Pokke   •   Verwoestende brand   •   Runderpes
Sneeu  
   Groot Griep      Tornado      Sikloon
Mynstorting
      Aardbewing      Riviervloed
en nog meer
     
Groot onstuimigheid in die atmosfeer... die voorspel tot 'n ramp?
Rampe
wat Suid-Afrika
getref het


Suid-Afrikaners het in die afgelope eeue heelparty rampe belewe—natuurrampe sowel as katastrofes wat deur menslike bedrywighede aangestig is. Om al daardie groot ongelukke in een enkele artikel te bespreek, is ’n haas onbegonne taak. In die tydlyn hieronder word dus net sekere van die mees opspraakwekkende rampe in herinnering gebring... tragiese en noodlottige gebeurtenisse wat ons veelbewoë verlede epitomiseer...

1713
Pokke aan die Kaap

•  ’n Uitbraak van die gevreesde pokke, wat deur die bemannings en passasiers van verbygaande skepe hierheen gebring is, lei in 1713 tot ’n menigte sterftes onder die Khoikhoi in die Kaapse omgewing en dun hul getalle só uit dat hul mag gebreek word. Byna ’n kwart van die destydse 1.939 Europeërs aan die jong Kaapse nedersetting sterf ook, maar die lewensverlies is maklik dubbel soveel onder die Khoikhoi, wat geen weerstand hoegenaamd teen die siekte het nie.

Pokke—gekenmerk deur ’n puisieagtige uitslag oor die hele liggaam wat in etterige sere verander—sou as baie ernstige virussiekte die mens geslagte lank teister, totdat dit uiteindelik in die twintigste eeu uitgeroei sou word met behulp van inenting.

Die Kaapse uitbraak van 1713 en latere pokke-epidemies (in 1755 en ’n ernstiger uitbraak in 1767) dra alles by om die Khoikhoi-kultuur dermate te verwoes dat hulle as ’n volk ophou bestaan en in die sogenaamde Kleurlingbevolking geassimileer word.

Die geweldig baie Khoikhoi-sterftes van 1713 beteken ook dat blanke trekboere groot onbewoonde gebiede kan betrek waar hulle bykans geen weerstand ondervind nie. In 1717 sou die veeboere reeds die oewers van die Breërivier bereik, en in 1730 het die boere wat ooswaarts getrek het, by die Groot-Brakrivier aangekom, terwyl ander langs die Langeberge oorkant die Kogmanskloof begin trek het. 

Die doodmaak van die beeste1857
Xhosa-selfmoord: die doodmaak van die beeste

•  Met die uiteindelike ontmoeting van die blanke trekboere en die AmaXhosa in die ooste van die land, en die vasstelling van die Visrivier as die grens tussen wit en swart, was ’n lang tyd van wrywing en oorlogvoering onvermydelik. En die onrus aan die oosgrens van die toenmalige Britse Kaapkolonie sou stelllig nog langer geduur het, as dit nie was vir ’n ongelooflike volksreaksie teen die witmense nie: ’n insident bekend as die Xhosa-selfmoord.

’n Meisie, ene Nonqause, en haar toordokter-oom, Umhlakaza, het begin profeteer dat hulle inligting van die voorvadergeeste ontvang het. Hierdie geeste sou aan hulle gesę het dat, indien die ontevrede Xhosa-volk alle beeste en lewensmiddele vernietig, hulle op ’n bestemde dag as
.’t ware ’n nuwe utopie sou binnegaan. Gestorwe helde, beeste en graanvoorrade sou uit die aarde verrys, en die blanke indringers sou in die see gewaai word. Die gedagte van die belhamels was blykbaar dat die hele versinsel die verbeelding van die Xhosa só moes aangryp dat ’n massa-aanval oor die koloniale grens sou volg.

Al die vee en voorrade word dus vernietig en uiteindelik breek D-dag (18 Februarie 1857) aan. ’n Aanvanklike kolossale ontnugtering dat die beloofde herrysenis, en wat daarmee sou saamgaan, nie plaasgevind het nie, lei uiteindelik tot massiewe hongersnood en ellende. Tienduisende sterf, maar nagenoeg 30
.000 stroom oor die grens om kos en werk te soek.

Met hierdie wanhoop word die lot van die AmaXhosa as ’n verslane volk verseël—mense wat eers aan die einde van die twintigste eeu weer werklik hul plek in die politieke son sou vind met die verkiesing van die Xhosa-sprekende Nelson Mandela as eerste president van ’n nie-rassige Suid-Afrika.

1869
Die Groot Brand

Brand•  In 1869 breek die Groot Brand uit wat die aangesig van die verste suide van Suid-Afrika onherroeplik sal verander, in die gebied wat later as die Tuinroete bekend sal staan. Die brand—bes moontlik veroorsaak deur weiveld-brande wat buite beheer geraak het—maak in der waarheid die weg oop vir vroeë reisigers wat voorheen deur die digte Tsitsikamma-woude gekortwiek is. Dit bevorder ook die bou van die latere kuspadstelsel in hierdie skouspelagtige streek. Die woude het baie kilometers ver met die kus langs gestrek.

Teen 10 Februarie brand al die berge rondom Knysna, en die brand woed maande lank voort. In een stadium staan die berge van Riversdal in die weste tot by Humansdorp in die ooste in ligte laaie. Teen Maart 1869 is baie min van die Tsitsikamma-woude oor, hoewel erg verskraalde oorblyfsels daarvan nog tot in ons tyd sou bly bestaan.


1896
Runderpes—die ergste veesiekte

•  Runderpes is ’n kwaai, akute virussiekte by beeste—’n strawwe Bees ontsteking en beskadiging van die diere se slymvliese, veral die dermkanaal en die asemhalingsorgane, met diep, rou sere in die bek en neus. Dit is so erg dat aangetaste diere gewoonlik net ’n paar dae lewe.
  
Oorspronklike foto: Keith Weller / USDA / ARS (grafies verander)

In 1896 versprei dit in Suid-Afrika en lei letterlik tot honderdduisende vrektes onder die vee. Deur uitslagting, die gebruik van entstowwe en die toepassing van kwarantyn word die epidemie onder beheer gebring, maar nie voordat 575 864 beeste in die destydse Kaapkolonie (omtrent ’n derde van die kolonie se beesstapel) en nog derduisende in die ander gebiede dood is nie. 

Skape in sneeu — foto slegs ter illustrasie1902
Die ergste sneeustorm

•  Die ergste sneeustorm in menseheugenis tref Suid-Afrika op 12 Junie 1902. In Griekwaland-Oos lę die sneeu anderhalf meter dik en 13.000 skape vrek. 
(Foto hierby slegs  ter illustrasie.)

1918
Die Groot Griep—die heel grootste verwoester

•  Elke nou en dan doem die spookbeeld weer op van die sogenaamde Groot Griep, wat in 1918 węreldwyd minstens twintig miljoen, sommige meen selfs veertig miljoen, lewens geëis het—twee tot vier keer meer as die Eerste Węreldoorlog.

Ook in Suid-Afrika het die griep ongekende verwoesting gesaai—daar is bereken dat byna 140 000 Suid-Afrikaners binne ’n paar weke in Oktober 1918 daaraan gesterf het. Presies hoe al die griepkieme vanuit die buiteland hier aangekom het, sal seker nooit bekend wees nie, maar dit was ten minste deels weens die aankoms van drie skepe met griepgevalle (een by Durban en twee by Kaapstad) in September 1918.

Die griep het soos ’n veldbrand versprei. Dorpe is tot stilstand geruk, ’n plek soos Kimberley het soos ’n enorme hospitaalkamp gelyk en ook in verskillende ander stede en swart gebiede het mense by die honderde en selfs duisende gesterf (byvoorbeeld
3.160 sterftes in Pretoria, 2.284 in Johannesburg en nie minder nie as 6.250 in ’n plek soos Pietersburg).

Trouens, die hele land was op die rand van ondergang. Gesinne op plase is gelyk getref, met ’n hoë koors, dermprobleme en ondraaglike spierpyne, maar daar was niemand om vir hulle te sorg nie. Albei ouers is soms dood, met verwese klein kindertjies wat dan heeltemal wees gelaat is.

Die Groot Griep van 1918 kan sonder vrees vir teëspraak in terme van lewensverlies die grootste enkele ramp genoem word wat Suid-Afrika nog getref het.

1948

Die verwoestendste tornado

•  Die ergste Suid-Afrikaanse tornado in menseheugenis tref die dorp Roodepoort, in die teenswoordige Gauteng, net voor 6 nm. op 26 November 1948. Bome en blikke tol rond in die donker lug, hael stort neer en te midde van ’n oorverdowende dreuning word huise se dakke opgelig en weer neergelaat, soos ’n man wat sy hoed lig. Alles is binne slegs ses minute verby, maar sewehonderd huise word verwoes en dit lyk of die dorp deur ’n bomaanval verniel is. Die tornado is egter nie net tot Roodepoort beperk nie, maar woed hom eers uit nadat hy sowat ’n uur lank oor 64 km ’n spoor van verwoesting gelaat het. Wonderbaarlik genoeg sterf net vier mense in hierdie ramp, maar sewentig word beseer.

1949
Die trein wat in ’n rivier geval het

•  Altesaam 63 mense word gedood en meer as honderd ernstig beseer toe ses waens van ’n ontspoorde trein in die donker oggendure van 15 November 1949 by Waterval-Boven in die huidige Mpumalanga oor ’n brug in die Elandsrivier stort. Die ongeluk vind in stortreën plaas. Die trein was na Komatipoort onderweg, met onder meer talle mynwerkers wat na Mosambiek wou terugkeer.

Die twee stoomlokomotiewe en die voorste van altesaam vyftien waens ploeg in ’n wal in. Die volgende ses houtwaens, wat 25 meter ver val en op hul dakke beland—deels in die water en deels op die klippe van die rivierbedding—word heeltemal versplinter. Nog waens wat nie oor die brug stort nie, word verwoes deur skerp rotse waar die trein ontspoor het. Net een wa en die kondukteur se kajuit bly onbeskadig op die spoor staan.

1960
Die ramp in die Coalbrook-steenkoolmyn

•  Suid-Afrikaners word baie diep geraak deur die land se grootste mynramp wat 21 Januarie 1960 in die Vrystaat plaasvind. Altesaam 435 mynwerkers word lewend begrawe toe ’n deel van die Coalbrook-steenkoolmyn instort. Die tegnologie bestaan nog nie plaaslik om enige van hulle te red nie.

Geen masjien is naamlik in die land beskikbaar wat groot genoeg is om gate te boor ten einde vasgevalle mynwerkers te bereik nie. Ná die Coalbrook-ramp besluit die Kamer van Mynwese egter om ’n geskikte boor aan te koop sodat vasgekeerdes in Suid-Afrikaanse steenkoolmyne gered kan word.

1969
Die Bolandse aardbewing

•  In die nag van 29 September 1969 word die grootste aardbewing-skade in menseheugenis in Suid-Afrika aangerig toe veral die dorpe Ceres, Wolseley en Tulbagh erg verniel word deur ’n aardskok op die sogenaamde Worcester-breuk in die aardkors. Honderde huise word in bouvalle verander en moet gesloop en herbou word. Elf mense is op die omringende plase dood waar swak geboude tuistes ineengestort het. 



Laingsburg-vloedREGS: Skriktoneel van die Laingsburg-vloed van 1981, soos dit verskyn op die omslag van die boek Vloedramp deur W.O. Kühne (Naspers).

1981
Die vloedramp op Laingsburg

•  Skielike vloede is die vernaamste oorsaak van sterftes wat met donderstorms verbind word. Een van die ergste oorstromings in die Suid-Afrikaanse geskiedenis vind op 25 Januarie 1981 plaas toe skielike vloedwaters onverwags ’n groot deel van die Karoo-dorp Laingsburg tref en mense en huise meedoënloos meesleur. Altesaam 103 mense verdrink, 185 huise, die ouetehuis en 23 kantore word verwoes en slegs 21 huise bly staan. Die rede vir die groot skade en lewensverlies is stellig dat mense niksvermoedend die dorp in die meestal droërige loop van die Buffelsrivier gebou het sonder om die gevaar van ’n skielike vloed te besef.

1984
Die sikloon Domoina

•  Meer as 200 mense sterf toe die sikloon Domoina in Februarie 1984 verwoesting saai in Swaziland, Mosambiek, die teenswoordige Mpumalanga en in die noordooste van KwaZulu-Natal. Geweldige skade word aan brűe en suikerrietplantasies aangerig. Die hoogste aangetekende reënval op een dag op ’n enkele plek in Suid-Afrika word gemeet: 597 mm by die St. Luciameer.

Animasie REGS: ’n Tropiese sikloon.

Krediet: NOAA
 

1985
Die Westdene-busramp

•  Altesaam 42 hoërskoolleerlinge sterf in Maart 1985 toe ’n dubbeldekkerbus van die Johannesburgse munisipaliteit waarmee die kinders huiswaarts vervoer word, oor die sypaadjie bars en in die Westdene-dam sink. Die ongelukkig gebeur om eenuur die middag en duikers van die polisie bly etlike ure lank besig om die kinderlyke na die oppervlak te bring. Die busbestuurder en ’n aantal kinders oorleef die ongeluk.

1987
Die ergste vloed

•  Wat as die ergste vloed in menseheugenis in die teenswoordige KwaZulu-Natal beskryf is, tref die streek aan die einde van September 1987. Altesaam 388 mense sterf, terwyl 68 000 dakloos gelaat word deurdat huise verbrokkel of in modder begrawe word. Durban is per pad heeltemal van die res van die land afgesny, duisende kilometer paaie word beskadig en veertien brűe word weggespoel.

2003
Die bus in die Saulspoortdam

•  Altesaam 51 mense sterf op 1 Mei 2003 toe ’n bus in die Saulspoortdam naby Bethlehem in die Vrystaat beland. Hulle is onder ’n aantal lede van die Suid-Afrikaanse vakbondvereniging Cosatu wat na ’n Meidag-byeenkoms onderweg is. Die busbestuurder het, na berig word, verdwaal en op ’n gruispad beland wat na die dam lei.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad