Saturnus
Koningin van die Nag

 Terug

1 van 11

Vorentoe 

REGS: Saturnus en sy ringe in vals kleure deur die verkenningstuig Cassini.

Krediet: VIMS Team / U Arizona / ESA / NASA
 

 

    
Geen planeet kan vir die ruimte-waarnemer skouspelagtiger
wees as Saturnus
met die ringe nie
  


BO: Saturnus verduister die Son op hierdie skouspelagtige samegestelde foto (waarvan die kleure  versterk is), wat die snuffeltuig Cassini op 15 September 2006 stuk-stuk vanuit sy wentelbaan om die geringe planeet geneem het. Vergelyk dit met die natuur­getroue kleurweergawe van die planeet en sy ringe, met die Son aan die regterkant, op die foto REGS—saamgestel uit ’n ander reeks foto's, wat Cassini op 6 Oktober 2004 geneem het nadat hy ietwat vroeër in daardie jaar in sy baan om Saturnus begin be­weeg het. As die gegewens kor­rek geïnterpreteer word, is tientalle beelde vir albei die samegestelde foto’s binne ure een-een geneem—van die een uiteinde van die ringe af tot by die ander uiteinde met Saturnus in die middel—en toe saamgevoeg.

Krediet: NASA/JPL/Space Science Institute

Historiese foto

Die Aarde... ’n dowwe speldeprikkie
  

 
BO: Op hierdie ou foto van Saturnus, op 18 Oktober 1980 geneem deur die ou pionierstuig Voyager 1, is die kleure dramaties versterk om sekere terreinmerke op die planeet se noordelike halfrond sigbaarder te maak.

Krediet: Voyager 1 / NASA

 

 
BO: Die Aarde gesien deur Saturnus se ringe.
Met Saturnus wat die verkenningstuig Cassini teen die Son se verblindende gloed beskut, loer ons eie planeet Aarde in die verte skugter deur ’n wasige buitering van Saturnus.

Krediet: NASA/JPL/Space Science Institute

BO: ’n Kunstenaar se siening van hoe ysige deeltjies van Saturnus se ringe gedurig kan saamklont, net om weer deur die kosmiese kragte uitmekaargeruk te word. Dit is gegrond op inligting wat van die verkenningstuig Cassini ontvang is.

Krediet: NASA

Planeet van die ringe

SATURNUS is, ná Jupiter, die grootste planeet in die Sonnestelsel. Dit is, net soos Jupiter, ’n  gasreus. Die massa van Saturnus is só oor die planeet uitgesprei dat dit ’n geringer digtheid as water het. Dit sou dus op water kon dryf!

Die buitenste atmosfeer van Saturnus bestaan uit sowat  93,2 persent molekulêre waterstof en 6,7 persent helium. Daar is ook spore van ammoniak, asetileen, etaan, fosien en metaan. Die boonste wolke van die planeet is saamgestel uit ammoniakkristalle, terwyl dit lyk of die wolke op die laer vlakke uit óf ammo­niumhidrosulfied (NH4SH) óf water bestaan.

Maar dit is Saturnus se skitterende ring-sisteem wat dit die aanskoulikste planeet deur ’n teleskoop maak.

Die interessante Saturnus en die planeet se ewe fassinerende mane en ringe het dan ook die verbeeldingryke Cassini-Huygens-ruimteprojek geïnspireer, waaroor elders op hierdie CD-Rom meer vertel word. (Kyk: Die epiese ontdekkingstog van die snuffeltuig Cassini en Die fotografering van die maan Titan deur die landingstuig Huygens.)

Die ringe—plat uitgespreide ysdeeltjies wat om die planeet wentel—is die eerste keer in 1610 deur Galileo Galilei waargeneem. Dié Italiaanse wetenskaplike het aanvanklik gedink dat hy mane ontdek het. Die Nederlandse sterrekundige Christiaan Huygens het later, met sy beter teleskoop, vasgestel dat dit ringe om die planeet is.

Drie ringe kan van die Aarde af waargeneem word, maar toe die Voyager-verkenningstuie in 1980 en 1981 by Saturnus verbygetrek het, het hulle onthul  dat die ring-sisteem inderdaad uit honderde ringetjies bestaan. Dit het geblyk dat die ringe uiters, uiters dun is—slegs sowat 10 meter.

Die ring-deeltjies bestaan blykbaar meestal uit water-ys, met ’n mindere hoe­veelheid ruimtepuin en -stof (Engels “dust”). Dit kan die oorblyfsels van mane wees wat deur kosmiese kragte uitmekaargeruk is, of dalk ruimtestof wat nog nie bymekaargekom het om ’n maan of mane te vorm nie.
 

BO: Die Aarde lyk soos ’n albaster langs die sokkerbal van ’n Saturnus op hierdie voorstelling wat min of meer volgens skaal is.

Krediet: Samestelling van NASA-foto’s

Deursnee van Saturnus: 120 536 km (ekwatoriaal) en 108.728 km (van pool tot pool). Die gasplaneet is baie afgeplat by die pole vanweë sy “vloeibaarheid” en vinnige rotasie.
Digtheid: 0,69 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die Son: 1 429 400 000 km.
Revolusie om die Son: Een revolusie in 29,46 aardse jare. Omwentelingsnelheid: 9,7 km/sek.
Rotasie om sy as:  Een rotasie in 10 uur, 32 minute en 35 sekondes. (Dit is ’n aangepaste raming wat in 2007 gedoen is op grond van inligting wat ontvang is van die Cassini-snuffeltuig wat om die planeet wentel. Die rotasietye van gasplanete soos Saturnus is moeilik om te bereken omdat hul soliede kern deur ’n digte dampkring bedek word en daar dus nie vaste bakens is wat gevolg kan word nie.)
Temperatuur: ’n Vrieskoue -185 °C. Die planeet se binnekant is egter baie warm en Saturnus straal meer energie in die ruimte uit as wat hy van die Son af ontvang.
Getal mane: Saturnus het, benewens sy ringe, aan die einde van 2007 ook reeds 60 ontdekte natuurlike satelliete gehad, onder meer vanweë die onlangse ontdekking van verskillende "nuwe" klein maantjies—onreëlmatige voorwerpies slegs sowat drie tot sewe kilometer in grootte. Teenoor die mini-maantjies is Saturnus se groot maan Titan 'n yslike 5150 km in deursnee en groter as die planeet Mercurius. Titan is uniek deurdat hy, anders as al ander die mane in die Sonnestelsel, ’n beduiende atmosfeer het—en die geslaagde landing van die landingstuig Huygens op Titan se oppervlak in die begin van 2005 was een van die belangrikste mylpale in die geskiedenis van ruimteverkenning. 
Oorsprong van naam: In die Romeinse mitologie was Saturnus die god van landbou, asook die pa van Jupiter, die koning van die gode.
Ruimtesendings: Die Pioneer 11 en die Voyager-sendings van weleer het belangrike inligting, ook oor Saturnus se ringe, verskaf. Van veel groter belang is egter die huidige Cassini-projek en die landing  in 2005 van die Huygens-landingstuig op die maan Titan.

 As jou rekenaar die fasiliteit daarvoor het, kan jy hier na ’n baie kort rolprentjie van ’n roterende Saturnus kyk.

 Indien jou blaaier nie die rolprentjie kan oopmaak nie, kan jy hierop regs klik en dan klik op “Save Target As” in die tuimelkasse wat verskyn. Laai  vervolgens die item op jou “desktop” af.  Dan kan jy telkens direk daarna kyk deur daarop te klik.