In die hemelruim verskyn dalk ’n komeet wat laas in die Bronstyd op die Aarde gesien is. En meteens is hy terug—’n ligtende skouspel in die naghemel wat die kykers verstom. Maar waar was hy dan al die tyd en wat se ding is hy werklik? (Lees
“Swerwers van die Sonnestelsel” asook “Die Kuipergordel en die Oortwolk” verder ondertoe op hierdie bladsy.)

 

      


Flambojante superster wat luisterryk in stukke gebreek het
 


BO: Die komeet West, ’n skouspelagtige komeet wat in Augustus 1975 ontdek is en in Maart 1976 op sy helderste was. Toe hy binne 30 miljoen kilometer van die Son af gekom het, is gesien hoe sy kern in vier dele opbreek. Oor hierdie verbrokkeling van die komeet was niemand meer verbaas as sy ontdekker, Richard M. West van die Europese Suidelike Observatorium (ESO)
, nie. ESO bedryf drie vername sterrewagte in die Atacama-woestyn in Chili (vandaar die “Suidelike” in sy naam), maar sy hoofkwartier is in Duitsland. Die komeet West se lot herinner aan dié van die karakter Icarus in die Griekse mitologie wie se vlerke, wat van vere en was gemaak was, gesmelt het toe hy te naby aan die Son gevlieg het.

Foto in Maart 1976 geneem deur © Peter Stättmayer van die Openbare Sterrewag van München, Duitsland. Die kopiereghouer vergun gebruik vir enige doel mits sy kopiereg te alle tye erken word. (Foto dwars gedraai; oorspronklike foto toon kop van komeet wat na onder wys,)
   

  
Die Groot Komeet van ’96
 


BO: Twee NASA-foto’s van die komeet Hyakutake of Hiakoetake (verafrikaansing van die Japanse skrif), wat Die Groot Komeet van 1996 genoem is. Die foto regs bo is deur die wetelende ruimte-teleskoop Hubble geneem. Die komeet is deur Joedji Hiakoetake, ’n amateur-sterrekundige van Suid-Japan, ontdek. Dit het in sterrekundige terme betreklik naby aan die Aarde gekom en was baie helder in die naghemel. Hiakoetake is ’n komeet met ’n lang wentelbaan wat hom naby aan die Son bring, om dan weer ver in die kille vertes van die Sonnestelsel te gaan draai. Sterrekundiges sê hy het eers 15 000 jaar vir een omwenteling om die Son nodig gehad, maar die swaartekragte van die reuse-planete het hierdie wenteltyd tot 72
.000 jaar verleng.

Foto’s: NASA en M. Combi (University of Michigan) / HST / NASA

Swerwers van die Sonnestelsel

 

BY hul primitiewe smeltkroes swoeg ’n groepie Midde-Oosterse baard­manne tot in die skemeraand oor die vuur. Hulle het klonte tin-erts en koper in fyn stukkies opgebreek—dit laat saamsmelt deur die kole met ’n blaasbalk tot ’n witwarm gloring aan te jaag. Die gesmelte brons wat hulle verkry, word in ’n gietvorm gegiet. Dis toe een van die ruwe werkers ’n slag sy moeë spiere rek en hemelwaarts kyk dat hy die skouspel sien. Skuins bokant die westerkim, in al sy kosmiese glorie, hang ’n ligtende ''ster'' met ’n stert in die stille skemering van die vroegaand.

  

’n Teken? ’n Voorbode? ’n Seker bewys van ’n komende onheil? Bedug gooi die bronssmelters hul gereedskap neer en slaan voet in die wind na hul naaste toordokter om te hoor wat aan die gang is.

 

Nagenoeg vier millenniums later, in ons tyd, verskyn dieselfde komeet vir die eerste keer weer in die naghemel en is dit ’n sterrekundige sensasie. Dis hoe groot die omwentelingsbaan kan wees van komete, wat as die swerwers van die Sonnestelsel beskryf kan word. In teenstelling met die planete, wat min of meer in sirkels om die Son wentel, beweeg die komete in enorme elliptiese bane.

 

Nóú is hulle digby die Son, dán weer vort die ruimte in om hul draai etlike dekades of honderde of selfs baie duisende jare later in die donker ongenaakbaarheid by of anderkant die verafgeleë dwergplaneet Pluto te gaan maak.
 

Komete is konglomerate van puin en ys, ''vuil sneeuballe'' as 't ware, met kerne wat eintlik verrassend klein is. Só was die deursnee van die komeet Hale-Bopp, wat 80 persent water was, en in die laat twintigste eeu hier by ons gekuier het, maar net omtrent 40 km. Vergelyk dit met die Aarde se ekwatoriale deursnee van 12.756 km en die ontsaglike 1.392.000 km van die Son. (Die kern van die beroemde komeet van Halley [kyk onderaan hierdie bladsy] wat ons met sy laaste besoek bra teleurgestel het, was slegs ’n petieterige 20 km breed.)
 
Komete ontwikkel ook slegs sterte wanneer hulle naby die Son kom. Dit is dan wanneer die sonlig die gasse in die komeet begin verwarm. Die sonwind tref ook die komeet met ’n duiselingwekkende snelheid, waardeur die gas­deeltjies in geleerde taal geïoniseer en as ’n reguit stert uitgeskiet word—weg van die Son af.


Die stert is dus eintlik ’n groot bohaai oor niks, om dit so te stel. Want as ’n mens jou iets wil voorstel wat byna nie eens bestaan nie, is dit só ’n skimagtige maar veel geprese stert. ’n Mens kan sê die stert se deeltjies is omtrent so yl versprei soos ’n handjievol mielies op ’n hele hektaar grond, ’n dun sweempie dampe in ’n onmeetlike uitgestrektheid, miljoene kilometers lank.

LINKS: As komete deur sterrekundiges (professionele mense of amateurs) ontdek word, het hulle dikwels nog geen stert nie, omdat hulle nog te ver van die Son af is. Voorts is hulle baiemaal nog te dof om met die blote oog waargeneem te word. Hulle word dan ook dikwels met teleskope ontdek. Die meeste komete bly altyd stertloos, maar wanneer een soms digby die Son kom, ontwikkel 'n duidelik sigbare, helder stert. Daar verskyn gemiddeld elke vyf jaar ’n helder komeet.

 

Foto: Lick Observatory / World Book @ NASA

REGS: Halley se komeet kan een maal elke sowat 76 jaar met die blote oog gesien word wanneer hy sy draai naby aan die Son kom gooi. Dan gebeur wat tipies met ’n komeet gebeur wat naby die Son kom. Die Son se hitte laat van die ys op die oppervlak van die kern verdamp sodat gas en stofdeeltjies in die ruimte uitgewerp word. Hierdie gas en stof (Engels "dust") vorm ’n newelmassa om die planeet se kern. Die newelmassa staan bekend as ’n koma. Sonstraling druk stof­deeltjies weg van die koma en hierdie deeltjies vorm ’n stert wat die stofstert genoem word. Terselfdertyd skakel die sonwind sekere van die komeet se gasse om in ione of gelaaide deeltjies. (Die sonwind is ’n stroom elektriese gelaaide deeltjies wat blitsvinnig uit die Son skiet.) Die ione skiet ook weg van die komeet se koma af en vorm ’n ioonstert. Omdat komete se sterte—wat ook roeie genoem word—deur die sonstraling en die sonwind gedruk word, wys hulle altyd weg van die Son. Party sterte kan tot meer as 150 miljoen kilometer ver strek.
 

  

 

Die Kuipergordel en
die Oortwolk


BO en ONDER: Twee illustrasies wat die ligging van die Kuipergordel en die Oortwolk aandui.

Komete beweeg in hoogs ellipties bane—nou naby die Son en dan weer doer ver in die letterlike buitenste duisternis. Sterrekundiges reken dat komete wat naby die Son verbybeweeg van twee groepe hemelliggame in die buitewyke van die Sonnestelsel kom.

•   Die komvormige Kuipergordel sorg vir komete wat in minder as 200 jaar om die Son wentel. Die Kuipergordel strek tot sowat 7,4 duisend miljoen kilometer van die Son af, en daar is baie groot sfere van ys en gesteentes wat KGV’s genoem word. KGV staan vir "Kuipergordel-voorwerp”, en die dwergplaneet Pluto is ook een.

•   Die Oortwolk lewer komete op wat 'n langer tyd nodig het om hul wentelbane te voltooi. Die buiterand van die Oortwolk kan duisend keer verder as die wentelbaan van die dwergplaneet Pluto wees.

Krediet: World Book @ NASA / diagram deur Terry Hadler, Bernard Thornton Artists

Kuipergordel en Oortwolk: waar kom dié name vandaan?

  Gerard Peter Kuiper (1905-1973) (NASA-foto BO) was ’n Nederlands-gebore Amerikaanse sterrekundige, wat bekend is vir sy bydraes tot ons kennis van die Sonnestelsel en vir sy belangrike rol in verband met die Amerikaanse ruimteprogram. Kuiper het vroeg in sy lewe reeds in die sterrekunde begin belang stel. Sy sig was buitengewoon skerp, soseer dat hy sterre met die blote oog kon sien wat vier keer dowwer is wat mense met normale sig kan waarneem. Studies deur sterrekundiges wat gepla was met wat destyds as die oënskynlike leegheid van die buiterande van die Sonnestelsel beskou is, het daartoe gelei dat die bestaan van ’n “gordel” bevestig is, en dit is na Kuiper genoem.

  Jan Hendrik Oort (1900-1992) (BO) was ’n Nederlandse sterrekundige, wat bekend is vir sy vasstelling dat die Aarde se sterrestelsel, die Melkweg, in die rondte draai en vir sy bydraes tot die komeetteorie. Hy het in 1950 die gedagte geopper dat ’n wolk van komeet-agtige materiaal die Sonnestelsel op ’n enorme afstand omring, ’n idee wat vandag algemeen aanvaar word en wat dus sy naam dra.

Die lewe van ’n komeet

STERREKUNDIGES klassifiseer komete volgens die tyd wat hulle neem om een omwenteling om die Son te voltooi. Kortperiode-komete het minder as 200 jaar vir een omwenteling nodig, terwyl langperiode-komete 200 jaar of langer daarvoor neem.

Wetenskaplikes reken dat kortperiode-komete afkomstig is van ’n string voorwerpe in ’n komeetwolk wat die Kuipergordel genoem word, wat in die omgewing van die wentelbaan van Pluto in die naaste buitewyke van die Sonnestelsel lê.

Die aantrekkingskragte van die buiteplanete kan voorwerpe uit die Kuipergordel loswikkel en na die binnekant van die Sonnestelsel laat beweeg, waar hulle dan aktiewe komete word.

Langperiode-komete kom op hul beurt van ’n ander komeetwolk, die sogenaamde Oortwolk, ’n byna bolronde versameling ysige liggame (“vuil sneeuballe’’ van ys en stof) doer ver in die verste donker buitewyke van die sonnestelsel. Trouens, hierdie bron van komete is sowat duisend keer verder van die son af as die wentelbaan van Pluto.

Die Oortwolk is verreweg die grootste van die twee komeetwolke en die meeste komete kom hiervandaan. Swaarteveld-interaksies met verbygaande sterre kan veroorsaak dat sy ysballe die Sonnestelsel binnedring en aktiewe komete word.

Hulle is egter as’t ware maar net die puntjies van ’n massiewe ysberg wat die Sonnestelsel omring!

Komete verloor ys en stof elke keer wanneer hulle na die binneste deel van die Sonnestelsel terugkeer en laat spore van stofpuin agter. Wanneer die Aarde deur een van hierdie spore beweeg, word die puin gesien as baie meteore ("verskietende sterre") wat in die atmosfeer uitbrand. Uiteindelik verloor party komete al die ys in hul samestelling en verbrokkel hulle tot stofwolke of verander hulle in brose, onaktiewe voorwerpe wat met asteroïdes ooreenstem.


 


 

Kan ’n komeet teen die Aarde bots?

 

  (Kyk ook Botsings en wisselwerkings op hierdie CD-ROM)

 

DIE lang, ovaalvormige wentelbane van komete kan inderdaad die byna sirkelvormige bane van die planete kruis. En sommige van die asteroïdes waarvan die wentelbane dié van die Aarde kruis, kan moontlik die rotsagtige oorblyfsels van verbrokkelde komete wees.  

 

Wat meer sê, baie van die impakkraters in die Sonnestelsel is deur botsings met komete veroorsaak. In 1994 het brokstukke van die komeet Shoemaker-Levy 9 die digte atmosfeer van die reuse-planeet Jupiter met snelhede van sowat 210 000 km/h gepeper. Toe hulle teen die planeet gebots het, is vuurballe groter as die Aarde deur die massiewe ontploffings opgewerp.

 

Maar hoe groot is die kans dat ’n komeet-Aarde-botsing in ons leeftyd kan gebeur?

 

Party mense raak hoeka om die vreemdste redes paniekbevange wanneer ’n komeet in die hemelruim verskyn. Pleks van dit te aanvaar as ’n blote sterrekundige fenomeen, lees hulle allerhande vreemde ''boodskappe'' in die verskynsel—partykeer met noodlottige gevolge.

 

Só was die wêreld ’n klompie jare gelede geruk toe 39 sektelede in Kalifornië saam selfmoord gepleeg het met die koms van die komeet Hale-Bopp. Hulle het naamlik geglo daar is ’n ruimteskip in die komeet se stert, wat hulle ná hul dood sou wegvoer na ’n hoër evolusionêre vlak.

 

En in 1910, toe die Aarde ongeskonde deur die stert van die komeet van Halley beweeg het, het baie vreesbevange mense gedink dit is die einde van die wêreld en ook selfmoord gepleeg.

 

Daar is wel wetenskaplikes wat vermoed dat die Aarde elke 22 miljoen jaar ’n hoogs rampspoedige ontmoeting met die een of ander hemelliggaam het. Die skielike verdwyning van die dinosourusse, sê hulle, kan aan een só ’n botsing toegeskryf word. Die volgende skermutseling verwag hulle oor so elf miljoen jaar.

 

Wat ’n mens herinner aan die reaksie van ’n grapjas toe hy dit aan hom vertel is: "Sjoe, dankie tog, ek was net bang dit kan dalk reeds oor een miljoen jaar gebeur!"

 


Halley se komeet—die sterrekundige
na wie dié beroemde “roei-ster” genoem is

LINKS: Edmund Halley (1656-1742)

Krediet: U.S. Library of Congress

HALLEY se komeet, die beroemdste periodieke komeet, is genoem na die Britse sterrekundige Edmund Halley. Halley het vasgestel dat ’n helder komeet wat in 1682 verskyn het in der waarheid in ’n elliptiese baan beweeg wat hom op gereelde tye weer en weer na die binnekringe van ons Sonnestelsel—en dus binne sig van ons aardmense—bring.

Volgens sy berekeninge was dit dieselfde komeet wat in 1456, 1531 en 1607 waargeneem is. Deur gebruik te maak van Newton se teorie oor swaartekrag—en met inagneming van die invloed van die swaartekragte van die groot planete Jupiter en Saturnus op die komeet se baan—kon Halley voorspel wanneer die komeet weer sou verskyn.

Dit was laat in 1758, sowat sestien jaar ná Halley se dood, maar die ou geleerde was heeltemal in die kol met sy vooruitskatting. Dit is net vanselfsprekend dat die komeet voortaan altyd met hom verbind sou word—vandaar die benaming "Halley se komeet".

Komete het veral vroeër ook as “roeisterre” bekend gestaan, vanweë hul  sterte wat “roeie” genoem is.

LINKS BO: Halley se komeet teen sonop, soos uitgebeeld op ’n ou illustrasie wat in 1909 gemaak is.

Illustrasie: U.S. Library Of Congress

REGS BO: Die ruimtelike verkenningstuig Giotto het op 14 Maart 1986 naby Halley se komeet verbybeweeg en het dramatiese beelde soos dié teruggesein.

Foto: Europese Ruimteagentskap


En in die diepruimte ver, ver weg van ons eie Sonnestelsel—
komeetagtige knobbels om ’n sterwende ster
 

BO: Komete, komete by die honderde, nee, duisende!  Nou ja, nie komete soos ons hulle in ons Sonnestelsel ken nie, maar tog ’n menigte skouspelagtige, komeet-agtige voorwerpe wat ’n sterwende ster soos paddavissies omring. Dit is wat sterrekundiges by die Helix-newelvlek gevind het.

(Die Helix-newelvlek is ’n sogenaamde planetêre newelvlek en Helix is die een wat die naaste aan die Aarde is. ’n Planetêre newelvlek bestaan uit ’n gloeiende omhulsel van gas en plasma, wat deur sekere sterre gevorm word wanneer die einde van hul lewens aanbreek. Planetêre newelvlekke word “planetêr” genoem omdat hulle baie soos reuse-planete lyk wanneer hulle deur ’n klein optiese teleskoop bekyk word, maar daar is geen verband tussen hulle en die planete van die Sonnestelsel nie.)

Wat by die Helix-newelvlek gebeur het, reken die wetenskaplikes, is dat die sentrale ster ingekrimp en van ’n rooi reus in ’n wit dwerg verander het. Dit het ’n gloeiende omhulsel van gas laat ontsnap. Later het ’n sterk sterwind die gas selfs vinniger begin wegblaas. Volgens navorsers het die komeet-agtige voorwerpe, wat hierbo op ’n foto van die wentelende ruimte-teleskoop Hubble te sien is, gevorm toe die warm sterwind die kouer, digter planetêre newelvlek tref.

Onstabiele vloei in die omgewing van die botsing het sekere dele van die gas laat “saamknoop”—elke “knoop” omtrent so massief soos die Aarde, maar versprei oor 15 duisend miljoen (15 miljard) kilometer. Die drukking van die sterwind het die komeet-agtige sterte gevorm wat in rigtings weg van die sentrale ster af in ruimte uitstrek.

Sterrekundiges raam dat daar sowat 3500 “knope” om die ster is. Volgens een waarnemer sal hulle waarskynlik oor ’n paar honderdduisend jaar ontbind.

Krediet: C. Robert O'Dell and Kerry P. Handron (Rice University), NASA

 

  Inhoudsblad

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad