Die suksesverhaal
van Sasol

Vloeibare brandstof

uit steenkool
 

Binnewerkinge in ’n Sasol-aanleg in Secunda 

 

BO: Binnewerkinge in ’n Sasol-aanleg in Secunda.

 

Foto: Sasol / via MediaClubSouthAfrica.com

VOORAF: Sasol in ’n neutedop

 

•   Die isolasie van Suid-Afrika weens apartheid was een van die dinge wat die destydse regering genoop het om ons oorvloedige steenkoolneerslae te gebruik om vloeibare brandstof te maak. In 1955 is die eerste aanleg met hierdie doel in Sasolburg opgerig en in die 1970’s nog twee aanlegte in Secunda. Deur die jare heen het die onderneming hom ook in die vervaardiging van ander produkte onderskei, die neweprodukte van sy unieke prosesse vir die vervaardiging van vloeibare brandstof.

 

•   Vandag is Sasol (oorspronklik ’n akroniem van Suid-Afrikaanse Steenkool- en Olie) ’n petrochemiese reus. Hy is doenig in sowat dertig lande en het sowat 34 000 mense in sy diens.

 

•   Benewens sy lewering van vloeibare brandstof deur middel van die Fischer-Tropsch-proses, ontgin Sasol ook steenkool in Suid-Afrika, produseer hy gas in Mosambiek en olie in Gaboen. Die bemarking van sy chemiese produkte strek wêreldwyd. In Suid-Afrika raffineeer hy boonop ingevoerde ruolie en verkoop hy vloeibare brandstowwe in die kleinhandel deur ’n netwerk van geriefsentrums. Brandstowwe word verder aan ander verspreiders in die streek verskaf en gas aan industriële klante in Suid-Afrika.

 

Steenkoolontginning

BO: Sasol is energiek betrokke by steenkoolontginning
 in Suid-Afrika.Aardgas-projek in Mosambiek

LINKS: Sasol se aardgas-projek in Mosambiek.

 

Foto’s: Sasol / via MediaClubSouthAfrica.com

 

•   Deur middel van Sasol Synfuels International word buitelandse geleenthede nagejaag om sy tegnologieë vir die omskakeling van steenkool tot vloeistof (STV) en gas tot vloeistof (GTV) te kommersialiseer.

 

•   In die artikel hieronder kom veral Sasol se gevierde STV-tegnologie onder die loep. Wat die GTV-tegnologie aanbetref, het die maatskappy in 2007 in die staat Qatar in die Midde-Ooste sy eerste internasionale onderneming van stapel laat loop waarin gas tot vloeistof omskep word. Dit word Oryx GTL genoem. Sasol ontwikkel ook ’n GTV-aanleg in Nigerië saam met die Amerikaanse Chevron Corporation en die Nigerian National Petroleum Corporation. Lees hieronder meer oor al die bedrywighede van hierdie Suid-Afrikaanse nywerheidsreus...

Sasolburg-aanleg

 

BO: Sasol se eerste aanleg is in Sasolburg opgerig—reeds doer in 1955.

 

Foto: Sasol / via MediaClubSouthAfrica.com

 

 Secunda

BO: Sasol se indrukwekkende aanlegte in Secunda is in die 1970’s gebou.

Foto: Sasol / via MediaClubSouthAfrica.com
 


Sasol se baanbrekerswerk
met die STV-tegnologie en nog meer

 

Deur Erika Schutze en Nicky Rehbock

Uit die Engels vertaal deur Mieliestronk.com

Met dank oorgeneem uit die webwerf van MediaClubSouthAfrica.com, wat die oorname van hul materiaal vergun op voorwaarde dat die nodige erkenning gegee word

Verskyningsdatum: 20 Oktober 2009
 

 

E

LKE dag word 120 000 metrieke ton steenkool vervoer na ’n aanleg by Secunda, in die provinsie Mpumalanga, waar dit tot 150.000 vate olie omskep word.

 

Die aanleg is ’n deel van een van Suid-Afrika se suksesverhale, te wete die totstandkoming en groei van Sasol, die semistaatsinstelling wat die tegnologie uitgevind en vervolmaak het om steenkool en aardgas in vloeibare brandstowwe om te skakel.

 

Secunda, Sasol se hoofaanleg, is die enigste kommersiële installasie ter wêreld wat steenkool in vloeistof omskakel—dus gebruik maak van die steenkool-tot-vloeistof-tegnologie of STV—hoewel nuwe aanlegte van hierdie aard in Indië en China oorweeg word.

 

In sy finansiële verslag vir die jaar wat op 30 Junie 2009 geëindig het, het Sasol ’n bedryfswins van R24, 7 miljard (Am. $3,4 miljard) verklaar, wat 27% minder is as die vorige jaar se rekord van R34 miljard ($4,69 miljard). Hierdie afname is egter geensins ’n weerspieëling van die maatskappy se gesondheidstoestand nie, maar eerder hoofsaaklik te wyte aan ’n laer gemiddelde in die prys van ru-olie.

 

Die tegnologie van steenkool-tot-vloeistof (STV) is slegs ekonomies haalbaar in ’n wêreld van hoë oliepryse: die vervaardiging van sintetiese brandstowwe raak eers winsgewend wanneer die olieprys $50 per vat bereik. In hierdie opsig het Sasol sy kinderskoene ontgroei.

 

Tot 2003 was die olieprys gemiddeld $25 per vat, wat die vervaardiging van “vervloeide steenkool” teen $45 per vat ekonomies onaanneemlik gemaak het, maar by die skrywe hiervan was die olieprys in die omgewing van $80 per vat. Hoewel dit nog heelwat laer is as die hemelhoë pryse van 2008, is daar nietemin steeds ’n groot vraag na die STV-tegnologie.

 

Daar word verwag dat die wêreldwye produksie van vloeistof uit steenkool, wat in 2007 sowat 150 000 vate per dag was, in 2020 tot 600.000 en in 2030 tot 1,8 miljoen vate per dag sal styg.

 

Te midde van stygende oliepryse en die onstabiliteit in die Midde-Ooste probeer lande regoor die wêreld deesdae om die guns van die petrochemiese groep van Sasol te wen. Sasol vra gewoonlik vergoeding wanneer sy tegnologie in lisensie gebruik word, maar konsentreer daarop om ’n aandeel in die eienaarskap van die fasiliteite te bekom sodra dit gebou is—ten einde op die lang termyn in die winste te deel.

 

Planne vir Suid-Afrika se vierde STV-aanleg in die weste van die provinsie Limpopo is nou in die weer.  Die beoogde projek, met ’n potensiële leweringsvermoë van 80 000 vate per dag, het die naam “Mafutha” gekry—die Zoeloewoord vir olie. Indien die projek hom as ekonomies haalbaar bewys, kan dit in 2016 in bedryf kom.

 

Sasol is tans die wêreld se grootste vervaardiger van sintetiese brandstof. Sy winsgewendheid is boonop verhoog deur die verbreding van sy eindprodukte om plastiek-, kunsmis- en plofstowwe in te sluit. Sy groter chemiese portefeuljes omvat polimere en oplossers, asook hul intermediêre produkte, soorte was, fenolstowwe en stikstofhoudende produkte.

 

Die groep is ook bedrywig in die kleinhandel—hy verkoop naamlik vloeibare brandstowwe en smeermiddels deur middel van ’n groeiende netwerk van Sasol-geriefswinkels en Exel-diensstasies.

 

Petrolstasie waar Sasol-brandstof te koop is REGS: ’n Petrolstasie waar Sasol-brandstof te koop is.

 

Foto: Sasol / via MediaClubSouthAfrica.com

 

Sasol se aandeelprys het oor die afgelope drie jaar verdriedubbel, wat die owerheid die instelling van ’n “windfall tax” (belasting op buitensporige winsgewendheid) laat oorweeg het, maar daar sou eers ná 2009 hieroor besluit word. Vanweë Sasol se enorme bydrae tot ons ekonomie is dit gepas dat een van sy aanlegte op die Suid-Afrikaanse R50-noot afgebeeld word.

 

Sasol het wêreldwyd nagenoeg 34 000 werkers in sy diens—onder wie die grootste getal doktore van enige maatskapy in die Suidelike Halfrond—wat hom een van Suid-Afrika se grootste werkverskaffers maak. Hy is verantwoordelik vir sowat 4,71% van die land se bruto binnelandse produk.

 

Sasol het in September 2007 sy mees omvattende ooreenkoms tot dusver vir swart ekonomiese bemagtiging aangekondig, te wete Inzalo—’n Zoeloewoord wat ’n nuwe lewe en nuwe begin beteken. Dit is in die lewe geroep om vaardighede te ontwikkel en groter ekonomiese bevoegdheid na die voorheen benadeelde Suid-Afrikaanse gemeenskappe te bring.

 

Met hierdie inisiatief van R24 miljard ($3,3 miljard) is ’n uitlopende dwarssnee van die bevolking—onder wie vroue- en jeuggroepe, asook die meeste van die maatskappy se Suid-Afrikaanse werkers—in staat gestel om ’n aandeel van 10% in Sasol Bpk. te verkry.

 

In Junie 2009 het Sasol ’n Sentrum vir Brandstofverbruik (“Fuels Application Centre”) van R70 miljoen ($9,66 milljoen) in Kaapstad geopen, die maatskappy se grootste betrokkenheid nog by ’n onderneming om die impak van brandstowwe op voertuie se werkverrigting en die vrystelling van kweekhuisgasse te toets.


Die sentrum is een van ’n handjievol sulke toetsfasiliteite ter wêreld en die eerste in sy soort in Suid-Afrika.

 

Van die mees gevorderde tegnologieë vir die toetsing van voertuigenjins en die meting van uitlaatgasse sal hier toegepas word, wat Afrika sal help saampraat met die wêreld se beste fasiliteite vir brandstofnavorsing.

 

Geskiedenis van die STV-tegnologie

DIE STV-tegnologie dateer uit die 1920’s, toe twee Duitse skeikundiges, Franz Fischer en Hans Tropsch, ’n proses ontwerp het om steenkool in gas om te skakel en die gas te gebruik om sintetiese brandstowwe te vervaardig. Die Nazi-bewind het in die Tweede Wêreldoorlog die “Fischer-Tropsch-metode” in sy oorlogvoering aangewend omdat Duitsland nie genoeg ruolie gehad het nie. Internasionale oliemaatskappye het ook met die proses geëksperimenteer, maar dit gelos omdat die ontginning van olie goedkoper was.

 

Weens die isolasie van Suid-Afrika in die tyd van apartheid, asook die feit dat die land so ryk met laegraadse steenkool bedeel is, het Sasol hierdie tegnologie doer in 1955 vervolmaak in sy eerste aanleg in Sasolburg. Hierdie installasie is sedertdien in ’n gas-tot-vloeistof-aanleg omgeskakel, maar is vandag steeds in bedryf.

 

Toe die olieprys in die 1970’s die hoogte in skiet, het Sasol nog twee aanlegte in Secunda gebou met behulp van ’n yslike lening van die regering. Hierdie twee aanlegte is tans saam die grootste en winsgewendste enkele bate in die maatskappy se portefeulje.

 

Sasol is geprivatiseer en in 1979 op die Johannesburgse  Effektebeurs genoteer, maar die regering het ’n aandeel van 23,5% behou.

 

Die patroon van swaar subsidering wat gevestig is, geld steeds. Omdat hierdie tegnologie so duur is, is soortgelyke aanmoedigingsmaatreëls en leningswaarborge elders nodig—met die gevolg dat ingenieurs STV ’n lang tyd vermy het. Maar waar die wêreld die toppunt nader van die energie wat hy uit sy tradisionele bronne kan opwek, is die STV-tegnologie besig om veld te wen.

 

Hoe motors en vliegtuie danksy steenkool
aan die gang bly

EEN van die groot voordele van die STV-tegnologie is dat motorenjins glad nie verander hoef te word om die produk te kan gebruik nie. Brandstofkenners voorspel dat “vervloeide steenkool” binne die volgende twintig jaar in ’n groot deel van die wêreld se behoefte aan vervoerbrandstof sal voorsien.

 

Die afgelope aantal jare reeds verlaat straalvliegtuie die OR Tambo- Internasionale Lughawe in Gauteng met brandstof in ’n gelyke mengsel van Sasol- en verwerkte tradisionele ruolie-brandstof. Ook die Amerikaanse lugdiens het meer betrokke geraak by STV met projekte om die B52-brandstof vir straalvliegtuie te vervang deur brandstowwe wat uit steenkool vervaardig word. Amerika monitor Sasol se innovasies op hierdie terrein.

 

Omgewingsimpak van die STV-tegnologie

DIT lyk of die STV-tegnologie vir hom ’n vaste plek in die brandstofbedryf verwerf het. Die wêreld se bekende oliereserwes kan nog net sowat vier dekades lank hou, maar daar is meer as ’n eeu en ’n half se steenkoolreserwes oor. Dit lyk dus of die tegnologie elders verder gaan herleef—ongeag die koste en die impak wat dit op die omgewing het.

 

“Vervloeide steenkool” genereer twee maal meer koolstofdioksied as die verbranding van olie. Gevolglik sal lande wat hul kweekhuisgasse wil beperk alternatiewe metodes moet vind om hul koolstofuitlaat te verminder ten einde die skade te vergoed wat deur die STV-tegnologie veroorsaak word. As ’n ondertekenaar van die Kyoto-protokol is Suid-Afrika daartoe verbind om sy koolstofvrylating te beteuel, maar vanweë sy klassifikasie as ’n “ontwikkelende land” word hy ’n sekere speling gegun voordat hy hierdie veranderings hoef aan te bring. Met die STV-tegnologie word ook groot hoeveelhede swaweldioksied in die lug ingepomp. Dit laat omgewingsbewustes agiteer namens mense in die omgewing wat as gevolg daarvan asemhalingsprobleme ondervind.

 

Maar voorstanders van die STV-tegnologie wys daarop dat die tegnologie verbeter kan word. Met nuwer aanlegte word baie van die koolstof in die verwerking uit die atmosfeer geweer en ondergronds vasgevang, en ’n motorenjin wat met hierdie verwerkte steenkool loop, is boonop sowat 30% skoner as ’n petrolaangedrewe enjin.

 

Sasol in ander lande

WAT die buitewêreld aanbetref, is Sasol tans bedrywig in Afrika, die Midde-Ooste, Australië en die VSA.

 

Sasol Petroleum International ontwikkel en bestuur die maatskappy se belange in olie- en gasontginning en produksie in Mosambiek, Gaboen, Nigerië, die gesamentlike ontwikkelingstreek van Nigerië en São Tomé en Príncipe in die Golf van Guinee, asook Papoea-Nieu-Guinee en Australië.

Hy produseer gas op land van Mosambiek se gasvelde van Temane en Pande en olie van die Etame-veld ter see langs die kus van Gaboen.

Sasol Synfuels International (SSI) is verantwoordelik vir die ontwikkeling, inwerkingstelling en bestuur van internasionale ondernemings wat op die maatskappy se Fischer-Tropsch-tegnologie gegrond is.

In vennootskap met Qatar Petroleum, het SSI in 2007 Sasol se eerste buitelandse gas-tot-vloeistof-aanleg, Oryx GTL, in Qatar in bedryf gebring. Daar is gevestigde skakelkantore in Beijing, Mumbai en Houston, in die VSA, wat die maatskappy se STV-belange in die onderskeie streke bevorder.

Die STV-tegnologie het besondere moontlikhede in Indië, enersyds omdat hierdie land betekenisvolle steenkoolreserwes het en andersyds omdat Indië 72% van sy ruolie invoer. Sasol het al laat blyk dat hy daarin belang stel om sy tegnologie na Indië te bring en sowat R43, 37 miljard ($6 miljard) in ’n Indiese steenkoolvervloeiingsprojek te belê.

 

China, waarvan die steenkoolreserwes op baie, baie miljoene tonne geraam word, wend hom na Sasol om die steenkool in vloeistof om te skakel. Beleggings van sowat R180,82 miljard ($25 miljard) is aan die kom.

 

Die Shenhua-groep, China se grootste steenkoolprodusent, onderhandel met Sasol om gesamentlik twee STV-projekte staan te maak—elk met prysetiket van sowat R43,37 miljard ($6 miljard)—waarmee daar na verwagting in 2012 begin sal word. Altwee sal Sasol se Fischer-Tropsch-tegnologie gebruik, en Sasol verlang ’n ekwiteitsaandeel van 50% in die projekte.

 

In Amerika het die STV-tegnologie ’n tyd gelede die hoofopskrifte gehaal deurdat amptenare daar hulle beywer vir die subsidiëring van steenkool as die koning van alternatiewe brandstowwe.

 

Sasol het vroeër gesê dat hy, in samewerking met twee groot Amerikaanse energiemaatskappye, voorlopige uitvoerbaarheidstudies voltooi het oor die moontlike vestiging van STV-aanlegte in die VSA.

 

Die Amerikaanse departement van verdediging oorweeg eweneens die STV-tegnologie, asook die vereniging vir die steenkoolbedryf, die National Coal Council. Laasgenoemde streef na regeringsbetrokkenheid om te help om teen 2025 nagenoeg 2,6 miljoen vate vloeibare brandstof per dag uit steenkool te vervaardig. Dit sal in 10% van die land se energiebehoeftes voorsien.

 

Die steenkoolneerslae in die Amerikaanse state Montana, Illinois en Wyoming is gesamentlik sowat 267 biljoen ton—ongeveer 56% van die totale reserwes in die VSA. Die staat Montana het reeds vir die oprigting van STV-aanlegte gevra, terwyl wetsontwerpe in Illinois en Kentucky ingedien is wat leningswaarborge en belastingaansporings vir sulke aanlegte aanbied.

 

In Oktober 2006 het die goewerneur van Montana aangekondig dat die staat Amerika se eerste eko-vriendelike STV-aanleg vir R9,4 miljard ($1,3 miljard) sou bou—en dat Sasol betrokke sou wees vanweë sy skitterende prestasies op hierdie terrein.

 

In die antrasietwêreld van Pennsilvanië het WMPI PTY LLC hom daartoe verbind om die Amerikaners se eerste kompleks te ontwikkel waar afvalsteenkool in skoon diesel- en straalvliegtuigbrandstof omskep word wat geen swawel bevat nie. Daar is met Sasol onderhandel om sy Fischer-Tropsch-metode in lisensie te gebruik.

 

Die eksperimentele aanleg sal meer as R2,17 miljard ($300 miljard) kos ten einde 250 000 ton per jaar te kan lewer. Dit sal sy kapitaalkoste per ton olie meer as tien keer dié van die Sasol-China-aanlegte maak. 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad