Jupiter
Grootste planeet in ons Sonnestelsel

Anderkant Mars raak die Sonnestelsel ’n totaal ander plek. Die planete is nie langer klein, rotsagtige wêreldjies nie, maar yskoue, gas-agtige reuse. En die koning onder hulle almal is Jupiter...

  Ons 8 planete

1 van 9

Vorentoe 

LINKS: ’n Verbeterde foto van Jupiter, soos dit in 1990 deur die Amerikaanse regeringsliggaam die U.S. Geological Survey bewerk is. Die oorspronklike was ’n foto wat een van die Voyager-snuffeltuie in 1979 van dié reuse-plannet geneem het. Die kleure is versterk om beter detail te verkry.  Foto: NASA / USGS

  

       
 
Die yslike reus doer anderkant Mars
 

 
BO: Jupiter soos dit rondom die afgelope eeuwisseling afgeneem is deur die snuffeltuig Cassini toe dié onderweg was na sy epiese ontmoeting met die planeet Saturnus.

Foto: Cassini-sending / NASA

 

Een enorme bol gas...

ANDERKANT Mars raak die Sonnestelsel ’n totaal ander plek. Die planete is nie langer klein, rotsagtige wêreldjies nie, maar yskoue, gas-agtige reuse wat die Aarde sou verdwerg. Jupiter alleen bevat meer as sewentig persent van al die planetêre massa in die sonnestelsel en het ’n swetterjoel mane waarvan party onder die interessantste voorwerpe in ons relatief nabye hemelruim tel.

Die grootste planeet in ons Sonnestelsel is inderdaad een enorme bol gas. Sterk winde (vinniger as 650 km/h) waai vermoedelik op alle vlakke deur die atmosfeer. Die belangrikste atmosferiese gas is waterstof (89%), maar daar is ook helium (11%) met spore van metaan, waterdamp en ammoniak. Die gas word ál digter hoe verder ondertoe, verander weens die geweldige druk naderhand in ’n vloeistof en neem uiteindelik ’n metaalagtige voorkoms aan. Die kern in die middel kan van soliede, aardagtige stowwe wees.

’n Belangrike verskynsel op Jupiter is die Groot Rooi Kol, ’n kolkende hoë­drukgebied van 24.000 tot 40.000 km oos-wes en 12.000 tot 14.000 km noord-suid wat teen die horlosiewysers in beweeg en vermoedelik rooi fosfor bevat. Die kol was van tyd tot tyd waarneembaar rooi regdeur sy geskrewe geskie­denis, maar was nog nie aanmerklik rooi sedert ’n bra kort tydjie in die 1970’s nie.
 
Deursnee van Jupiter: 139 822 km.
Digtheid: 1,33 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die Son: 778 400 000 km.
Revolusie om die Son: Een omwenteling in 11,9 van ons jare met ’n omwentelingsnelheid van 13,1 km/sek.
Rotasie om sy as: Jupiter draai vinniger om sy as as enige ander planeet in die sonnestelsel—een keer elke 9,8 uur.
Temperatuur: -125 °C tot 17 °C en selfs warmer in sekere lae van die atmosfeer. Trouens, Jupiter straal meer energie in die ruimte uit as wat hy van die son af ontvang.
Getal mane: Jupiter kon met die jongste telling (in 2007) op meer as sestig ontdekte satelliete roem—die vier groot mane wat die Italiaanse wetenskaplike en sterrekundige Galileo Galilei al in 1610 met sy teleskopie ontdek het, ’n aantal kleineres wat reeds name gekry het, plus nog ’n string ongenoemde kleintjies wat eers heel onlangs in sterrekundige waarnemings opgespoor is. Jupiter het ook ringe soos dié van Saturnus, maar hulle is baie dowwer en kleiner. Hulle bestaan meestal uit klein stofdeeltjies. Anders as Saturnus se ringe lyk dit of hulle geen ys bevat nie.
Oorsprong van naam: Jupiter, die seun van Saturnus, was die koning van die gode in die Romeinse mitologie
Ruimtesendings: Pioneer 10 was in 1973 die eerste ruimtetuig wat Jupiter besoek het. Hy is gevolg deur Pioneer 11, Voyager 1, Voyager 2 en Ulysses. Die Galileo is in 1995 in die Jupiter-sisteem in ’n wentelbaan geplaas. Die tuig Cassini is rondom die eeuwisseling daar verby onderweg na die planeet Saturnus en het interessante waarnemings omtrent Jupiter na die Aarde gesein.

Die Aarde sou in Jupiter se
“Groot Rooi Kol” kon inpas



BO: Die Aarde en Jupiter min of meer volgens skaal. Die Aarde (iets meer as 12 700 km in deursnee) sou gemaklik in Jupiter se Groot Rooi Kol kon inpas, beslis in die kol se lengte en veral wanneer die kol op sy breedste tot sowat 14 000 km  uitdy.

Krediet: Samevoeging van NASA-foto’s

 

  Ons 8 planete

1 van 9

Vorentoe