|
|
|
OP ’n doringrige heuwel in die Oos-Kaap is haar stoflike oorskot oplaas in Augustus 2002 begrawe: die Khoi-vrou wat die Kaap byna twee eeue tevore verlaat het. Sarah Baartman was uiteindelik “tuis”—lank ná ’n vernederende lewe in Londen en Parys as ’n tentoongestelde “frats”. ’n
Ewe onwaardige
uitstalling van sekere van haar liggaamsdele het nou gelukkig ook tot
die geskiedenis behoort. Dié was tot diep in die twintigste eeu nog op
versterkwater in ’n Paryse museum waar besoekers hulle daaraan kon
vergaap. Maar hier, by Hankey en die Gamtoosvallei, die
vallei waarin sy nagenoeg in 1789 gebore is, sou haar lank uitgestelde
begrafnis die skreiende onreg teenoor haar en haar rasgenote in sekere
mate vergoed. Sarah, of Saartje soos sy genoem is, het
nie meer in die vallei gewoon nie, maar in Kaapstad, toe sy in 1810 deur
’n Britse skeepsdokter, ene William Dunlop, genader is. Hy het haar
omgepraat is om saam met hom Londen toe te gaan. Die dokter moet haar
sekerlik wonderlike dinge belowe het om haar te oorreed om haar huisie op die Kaapse
Vlakte te verlaat en in die verafgeleë Engelandse hoofstad te gaan
woon. Maar die Khoi-kultuur was in haar tyd reeds
grotendeels vernietig en die Europese lewenswyse was stellig ’n
onweerstaanbare lokaas. Dat sy in Europa meegesleur sou word na ’n
vroeë dood weens ’n skandelike lewe, sou sy helaas nie kon voorsien
het nie.
Hoe onmenswaardig daar in der waarheid na
Sarah gekyk is, blyk uit die woorde van baron Georges Couvier, ’n
Franse wetenskaplike. “In haar bewegings was iets wat ’n mens aan
’n aap herinner het,” het hy geskryf, “en haar uitwendige geslagsdele
het ’n mens aan dié van ’n orangoetang laat dink.” Op ’n keer is sy inderdaad
“soos ’n wilde” dier in ’n hok by Piccadilly vertoon.
Volgens destydse beskywings van haar vertonings moes Sarah ook kaal
paradeer op ’n verhoog van minder as ’n meter hoog waarop “sy
gelei is deur haar oppasser en uitgestal is soos ’n wilde dier, wat
verplig was om te loop, staan of sit soos hy haar beveel het”. Daar was wel Londenaars wat gereken het
Sarah se onterende behandeling is darem eens te erg. Dit het selfs
tot ’n hofsaak gelei. Maar ná Sarah se getuienis dat sy dit vrywillig
doen, dat die hok net ’n deel van die toneelspel was en dat sy die
helfte van die wins ontvang, kon die vertonings voortgaan. Die jong
Afrika-vrou in die vreemde het haar toe reeds in ’n bose maalkolk
bevind waaruit sy onmoontlik kon ontsnap. Vanweë
haar eenvoudige, landelike agtergrond kon Sarah haar nuwe lewe heel
waarskynlik glad nie verwerk nie, wat nog te sê verwag dat sy in die
volgende honderd jaar die ikoon van rasse-minderwaardigheid en swart
vroulike seksualiteit sou word. Haar bekendheid het haar die bron van
groteske stereotipes oor Afrika-vroue gemaak, waarvan baie deur die
toonaangewende Europese wetenskaplikes van daardie tyd verewig is. Haar
liggaam is deur wetenskaplikes, ook baron Couvier, ontleed terwyl sy nog
gelewe het en ’n aantal kamtige wetenskaplike artikels is oor die
meerderwaardigheid van Europese rasse geskryf. Couvier het glo glad
gereken sy is die sogenaamde “vermiste skakel”, die hoogste
vorm van dierelewe en die laagste vorm van menselewe. In 1814 of 1815 is Sarah na Parys geneem,
waar sy aan ’n “vertoner van wilde diere” in ’n reisende
sirkus oorhandig is. Maar die skrif was aan die muur. Sy het haar tot
prostitusie in Parys gewend en blykbaar hewig gedrink, heel moontlik om
te probeer saamlewe met die vernedering waaraan sy onderwerp is. Aan die
einde van 1815, net ongeveer 26 jaar oud, het sy aan infeksie en
alkoholisme gesterf. Baron Couvier—hy was chirurg-generaal
van Napoleon Bonaparte—het haar lyk gedissekteer en haar liggaam in
was laat giet. Haar geslagsdele en brein is selfs gepreserveer en was
tot in 1974 nog te sien in die Musée de'l Homme (Museum van die
Mensdom) in Parys, langs die brein van die beroemde Franse
chirurg en antropoloog Paul Pierre Broca (1824-'80). In 1994 het die Suid-Afrikaanse regering en
verteenwoordigers van die Griekwa-volk, wat tot die Khoi-groep behoort,
gevra dat haar oorskot (haar behoue geblewe geraamte saam met die
gepreserveerde liggaamsdele) teruggestuur moes word om hier begrawe te
word. Maar nou was daar
die probleem dat die gewese toonstukke van die Museum van die Mensdom ná
hul onttrekking regtens die eiendom van die Franse staat geword het en
dat ’n spesiale wet van die Franse parlement nodig was om hulle terug
te gee. Dog ná etlike jare van onderhandelings het
die Franse regering uiteindelik in Februarie 2002 ingestem tot haar “repatriasie”, en die bal is aan die rol gesit om Sarah se
oorskot na Suid-Afrika te bring. Die
oorskot het vroeg in Mei per vliegtuig uit Parys via Johannesburg in
Kaapstad aangekom en daarvandaan is dit na die Oos-Kaap vervoer. Toe
is Sarah Baartman in Augustus op die heuwel daar by Hankey ter ruste gelê.
Thabo Mbeki, destyds die president van Suid-Afrika, het die sowat 7000 roubeklaers op die begrafnis
toegespreek. En hoofman Joseph Little het teenoor die hooggeplaastes by
die graf ’n veelseggende opmerking gemaak. “Ons is besig om ’n
hoofstuk in die geskiedenis af te
sluit,” het hy gesê. “Ek voel dat haar waardigheid herstel is.” Wat
sou Sarah self van al die ophef gesê het as sy in haar tyd van groot
ellende in Europa ’n visioen daarvan kon gesien het? |