Mense op die Maan!

Die epogmakende eerste landing
 

Op 20 Julie 1969 om 20:17 (Gekoördineerde Universele Tyd) land die mens vir die eerste keer op die Maan.  ’n Geraamde meer as 700 miljoen mense kyk wêreldwyd op televisie na die gebeurtenis, ’n nuwe rekord vir daardie tyd. Suid-Afrika het toe nog nie televisie nie, dog sekere mense probeer om na die maanlopers en die beheersentrum se ge­sprekke op die radio te luister. Met die krakerige ontvangs kan Suid-Afrikaners eintlik nie alles so goed volg nie. Maar selfs hier ken die opgewondenheid oor die epiese maan­landing haas geen perke nie...
 

  Inhoudsblad

1 van 4

Vorentoe 

 

   

BO: Die embleem van NASA se verbeeldingryke Apollo 11-sending wat die eerste mense na die oppervlak van die Maan geneem het.

 

 
Aardbewoners se grootste ruimte-avontuur nog
 

 
BO: Edwin ("Buzz") Aldrin van Apollo 11-sending, die tweede mens op die Maan, poseer vir ’n foto in die Maan se See van Kalmte. Op sy ruimtepak se helm word die beeld weerkaats van die persoon wat besig is om die foto te neem: die sendingbevelvoerder Neil Armstrong, die man wat eerste uit hul landingstuig geklim en op die Maan geloop het. ’n Eeue-oue droom van die mens is uiteindelik bewaarheid.

Krediet: NASA

OP 20 Julie 1969 behaal die menseras sy grootste enkele tegnologiese prestasie van alle tye: hy laat mense vir die eerste keer uitstap op die oppervlak van ’n ander hemel­liggaam, ons planeet se enigste natuurlike satelliet. Die landingstuig staan bekend as die Eagle en die geskiedkundige ruimtesending na die Aarde se Maan word Apollo 11 genoem.

Ses uur nadat hulle geland het, kom Neil A. Armstrong, die bevelvoerder van die sending, in sy beskermende ruimtepak te voorskyn uit die landingstuig. Hy klim teen ’n leer af en trap op die Maan met die geskiedkundige opmerking: “That’s one small step for (a) man, one giant leap for mankind.” (Dis ’n treetjie vir ’n mens, ’n reuse-sprong vir die mensdom.)

Armstrong word spoedig deur sy makker in die maanlandingstuig, Edwin (“Buzz”) Aldrin, gevolg. Saam loop die twee ruimtevaarders meer as twee uur lank op die maanoppervlak rond en bokspring hulle selfs. Hulle versamel 21 kilogram maangrond, neem foto’s en doen sekere proefnemings. Hulle plant ook ’n Amerikaanse vlag (van metaal) op die Maan en praat deur middel van satellietverbinding met die destydse Amerikaanse president, Richard M. Nixon, op die Aarde.

Hulle vind dat dit glad nie moeilik is om op die Maan te loop of te hardloop waar die swaartekrag slegs ’n sesde van dié van die Aarde is nie.

Ná hul historiese uitstappie klim Armstrong en Aldrin weer in die maanlandingstuig, styg op en sluit hulle aan by die derde lid van hul driemanskap, Michael Collins, in die wen­telende beheermodule Columbia, wat soos ’n satelliet om die Maan bly draai het en waarin Collins op hul terugkoms gewag het.

Die tuisvlug van Apollo 11 verloop sonder teenspoed. Die drie ruimtevaarders se kapsule plons op 24 Julie in die Stille Oseaan naby Hawaii neer waar Armstrong, Aldrin en Collins opgepik word—vir ’n geweldige helde-ontvangs, wat egter eers ’n rukkie later sal gebeur. Omdat daar die geringe moontlikheid is dat hulle met “lewende maanorganismes” besmet kan wees, word hulle as voorsorgsmaatreël drie weke lank in kwarantyn gehou. Daar is geen teken van só ’n besmetting nie.

Die vlug van Apollo 11 word daarna deur nog Apollo-maanvlugte gevolg, en Amerika laat tussen 1969 en 1972 twaalf manne op die Maan land. Daar word selfs van ’n maan­karretjie gebruik gemaak om die maanoppervlak makliker te verken.

En vandag lê daardie dosyn pioniers se spore stellig steeds soos destyds op die feitlik luglose maan, waar daar geen wind of weer is wat dit kan uitwis nie. Dit is die onmiskenbare getuienis van die mens se grootste ruimte-avontuur tot dusver—wat net deur menslike besoeke eendag aan die planeet Mars oortref sal kan word.

DIE  intense en duur projek in die 1960’s om die eerste mense Maan toe te stuur, kan slegs reg begryp word as ’n mens die politieke omstandighede van daardie geskied­kundige tydperk ken. Die Tweede Wêreldoorlog met sy sestig miljoen dooies was nog vars in die geheue van alle volwassenes, en die wapenwedloop tussen Amerika en die Sowjet-Unie was ’n skikwekkende realiteit.

Toe die Russe op 4 Oktober 1957 die eerste kunsmatige satelliet, Spoetnik 1, in 'n wentelbaan om die Aarde plaas, was die Amerikaners lam geskok. Daar sou freneties gewerk word om die Sowjet-Unie sy opperheerskappy oor die ruimte te ontneem, want dit was ’n versteuring van die magsewig wat as baie gevaarlik vir Amerika beskou is. Die landing van Amerikaners op die Maan sou ten minste die persepsie kon bevestig dat Amerika die botoon oor die Sowjet-Unie gevoer het.

Op 25 Mei 1961 het pres. John F. Kennedy van Amerika die doelwit gestel om “voor die einde van die dekade ’n man op die Maan te laat land en hom veilig na die Aarde terug te bring”.

Ten tyde van Kennedy se toespraak voor die Amerikaanse Kongres het slegs een Amerikaner al in die ruimte gevlieg—minder as ’n maand tevore—en NASA het nog nie eens ’n mens in ’n wentelbaan om die Aarde geplaas nie. Sekere werkers van die Amerikaanse ruimte-agentskap het getwyfel of Kennedy se ambisieuse oogmerk hoe­genaamd bewaarheid sou kon word.

Om gehoor te gee aan Kennedy se uitdaging en teen 1969 mense op die Maan te laat loop, het ’n ongeëwenaarde uitbarsting van kreatiwiteit geverg om van die geweldige koste van duisende miljoene dollars nie eens te praat nie. Op sy hoogtepunt het die Apollo-program, wat vir die maanlandings sou sorg, werk aan sowat 400.000 Amerikaners verskaf en sou op die steun van meer as 20 000 industriële maatskappye en universiteite gereken word.

’n Duur prys is dus betaal, maar dit was darem nie alles net vir prestige nie, en die bereiking van die ideaal was natuurlik soeter as soet. Wat meer sê, die mensdom pluk vandag die vrugte van talle tegnologiese vernuwings wat danksy Amerika en die Sowjet-Unie se wedloop na die Maan ontstaan het.

Kon die Maanlandings een kolossale bedrogspul gewees het?

DAAR is steeds talle ongelowige Thomasse wat glo dat Amerika se Apollo-maanlandings nooit regtig plaasgevind het nie—dat die hele wêreld destyds ’n yslike rat voor oë gedraai is.

Volgens hulle was alle maanlandingsfoto’s en alles wat op die televisie gewys is deel van een massiewe bedrogspul met nagemaakte maantonele iewers.

Daar is egter verskeie bewyse wat hierdie ongelowiges se monde kan snoer. Een van die sterkste weerleggings is sekere weerkaatsende meganismes wat deur die sendings van Apollo 11, 14 en 15 op die Maan agtergelaat is. Enigiemand op Aarde met ’n geskikte laser- en teleskoop-sisteem kan vandag laserstrale van hierdie toestelle laat afkaats—afdoende tekens dat die mens destyds wel deeglik sy spore op die Maan gelaat het.

 


  Inhoudsblad

1 van 4

Vorentoe 


 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad