|
Nuwe Afrikaanse rymelarye vir jong leerders
Ses ligte resitasies
deur Kieliemielie |
||
|
|
TRAPPE, TRAP, TRAP
vier verdiepings ry hy op. Op die roltrap moet hy dol trap — val net daar reg op sy kop.
Maltrap Manie trap die stad uit; laat hom nie só trap, verniel nie. Hy—in wese ’n trapsuutjies— hou niks van die stad se siel nie.
Maltrap Manie trap sy trapfiets, tref en trap ’n hoender dood. Ag, sy trapfiets word ’n slap fiets, smyt vir Manie in ’n sloot . . .
Maltrap Manie, hy trap water, hy trap klei en dis g’n grap. Stelle aftrap is sy voorland;
word deur Ma
weer uitgetrap! |
|
|
Vuurpyl, vuurpyl, voorwaarts Mars toe, vuurpyl, vuurpyl, voorwaarts Mars . . . Halfpad soontoe kom die skade toe die vuurpyl skielik bars.
Stukkies vuurpyl skiet nou son toe, ander skiet weer na die maan. Hier skiet skerwe selfs na Sarel waar hy in sy voortuin staan.
Sarel skrik en wild en wakker sak hy neer, met kop en lyf, weens die skroot van Mars se flop-pyl...
Sak nou Sarel,
jy oordryf! |
||
|
Honger Helen van die Britte maak musiek met xilofone: hamers is haar vingerlitte, klawers is haar voet se tone.
Eerstens neurie sy ’n skimpie voor sy kliphard vir jou kraai: “Gaan jy dalk vandag na Wimpy? Baai
for mie
’n tjieken-paai!” |
||
|
Daar was mos eens ’n dorp se raad, wat min kon doen, maar veel kon praat en alles laat verdor het. Die uitgediende dorpsriool, die rotte wat op vullis dool, dis alles wat, so by my kool, die mense aan die mor het . . .
Daar was mos eens ’n skelmkous wat self met Eskom-krag wou smous wat hy tersluiks geskaai het. Hy klim ’n hoë hoogpanningspaal om van die krag daarbo te haal, maar, ag, sy poging het gefaal en raai net wie gebraai het . . .
Daar was mos eens ’n stropervraat — hy het ’n swak vir koperdraad en plunder vir die vale. Nou sit sy land heel sonder krag, verduister om na lig te smag. Hier’s aan die einde van die dag geen enkel
kragsentrale . . . |
||
|
’N GEDIGGIE OOR DIE SOMER
Die somer is 'n fraai
seisoen – |
||
|
Die mensdom kla en lag en stry... Let goed op hierdie feite: Elkeen is anders, glo my vry, En ieder het sy geite.
Die kokkedoor van Kammieskroon slaan heeldag bolmakiesie. Die semel wat op Memel woon hou niks van televisie.
Die blom wat bly in Bloemfontein sou nooit wou woon op Worcester. Ou Braam die bul van Braamfontein sal net sy baaik wil koester.
Die delwer wat in Delmas delf weet nooit hoe hy dit het nie. Die ydel graaf graaf vir homself geen graf op Graaff-Reinet nie.
’n Vrou wat hou van wasgoed was, is Sannaspos se Sanna. Koos Kakebeen van Kakamas is vies vir ’n Korana.
Die priester van Pretoria preek dat die biesies bewe: “Mag elkeen in sy gloria lank en
gelukkig lewe!” |
||
Gediggies gediggie gedig gedigte versies verse vers rymelary