|
IE
natuurlike plantegroei is, soos ons hierbo gesien het, een
van die beste aanduidings van die aard van enige omgewing of
streek, omdat die heersende klimaatstoestande van die gebied
daarin weerspieël word.
En
hoewel plante vir hul groei afhanklik is van die sonskyn, die reën,
die temperatuur en die wind -- trouens, van al die
klimaatselemente -- is dit veral die hoeveelheid vog en hitte
wat bepaal watter plante goed in ’n bepaalde omgewing sal
aard.
In
ons land is slegs ’n smal kusstrokie, ’n aantal beskutte
valleie en dele van die oostelike Laeveld volkome rypvry. In die
meeste dele van die hoërliggende binneland word in drie tot vyf
maande van die jaar strawwe ryp ondervind. Die natuurlike plante
in die grootste deel van Suid-Afrika is dus óf bladwisselend óf
baie gehard óf hulle ryp in die winter dood, maar spruit weer
in die groeiseisoen uit.
Die
meeste plante is dan ook spesiaal toegerus om in die winter in ’n
toestand van rus te gaan.
Daarteenoor
is die klein
deeltjie van Suid-Afrika wat regdeur die jaar reën kry, in die
reël betreklik
warm,
sodat die plante daar geen rusperiode nodig het nie. Van die
weligste natuurlike plantegroei in ons land kom gevolglik langs ’n
smal strokie van die suidelike kus en teen die aanliggende
berghange voor.
Oor
die oostelike platorand en randhellings reën dit ook heelwat,
maar lae temperature of droogte in die winter beperk die
natuurlike plantegroei van dié streek.
Die
suidwestelike deeltjie van die land (in die Wes-Kaap) ontvang
hoofsaaklik winterreën, terwyl die gebied se plante in die
lang, warm somer met opgegaarde grondvog of ondergrondse
water moet klaarkom.
Die
res van die land kry wel reën in die warm groeiseisoen, maar
die neerslag is gewoonlik so min en dikwels so wisselvallig dat
slegs geharde plante gemaklik hier kan bestaan -- plante wat
spesiaal vir halfdroë of droë toestande toegerus is.
IN
’n smal gordel langs die suidweskus van Afrika, met ’n
instulping langs die Benede-Oranjeriviervallei en ’n breër
strook langs die kus van Namibië, val daar minder as 100 mm reën
per jaar. In hierdie Weskuswoestyn groei verspreide vetplante
(sukkulente), soos die bekende halfmens en boesmankers.
Die
oerplant Welwitschia bainesii word noord van Walvisbaai
aangetref, met hardekoolbome en kameeldorings langs die droë
sandrivierlope. Tussen
die sandduine groei die eetbare narra (Acamhosicyos horrida),
’n lid van die parnpoenfamilie wat baie water bevat en al
menige dorstige dier én mens se redding was.
IN
die winterreënstreek van die Wes-Kaap, asook ooswaarts in die
droër streek waar reën die hele jaar kan voorkom, word
sogenaamde sklerofiete aangetref. Dit is houterige plante met
klein, leeragtige, soms wasbedekte blare wat hul transpirasie
juis deur middel van hul spesifieke struktuur beperk.
Verstommend
baie verskillende soorte immergroen plante kom hier voor,
waaronder ’n groot verskeidenheid van proteas en erikas. Groot
gebiede is egter ongelukkig al deur die nuttelose, onvreetbare
renosterbos binnegedring. Talle eenjarige grassoorte groei verspreid tussen die fynbos.
Hier
is besonder min natuurlike bome, buiten die verspreide seders
van die Sederberge,
maar uitheemse
bome soos byvoorbeeld denne wat die mens hier geplant het, aard
nogal goed.
NOORD
van die fynbos-gebied, waar minder as 125 mm reën per jaar uitsak
(hoofsaaklik as motreën in die winter), oorheers vetplantagtige
plante. Weens oorbeweiding en gronderosie versprei hierdie
woestynstruike al hoe meer ooswaarts. Talle vygies kraai hier
koning, hoewel groter sukkulente, soos aalwyne en die
noorsdoring ook volop is. Langs die droë spruite groei die
soetdoring.
LINKS:
Namakwaland, soos gesien uit die ruimte. Die streek
strek van die Oranjerivier af suidwaarts en lê in
die sukkulent-woestyn en Karoobossieveld (kyk
hieronder), tot waar dit in die suide in die
fynbos-struikland versmelt.
Foto:
USGS / NASA
|
| |
YL
verspreide, meerjarige karoobossies verleen ’n opvallende
peperkorrel-voorkoms aan die droë westelike en sentrale
binneland, waar dit in die somer ’n bietjie reën. Die bossies
groei bra vlak teen die grond -- die meeste is korter as 50 cm
-- en party soos die soetkaroo en kapokbos is boonop gesogte,
voedsame skaapkos. Die gevolg is dat hulle baiemaal nog korter
gevreet word as wat hulle reeds is.
Ongelukkig is daar egter ook baie nuttelose karoobossies, soos
die bitterkaroo en kriedoring.
In
die noordelike deel van hierdie plantegroeistreek (dus in die
suide van Namibiê en in dele van die Kalahari en Boesmanland)
groei groter houtagtige struike soos die driedoring. Soutbos en
kriedoring groei op die panne en plat kalkvlaktes, terwyl die
kokerboom ’n bekende silhoeët op die kliprantjies
vorm.
IN
die hoër, vogtiger oostelike dele van Suid-Afrika reën dit van
Oktober tot Maart, terwyl ryp van die helfte van Mei tot die
middel van September voorkom. Weens die droë, koue winter, wat
soms deur sterk winde gekenmerk word, is daar nie natuurlike
bome hoër as sowat 1 300 m bo seevlak nie, buiten in beskutte
laagtes en valleie. Tog aard uitheemse bloekoms en denne hier
goed.
In
die westelike dele, waar dit minder reën, bied soetgrasveld
selfs in die droë winter smaaklike, voedsame kos aan die vee.
Daarteenoor verloor die somergrasveld van die natter oostelike
deel van die Hoëveld, Transkei en die Oos-Kaapse Middelland ná
’n paar maande sy proteïene en minerale en word die gras
smaakloos en onverteerbaar. Die meerjarige rooigras is die
belangrikste grassoort, maar is reeds weens oorbeweiding al hoe
meer deur die swakker blousaadgras, eenjarige steekgras en kweek
verdring.
Die
wisselvallige reënval in die grasveldstreek veroorsaak boonop
dat die veld maklik oorbewei en permanent beskadig raak, tensy
wisselweiding en beheerde brand toegepas word. Baie veeboere
gebruik aangeplante weigras as voer vir die herfs en winter.

BO: ’n
Grasveld (ter illustrasie).
| |
Die
savanne; gemengde savanne
By
die savanne word ook die doringveld
en mopanieveld
ingesluit: |
| |
Doringveld |
| |
Mopanieveld |
OOS
en noord van die grasveld is dit warmer -- hierdie streke is
immers laer bokant seevlak en boonop lê dié gebiede nader aan
die trope. Tipiese savanne-plante, wat uit verspreide bome,
bosse en grasse bestaan, word gevolglik hier aangetref. Die
plantegroei wissel van ’n ruie bosveld tot ’n oop parkland
waarin gras oorheers.
Die
oostelike deel staan as die gemengde savanne bekend. Hier
bestaan die plantegroei uit talle boomsoorte (byvoorbeeld Acacia-spp.)
en
grasse.
Aalwyne en euforbieë kom in wisselende hoeveelhede voor. Die
kremetart en maroela is bekende bome in die
noordelike deel van die gemengde savanne.
Die
mopanieveld van
Limpopo en die noorde van Botswana en Namibië word só genoem
omdat die mopanie koning kraai op die effens suur grond van die
laerliggende, droër en warmer valleie en komme van die
binneland. Die mopanie is ’n bladwisselende boom wat gevoelig
is vir ryp en in die koeler streke slegs as ’n verdwergde bos
groei, maar in warmer gebiede word hy tot 20 m hoog. (Mopanie
beteken "skoenlapper" in die swart taal van daardie
streek -- omdat die pare blare van dié boom soos ’n
skoenlapper lyk!)
Die
res van die savanne word doringveld
genoem. Hier wissel die reënval van minder as 100 mm per jaar
in Namibië tot 500 mm per jaar in die ooste. Die kenmerkende
plantegroei is verspreide doringbome, soos die kameeldoring, op ’n
tapyt van yl gras. In die Kalahari is die tsamma ’n belangrike
bron van water vir dorstige diere.
Beeste
en bokke aard goed in die savannestreek, want die bome bot
reeds vóór die reënseisoen. Hul blare is gevolglik ’n
belangrike bron van kos wanneer die gras skaars of onsmaaklik
is. Groot troppe wildsbokke het in die verlede in hierdie gebied
voorgekom.
VIR
die ontstaan van woude moet daar goeie grond wees. Nog ’n
vereiste is gematigde wintertemperature en genoeg reën --
gewoonlik meer as 800 mm per jaar. Sulke toestande kom min in
Suid-Afrika voor en, wat meer sê, groot dele van die min
natuurlike woudstreke is omtrent heeltemal deur die mens ontbos.
Teen
beskermde berghange en in ontoeganklike klowe
groei daar darem nog hoë immergroen bome, soos die
geelhoutsoorte, swart ysterhout en stinkhout. Die Knysna-bos is ’n
beroemde oorblyfsel van die woude
wat voorheen bestaan het, maar woudkolle kom darem ook nog voor
plek-plek elders voor.
Van
Port Elizabeth tot in Mosambiek is daar boonop ’n smal
subtropiese kuswoud, wat uit digte bosse, slingerplante,
wortelbome en palmbome bestaan.
Hoofbron
vir teks: Kennis-ensiklopedie
|