Die Internasionale Ruimtestasie
en sy voorlopers

 

’n Ruimtestasie is ’n kunsmatige tuiste wat geskep word waar mense vir korter of langer tye in die ruimte kan woon. Die enigste ruimtestasies wat nog gebou is, het in wentelbane om die Aarde beweeg. Hulle verskil van bemande ruimtetuie deurdat hulle nie belangrike aandrywers het of  toegerus is om op die Aarde te land nie. Ander vaartuie word in der waarheid gebruik om mense soheentoe toe te neem en weer terug te bring Aarde toe...

 

  Inhoudsblad

 
 
Die Internasionale Ruimtestasie: die mens se helderste ster
 


BO: Die Internasionale Ruimtestasie (IRS) soos dit gelyk het nadat die pendel­tuig Discovery dit in November 2007 ná ’n besoek verlaat het—reeds die grootste ruimtestasie wat die mens nog gebou het. Die IRS word stuk-stuk en met verdrag vergroot en moet hopelik in 2010 voltooi wees. Amerikaanse pendeltuie en Russiese Sojoez-tuie bring onderdele aan en vervoer ruimte­werkers en navorsers (en selfs ruimtetoeriste, soos ons eie Mark Shuttleworth) na en van die ruimtestasie. Die IRS wentel sowat 360 km bokant die oppervlak van die Aarde en beweeg teen 27.744 kilometer per uur, om 15,79 omwen­telinge per dag te voltooi.

Krediet: NASA

VERBEEL jou jy probeer ’n wolkekrabber bou. Aan die binne- en buitekant is dit toegerus met die delikaatste en duurste toerusting wat nog ooit uitgevind is. Elke onderdeel moet presies in posisie geplaas word soos beplan is. As dit nie gebeur nie, kan dit die projek miljarde rande duurder maak en selfs die lewe van die bouwerkers in gevaar stel.

Voeg daarby die feit dat die miljoene dele van jou gebou uit ’n hele aantal verskillende lande moet kom, maar steeds volmaak inmekaar moet pas.

Probeer nou om dit alles 360 km bokant die Aarde te doen, waar die temperatuur kan wissel van bokant die kookpunt van water tot tientalle grade onderkant vriespunt. En om alles te kroon tol jou konstruksie ook nog teen 27 744 kilometer per uur om ons planeet.

Jy begin jou maar net indink in die enorme taak om die Internasionale Ruimtestasie (IRS) te bou. Weliswaar is die bouwerk erg vertraag deur die verlies van die Amerikaanse pendeltuig Columbia in 2003—en sekere planne is afgeskaal omdat dit baie meer sal kos as die oorspronklike ramings—maar elke stuk statistiek oor die Internasionale Ruimtestasie bly steeds in die oortreffende trap.

Dit is die grootste, ingewikkeldste en mees ambisieuse tegnologiese projek wat nog ooit bedink is. En peperduur. Trouens, kenners het bereken dat die totale koste uiteindelik nagenoeg $130 duisend miljoen ($130 miljard) sal wees.

Om dus net te sê dat dit ’n kolossale "lugkasteel" is wat die ruimtestasie se bouers graag voltooi wil sien, is ’n geweldige onderbeklemtoning. Wanneer die bouery klaar is—hopelik in 2010—moet dit, ná die Maan, die grootste en helderste voorwerp in die naghemel wees. Dit sal die verste buitepos van die mensdom wees—en die eerste stap na ’n lewe weg van ons planeet. Teen 2007 was die IRS reeds groter as enige vorige ruimtestasie wat nog gebou is.

In laboratoriums binne sowel as buite die stasie sal wetenskaplikes in staat wees om die swaartekraglose omgewing te benut—waar chemiese reaksies anders plaasvind as op die Aarde en groter landbouprodukte veel vinniger gekweek kan word. Daar kan hulle nuwe medisynes ontwikkel wat eendag miskien net talle siektes, waaronder vigs, sal kan genees.

Hulle sal ook nuwe metaalallooie kan skep en vir die eerste keer werklik die probleme en voordele van ’n lewe in die ruimte kan bestudeer.

En mettertyd—altans só word verder aan hierdie wonderlike droom geborduur—sal die stasie as ’n halfwegstasie tussen die Aarde en die res van die Sonnestelsel dien. Maar miskien is dit werklik ietwat oorambisieus. Daar word immers beplan om die stasie net tot omstreeks 2016 operasioneel te hou.

Die mens se “helderste ster” sal dus ongelukkig veel gouer “verskiet” as wat baie mense sou verwag van só ’n fantasiese projek, die glansende simbool van die mensdom se vermoë om saam te werk.

ONDER: Die IRS soos voorsien is hoe dit by voltooiing sou lyk toe die verskillende deel­nemende lande op 28 Januarie 1998 die verdrag vir die bou daarvan onderteken het.



Krediet: NASA
 

 
   
Mir... samewerking met vlieënde vaandels

 


BO: Mir was die eerste permanente wentelende ruimtestasie, en dit is deur Russiese, Amerikaanse en internasionale bemanningslede bewoon. Die Mir-basis is in 1986 deur die destydse Sowjet-Unie gelanseer en ander kompo­nente is stuk-stuk bygevoeg tot in 1996. Amerikaanse pendeltuie het die ruimtestasie elf keer besoek nadat dit vir besoeke deur ruimtevaarders van verskillende lande oopgestel was. Mir het tot 2001 om die Aarde bly wentel toe dit uiteindelik met opset uit sy wentelbaan gestuur is en bokant die Stille Oseaan verbrokkel het. Op die foto is Mir nadat die pendeltuig Discovery dit in Junie 1998 verlaat het. Mir is ’n Russiewe woord wat sowel vrede as wêreld beteken.

Krediet: NASA
 

 

   
Skylab: ’n laboratorium ver bokant die wolke
 

 
BO: Skylab, Amerika se eerste ruimtestasie. Dit is op in Mei 1973 deur Amerika gelanseer en is tot in 1974 bewoon deur Amerikaanse ruimtemanne wat onderskeidelik 28, 59 en 84 dae lank daarin vertoef het. Skylab het ’n laboratorium vir die bestudering van die uitwerkings van mikrogravitasie bevat, asook ’n fasiliteit vir die waarneming van die Son. In Julie 1979 het die toe onbewoonde wentelende ruimtestasie teruggeval Aarde toe en stukke daarvan het in Wes-Australië geval.

Krediet: NASA
 

 

 

  Saljoet 1: die tragedie

LINKS: Die Sowjet-Unie se Saljoet 1, die mens­dom se heel eerste ruimtestasie, wat in April 1971 in ’n wentelbaan om die Aarde geplaas is. Die eerste span bemanningslede, wat met Sojoez 10 soheentoe gestuur is, kon egter nie in die ruimtestasie inkom nie, omdat daar ’n fout met die koppelingsmeganisme was. Die tweede span, wat met Sojoez 11 daar aan­gekom het, het 23 dae aan boord deurgebring en kon in dié tyd baie vermag. Maar ’n fout in ’n ventilasieklep van hul landingskapsule het al drie die manne se lewe gekos tydens hul terug­keer na die Aarde. Dit het gelyk of die manne normaal land, maar toe hul kapsule oopgemaak is, is hul lyke binne-in gevind. Daar is spoedig vasgestel dat hulle versmoor het. Die ruimtemanne was Wladislaf Wolkof, Georgi Dobrowolski en Viktor Patsajef. Die ruimtestasie Saljoet 1 self het net 175 dae in die ruimte oorleef, teruggeval Aarde toe en oor die Stille Oseaan verbrokkel.

Krediet: Sowjet-ruimte-agentskap (geen kopiereg van toepassing)

 

  Inhoudsblad

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad