Bemande ruimtetuie
Staatmakers van die
ruimte-eeu

Van vroeë ruimtevaartprogramme met die Russiese Wostok (LINKS) en Amerikaanse Mercury en Gemini (REGS) tot pro­jekte met  die Apollo’s, Sojoeze en die pendeltuie... elk was op sy eie ’n staatmaker in die eerste vyftig jaar van die ruimte-eeu. In die aflewering oor die maanlandings word meer oor die Apollo vertel. Hieronder word die ambisieuse  pendeltuigprojek van die VSA en die getroue ou Russiese Sojoez vlugtig bekyk...

 

  Inhoudsblad 

  

 
Die pendeltuie... heen en weer deur die Aarde se dampkring
 

BO: Die pendeltuig Atlantis op die lanseerblad. ’n Pendeltuig bestaan uit drie hoofdele—’n wenteltuig, ’n buitetenk met vloeibare suurstof en waterstof, en twee aanjaagvuurpyle met soliede brandstof. Die "vliegtuigagtige" wenteltuig het drie hoof- en twee kleiner motore. Dit is hy wat in ’n wentelbaan om die Aarde sal beweeg nadat die tenk en vuurpyle afgegooi is. Uiteindelik sal hy na die Aarde terugkeer om soos ’n sweeftuig op ’n aanloopbaan te land—net om later weer na die ruimte gelanseer te word. Kyk ook hier vir ’n ander prent van die pendeltuig Atlantis in vlug.

Krediet: NASA

  
HEEL BO: ’n Rekenaarbeeld van ’n pendeltuig wat die va­riërende druk in die lugvloei aantoon.

BO: Die pendeltuig Atlantis kom tuis. 

Krediet: NASA

BO: ’n Besonder treffende foto van die pendeltuig Atlantis wat teen sononder gelanseer word. Die Son is agter die kamera, en die skaduwee van die rookpluim word oor die hemelgewelf gewerp—oënskynlik reguit in die rigting van die opkomende Volmaan.

Krediet: NASA

Die pendelvloot van Amerika

AMERIKA het sy pendeltuie in die 1970’s begin ontwerp nadat sy hoogs suksesvolle Apollo-sendings ’n hele aantal mense op die Maan geplaas en hulle veilig teruggebring het Aarde toe. Maar ruimtesendings is bitter duur en nadat ’n ruimtetuig gelanseer is en weer geland het, was die landingskapsule vir niks meer bruikbaar as om, sê maar, in ’n museum bewaar te word nie.

Gevolglik het die klem verskuif na die goedkoper alternatief van ruimtetuie wat oor en oor gebruik kan word—ruimtetuie wat met vuurpylkrag in die ruimte geplaas word maar dan soos vliegtuie kan land, tuie wat tot honderd sulke ruimtesendings kan onderneem, maar slegs geringe onderhoud nodig het.

En só het die era van die sogenaamde "shuttles'' of pendeltuie begin.

Die wenteltuie van die pendelprojek sou dan soos vliegtuie lyk, maar eintlik tog heeltemal anders werk. Die tuig verlaat die Aarde in ’n vertikale posisie, vasgeheg aan lanseervuurpyle en ’n enorme brandstoftenk wat hom help om in ’n wentelbaan om die Aarde te kom, maar hierdie aanhangsels word almal in die loop van die vlug van hom afgewerp. Aan die einde van die sending keer die wenteltuig na die Aarde terug in ’n horisontale posisie soortgelyk aan dié van ’n vliegtuig, dog in der waarheid land hy soos ’n sweeftuig op ’n konvensionele aanloopbaan sonder om enige enjinkrag te gebruik.

Die bou, funksies en vlug van ’n pendeltuig

HY bestaan uit drie hoofdele—’n wenteltuig, ’n buitetenk en twee aanjaagvuurpyle met soliede brandstof. Die "vliegtuigagtige" wenteltuig het drie hoof- en twee kleiner motore.

Tot sewe mense en ’n vrag van tot byna 30 000 kg kan met een pendelsending die ruimte ingedra word. Die vrag kan satelliete insluit, wat ver bokant die Aarde in hul wentelbane geplaas sal word. Dit is baie meer prakties en lonend om ’n aantal satelliete op hierdie manier saam die ruimte in te neem as om hulle ten duurste een-een te lanseer.

Materiaal en toerusting word natuurlik ook deur pendeltuie na die Internasionale Ruimtestasie (IRS) geneem.

Die pendeltuig se buitetenk is ’n groot silinder. Dit bevat by lansering ’n yslike hoeveelheid brandstof—1.900.000 liter vloeibare suurstof en vloeibare waterstof, wat op ’n beheerde wyse gemeng en in die wenteltuig se motore ingevoer word. Die gasse moet honderde grade onder vriespunt gehou word.

Die aanjaagvuurpyle aan weerskante van die buitetenk bevat ’n soliede brandstof van droë chemikalieë.

’n Pendeltuig styg met behulp van sy eie motore en die twee aanjaagvuurpyle van die lanseerblad af op. Nagenoeg twee minute ná die lansering, op ’n hoogte van om en by 40 kilometer, word die aanjaagvuurpyle outomaties afgegooi en daal hulle met valskerms terug Aarde toe. Hulle word dan deur skepe in die see opgepik om later weer gebruik te word.

Omdat die wenteltuig nou nie meer aan die swaar aanjaagvuurpyle vas is nie, beweeg hy vinniger en, net voordat hy in ’n baan om die Aarde begin wentel, word die reuse-buitetenk—nou omtrent leeg—weggewerp. Die tenk verbrokkel en val see toe.

Binne-in die wenteltuig is ’n verrassend leefbare wêreldjie waar ruimtevaarders selfs in gewone klere hul take kan verrig en waarin daar ook allerhande kombuis-, badkamer-, slaap-, oefen- en ontspanningsgeriewe is. Wanneer die bemanningslede egter die wenteltuig in die ruimte verlaat—miskien vir die lansering van ’n satelliet of ’n ander taak—dra hulle spesiale ruimte­pakke waarin die korrekte lugdruk en temperatuur gehandhaaf word.

Die wenteltuig kan ook aan die Internasionale Ruimtestasie vasmeer, waarna die bemannings­lede daarin sal oorklim.

Wanneer die wenteltuig se bemanning ná die voltooiing van hul take moet terugkeer Aarde toe, word "rem getrap" en die tuig se snelheid word met behulp van sy kleiner motore verminder. Hy word dus uit sy wentelbaan om die Aarde geruk en val nou letterlik terug Aarde toe—omgeef deur ’n ontsettende hitte weens die wrywing in die atmosfeer, maar die bemanning word danksy die uitstekende isolering teen ’n aaklige vuurdood beskut. Rekenaars, of die bemanning self indien nodig, beheer ook steeds die wenteltuig se maneuvers.

Uiteindelik word die snelheid tot ’n hanteerbare spoed gerem en is die tuig eerder ’n sweeftuig as ’n ruimtetuig. Die vlieënier-ruimtevaarder kan dit na links of regs stuur, maar rekenaars sorg vir die landing. Sowat ’n uur het verstryk vandat die wenteltuig sy twee klein motore laat ontbrand het totdat hy teen sowat 320 km/h op die Aarde land.

En kort voor lank kan hy gereed wees vir sy volgende waaghalsige vlug na die buiteruim. Dit is mos waarvoor ’n pendeltuig daar is.

NASA se operasionele pendelvloot bestaan uit die pendeltuie Discovery, Atlantis en Endea­vour. Die pendeltuie Challenger en Columbia is deur ongelukke in die ruimte vernietig.
 

   
  
 Sojoez... op die lanseerblad, in die ruimte en die valskermlanding
 


LINKS BO: ’n Sojoez op die lanseerblad. REGS HEEL BO: ’n Sojoez-wenteltuig. REGS BO: Met die terugkeer na die Aarde word die Sojoez-tuig deur ’n valskerm gerem. Die terugkeer vind in die “aandskemer”-kant van die Aarde plaas, sodat die ruimtetuig deur die reddingshelikopters gesien kan word wanneer dit in die aandskemer  neerdaal en deur die Son verlig word wat dan bokant die Aarde se skaduwee daarop skyn. Sojoez-tuie land meestal in die woestyne van Kasakstan in Sentraal-Asië. DIt verskil van die vroeë Amerikaanse bemande ruimtetuie wat in die see neergeplons het.

Krediet: NASA

Stoere ou bielie van die Russe

DIE Sojoez-ruimtetuie van die Sowjet-Unie (met die Russiese Federasie as sy opvolger) is die ou strydrosse van bemande ruimtevlugte. Sowel die lanseervuurpyle as die ruimtetuie wat hulle in wentelbane om die Aarde plaas, word Sojoez genoem.

Sojoez-lanseerders is al meer as 1700 keer gebruik, baie meer as enige ander vuurpyl. Dit is ’n baie ou basiese ontwerp, maar kennelik goedkoop en baie betroubaar.

Van Februarie  2003 tot in Julie  2005, toe die Amerikaners alle vlugte van hul pendelvloot opgeskort het ná die Columbia-ramp, was die Sojoez die enigste vervoermiddel na en van die Internasionale Ruimtestasie. Suid-Afrika se Mark Shuttleworth is ook deur 'n Sojoez na die IRS geneem.

Die Sojoez, word vertel, was oorspronklik ’n deel van maanlandingsprogram van die Sowjet-Unie, maar, toe die Amerikaners die wedloop na die Maan wen, is dit vir verskillende ander projekte gebruik, meestal in verband met ruimtestasies. Die Sojoez-ruimtetuig kan tot drie ruimtevaarders huisves.

Daar word ook beplan om die Sojoez in 2008—in ’n nuwe weergawe wat Sojoez/ST genoem word—in diens te stel van die Europese ruimteagentskap ESA ingevolge ’n verdrag tussen die Russe en die Europeërs.

 

  

 

  Inhoudsblad 

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad