Dromers en denkers
Hoe die mense van ouds oor die ruimte gedink het

  

  Inhoudsblad

1 van 2

Vorentoe 

 
DIE mens het nie altyd aan die hemelruim gedink soos ons vandag daaraan dink nie. Trouens, daar is ’n lang geskiedenis van menslike pogings om te probeer begryp wat die blou lug daarbo, die Son en die Maan, die flikkerende sterre en komete in die nagtelike uitspansel, selfs die reënboë nou eintlik is.

Die Chinese, Babiloniërs, Grieke, Middeleeuse Europeërs, Amerikaaanse Indiane, Egiptenare en natuurgebondenes in Donker Afrika het elk hul eie idees omtrent die hemelliggame en hul bewegings gehad. Van die begin af was die begrip van die hemeltrans ’n onlosmaaklike deel van die godsdienstige beskouinge van volkere.

Om sin te probeer maak uit die hemelkoepel daarbo, het sekere mense van weleer die sterrebeelde of konstellasies na die gode en helde van hul mites en legendes genoem. Die planete is aan sekere gode toegeken.

Weliswaar het party ou Grieke ’n soort besef van die ware aard van ons eie bolronde planeetjie gehad, maar selfs dit was nie eens ’n minuskule breukdeeltjie van die kennis wat ons vandag besit omtrent die Aarde en sy plek in die onbeskryflik ontsaglike uitgestrektheid nie. Selfs ’n aantal eeue gelede het die mens nog nie besef hoe verbysterend ver die heelal in der waarheid strek nie—onnoemlik verder as dit wat hy nog altyd net as onder, hier en daarbo beskou het.

Maar toe breek die sogenaamde “wetenskaplike revolusie” aan, wat van 1543 tot 1700 geduur het. In hierdie omwenteling in die mens se wetenskaplike begrip staan die sterrekunde sentraal. Geskiedkundige figure soos Copernicus, Kepler, Galileo en Newton verander die mens se denke oor die geskape werklikheid radikaal.

Hierop volg ’n geleidelike verbreding van die menslike kennis om ook God se skrif te lees in die swerms op swerms van kolkende sterrestelsels in Sy onmeetlike ruimte. Verbeterde tegnologie lei mettertyd tot ruimtetuie, wat ons in staat stel om ten minste ons onmiddellike omgewing, ons Sonnestelsel, van naby te verken.

Maar meer kennis lei ook tot die wete dat oneindig veel nog vir die mensekind versluier is. Hoeveel van die verborgenhede sal hom nog beskore wees om in die toekoms te ontdek?

   

 
 
Die ou geloof in ’n plat Aarde en ’n geheimsinnige Al daarbuite...
 


BO: Universum (Die Heelal), die beroemde anonieme Flammarion-houtgravure van 1888. Die gravure word só genoem omdat dit afgedruk is in die Franse sterrekundige en skrywer Camille Flammarion se destydse boek L'atmosphère: météorologie populaire ("Die Atmosfeer: Populêre Meteorologie"). 

Die afdruk toon ’n man wat soos ’n Middeleeuse pelgrim geklee is en ’n pelgrim se staf in sy hand het. Hy tuur deur die hemelboog asof dit ’n gordyn is sodat hy die verborgenhede van die heelal kan aanskou.

Een van die dele van die kosmiese meganisme herinner sterk aan tradisionele beeldende voorstellings van die “wiel dwars binne 'n wiel" waarvan daar in die Bybel oor die gesigte van Eségiël vertel word (Esegiël 1:16, 1983-vertaling). Die onderskrif in Flammarion se boek lees in sy vertaling: “ ’n Sendeling van die Middeleeue vertel dat hy die plek gevind het waar die lug en die Aarde mekaar ontmoet”.

Die afdruk word dikwels as Middeleeus beskryf, onder meer omdat dit lyk of die Aarde as plat uitbeeld word.

Dis terloops interessant dat die mense van die Middeleeue so verbete in die geloof volhard het dat die Aarde plat moet wees.

Vergete was die bevindings van die ou Griekse rasionaliste wat eeue tevore reeds die ware vorm van ons planeet ontdek het—en boonop sy grootte ook bereken het. Die Grieke het geweet die Aarde is ’n sfeer vanweë die vorm van die Aarde se skaduwee op die Maan tydens ’n maansverduistering. En dan het ene Eratosthenes (220 v.C.) die omtrek van die Aarde wiskundig bereken deur middel van die lengtes van die skaduwees van stokke wat op verskillende plekke in die grond geplant is.

Krediet: Openbare besit (“in the public domaion”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

 

 

 
Die Babiloniërs... verdelers van die hemelruim in verskillende sones
 


BO: Tekens van die diereriem, soos voorgestel in houtsneë van die sestiende eeu. Die Latynse name van die tekens soos ons hulle vandag ken, is vertallings van die ou Babiloniese sterrebeelde.

Eintlik sal baie aanhangers van tydskrif- en koerantrubrieke wat konsuis ons toekoms deur die sterre voorspel, waarskynlik verras wees om te verneem dat oerwortels van hul absurde geloof in die ou Babilonië lê. Dit was ’n staat wat tot ’n aantal eeue voor Chris­tus in Suid-Mesopotamië, in die teenswoordige Irak, bestaan het.

Maar ons moet altyd onthou dat die astrologie (sterrewiggelary) en die astronomie (ster­rekunde) twee heeltemal verskillende dinge is. Wat meer sê, die astrologie kan geen wetenskap wees nie, nie eens in die breedste sin van die woord nie.

Die onsinnigheid van die veronderstelling dat die sterre oor ons lewe en lotgevalle sou beslis, word des te duideliker hoe meer ’n mens begryp watter verskriklike afstande ons van selfs net die heel naaste sterre skei.

Op watter manier hoegenaamd sou hulle my en jou lewe kan reël, kan ’n mens wel vra.  Hul lig en selfs hul swaartekrag het ’n onbepaalbaar geringer invloed op jou as byvoor­beeld dié van die rekenaarskerm waarop jy op die oomblik hierdie woorde lees!
   

 
 
In ou Griekeland: Pythagoras se  “Musiek van die Sfere”
 

BO: Mane van Saturnus gesuperponeer op die planeet se skou­spelagtige ringe verbeeld miskien iets van die harmonie waarvan die ou Griekse geleerde Pythagoras kon gepraat het toe hy sy teorie oor die “Musiek van die Sfere” sou verkondig het. Volgens oorlewering het Pythagoras (ca. 582—ca. 500 v.C.) die eienaardigste idees gehad het omtrent die wêreld waarin ons woon. Getalle was vir hom die basis van elke liewe ding wat bestaan, en daarom het hy ook geglo dat getalle ’n mistieke betekenis het. Boonop het hy gereken dat die heelal ’n sfeer is waarin die planete wentel. Om alles te kroon, sou die draaiende planete musiek­note voortbring en dié note sou bekend staan as “die Musiek van die Sfere”.




Die ware “Musiek van die Sfere”

TERLOOPS, watter soort geluide sou ’n mens werklik daar by Saturnus en sy mane hoor? Terwyl die snuffeltuig Huygens in Januarie 2005 besig was om op die planeet se grootste maan, Titan, te gaan land—in die laaste paar kilometer voor sy landing—het hy per radar seine uitgestuur en die eggo’s van die terrein daaronder ontvang.

Klik op die balkie hierbo en luister hoe dit klink as die radar-eggo’s in hoorbare klank omgeskakel word. Namate die tuig die grond nader, raak die klank al hoe intenser en toonhoogte ál hoër. Wetenskaplikes wou met die eggo’s meer van die terreingesteldheid van die rare maan te wete kom. (Kyk ook elders die foto’s wat die Huygens-snuffeltuig ten tyde van sy landing op Titan geneem het.)

Opname beskikbaar gestel deur ESA / NASA / JPL / Univ. v. Arizona


Hoe die ander ou Grieke oor
die ruimte gedink het

OU verslae wat behoue gebly het, toon dat die ou Grieke bes moontlik indringender en sinvoller oor die ruimte gespekuleer het as die meeste ander volkere van hul tyd. Teen die sesde en vyfde eeue voor Christus was hulle reeds bewus van die bestaan van die planete. Hulle het ook diep oor die aard van die heelal gepeins.

Die sterrekundiges van die Oudheid kon tussen sterre en planete onder­skei. Hulle het agtergekom dat sterre eeue lank op betreklik vaste plekke in die naghemel bly, terwyl die planete daarenteen in kort tye baie rond­beweeg in die uitspansel. Die woord planeet kom juis van ’n Griekse woord wat ronddwaler of swerweling beteken.

Hulle het die planete Mercurius, Venus, Mars, Jupiter en Saturnus geken, wat met die blote oog gesien kan word. Aanvanklik het hulle Venus as die “Aandster” en die “Môrester” vir twee planete aangesien, totdat hulle agtergekom het dat dit dieselfde hemelliggaam is.

Die planete is uiteindelik na figure in die Griekse mitologie genoem, hoe­wel ons vandag die name van die Romeinse eweknieë van die Griekse mitologiese karakters vir die planete gebruik. Planete wat eers in die moderne tyd ontdek is, Uranus en Neptunus, het onderskeidelik die name van die ou Griekse god van die lug en die Romeinse god van die see gekry.

Mercurius was in die Romeinse mitologie ’n boodskapper en 'n god van handel en profyt. Sy Griekse eweknie was Hermes en sy Babiloniese gelyke was Nabu.

Venus was ’n Romeinse godin wat hoofsaaklik met liefde, skoonheid en vrugbaarheid verbind is, die ekwivalent van die Griekse Aphrodite.

Mars, die Romeinse god van oorlog, is met die Griekse god Ares geïden­tifiseer.

Die Romeinse hoofgod Jupiter was in dieselfde rol as die Grieke se Zeus.

Saturnus was die Romeinse god van die landbou en die oes, gelyk­staande aan die Griekse Cronus.

Van die ou Grieke het intensief nagedink en gedebatteer oor hoe die Aarde en die heelal dan nou eintlik sou kon lyk. Ene Anaximander (nage­noeg 610 tot 546 v.C.) het vir hom die Aarde in die vorm van ’n silinder voorgestel wat in die middel van die heelal hang en deur ringe van vuur omring word.
 

LINKS: ’n Voorstelling van Anaximander, ’n detail van Die Skool van Athene, ’n fresko deur Raphael (eintlik Rafael gespel in Afrikaans, maar die Engelse spelling word ter wille van eenvormigheid behou.)

Filosowe soos Aristoteles en Plato het weer anders oor die heelal ge­dink. Vir Aristoteles sou dit uit ’n ingewikkelde stelsel van konsen­triese sfere bestaan het, waarvan die kringbewegings gekombineer het om die planete om die Aarde te dra. Plato het op sy beurt die heelal beskryf as ’n bolronde lig­gaam, wat verdeel is in sirkels wat die planete bevat het, en wat oor­eenkomstig harmoniese intervalle deur ’n wêreldsiel beheer is. Alles baie isoteries en moeilik om te verstaan, wat nog te sê om in jou geestesoog te visualiseer...

  

BO: Plato en Aristoteles, onderskeidelik links en regs, nog van die figure in Raphael se fresko Die Skool van Athene.

Krediet: Openbare besit (“in the public domaion”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom
 


Groot name in die “wetenskaplike revolusie” van 1543-1700 wat
die mens se begrip van die ruimte verander het

 

 

REGS: ’n Vroeë sestiende-eeuse portret van die Duitse-Poolse sterrekundige Nico­laus Copernicus (1473-1543, die verlatyns­te naam van Niklas Koppernigk), wat as die vader van die moderne sterrekunde beskou word. Hoewel Copernicus se beskouings eers in die jaar van sy dood gepubliseer is, het hy later beroemdheid (maar aanvanklik berugtheid) verwerf met sy opspraakwekkende teorie dat alles in die Sonnestelsel om die Son draai en nie om die Aarde nie. Hoewel onder meer die ou Grieke en Indiërs eeue tevore die Son as die middelpunt uitgewys het, word Copernicus se boek De revolutionibus orbium coelestium (Oor die Omwentelings van die Hemelse Sfere) nie net as ’n mylpaal in die geskiedenis van die sterrekunde nie, maar in die wetenskap as ’n geheel beskou.

 

BO: Die Italiaanse wetenskaplike en sterrekundige Galileo Galilei (1564-1642), wat sy eie teleskoop gemaak en ontdek het dat ons Maan kraters het, dat Jupiter mane het, dat daar vlekke op die Son is en dat Venus fases soos ons Maan het. Galileo is in sy tyd voor die Inkwisisie gedaag—die kerklike hof wat afvalliges van die Rooms-Katolieke leer gestraf het—en gedwing om te ontken dat ons wêreld beweeg. Om nie gemartel te word nie, moes hy hardop verklaar dat die Aarde nie in die ruimte wentel nie. Maar gedemp het hy glo geprewel: “Nietemin, dit beweeg tog.“ Eers teen die einde van 1992 (meer as drie en 'n halwe eeu ná sy veroordeling) is die groot gees deur die Vatikaan in Rome kwytgeskel van sy "sonde".
 

         
LINKS: Johannes Kepler (1571- 1630), Duitse sterrekundige en skitterende wiskundige, ’n baanbreker wat beroemd geword het vanweë sy drie wette oor die beweging van die planete. Kepler het onomstootlik bewys dat Copernicus reg was omtrent die Sonnestelsel. Uiteindelik sou Kepler se wette die groot Engelse wetenskaplike Isaac Newton lei tot die formulering van die monumentale Universele Wet van die Swaartekrag.



  

Krediet vir vier portrette: Openbare besit (“in the public domaion”) vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom

    
REGS: Sir Isaac Newton FRS (Fellow of the Royal Society) (1643–1727), die groot Engelse geleerde wat  die Universele Wet van Swaartekrag geformuleer het. Hy het sy teorie in 1687 in sy beroemde Latynse boek Philosophiae Naturalis Principia Mathematica (Wiskundige Grondbeginsels van Natuurlike Filosofie) saamgevat. Newton het bereken dat enige twee liggame in die ganse materiële geskape werklikheid ’n aantrekkingskrag op mekaar uitoefen. Dit geld selfs vir jou en, sê, ’n dolende stuk ruimterots miljoene ligjare van jou af, al is die invloed ook onberekenbaar klein en het dit natuurlik niks met sterrewiggelary uit te waai nie.
 

 


 

  Inhoudsblad

1 van 2

Vorentoe 

         •  Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad