Mars
Die Rooi Planeet

 

 Ons 8 planete

1 van 8

Vorentoe 

 

   
Voorwaarts Mars... die mens se volgende uitdaging
 


BO: Op afstande van sowat 60 miljoen tot meer as 400 miljoen kilometer van die Aarde af wentel die planeet Mars om die Son... ’n haaikaal, verskriklike, eensame wêreld wat die mens hoop om teen 2020 vir die eerste keer te betree soos hy dekades gelede reeds die Maan verower het. Soos ook op hierdie foto gesien kan word, het Mars  een uiters opvallende landmerk: sy Valles Marineris, ’n massiewe skeur in die oppervlak wat die beroemde Grand Canyon op die Aarde totaal oorskadu. Dit is omtrent 5000 km lank en nagenoeg 8 km diep. (Die Grand Canyon in Arizona in die VSA is sowat 800 km lank en 1,8 km diep.)

Foto: Viking Project, USGS, NASA

Een enorme, troostelose woestyn... maar was hier eenmaal lopende water?
 

 
BO: Die oppervlak van Mars is een kolossale verlatenheid, die mees troostelose woestyn denkbaar,  sonder ’n enkele kaktus of vetplantjie of tsamma wat hom êrens tussen die barre klippe gevestig het. Of so lyk dit, met die inligting wat ons tans nog tot ons beskikkking het.

Boonop is die Mars-atmosfeer bitter yl en is nagenoeg 95 persent daarvan koolsuurgas. En die water wat wel daar voorkom, is bevrore en stofstorms is nie ongewoon nie.

Maar tog... geen ander hemelliggaam in die ganse Sonnestelsel is meer soos die Aarde as Mars nie. Die planeet vertoon roesrooi vanweë die baie yster in sy poeierige grond en sy gesteentes, en ’n ruimtevaarder kan hom miskien net verbeel hy bevind hom êrens in, sê, die Sahara op Aarde. Dog sonder sy ruimtetuig en beskermende ruimtepak sal só ’n ruimtereisiger natuurlik glad nie kan oorleef nie.

Hierdie foto is onder die eerstes wat ooit van die oppervlak van Mars geneem is en wel deur een van die onbemande Viking-landingstuie wat in die 1970’s deur die Amerikaners na die Rooi Planeet gestuur is.

Sedertdien is deur navorsing en met ander verkenningstuie vasgestel dat Mars in die verre verlede bes moontlik warmer en ryk aan vloeibare water was. Met die teenswoordige lae atmosferiese druk kan vloeibare water nie op die oppervlak bestaan nie, buiten vir kort tydperke in die laagste holtes. Tog is daar baie waterys by die pole. Trouens, daar is glo soveel ys in die suidpoolkap dat die hele planeet na berekening tot ’n diepte van elf meter met water bedek sou kon word as die ys gesmelt kon word.

Foto: Viking Lander 2 / NASA
 

   
Mars in ’n nuwe lig
 

 
BO: Duine op die vloer van ’n krater —’n skilderagtige foto in vals kleure wat deur die dwaalrobot Opportunity op Mars geneem is.

Foto: NASA / JPL / Cornell
 

Vierde planeet van die son

HOEWEL daar duidelike tekens is dat Mars vroeër in sy geskiedenis warmer as vandag moet gewees en heel waarskynlik van tyd tot tyd water in ’n vloeibare vorm gehad het, is hy tans ’n yskoue woestyn-planeet—kompleet met uitgebreide stof­storms wat gereeld enorme geel stofwolke uit sy roeserige (rooi geoksideerde) grond opklits.

Daar is ook wolke van bevrore koolsuurgas en water-ys.

Die atmosfeer bestaan hoofsaaklik uit koolsuurgas, maar die atmosferiese druk op die oppervlak is min—slegs gelyk aan dié op ’n hoogte van 35 km in die Aarde se atmosfeer.

Van die Sonnestelsel se hoogste, blykbaar tans onaktiewe, vulkane kom hier voor. Olympus Mons laat ons berg Everest verdwerg—hy is sowat 27 km hoog en by sy voet meer as 600 km breed. As Olympus Mons egter op die Aarde was, sou hy stellig vanweë ons groter swaartekrag na onder toe ingesak het. Vallas Marineris, ’n massiewe skeur in die Marsgrond wat die Grand Canyon na ’n vulletjie laat lyk, is omtrent 5000 km lank. Opvallende wit bedekkings is by die pole te sien.

BO: ’n Kunstenaarsvoorstelling van die binnekant van Mars. Huidige modelle van die bou van die planeet met sy deursnee van byna 6800 km, vertoon ’n kern van 1480 km in deursnee. Die warm kern bevat, soos gemeen word, hoofsaaklik yster, met sowat vyftien tot sewentien persent swawel, en hierdie ystersulfied is deels vloeibaar. Die kern word deur ’n silikaat-mantel omring, wat tektonies en vulkanies gesorg het vir baie van die terreinvorms wat tans op die planeet voorkom. Die gemiddelde dikte van die planeet se kors (die lagie aan die buitekant) is 50 km, met ’n maksimum van 125 km.

Krediet: JPL / NASA

Deursnee van Mars: Die deursnee is 6793,3 km by die ewenaar en 6752,2 km van pool tot pool. Hoewel die planeet baie kleiner as die Aarde is, is sy totale grondoppervlakte nagenoeg dieselfde as die landoppervlakte op Aarde.
Digtheid: 3,94 gram per kubieke sentimeter
Gemiddelde afstand van die Son: 227 900 000 km.
Revolusie om die Son: Mars voltooi een omwenteling om die Son in 686,98 van ons dae. Sy omwentelingsnelheid is 24,2 km/h.
Rotasie om sy as: 24,6 van ons ure—verstommend genoeg is ’n dag op Mars dus omtrent net so lank as ’n dag op Aarde.
Oppervlaktemperatuur: Wissel met die veranderinge van dag en nag, somer en winter, tussen omtrent -35 en -130 °C.
Getal mane: Twee piepklein maantjies, te wete Phobos (sowat 21 km in deursnee) en Deimos (net nagenoeg 12 km breed). Hulle is asteroïde-agtige voorwerpe vol kraters—vermoedelik inderdaad asteroïdes waarvan die wentelbane in die gryse verlede met dié van Mars gekruis het en toe deur die planeet ''gevange geneem'' is.
Oorsprong van naam: Mars was die naam van die oorlogsgod van die ou Romeine.

Ruimtesendings: Die eerste ruimtetuig wat Mars besoek het, was Mariner 4 in 1965. Etlike ander het gevolg, waaronder Mars 2, die eerste ruimtetuig wat op die planeet neergestryk het, asook die twee Viking-landingstuie in 1976. Ná ’n "droogte" van meer as twee dekades het Mars Pathfinder op 4 Julie 1997 met welslae op Mars geland. In Januarie 2004 het die opspraakwekkende "dwaal­robotte" Spirit en Opportunity op die Rooi Planeet neergestryk en met sendings begin wat hoogs suksesvol geblyk het en selfs veel langer geduur het as wat beplan is. Hul taak was om onder meer uit te vind of daar in die verlede genoeg water op Mars was om dit bewoonbaar te maak. Opportunity het gesteentes ontleed en ’n verstommende hoeveelheid gekristalliseerde sout gevind. Verdere toetse en bevindings van die dwaler Spirit het wetenskaplikes tot die gevolgtrekking laat kom dat die grond eenmaal deurweek genoeg was om lewe moontlik te maak. Of daar wel lewe was? Nou ja, dit bly ’n ope vraag. Opdatering November 2008: Die snuffeltuig Phoenix het in 2008 op Mars geland, die planeet se grond met sy instrumente “geproe” en sonder enige vrees vir teenspraak bevestig dat daar steeds water op Mars is.


ONDER: Die Aarde en Mars volgens skaal. Mars is baie kleiner, maar sy totale grondoppervlakte is tog nagenoeg dieselfde as die landoppervlakte van ons Aarde, waarvan die grootste deel deur die see bedek word.


Krediet: Kompilasie van NASA-foto’s

 Ons 8 planete

1 van 8

Vorentoe 

 


 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad