Siedende Son van die lewe

Die onbeskryflike chaos van iets soos ’n enorme waterstofbom wat gedurig op homself inplof, maak die onbevatlike orde moontlik van so te sê alle stoflike lewe op Aarde...

 
   
 

BO: Die Son met ’n reusagtige prominensie wat regs bo in die ruimte uitblerts—so groot dat die Aarde daarin soos ’n vlekkie sou gelyk het.
 
Foto: Solarsystem.NASA
 
 

Invloed van die Son se magneetveld op die tussenplanetêre medium
 

BO: Daar word gereken dat die Son se enorme magneetveld ’n kolking veroorsaak in die plasma van die yl materiaal wat tussen die planete van die Sonnestelsel voorkom—iets wat sy invloed tot ver in die buitewyke van die Sonnestelsel laat geld, soos op hierdie kunstenaarsvoorstelling gesien kan word. Omdat die Son so verskriklik warm is, is al sy massa in die vorm van gas of plasma. Gevolglik draai die Son vinniger om sy denkbeeldige as by sy ewenaar as naby sy pole—sowat 25 en 35 Aardse dae respektiewelik. Die verskil in rotasie veroorsaak dat die lyne van die magneetveld mettertyd verwring raak en is ook die rede vir die siklus wat al om die sowat elf jaar tot die verhoogde aktiwiteit op die Son lei.

Krediet: Werner Heil / NASA

 


BO: ’n Loodregte magnetiese “spuitfontein” bokant ’n sonvlek op die son, ’n gebied met ’n sterk magnetiese veld.
  
Foto: NASA

   Feite oor die Son

D

IT gebeur nagenoeg elke elf jaar in die siklus van die Son... die groot bewerker van feitlik alle stoflike lewe op Aarde gaan ’n tyd van verhoogde aktiwiteit binne. Dan wys die Son nogmaals hoe omgesukkel dit rêrig kan raak op sy astronomiese baan om die middelpunt van ons eie galaksie (sterrestelsel) wat die Melkweg genoem word.

Op só ’n onstuimige hoogtepunt word slierte gloeiende gasse honderdduisende kilometers bokant die oppervlak van die Son uitgeblerts en vorm dit partymaal ook enorme kringe.

Selfs die treffende aksietonele wat deur moderne teleskope op foto’s vasvang word, kan nooit werklik reg laat geskied aan die skaal en geweld van die ontsaglike skouspel nie. Trouens, dis ’n kosmiese inferno groter as wat die menslike verstand kan bevat.

Die volgende hoogtepunt in die siklus word deur kenners van die Son laat in 2011 of teen die middel van 2012 verwag.

En dit laat ’n mens ook weer tot stilstand kom om ’n slag opnuut oor die Son as skeppingswonder te dink. Want haal jy die Son uit ons lewens uit, wat bly oor? Dood. Geen plant, geen dier, geen mens of mikrobe of enige ander vorm van lewe nie... net ’n onherbergsame, bevrore Aarde wat deur die oneindigheid wentel in ’n star en ewige nag waarin verafgeleë sterre flikker.

So belangrik is die Son in ons bestaan dat sekere mense dit in die antieke tyd as die hoofgod van die gode beskou het.

Die Son is natuurlik verreweg die grootste hemelliggaam in ons Sonnestelsel en bevat 99,8 persent van die totale massa van ons familie van planete, komete en ander ruimtelike voorwerpe. Maar in die ruimte is dit ’n taamlik algemene soort ster, straks selfs ’n bra onopsigtelike enetjie onder die bonte gewemelte van sterre in ons eie Melkweg.

Sy deursnee is nietemin ’n reusagtige 1 390 000 km. Vergelyk dit met die sowat 1600 km wat die Kaap en Johannesburg van mekaar skei. Boonop het die Son sowat 1,3 miljoen keer die Aarde se volume en ongeveer 300 000 keer ons planeet se massa. Om ’n beter denkbeeld van die verskil te vorm: as hierdie gloeiende gasbol ’n deursnee van 20 cm gehad het, sou die Aarde omtrent so groot soos ’n peperkorrel gewees het!

Die krag van die Son word deur kernfusie opgewek. Dit is ook al beskryf as ’n ontsaglike waterstofbom, met die groot verskil dat dit nie na buite uitplof nie, maar weens sy geweldige swaartekrag gedurig op homself inplof.

Dit bestaan meestal uit die gas waterstof, waarvan 700 000 000 ton elke sekonde in die gas helium en energie omgeskep word. Tans bevat die Son sowat 75 persent waterstof en 25 persent helium, terwyl alles anders (soos metale) ’n skamele 0,1 persent van sy massa vorm.

Maar die kern van hierdie hemelbol van gasse is, verbasend genoeg, baie digter as wat kwik of lood op Aarde is. Dis weens die enorme drukking in die kern.

Amerikaanse sterrekundiges het enkele jare gelede berig dat hulle selfs water op die Son gevind het. Die water, in die vorm van superverhitte stoom, is in twee sonvlekke waargeneem waar die oppervlak-temperatuur ’n paar duisend grade koeler was as normaalweg.

Die Son se gemiddelde oppervlak-temperatuur is ongeveer 5 500 grade C en die temperatuur by sy kern ’n alles versengende sowat 15 000 000 grade.

Maar hoewel die mens in die afgelope dekades baie van die raaisels van die ruimte opgelos het, skuil daar vir ons steeds tergende geheime in die Son se chaotiese kernoond.

Vrae soos hoekom sy buitelae selfs warmer as sy onstuimige hart kan wees, verbyster nog altyd wetenskaplikes, hoewel gesofistikeerde nuwe ruimtelike instrumente aanhou om die raaisels te ondersoek en ons kennis omtrent die Son te verbreed.

Dit bring ons terug by die Son se driftige buie al om die elf jaar (bes moontlik veroorsaak deur die siklus in sy magneetveld). Die foto’s wat dan wat na die Aarde gesein word van tonge gloeiende elektromagnetiese gasse wat honderdduisende kilometers bokant die oppervlak uitrol, toon selfs hoe hulle teen mekaar bots om massiewe ontploffings te veroorsaak.

Soos ons reeds gesê het: die menseverstand kan hom kwalik indink hoeveel energie hierby betrokke moet wees.

Die Son-Aarde-verbintenis
 

BO: Die massiewe ontploffings op die Son skiet soveel skadelike deeltjies teen duisende kilometers per sekonde in die ruimte uit dat die lewe op Aarde kwalik daarteen staande sou kon gebly het—as dit nie vir die Aarde se magnetosfeer was nie, die magnetiese “borrel” wat ons planeet omring. Hoewel die Son dus ons lewegewer is, sou dit ons moordenaar gewees het as die Goeie Gewer ons planeet nie ook met ’n magnetiese “kombers” toegerus het nie.

 

Die magneetveld word opgewek deur die draaiing van die Aardbol om die vaste ysterkern diep in sy binnekant en die vloeibare gesmelte stof wat dit omring. Die magentosfeer strek sowat 65 000 km in die ruimte uit in die rigting van die Son en groter afstande in ander rigtings.

 

Dit is in ons tyd vir wetenskaplikes belangrik om die Son gedurig dop te hou, juis omdat tye van verhoogde aktiwiteit op die Son nie net die weer op die Aarde sterk beïnvloed nie, maar omrede die magnetiese storms wat deur die sondeeltjies veroorsaak word selfs kragonderbrekings kan veroorsaak. Dit kan ook skadelik wees vir kommunikasiesatelliete en ruimtevaarders buite die Aarde se magnetosfeer.

 

Kenners stem oor die algemeen saam dat die Son se siklus van elf jaar na verhoogde aktiwiteit aangedryf word deur die Son se eie dinamo—die vloeiende, elektries gelaaide gasse wat eweneens ’n magneetveld opwek.


Krediet: Steele Hill/NASA

 

Gesegdes oor die Son

•  "Die Son is ’n vurige klipmassa, ietsie groter as Griekeland.''—Anaxagoras, 434 vC.
•  "Draai jou gesig na die Son en die skadu's val agter jou.''—Maori-spreekwoord.
•  "Die Son, met al die planete wat daarom wentel en daarvan afhanklik is, kan steeds ’n tros druiwe ryp maak asof hy niks anders in die heelal het om te doen nie.''—Galileo Galilei.
•  "Dou word op blare gevorm wanneer die Son op hulle neerskyn en hulle laat sweet.''—Elfjarige in ’n wetenskapseksamen.

 


 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad