Mercurius
Die pokkerige “maanwêreld” naaste aan die Son

Terug

1 van 2

Vorentoe

 
Mercurius in die 1970’s afgeneem deur die verkenningstuig Mariner 10


    

 

  
Die VSA se onbemande ruimtetuig Mariner 10
(REGS) het in die jare sewentig van die twintigste eeu die heel eerste besoek aan die planeet Mercurius (BO) gebring. Mariner 10 is in 1974 twee keer by die planeet verby en in 1975 een keer, waarna die beeld hierbo van Mercurius uit die versa­melde data saamgestel is (die leë kolle is plekke wat nie gefotografeer is nie). Mercurius is ’n lewelose “maan­wêreld” met geweldige temperatuurverskille—omdat hy so naby aan die Son is en sy dae en nagte so lank is.

Die volgende snuffeltuig wat Mercurius besoek, staan bekend as MESSENGER (LINKS). Dit is in 2004 gelanseer en het in Januarie 2008 sy eerste verblyvlug by die planeet gemaak. Op sy naaste het MESSEN­GER slegs 200 km by Mercurius verbygeskuur, en ONDER is een van die eerste foto’s wat dit van naderby van die planeet se kraters geneem het. (Verder onder­toe is die verkenningstuig se blik op ’n hele halfrond van Mercurius.)

Krediet: Mariner 10, Astrogeology Team / U.S. Geological Survey
MESSENGER:
JHUAPL

MESSENGER is eintlik ’n akroniem (letternaam) en staan vir MErcury Surface, Space ENvironment, GEo­chemistry and Ranging mission, maar in die mitologie was Mercurius ook die boodskapper (messenger) van die gode.

MESSENGER het verskillende omweë in sy ruimtelike verkenningstog na Mercurius gevolg. In Oktober 2008 het dit weer by Mercurius verbygevlieg vir ’n jarelange ruimtelike swerftog om mettertyd weer op Mercurius af te pyl. In Maart 2011 het MESSENGER uiteindelik ná meer as ses jaar in ’n vaste wentelbaan om die planeet gegaan, met die doel om ’n jaar lank in die baan te bly en Mercurius noukeurig te beloer. (Nog verder ondertoe op hierdie webblad is die eerste foto wat MESSENGER na die Aarde gesein het nadat dit in die baan om die planeet begin beweeg het.)

Krediet: NASA / Johns Hopkins University Applied Physics Laboratory / Carnegie Institution of Washington
   

Ander kant van Mercurius—in 2008 afgeneem deur die verkenningstuig MESSENGER
 

BO: Die verkenningstuig MESSENGER bekyk in Januarie 2008 ’n kant van Mercurius
wat Mariner 10 nie destyds in die jare sewentig gesien het nie.

Krediet: NASA / Johns Hopkins University Applied Physics Laboratory / Carnegie Institution of Washington


MESSENGER uiteindelik in ’n wentelbaan om Mercurius
—die eerste foto in Maart 2011

BO: MESSENGER het sy finale besoek aan Mercurius op 17 Maart 2011 begin,
meer as ses en ’n halwe jaar nadat dit van die Aarde af gelanseer
was. Dit het in ’n wentelbaan om Mercurius gegaan, en op 29 Maart is
hierdie historiese foto van dié pokkerige wêreld geneem, die eerste nog deur
’n snuffeltuig in ’n wentelbaan om ons sonnestelsel se binneste planeet.

Krediet: NASA/Johns Hopkins University Applied Physics Laboratory/Carnegie Institution of Washington
 



Vuurwarm én vrieskoud...

MERCURIUS is ’n klein planeetjie vol “pokmerke” wat by die eerste kyk baie soos die Aarde se Maan lyk. Tog verskil hy in belangrike opsigte van ons Maan. Hy is byvoorbeeld baie digter en daar word gereken dat Mercurius ’n ontsaglike kern van yster met ’n straal van 1800 tot 1900 km het. Die silikaat-buitedop is slegs 500 tot 600 km dik (kyk die struktuur van Mercurius op die tweede bladsy van ons inligtingstuk oor hierdie planeet).

Mercurius se baie dun atmosfeer bestaan uit atome wat deur die sonwind van sy oppervlak af geblaas word en vinnig in die ruimte ontsnap. Die feit dat Mercurius so naby aan die Son is en slegs drie keer om sy as draai in twee van sy jare, help om hom die planeet te maak met die grootste temperatuurverskille in die Sonnestelsel (van 430 °C, wat warm genoeg is om tin te smelt, tot  -180 °C).

  

BO: Die oppervlak van Mercurius... soos grintspatpleister op ’n ruwe muur lê die berge en kraters gesaai oor die ontstellend onherbergsame landskap. Mercurius is digter en metaalryker as al die ander aardagtige planete, Venus, die Aarde en Mars.

Krediet: Mariner 10, Astrogeology Team / U.S. Geological Survey

Mercurius se deursnee: 4878 km—slegs veertig persent groter as die Aarde se Maan, 
Digtheid: Digste van al die aardagtige planete, insluitende die Aarde.
Gemiddelde afstand van die Son: 57 910 000 km (maar sy omwenteling is baie eksentriek en wissel tussen 46 000 000 km en 70 000 000 km van die Son af).
Revolusie om die Son: 88 van ons dae.
Rotasie om sy as: Mercurius roteer slegs drie keer in twee van sy jare. Een draai om sy as vind plaas in 58,7 van ons dae. Daar is gevolglik net een sonsopkoms in ’n jaar.
Oppervlaktemperatuur: 430 °C tot -180 °C.
Getal mane: Geen bekend nie.
Oorsprong van naam: In die Romeinse mitologie was Mercurius die god van handel, reis en diewery, die Romeinse eweknie van die Griekse god Hermes, die boodskapper van die gode. Die planeet het waarskynlik sy naam gekry omdat dit so vinnig oor die hemelruim beweeg.

BO: Mercurius en die Aarde volgens skaal. Mercurius is soveel kleiner dat hy soos ’n maan lyk, as die twee só vergelyk word.

Samestelling van NASA-foto’s

 

Terug

1 van 2

Vorentoe


 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad