Maan van die Aarde
Die legio wonders van Luna

    

 Inhoudsblad

1 van 4

Vorentoe 




 

Luna, het die ou Romeine die Maan van die Aarde genoem. Dit was ook die naam van die maangodin in hul mitologie (later verdring deur die maangodin Diana, wat ook die godin van jag was). Só is die Maan deur baie volkere in die verlede goddelik vereer. Hulle kon die wonderlike Son en die Maan immers nie verklaar soos ons dit vandag kan doen nie...

BO: Hoewel die Maan snags vir ons helder vertoon, veral wanneer dit vol is soos hier, weerkaats dit slegs sowat sewe persent van die lig wat daarop val. Hierdie weerkaatsingsvermoë (of albedo) van 0,07 is soortgelyk aan dié van verpoeierde steenkool.

Krediet Lick-Observatorium  / via NASA

   
Woesteny van die dood

 


BO: Die Maan... een ontsaglike, tydelose, onherbergsame woesteny... sonder enige lewe... selfs sonder enige koel briesie in die versengende hitte van die lang, lang dae of ’n lawende, lou seewind wat die bitter koue nagte kan verwarm. Die Maan is morsdood. In die vreeslikste, letterlikste sin van die woord.

Krediet: NASA


Goue Maan
 


BO: Goue Maan... ’n kleurfoto van ons eie Luna soos dit in in 1990 van sowat 563 000 km ver deur die snuffeltuig Galileo in die ruimte geneem is.

Krediet: Galileo Project / NASA

 

Dorre Maan, waterryke Aarde...

REGS: Die Aarde hang vol oor die noordpool van die Maan, met Afrika byna wolkeloos en duidelik sigbaar. En onderaan by die suide is jy!

(Die foto is slegs effens gewysig—op die oorspronklike sit die Aarde veel hoër in die hemelruim. Ons het dit egter nader aan die Maanlandskap gebring sodat dit beter op die rekenaarskerm kan inpas.)

Foto in 1997 geneem deur NASA se snuffeltuig Clementine. Krediet: USGS

ONS Maan, met sy deursnee van 3476 km, is so groot in vergelyking met die Aarde dat ’n mens die Aarde-Maan-kompleks eintlik as ’n dubbele planeet kan beskou. Maar waar die Aarde lewend en vrugbaar is, is die Maan vir alle praktiese doeleindes ’n luglose verlatenheid, woes en leeg.

Die lewelose oppervlak lê besaai met klippe en rotse, wat deur ’n ongekende hoeveelheid botsings met meteoriete veroorsaak is. Die maan se digtheid is 3,34 gram per kubieke sentimeter. Die snuffeltuig Lunar Prospector het wel tekens van ys (waarskynlik diep verskuil in donker kraters waar die son nooit kan inskyn nie) by sowel die Naan se suidpool as noordpool gevind.

Die oppervlak-swaartekrag op die Maan is maar ’n sesde van dié van die Aarde, met die gevolg dat ’n mens daar baie hoër sal kan spring as hier!

Die Maan wentel een keer om sy as in 27 van ons dae, 7 uur en 43 minute en voltooi een omwenteling om die Aarde in presies dieselfde tyd—gevolglik hou die Maan altyd dieselfde kant na die Aarde gekeer. Weens die interaksie van die swaartekragte van die twee hemelliggame word die Aarde gerem en draai hy elke eeu sowat 1,5 millisekonde stadiger, terwyl die Maan se wentelbaan elke jaar met sowat 3,8 cm gelig word.

Die gemiddelde afstand vanaf die Aarde is 384 403 km. Die Maan se snelheid  waarmee hy om die Aarde wentel, is sowat 3 700 km/h. Die oppervlaktemperatuur is 127 °C met die Son op sy hoogste in die hemelruim, afgewissel met ’n vrieskoue -173 °C snags (by die ekwatoriale ''seë'').

Die eerste Aardse besoeker aan die Maan was die onbemande Sowjet-ruimtetuig Luna 2 in 1959. Die eerste landing van mense op die Maan was op 20 Julie 1969 deur die Amerikaners Neil Armstrong en Edwin (''Buzz'') Aldrin. Die laaste menselanding was in Desember 1972. (Opdatering November 2008: Ook Indië het al die Maan suksesvol bereik—met sy onbemande wenteltuig Chandrayaan 1, wat op 22 Oktober 2008 van die Aarde af gelanseer is om vroeg in November as ’n satelliet om die Maan te beweeg. Dae later het hierdie wenteltuig ’n snuffeltuig met toerusting vir video-opnames vrygelaat vir ’n beplande botsing met die Maan­oppervlak. Die plan is ook om Chan­drayaan 1 oor die volgende twee jaar te ge­bruik om die Maan driedimensioneel te kar­teer, asook om water-ys te probeer opspoor met behulp van instrumente wat deur Indië en ander lande soos Amerika, Brittanje en Duitsland gebou is. Altesame ses lande of staatsgroeperinge behoort tans tot die elite-klub van dié wat al onbemande sendings na die Maan onderneem het, te wete Amerika, Rusland, Europa [deur middel van die Europese Ruimte-agentskap], China, Japan en nou ook Indië.)

Historiese name van die Maan was Luna (Romeine) en Selene en Artemis (Grieke).

Agtergrondmusiek: "By The Light of the Silvery Moon" (gepubliseer in 1909), musiek deur Gus Edwards, liriek deur Edward Madden.


 Inhoudsblad

1 van 4

Vorentoe 


 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad