Krediet: JPL / NASA

Meteoroïdes, meteore en meteoriete

Kleiner liggaampies wat om die Son wentel, word meteoroïdes of meteoorstene genoem. Party bots met die Aarde en verskyn in die naghemel as ligblitse, sogenaamde meteore, wat ons as “verskietende sterre” ken. Hulle is so klein—baiemaal net so tussen ’n millimeter en ’n sentimeter breed—dat hulle feitlik summier in ons suurstofryke atmosfeer uitbrand.  Maar die groter stukke wat wel op die Aarde val, word meteoriete genoem wanneer ons hulle optel (foto LINKS). Massiewe blokke van derduisende tonne het wel reeds die Aarde getref, maar ’n sigbare meteoriet is gewoonlik slegs ’n ''klippie''...

   

 
“Verskietende sterre”

 


BO: ’n Deel van die naghemel met verlengde beligtingstyd afgeneem ten tyde van ’n sogenaamde meteoorstorm. In werklikheid kan die “verskietings” selfs in só ’n "storm" egter sekondes tot verskeie minute ná mekaar plaasvind.

Krediet: NASA Ames Research Center / S. Molau & P. Jenniskens

ONS weet almal van sogenaamde “verskietende sterre”... en as jy enigsins ingelig is, sal jy weet dat hulle hoegenaamd nie sterre is wat soos vuurvonkies verhelder en dan in die niet verdwyn nie. Wanneer ons in die naghemel opkyk en só ’n verskynsel sien, kyk ons maar net na ’n brokkie ruimte-puin of -stof wat die dampkring van die Aarde kruis en in die bo-atmosfeer uitbrand—’n nietige meteoorsteentjie.

Op enige gegewe nag onder ’n donker naghemel kan ’n mens ’n dosyn of meer sulke meteore sien. Dit is deeltjies wat los in die ruimte rondsweef en lukraak met die Aarde kennis maak. Maar elke nou en dan, en nogal met reëlmaat, kruis die Aarde die bane van sogenaamde meteoorswerms, wat meteoor­storms veroorsaak waartydens ons selfs tot honderd meteore per uur kan sien.

Die bron van sulke swerms is komete, wat gedurig besig is om stof en puin in die Sonnestelsel rond te strooi, soseer dat hul wentelbane met verloop van tyd een aaneenlopende spoor van yl stowwe raak.

Meteoorstene kan egter ook van elders af kom, soos van planete en asteroïdes. Botsings van verskillende hemelliggame het veral in die verlede baie stukke en brokke in die ruimte laat uitskiet, wat steeds in die Aarde se dampkring kan beland.

Maar daardie klompie meteore wat ietwat groter is en nie heeltemal in ons atmosfeer uitbrand nie—sal hulle op ons koppe kan val? Ons kan maar gerus wees. Hulle val gewoonlik op die grond sonder om enige skade aan te rig, en slegs een geval is bekend waar ’n meteoor iemand getref het, ’n vrou wat net lig beseer is. Daar word vertel dat die enigste lewende wese wat ooit deur ’n meteoor gedood is, ’n hond was, baie jare gelede in Egipte. Die kans is groter dat weerlig jou sewe keer sal tref as dat ’n “verskietende ster” jou sal doodval.

’n Metoor beweeg nietemin soos die blits. Dit kan met ’n snelheid van 10 tot ’n duiselingwekkende 71 kilometer per sekonde voortsnel—omgereken sou dit dan in 3,8 minute reg om die Aarde kon beweeg het.

Meteore sorg dat die Aarde daagliks met meer as honderd ton ruimtemateriaal gebombardeer word, maar, soos gesê, gelukkig brand die meeste daarvan betyds weg sonder dat ons hoegenaamd vir hulle hoef te koes! Tog laat dit ’n mens dink as jy verneem dat die swaarste meteoriet wat nog gevind is—Hoba in Namibië—’n geraamde massa van meer as sestig ton het...

REGS: Die Hoba-meteoriet, wat genoem is na die plaas waarop dit gevind is, naamlik Hoba West, naby Grootfontein in Namibië. Sover bekend, is dit die mees massiewe natuurlike stuk yster wat op die aardoppervlak voorkom. Grond is verwyder om dit te ontbloot, maar die meteoriet is so swaar (meer as sestig ton) dat dit nog nooit verskuif is van die plek waar dit geval het nie. Dit is ongewoon plat, wat dit moontlik oor die bo-atmosfeer laat spring het soos ’n plat klip oor ’n plaat water spring wanneer ’n mens dit horisontaal soheentoe gooi.

Krediet: NASA

’n Wondernag toe dit “sterre gereën het”


BO: ’n Bekende uitbeelding van die beroemde meteoorstorm van die jaar 1833, soos dit eintlik ’n aantal dekades daarna geïllustreer is.

Uit die Adventiste-boek Bible Readings for the Home Circle, 1889


Die ewig rustelose ruimte...

Materie in die ruimte is nie staties nie, maar kan wild en wakker van hemelliggaam tot hemelliggaam rondgegooi word wanneer botsings tussen ruimtelike voorwerpe hewig genoeg is om dit in die ruimte uit te slinger. Só het dit al gebeur dat brokstukies van ons eie Maan en selfs van Mars op die Aarde beland het...

Stukkie van Mars wat op Aarde geval het
(en waarin kamtig die reste van ’n lewensvorm sou wees)
 

BO: ’n Foto van baie naby van ’n meteoriet vanaf Mars waarin wetenskaplikes ’n tyd gelede konsuis tekens van lewe gevind het. Daar was vanselfsprekend groot opwinding toe sekere Amerikaanse weten­skaplikes aangevoer het dat hulle spore van primitiewe lewe hierin ontdek het. Mars is in die gryse verlede deur ’n groot ruimtelike voorwerp getref en daar word gereken dat brokstukke van Mars ook as meteoriete op die Aarde beland het. Die meeste wetenskaplikes het egter dié bekend­making van ’n buite-aardse lewensvorm met ’n knypie sout geneem. Wat na oorblyfsels van lewe in die meteoriet lyk, is bes moontlik die reste van ’n chemiese of fisiese werking.

Krediet: NASA

Stukkie van Maan wat op Aarde geval het
 

BO: Hierdie meteoriet,  wat in 1981 in Antarktika, gevind is, is feitlik identies aan gesteentes wat die Apollo-ruimtevaarders destyds van die Maan af teruggebring het, en uitvoerige navorsing het dan ook getoon dat dit inderdaad van die Maan af kom. Die wit fragmente is ryk aan anortiet, ’n kalsiumryke silikaatmineraal wat ryklik op ’n groot deel van die Maan se hooglande voorkom.

Krediet: NASA Johnson Space Center

En ’n stukkie yster van êrens in die ruimte
wat weer op Mars geval het
 

BO: Meteoriete is ook reeds op die Maan en op Mars gevind—destyds is maanmeteoriete deur die maanreisigers teruggebring Aarde toe en vir die eerste keer is ’n meteoriet ’n tyd gelede ook deur ’n dwaal-robot op Mars opgespoor. Hier is die dwaler Opportunity se vonds: ’n ystermeteoriet so groot soos ’n bal met ’n deursnee van sowat 25 cm. Volgens lesings van die spektometers van die dwaal-robot is dié pokkerige voorwerp meestal van yster en nikkel. Slegs ’n breukdeeltjie van die meteo­riete wat al op die Aarde geval het, is so metaalryk soos hierdie een. Die meeste is klipperiger.

Krediet:  Rover Opportunity / NASA

 

 
 
’n Ystermeteoriet met ’n natuurlike gat daarin


BO: Goud is waar jy dit vind, lui die ou gesegde—en meteoriete natuurlik ook. Party plekke waar baie meteoriete voorkom, is egter beroemd, soos die Campo del Cielo-kraterveld met minstens 22 impakkraters in Argentinië. Die grootste en bekendste krater is 50 meter in deursnee. Hier is ’n besondere Campo del Cielo-meteoriet met ’n gat daarin, meestal van yster, met byna sewe persent nikkel en ’n bietjie kobalt, fosfor en ander elemente.

Foto: © Geoffrey Notkin, wat dit op hierdie bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web beskikbaar stel ingevolge die Creative Commons Attribution-ShareAlike 2.5-lisensie
 

  

 

 
Kosmiese stofdeeltjies

Kosmiese stofdeeltjies (of deel­tjies ruimtestof), soos dié op die vergroting REGS, is gewoonlik minder as ’n paar honderd mikro­meter groot.

Die tussenplanetêre medium is die tuiste van minstens twee skyf-agtige streke van ruimtestof ("cosmic dust").  Die eerste, die sodiakale stofwolk, lê in die binneste deel van die Sonne­stelsel en veroorsaak die soge­naamde sodiakaallig.

Die sodiakaallig is ’n swak, keëlvormige ligskynsel van die lente of die herfs voor sonop en ná sononder, wat in die Aarde se noordelike halfrond sigbaar is in die streek van die sodiak of diereriem. Dit is moontlik gevorm deur botsings binne-in die asteroïdes wat deur wissel­werkings met die planete meebring is.

Die tweede gebied van ruimtestof strek van sowat 10 AE tot ongeveer 40 AE en is moontlik deur soortgelyke toestande binne-in die Kuipergordel veroorsaak. (AE staan vir astroniese eenheid. Een AE is nagenoeg die afstand tussen die Aarde en die Son, oftewel nagenoeg 150 miljoen km.)

Krediet: NASA                                                            


 

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad