Sterrewagte op Aarde
   

REGS: Stonehenge.

Sterrewagte is plekke waarvandaan die hemelkoepel daarbo bestudeer word... in navolging van sulke antieke konstruksies soos Stonehenge, naby Salisbury in Suid-Engeland,  ’n beroemde kompleks van opgestapelde klippe. Hier is sonstilstande, dag-en-nageweninge, sonsverduisterings en ander gebeurtenisse op die sonkalender vermoedelik eeue gelede reeds voorspel.

Krediet:  Backgrounds Archive

 
Vier wakker oë op die sterrehemel
 

BO: ’n Lugfoto van die sogenaamde Very Large Telescope-kompleks (VLT) by die Paranal-sterrewag op Cerro Paranal, ’n berg van nagenoeg 2600 meter in die Atacama-woestyn in Noord-Chili. VLT bestaan uit vier verskillende optiese teleskope, elk met ’n aperatuur van 8,2 meter. Die projek staan onder beheer van die Europese Suidelike Observatorium (ESO), ’n organisasie vir sterrekundige navorsing waarby twaalf lande van die Europese Unie asook Switserland betrokke is.

Krediet: Kopiereg geld op hierdie foto. Die kopiereghouer, ESO, vergun die vrye gebruik daarvan vir enige doel mits die nodige erkenning verleen word. By gebruik moet dus altyd na ESO verwys word, byvoorbeeld met die kredietlyn “European Southern Observatory (ESO)”.

 
Ons eie SALT: grootste optiese teleskoop in die Suidelike Halfrond

 

BO: Suid-Afrika se eie reuse-oog op die sterre, die Southern African Large Telescope (SALT), digby Sutherland in die Hantam-Karoo, wat in November 2005 amptelik geopen en met ’n deursnee van 10 meter die grootste optiese teleskoop in die Suidelike Halfrond is. Sutherland is nie net die koudste plek in ons land nie, dit is ook een van die donkerste plekke op die Aardbol. Hier is die sterrehemel snags so vry van enige steu­rende stadsligte as wat die gloedvolle Kaap—sowat 370 km ver—miskien drie en ’n halwe eeu gelede laas moet gewees het. Dit is dus ’n ideale plek om die sterre­hemel te bestudeer. Suid-Afrika, Duitsland, die VSA, Brittanje, Pole en Nieu-Seeland is vennote in die SALT-projek. REGS is 'n deel van ons ligtende suidelike naghemel, soos waarneem deur SALT.

Krediet, groot foto: Vrye gebruik vergun op SALT se Poolse webwerf
 

’n Beroemde ou sterrekundige tuur na die sterre
 

BO: Edwin Powell Hubble (1889-1953), beroemde Amerikaanse sterre­kundige van weleer, bekyk die sterrehemel deur ’n destydse teleskoop. Vandag se teleskope is baie meer gevorderd.

Krediet: The Huntington Library, San Marino, Kalifornië / GSFC / NASA


Radio-teleskope... heeltemal anders as die optiese soorte
 

BO: Die 76 meter breë Lovell-radioteleskoop by die Jodrell Bank-sterrewag in Noordwes-Engeland, een die grootste radioteleskope ter wêreld. Radioteleskope verskil van optiese teleskope deurdat hulle in die radiofrekwensie-gedeelte van die elektromagnetiese spektrum opereer waar hulle inligting van radiobronne kan opspoor en ontvang.

•  Radioteleskope kan op verskillende maniere gebruik word. Deur byvoorbeeld twee radioteleskope aan te wend om tegelyk die seine op te vang wat in die buitenste ruimte deur ’n kwasar uitgestuur word, kan wetenskaplikes die tydsverskil meet van die ontvangs by die onderskeie radioteleskope. Hierdie verskil kan dan gebruik word om die presiese afstand tussen die teleskope te bereken, akkuraat tot binne ’n millimeter regoor ’n hele vasteland!

Krediet: Jodrell Bank Observatory (public domain)

 

Hartebeesthoek in Gauteng
 

BO: In Suid-Afrika is ook ’n radioteleskoop met ’n taamlike geskiedenis, te wete dié van die Hartebeesthoekse radiosterrewag in die Magaliesberg, sowat 50 km wes van Johannesburg. Die sterrewag—oorspronklik Deep Space Station 51 genoem—is in 1961 deur die Amerikaanse ruimte-agentskap NASA gebou en gebruik om onbemande ruimtesendings te monitor. NASA het Hartebeesthoek in 1975 aan die Suid-Afrikaanse Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) oorgedra, wat dit in ’n radiosterrewag omgeskakel het. Dit word tans deur die Nasionale Navorsingstigting bedryf. Die hoofweerkaatser van die radiosterrewag se enkele radioteleskoop van 260 ton het ’n oppervlakdeursnee van 26 meter.

Krediet: DEEP SPACE NETWORK / JPL / NASA

 •  Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad