Die super-teleskoop by Sutherland

SALT
SALT
Ons  reuse-
oog op die sterre

   
Die veelgeroemde nuwe teleskoop digby Sutherland is so kragtig, word vertel, dat hy ’n kers se vlammetjie op die oppervlak van die maan sou kon waarneem. Mieliestronk.com was self op die dorp en in die hoogs gerekenariseerde binnekamers onder SALT se koepel om meer te wete te kom van hierdie opwindende ontwikkeling in die mens se bestudering van die sterre…

Foto's: SALT en uit ’n SALT-brosjure van die Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie, aangevul met sekere rekenaargrafika deur Mieliestronk.com


S

UTHERLAND is nie net die koudste plek in Suid-Afrika nie. Dis ook een van die donkerste plekke op die aardbol. Hier is die sterrehemel snags so vry van enige steurende stadsligte as wat die gloedvolle Kaap—sowat 370 km ver—drie en ’n halwe eeu gelede laas moet gewees het.  

Bedags skarrel wildsbokkies nog altyd soos in lank vergange tye oor die velde… langs die laaste aktiewe vulkaan suid van die ewenaar wat reeds baie millenniums gelede uitgedoof is. Werklik, die kale haaivlakte is nêrens so ongetem en ongeskonde as juis hier nie.

SALTDat die verafgeleë Sutherland in die Hantam-Karoo gekies sou word as die plek vir Afrika se eie reuse-oog op die heelal—en ’n vlagskip vir Suid-Afrika se tegnologiese programme—lyk met die eerste aanblik eenvoudig na ’n flagrante stommiteit.

Maar dis presies vanweë sy silwerskoon lug en bloedmin kunsmatige lig dat Sutherland vir die wêreld se sterrekundige gemeenskap so kosbaar is. En waarom ’n hele konsortium van internasionale belanghebbendes saamgespan het om die grootste teleskoop in die Suidelike Halfrond (foto HIERBY) hier staan te maak.

Só ’n wawyd oop hemel en sulke ware donker nagte is immers elke sterrekyker se droom. Die groot vyand van die wêreld se optiese sterrewagte is juis die legio elektriese ligte op alle vastelande. Op duisende plekke verlig gloeilampe en neonligte snags reeds die aardse naglug so intens dat die blakende sterreprag van vroeër tot ’n patetiese geflikker gereduseer is.

Maar nie by die ongerepte Sutherland nie.

Teleskope

BO: Geskep deur 'n rekenaar: 'n oorspronklike konsep van SALT met die ander teleskope van die Sutherlandse kompleks op die voorgrond.

Van 1970 af is daar natuurlik reeds die beroemde kompleks van teleskope wat die elemente op ’n winderige heuwel net ’n entjie buitekant die dorp trotseer. Maar dit is die jongste toevoeging tot die groep, die sogenaamde Southern African Large Telescope (SALT), met sy geraamde koste van byna R200 miljoen, waaroor groot opgewondheid steeds in astronomiese kringe heers.

Hierdie massiewe teleskoop is tussen 2000 en 2005 deur Suid-Afrika en sy Duitse, Poolse, Amerikaanse, Nieu-Seelandse en Britse vennote opgerig en hier woel sterrekundiges nou om afgeleë sterre, sterrestelsels en hemelgloede op te spoor wat duisend miljoen keer dowwer is as wat ’n mens met die blote oog kan sien.

Trouens, daar word vertel dat SALT so kragtig is dat hy iets so dof as ’n kers se vlammetjie op die maan sal kan waarneem. Die teleskoop versamel nie verniet 25 keer meer lig as enige ander bestaande teleskoop op die vasteland van Afrika nie.

Daar is reeds spoedig begin om ons suidelike sterregewelf met die teleskoop te verken, en beelde wat uitgereik is, wys iets van SALT se verstommende moontlikhede.

SALT beskou die sterrehemel

BO: 'n Deel van ons ligtende suidelike naghemel, soos
gesien deur die SALT-teleskoop.
 

Pres.Thabo MbekiDIE SALT-teleskoop, wat op 10 November 2005 deur oud-pres. Thabo Mbeki (REGS) geopen is, beteken geweldig baie vir Suid-Afrika se prestige as ’n wetenskapsleier op ons vasteland. Toe die nuwe demokratiese regering in 1994 aan die bewind gekom het, is in wetenskaplike kringe gevrees dat die sterrekunde as ’n luukse beskou kon word deur ’n regering wat soveel tekortkominge in basiese onderwys, behuising en gesondheidsorg die hoof moes bied.

Tog het die regering astronomie (sterrekunde) en fisika as prioriteite geïdentifiseer, nie slegs vir Suid-Afrika nie, maar vir die hele vasteland. Die sterrekunde word nie net as ’n fundamentele wetenskap beskou nie, maar ook as ’n manier om leerders aan te moedig om die wetenskappe te bestudeer.

En nou word opwindende avonture met SALT deur die wetenskaplikes onderneem, soos om die grootste geheime te probeer ontrafel oor die heelal en oor die plek van die aarde tussen al die ontelbare ander sfere. Antwoorde word onder meer gesoek word vir tergende vrae soos die volgende:

  • Hoe het die heelal in sy prille jeug gelyk toe kwasars (geweldige ligtende ruimtelike voorwerpe) nog algemeen was?
  • Watter soort hemelligame wentel om ander sonne in die onmeetlike ruimte?
  • Hoe verskil die sterre in nabygeleë sterrestelsels van die sterre naby ons eie son?
  • Wat kan hierdie sterre ons omtrent die grootte en ouderdom van die heelal vertel?
  • Hoe kry kwasars en uitbarstings van gammastrale dit reg om helderder te skyn as biljoene sterre soos ons son?

Van die SALT-teleskoop word dus kennelik verwag om ons blik op die ruimte te help vergroot. Kenners reken lankal dat ons nog slegs tien persent kan sien van wat werklik daarbuite bestaan.

Hobby-Eberly-teleskoopMET die instrumente van SALT skort daar baie min. Om die waarheid te sê, waar die teleskoop aanvanklik as ’n kloon van die hoogs suksesvolle Hobby-Eberly-teleskoop (REGS) in Texas beskou is—ook met ’n reeks spieëls elf meter breed soos die Amerikaanse een—het nuwe tegnologiese ontwikkelings ’n herontwerp van die optiese stelsel en ’n beter benutting van die spieëls moontlik gemaak.

Die Suid-Afrikaanse sterrekundige Darragh O'Donoghue het die Hobby-Eberly se beeldverwerking herontwerp en met ’n stelsel vorendag gekom wat ’n beeld bied wat ’n verbysterende nagenoeg 240 persent skerper is.

Boonop kon die projekbestuurder, Kobus Meiring, wat voorheen aan die spits van die ontwikkeling van die Rooivalk-aanvalshelikopter gestaan het, sy ondervinding hier baie goed benut. Die span het dit byvoorbeeld reggekry om SALT vir baie minder te bou as wat vergelykbare projekte oorsee sou kos.

Op Sutherland, die tuisdorp van twee van die grootste digters van die Afrikaanse taal, N.P. van Wyk Louw en sy broer W.E.G. Louw, is gretig uitgesien na ’n oplewing in die toerismebedryf wat deur SALT geskep sou word.

Dit is te gou om te bepaal hoeveel meer besoekers daar in die eerste dekade van die 21ste eeu sal wees as in die laaste van die 20ste eeu,   maar die ondernemende mense van Sutherland het nie verniet lankal sterre in hul oë nie!

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad