, en onttrek die stekende selle om dit in hul eie liggame te berg en as wapen teen roofdiere te gebruik.

 

Sowat tweehonderd spesies word langs die Suid-Afrikaanse kus aangetref. Hulle heg hulself aan die seebodem vas, waar hulle ook al ’n geskikte vastrapplek kan vind.

 

Hierdie slakke van die see wat vir ’n mini-skouspel sorg, bied ’n boeiende kykie op ’n węreld wat selde deur oppervlakbewoners gesien word.

 

 Sonderlinge klein naakslakkie

BO: Hierdie naakslakkie lyk soos iets uit ’n ander planeet, maar hy is in werklikheid op ’n doodgewone stuk siewier gevind. Die duidelike nabyfoto van dié wesentjie, wat skaars twee, drie sentimenter lank is, onthul besonderhede wat feitlik glad nie met die blote oog gesien kan word nie.

Foto: Art Howard, NAPRO / NOAA

Klik onder op ’n skakel om voort te beweeg na
die volgende hoofstuk van jou keuse:

1. Reis na die kelders van die see
2. Die lewe tussen die getye
3. Diere op die bodem van die see
4. Die oop see
5. Rare diere van die donker diepsee
6. Wonderwęreld van die wiere
•  Lees ook: Die see as beeldhouer

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk-werf