San

Raaiselvolk van die klein,
geel mensies

    

San-vrou van BotswanaEenmaal het die hele Suidelike Afrika net aan hulle behoort, al die rivieroewers en die grasvelde, al die rante en valleie waar die groen-doringbome of die mopanies of die krematarte floreer. Hoe is die San (ook Boesmans genoem) dan uiteindelik tot ’n uitgeworpe bestaan in die ruwe Kalahari gerelegeer? En waar het hierdie raaiselvolk van klein, geel mensies oorspronklik vandaan gekom?

 

Rotskuns van die San in die Drakensbergreeks, KwaZulu-Natal


 

FOTO BO:  ’n San-vrou van Botswana.

 


REGS: Rotskuns van die San. Hierdie figure is op klip in die Drakensbergreeks, KwaZulu-Natal, geskilder, maar die San het soveel rotstekeninge wyd en syd in Suid-Afrika nagelaat dat ons land vandag die meeste van die wêreld se nog bestaande prehistoriese kunsstukke bevat.

 


 

Foto van die San-vrou deur Lisa Gray

Dit is op hierdie bladsy (volg die skakel) in die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web gepubliseer op grond van ’n vergunning soos dit verskyn by:
http://www.flickr.com/photos/31685964@N00/381830573
Die gebruik daarvan word vergun ingevolge die Creative Commons Attribution 2.5-lisensie.

Foto van rotstekeninge: Kopiereg © Suid-Afrikaanse Toerisme / South African Tourism

N

AASTENBY 30 000 jaar gelede is Suidelike Afrika—steeds in die greep van die wêreld se laaste Ystyd—beset deur mense wat ons vandag as die San (of Boesmans) ken.


'n San-man en 'n San-vrouHulle was nie die eerste mense in die gebied nie, want daar is aanduidings van veel vroeër besettings. Maar as jagters en versamelaars het hierdie vroeë Suider-Afrikaners hul eie kleurryke invloed op ons wêrelddeel uitgeoefen. Dit word ook versinnebeeld deur die twee mensefigure op die huidige Suid-Afrikaanse landswapen.

 

Die San het hul bestaanstryd in verskillende omgewings gevoer deur wild te jag, vis te vang en eetbare plante, bessies en skulpvis te versamel. Versameling was veelal die taak van die vroue wat vir sowat tagtig persent van die gemeenskappe se kosse gesorg het. Die mans het gejag, gereedskap en wapens van hout of klip gemaak, klere uit diervel geskep en ’n merkwaardige reeks primitiewe musiekinstrumente vervaardig.

 

Hierdie jagter-versamelaars het oor die millenniums heen in klein familiegemeenskappies saamgewoon en -geswerf. Gesinne sou in groepe van twintig tot vyftig mense saamgroepeer, partykeer oor lang tydperke, net om weer uitmekaar spat wanneer die kos skaars geraak het. Mans en vroue het gelyke status in hierdie groepe gehad. En daar was geen erflike kapteinskap nie, hoewel die manlike leier van die hoofgesin gewoonlik ’n leidende rol in besluitneming gespeel het.

.

Rotstekening, ZimbabweFOTO’S HIERBY: Nog verskillende rotstekeninge van die San—’n spieëlbeeld van hul leefwêreld waarin die diere van die veld ’n sentrale plek ingeneem het. Die tekeninge regs is van Zimbabwe, regs onder van onsekere herkoms en regs heel onder van die Sederberge.

Foto regs: Ulamm, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het. Foto regs onder: AKE. Regs heel onder is ’n baie vergrote detail van ’n foto’tjie uit Reis-Atlas van Suider-Afrika deur Michael Brett en Alan Mountain, Struik Uitgewers. Synde afbeeldings van historiese werke word die laasgenoemdes eweneens beskou as openbare besit (“in the public domain”).

 
Die San het, soos later in hierdie artikel breedvoeriger vertel word, ook ’n geweldige hoeveelheid rotstekeninge nagelaat—soveel dat Suid-Afrika vandag die meeste van die wêreld se nog bestaande prehistoriese kunsstukke bevat. Hierdie tekeninge toon ’n merkwaardige estetiese aanvoeling en verbeeld die San se jagtegnieke en godsdienstige oortuigings. Die rotstekeninge toon ook dat daar in die verlede ’n groot wisselwerking tussen gemeenskappe van jagter-versamelaars regdeur Suidelike Afrika was.

 

Só het die nomadiese San dan oor duisende jare heen in hul natuurgebondenheid van die veld af gelewe, selfversorgend en voldaan met wat die omgewing hulle kon bied.

 

Maar nagenoeg 2500 jaar gelede het daar ’n nuwe verwikkeling gekom. Sekere San-lede in die noordelike dele van die teenswoordige Botswana het vetstertskape en langhoringbeeste bekom. Moontlik het hulle dit in ruilhandel van mense uit die noorde en ooste verkry. Hierdie San het dus met vee begin boer.

 

Rotstekeninge, Australië

Was daar ook Boesmans in Australië?

BO: Rotstekeninge, nie van die San nie, maar deur inboorlinge in Australië. Leke sal daardeur maklik verlei kan word om te dink dat daar ’n kennelike skakel tussen die Australiese inboorlinge en die San van Suidelike Afrika moet gewees het, maar so maklik is dit nie. Die tekeninge toon bes moontlik ooreenkomste bloot omdat mense eenders is.

Detail van foto op webwerf 750 Royalty-Free photos of Australia by:
http://www.geocities.com/freephotographs/index htm/
  

Die veeboere het steeds nie hul trekkerslewe ten volle laat vaar nie, want hulle moes nog rondbeweeg agter weiveld aan, maar hulle was nou in groter en meer gestruktureerde gemeenskappe georden as die nomadiese San, dikwels met etlike honderde mense in ’n enkele gemeenskap. Hulle het selfs op die jagtersvolk neergesien en dié die Sä-n genoem.

 

Aangesien die suide van die gewese Kaapland vrugbaar en waterryk is, het baie van die veeboere hulle aan die kus gaan vestig. Hul nasate word die Khoi-Khoi genoem. In hul eie taal beteken dit "manne van manne".

 

Hoewel baie blankes dikwels reken dat die San en die Khoi-Khoi kultureel en fisiek tot verskillende rassegroepe behoort, dink geleerdes vandag dat hulle wesenlik een volk is en dat die twee groepe net op grond van hul verskillende lewenswyses onderskei moet word. Die feit dat die Khoi-Khoi in die reël liggaamlik groter as die San is, word nou daaraan toegeskryf dat die veeboere meer proteïen geëet het. Hul tale (daar is heelparty verskillendes) is ook verwant en word deur klapklanke gekenmerk.

 

"Khoi-Khoi-bloed" is steeds in ’n groot mate aanwesig in verskillende gesofistikeerde bevolkingsgroepe van Suid-Afrika, soos die sogenaamde Kleurlinge en andere. Daarteenoor kom die nomadiese San se swerwende nasate nog verspreid voor op die duine en eindelose vlaktes van die Kalahari. Maar daar is bedroewend min van die San oor.

 

Die enorme uitgestrektheid van en afsondering in die Kalahari het nietemin aan hulle die vryheid gebied om min of meer as ’n afsonderlike volk te kon bly voortbestaan sonder om grotendeels geassimileer te word soos elders met die Khoi-Khoi gebeur het...

 

Ou San-hut

 

BO: ’n Ou foto van San-mense voor ’n hut. Dit is omtrent net die houers
op die agtergrond wat iets van ’n Westerse invloed verraai.

 

Foto: Openbare besit vanweë die verstryking van kopiereg weens ouderdom.

 

Betreklik nuwe San-hut

 

BO: ’n Betreklik onlangse foto (somer 2005) van ’n nedersetting
met ’n paar San-families in Namibië.

 

Foto uit die Nederlandse weergawe van die Wikipedia-ensiklopedie op die
wêreldwye web waar dit deur sy eienaar tot openbare besit verklaar is.
  

 

“Kinders” van die Kalahari

DIE Kalahari is ’n woestynagtige streek wat dele van Suid-Afrika, Namibië en Botswana oorspan—’n ruwe gebied van dors en hitte en dorings waar die gras hard is, die lugspieëlings op die vlaktes dans en skerpioene onder die klippe skuil.

 

Hier oorleef die San in die wye verlatenheid en die versengende son—’n halfnaakte, honger volk, lig van bou en geel van vel. Hul kroes haarklossies kom ooreen met dié van ander inheemse Afrikane, maar andersins is hulle baie soos Mongloïede Asiate, dikwels met Mongoolse oogvoue en bra breë, plat gesigte. Dis ook interessant dat San-babas by geboorte bleekpienk is, dikwels met ’n gepigmenteerde gebied aan die basis van die ruggraat.

 

Vandag is die tradisiegebonde San van die Kalahari steeds jagter-versamelaars soos hul voorsate duisende jare gelede. Hulle jag—veral verskeie soorte wildsbokke—met ligte boë en pyle met gifpunte, en verskillende gifstowwe word vir laasgenoemde gebruik, meestal afkomstig van plante of giftige slange.

 

'n Pylgif-kewerIn die Noord-Kalahari kom die algemeenste pylgif egter van die larwes en papies van sekere kewers soos die volwasse een op die foto'tjie REGS (Diamphidia vittatipennis).
Iziko Museums, Kaapstad

 

Die gif kan op verskillende maniere op die pylpunte aangebring word, byvoorbeeld deur die sap van die larwes of papies regsteeks op die pylpunte uit te druk. Daarna kan die pyle oor ’n vuur droog gemaak word. Mengsels kan ook van plantsap, spoeg en die sap van larwes of papies gemaak word (die plantsap dien as kleefmiddel). ’n Ander metode is om die larwes en papies in die son te droog en dan tot ’n poeier fyn te maal, wat daarna saam met plantsap aan die pylpunte aangewend word.

Die jagtogte lewer egter baiemaal nie naastenby genoeg kos op vir al die honger mae nie en die nomadiese San se daaglikse dieet bestaan nog meestal uit die veldkos wat die woestyn hulle kan bied. Daarteenoor is daar ook baie van hulle wat die tradisionele lewe versaak het, wat nou in nedersettings woon waar jag en versamel buite die kwessie is. Diesulkes onderhou hulself deur ’n bietjie kos te kweek of op plase te werk.

Die oorblywende nomade is steeds gedurig aan die rondtrek na water, wild en eetbare veldkos. Elke paar dae versit hulle na ’n nuwe woonplek. En op die ewige trekpad dra hulle al hul karige besittings met hulle saam. Hulle maak hul eie tydelike blyplekke van takke en gras. Hulle het nie statte nodig om in te woon nie en bou slegs klein koepelvormige skerms vir ’n bietjie skaduwee terwyl hulle ’n rukkie daar verwyl.


 

Die speletjies van die
kleinspan

DIE kinders van die San word vroeg-vroeg van hul toekomstige grootmenslewe geleer in die nabootsende speletjies wat gespeel word. (Maar daardie televisie-advertensie wat tydens Wêreldbeker-toernooi so gewild was en waarin hulle ten aanskoue van meerkatte rondhardloop met ’n rugbybal wat uit ’n vliegtuig geval het, is darem nie werklik tradisioneel nie!)

In hul tradisionele omgewing leer die seuns jagspeletjies. Diere word van klei gemaak, of hulle probeer dierspore in die sand naboots, en dan moet die ander kinders raai watter diere of spore voorgestel word. Die meisies het waarskynlik minder tyd vir speel. Hulle werk in die skerms, pas die klein kindertjies op, of kook muise en ander klein diertjies.

Die kinders leer ook vaardighede wat hulle later op hul jagtogte goed te pas kan kom. Hulle gooi byvoorbeeld rosyntjieboslatte, wat aan die een punt skerp gemaak is. Die lat word só gegooi dat dit op ’n met gras bedekte sandhopie land en dan wegskiet om ver anderkant die hopie in die sand vas te steek. Vir ’n ander speletjie word groterige sade aan kort stokkies geheg, met ’n paar tarentaalvere aan die onderkant. Die speler gebruik nou ’n langer lat waarmee hy twee van die saad-stokkies-en-vere-kombinasies so lank as moontlik moet aanhou slaan om te keer dat een of altwee op die grond val.

Nog ’n gewilde speletjie is met ’n tsamma (’n soort wilde waatlemoen). Terwyl die deelnemers sing en dans, gooi hulle die tsamma oor en weer vir mekaar.

Die meisies vergesel reeds klein-klein hul ma’s wanneer veldkos versamel en hout gaan haal moet word. Die seuns word weer vroeg geleer om hulle vir die jagterslewe te bekwaam deurdat hulle klein pyl-en-bogies kry om muise, akkedisse en voëls te skiet. Hulle ontvang later hul groter wapens, maar die kranige jong jagter kry eers gifpyle nadat hy sy eerste bokkie (’n duiker of steenbok) geskiet het.
  

 Rotstekeninge en die San se
godsdiens

GETUIENISSE van die San se lang aanwesigheid in Suidelike Afrika is nie handvol nie, maar letterlik landvol. Só is beskilderde rotsblaaie in Namibië gevind waarvan die ouderdom op 27 500 jaar vasgestel is. Die ouderdom is bepaal deur die ontleding van houtskool wat op die­selfde vlak op die vloer van die bepaalde rotsskuiling gekry is. In die sogenaamde Wondergrot naby Kuruman is desgelyks vasge­stel dat ’n reeks gegraveerde rotsblaaie se onderskeie ouderdomme tussen ongeveer 2000 en 10 500 jaar moet wissel.

Na berekening is daar meer as 15 000 plekke in ons land met honderdduisende rotsafbeeldings altesaam.

Nie alle rotstekeninge dateer ook van duisende jare gelede nie. In sekere gebiede het hierdie soort kuns selfs tot in die laat negentiende eeu gedy. ’n Aantal rotstekeninge in die Drakensberg beeld tot botsings tussen die San en blankes met gewere op perde uit.

Die verf vir die tekeninge is van fyngemaalde soorte klei en oker gemaak. Rooi en geel kleure is met yster se roes verkry. Wit verf is van klei gemaak, terwyl swart verf deur middel van mangaanoksied of houtskool verkry is.

Klippe is gebruik om sagte rotserts te verpoeier, waarna die poeier met water of bloed of moontlik plantsappe en eierwit gemeng is. Dit is met kwaste van dierehare, vere of gerafelde stokke aangeverf. Dit lyk of party rotstekeninge met die vinger aangeverf is.

Maar waarom sou die San hierdie soort kuns beoefen het? Kenners reken vandag dit het weinig te doen gehad met die diep gevoelde kunssin en inspirasie wat ons by sekere begaafde individue in Westerse samelewings aantref. Dit het allereers verband gehou met die San se eiesoortige godsdiens wat gegrond was op die geloof dat krag van God verkry kon word deur in ’n ander bewussynstoestand of beswyming te gaan. Sodra hierdie krag ontvang sou gewees het, is dit veral gebruik om, só het hulle geglo, siekes te genees, reën te maak en wilde diere te beheer.

Die tekeninge is dus nie deur elke individu met ’n kunsgevoel geskilder nie, maar deur geestebesweerders en storievertellers wat in beswymings kon verval. Terwyl hulle so geswymel het, sou hulle visioene uit die geesteswêreld gesien het wat hulle dan in hul kuns sou uitbeeld.

Daar is streekverskille in die diere wat ’n geestelike betekenis vir die betrokke gemeenskappe gehad het—elande in die Drakensberg, olifante in die Wes-Kaap en Zimbabwe. Koedoes, veral koeie, word die meeste in Zimbabwese rotstekeninge uitgebeeld.

 Klik hier as jy meer wil lees oor die godsdiensbeskouings van die San
 

Maar waar het die San dan oorspronklik vandaan gekom?

GELEERDES verskil oor die oorsprong van die San. Sekere volkekundiges dink hulle het van Asië gekom, ander reken dit was van Noord-Afrika. Maar miskien sal die genetici ons nog eendag die finale antwoord bied.

 

Hulle sê by die Khoisan—soos daar na die Khoi-Khoi en die San gesamentlik verwys word—is daar die grootste verskeidenheid van sekere genetiese faktore van alle menslike bevolkings, wat daarop dui dat hulle een van die oudste nog bestaande menslike gemeenskappe is. Wetenskaplike ontledings suggereer ook dat hulle naby aan die wortel van die menslike stamboom lê—wat nie wil sê dat hulle fisiek “primitiewer” as ander volkere is nie.

 

Hoe ook al, eenmaal het die hele Suidelike Afrika net aan hulle behoort, al die rivieroewers en die grasvelde, al die rante en valleie waar die groendoringbome of die mopanies of die krematarte floreer, van die Kaap tot by Zimbabwe en van Angola tot by Mosambiek. Maar toe kom die swart Afrikane vanuit die noorde, die groter, energieke mense met hul kapteins en konings, hul toordokters en groot veestapels, hul magtige leërs en metaalwapens. Die San is doodgemaak of verslaaf of, indien nie, verdryf na afgeleë gebiede waar slegs hulle kon oorleef.

 

In die afgelope paar honderd jaar is hul tuislande ook deur blanke koloniste beset, waar hulle opnuut aan diskriminasie onderwerp is. Alles het meegebring dat hul getalle gekrimp het van miskien baie, baie duisende tot—volgens een berekening—slegs 55 000. Sowat sestig persent van hulle woon in die Kalahari in Botswana, 35 persent in Namibië, met die res verspreid regoor Suidelike Afrika.

 

Die San se son is nog nie onder nie, maar hul uur van glorie is lankal verby...

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad