Neptunus
Bloubul in die buitewyke

 

 Terug

1 van 2

Vorentoe 

 

 
Die diepblou kolos doer ver waar die winde huil
 

  
BO: Die planeet Neptunus, soos die wentelende ruimte-teleskoop Hubble hom in 2002 waargeneem het.

Neptunus is genoem na die ou god van die see in die Romeinse mitologie, soos LINKS uitbeeld deur Agnolo Bronzino (detail).
 
Die planeet is egter eers in die moderne tyd ontdek en wel in 1846, nogal op grond van wiskundige bereke­ninge. Vername rolspelers in die ontdekking was die Britse wiskundige John Couch Adams en die Frans­man Urbain Le Verrier. Die bestaan van ’n agtste planeet is afgelei uit steurings wat in die wentelbaan van die planeet Uranus waargeneem is.

Die eerste waarnemer van Neptunus—wat presies geweet het waarna hy kyk—was die Duitse sterre­kundige Johann Gottfried Galle, wat van  Urbain Le Verrier se berekeninge gebruik gemaak het.

Neptunus, wat sewentien keer die massa van die Aarde het, is tot dusver nog slegs deur een sverkenningstuig besoek, te wete Voyager 2 in 1989.

Krediet foto bo:  L. Sromovsky en P. Fry (Univ. Wisconsin - Madison) et al, NASA
   

’n “Gat” soos dié in ons eie osoonlaag
 

BO: Neptunus soos hy in in 1989 deur die besoekende snuffeltuig Voyager 2 afgeneem is, met die sogenaamde Groot Donker Kol wat toe in sy suidelike halfrond waargeneem is. Die kol het intussen van die planeet se oppervlak verdwyn.

REGS is ’n nabyopname van die Groot Donker Kol, wat indertyd met die beroemde Groot Rooi Kol van die pla­neet Jupiter vergelyk is.

Anders as die Groot Rooi Kol, wat ’n anti-siklonale storm is, was die Groot Donker Kol egter vermoedelik ’n gat in die atmosfeer soortgelyk aan die gat in die Aarde se osoon­laag.
 

Krediet:  Photojournal / JPL / NASA

 

 
 

Hoe Neptunus van binne kan lyk
 

BO: ’n Voorstelling van hoe Neptunus van binne kan lyk. Hoewel die temperatuur van sy hoogste wolke gewoonlik na aan -218° C is (een van die koudste in die Sonnestelsel), word gereken dat dit in die planeet se kern ’n siedende sowat 7000 °C is. Dit is vergelykbaar met die hitte op die oppervlak van die Son en is soortgelyk aan dié van die meeste planete in ons Sonnestelsel wat aan ons bekend is.

Krediet: Solarsystem / NASA

Windverwaaide Neptunus—agtste planeet van die son (en, sover bekend, die verste een)

NEPTUNUS is ook ’n groot gasplaneet soos Jupiter, Saturnus en Uranus, maar daar word gereken dat sy kern meer gesteentes as enige van die ander gasreuse bevat.

Die vernaamste atmosferiese gas is waterstof, maar daar is ook helium, asook na verhouding ’n bietjie metaan en spore van ander gasse. Die kenmerkende diepblou kleur van Neptunus word deels veroorsaak deur die absorpsie van rooi lig deur die metaan in die atmosfeer. Maar omdat die planeet se kleur soveel intenser as dié van Uranus is, wat ’n soortgelyke hoeveelheid metaan het, dra ’n ander bestanddeel vermoedelik daartoe by om hom so diepblou te maak.

Waarneembare wit deeltjies op die blou is hoogliggende wolke wat die sonlig bokant die atmosfeer weerkaats. Die planeet se weerkaatsingsvermoë is hoog: hy weerkaats meer as 84% van die lig wat op hom val.

Neptunus het sterker winde as enige ander planeet in die Sonnestelsel. Die winde (van tot 2400 km/h) waai in ’n westelike rigting. Dis ’n ope vraag waarom die planeet sulke sterk winde het ondanks die feit dat hy so ver van die Son af is en ’n betreklik swak interne hittebron het. Soos Uranus en Jupiter het Neptunus ook dowwe ringe, maar hul samestelling is onbekend. Die planeet is die eerste keer in 1846 waargeneem.

 In 2007 het die laboratorium JPL van die Amerikaanse ruimte-agentskap NASA van ’n interessante waarneming omtrent Neptunus berig. Volgens JPL het ’n internasionale span sterrekundiges ontdek dat die planeet se suidpool baie warmer as die res van Neptunus is, trouens, nagenoeg 10 grade Celsius warmer.

Die gemiddelde temperatuur op die planeet, wat sowat dertig keer verder van die Son is as die Aarde, is natuurlik kouer as snerpend koud—minder as minus 200 grade Celsius. Slegs sowat ’n duisende van die sonlig wat ons ontvang, bereik Neptunus. Tog het die eina-bietjie sonlig op daardie planeet 'n beduidende invloed op die planeet se atmosfeer.

Volgens die sterrekundiges is die warmer suidpool van Neptunus ’n seisoens­verskynsel. ’n Neptunus-jaar duur sowat 165 Aardjare. Dit is nou reeds sowat 40 jaar somer by die suidpool van Neptunus, maar oor nog heelparty dekades kan die bordjies verhang word en die noordpool sy beurt kry om warmer te wees as die res.
 

   Dowwe ringe

LINKS: Die dowwe ringe van die verafgeleë Neptunus. Dit is soos die snuffeltuig Voyager 2 hulle waargeneem het toe hy tot siens gesê het aan die windplaneet nadat hy in Augustus 1989 by Neptunus verbygeskuur het.

Blou gekleurde swart-wit foto van
Voyager 2 / NASA

Deursnee van Neptunus: 49 532 km (ekwatoriaal).
Digtheid: 1,64 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die Son: 4 504 000 000 km.
Revolusie om die Son: Voltooi een omwenteling in 164,79 van ons jare met ’n omwentelingsnelheid is 5,4 km/sek.
Rotasie om sy as: Een keer elke 16 uur.
Temperatuur by boonste wolke: -218 °C.
Ringe en mane: Dertien mane is reeds bekend. Die grootste Neptunus-maan is Triton, met ’n deursnee van 2700 km. Daar is ook dowwe ringe.
Oorsprong van naam: Die planeet Neptunus was nie bekend aan die antieke sterrekundiges nie, wat net die planete tot by Saturnus geken het. Die naam is voorgestel om te hou by die ou gebruik om planete na figure in die klassieke mitologie te noem. Neptunus was vir ou Romeine die god van die see.
Ruimtesendings: Die planeet Neptunus is nog net deur een snuffeltuig besoek, te wete Voyager 2, wat in Augustus 1989 by hom verbygeskuur het—op die naaste slegs sowat 4400 km van die planeet af.

Neptunus en die Aarde vergelyk
  

BO: Neptunus en die Aarde, min of meer volgens skaal.

Samevoeging van NASA-foto’s