Feit en fantasie

Wonderlike verskynsels aan die naghemel
laat ons baiemaal besef hoe goddelik die wêreld is waarin ons lewe... en bied miskien selfs inspirasie vir d
romers wat graag fisies wil uitreik na die uitspansel...
  

 
 
WARE NATUURWONDER: Sprokiesnagte by die pole

 


BO: Die Aurora borealis (noorderlig) omskep ’n sneeutoneel in Alaska in ’n sprokieswêreld. Gelaaide deeltjies wat van die uiters warm atmosfeer van die Son weggeskiet word, beweeg duiselingwekend vinnig na die Aarde toe. Maar terwyl die Aarde se magnetosfeer gewoonlik die meeste van hierdie deeltjies van ons planeet af laat wegskram, slinger die Son partykeer besonder baie van dié deeltjies in die ruimte uit. Dié reageer dan met die Aarde se atmosfeer naby die pole en veroorsaak veelkleurige gloede aan die hemel wat die aurora’s of poolligte genoem word. Die suidelike aurora word die aurora australis genoem en die noordelike ligte die aurora borealis.

Krediet: Senior Airman Joshua Strang, United States Air Force (PD)

 
GLO DIT... die Natuur en Tegnologie skilder saam...
 


BO: Helder lig van die ondergaande Son en die bleek skynsel van die Maan in die hemelkoepel kombineer met die kronkelspoor wat deur die uitlaatdampe van ’n vuur­pyl gelaat is om hierdie treffende toneel in die lug te skep.

Krediet: James W. Young ( TMO / JPL / NASA)

 

 

FANTASIEË
(wel, tot dusver nog): Die mens styg in ’n hyser op na die hemelruim... en satelliete straal skoon sonkrag na die Aarde as ’n onuitputlike bron van elektrisiteit
 


REGS: Die ruimtekunstenaar Pat Rawling se konsep van ’n hyser wat strek vanaf ’n ruimtestasie (wat relatief tot die Aarde in ’n vaste posisie bokant ons planeet “hang”) tot by die Aarde self. Só ’n hyser, as so iets hoegenaamd fisies moontlik is, sal feitlik elkeen in die ruimte kan opneem sonder die nodigheid van ’n vuurpyllanseerder.

BO: Nog een van die talle fantasieë wat al deur ruimtevaart gegenereer is—en wat volgens sekere kenners dalk nog eendag waar kan word.
Die illustrasie toon ’n konstruksiebasis vir die bou van sonkragsatelliete wat sonkrag na ’n enorme ontvanger op die Aarde straal. Die voordele van sonkragsatelliete sou wees dat hulle nie deur die Aarde se dag-en-nag-siklus belemmer sal word nie, maar gedurig aan sonlig blootgestel sal wees. Hulle sou ook nie gepla word deur die nukke van die weer of seisoene nie. Boonop is daar geen afval of uitlaatgasse nie en dit is ’n hernubare energiebron wat elke bewarings­bewuste sal verwelkom. Maar die groot beletsel is die koste. Heeltemal te veel geld is op die oomblik nog nodig om dinge in die ruimte te plaas—volgens sekere berekenings tot $11
.000 per kilogram selfs na lae onwente­lingsbane—om dit lewensvatbaar te maak.

Krediet: NASA

  

FEIT: Dié ster is ’n reuse-diamant!  

REGS: Sterrekundiges het ’n tyd gelede bekend gemaak dat ’n wit dwerg-ster wat hulle bestudeer het, eintlik ’n reuse-diamant is. Hier is ’n kunstenaarsvoorstelling van hoe dié superblink sensasie van binne kan lyk—’n homp gekristalliseerde koolstof van een-gevolg-deur-34-nulle karaat.

Die Cullinan-diamant, die grootste diamant wat ooit op Aarde gevind is (in 1905 in die Premiermyn oos van Pretoria), was maar net omtrent 3107 karaat (sowat 620 gram) voordat dit tot verskillende stene geslyp is!

Die ontdekte kosmiese diamant, die uitgebrande kadawer van ’n ster genaamd  BPM 37093, is sowat 50 ligjare van die Aarde af in die konstellasie van Centaurus, ’n helder sterrebeeld in die naghemel van die Suidelike Halfrond. Die uitgedoofde ster is net sowat 4000 km in deursnee en bedek met ’n dun laag waterstof en helium.

Sterrekundiges het lank reeds vermoed dat die binnekante van wit dwergsterre kristalliseer, maar slegs ’n ruk gelede vasgestel dat dit wel so is. Die ster is kragtig aan die bewe soos ’n ghong, en navorsers het die pulsasies bestudeer om tot die slotsom te kom dat die koolstof aan die binnekant solied is.

Geen wonder dat dit gou bestempel is as die moeder van alle diamante, wat Bill Gates en nog van die rykstes op Aarde nie eens kan droom om te koop nie.

Krediet: Travis Metcalfe & Ruth Bazinet, Harvard-Smithsonian Center for Astrophysics

  

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad