Dwergplanete
 
Drie dwergplanete word tans erken:
Ceres, Pluto en Eris... Verskeie ander sou bes moontlik ook vir die titel kon kwalifiseer... en baie meer kan dalk nog ontdek word...

 

  Inhoudsblad

LINKS : ’n Kunstenaarsvoorstelling van Pluto (agter) en sy maan Charon (voor). Pluto, wat 76 jaar lank as ’n volwaardige planeet beskou is, is in 2006 as ’n dwergplaneet herklassifiseer.   Foto: Starchild / GSFC / NASA
 

 

 
Ceres... dowwe dwerg van duisend raaisels

 


LINKS BO: Ceres is te klein om met die blote oog van die Aarde gesien te word en—met sy deursnee van sowat 950 km—lyk hy hier selfs dof en raaiselagtig vir die wentelende ruimte-teleskoop Hubble. Dit is nie eens bekend wat die helder kol kan wees wat daarop voorkom nie. Maar al is hy slegs die spreekwoordelike mossie, maak Ceres nietemin sy stem dik as die grootste voorwerp in die asteroïdegordel tussen Mars en Jupiter. Trouens, hy bevat sowat ’n derde van die massa in die gordel. Die dwergplaneetjie is reeds meer as 200 jaar gelede ontdek en genoem na die mitologiese Ceres, die Romeinse godin van groeiende plante, die oes en moederliefde.

Krediet: NASA, ESA, J Parker (SwRI) et al

REGS BO: ’n Hubble-foto van Ceres in hoër revolusies waarop die kontraste versterk is om terrein­kenmerke beter te kan onderskei. Die oppervlak van hierdie dwerg is waarskynlik ’n mengsel van water-ys en verskillende karbonate en soorte klei. Geen snuffeltuig het nog Ceres besoek nie, maar die verkenningstuig Dawn is in September 2007 deur die Amerikaanse ruimte-agentskap NASA gelanseer wat, as alles volgens plan verloop, die asteroïde 4 Vesta in 2011 sal besoek voordat hy in 2015 by Ceres aankom.

Krediet: NASA, ESA, J. Parker (Southwest Research Institute), P. Thomas (Cornell University), and L. McFadden (University of Maryland, College Park)
 

 

 
Dwergplaneet Pluto wys sy ware kleure
 


BO: Pluto is meestal bruin, volgens hierdie foto in ware kleure—die beeld met die hoogste resolusies wat nog van hierdie dwergplaneet verkry is. Dit toon die halfrond van Pluto wat altyd na sy maan Charon gekeer is. Pluto en Charon wentel só dat hulle gedurig dieselfde gesig vir mekaar wys (net soos die Maan met die Aarde doen, maar wel nie die Aarde met die Maan nie). Op Pluto is ligte verskuiwende streke van vermoedelik veryste stikstof en donker dele van vermoedelik metaan-ys.

Krediet:: Eliot Young (SwRI) et al., NASA


Hoekom  Pluto van sy status as ’n volwaardige planeet gestroop is

DIT was lankal duidelik dat Pluto—aan die verre buitegrens van die domein van die planete in die sonnestelsel—nie rêrig in die liga van die agt ander planete tuis hoort nie, te wete Mercurius, Venus, die Aarde, Mars, Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus.

Pluto is doodeenvoudig te klein—kleiner selfs as ’n hele klompie van die mane van die ander planete. Hy voldoen ook nie aan die nuwe definisie dat ’n planeet in staat moet wees om die omgewing van sy wentelbaan skoon te vee van ruimtelike voorwerpe nie. Hy beweeg boonop nie eens op dieselfde vlak as die agt planete nie en volg ’n eksentieke wentelpad wat hom soms nader aan die son bring as Neptunus.


REGS: Pluto en die planeet Aarde met mekaar vergelyk. Dis is baie duidelik dat Pluto sommer ’n pikkie is.

Kompilasie van NASA-foto’s
 

Toe Pluto in 1930 deur die Amerikaanse sterrekundige Clyde William Tombaugh ontdek is (op grond van aanvoorwerk deur Amerikaanse sterrekundige Percival Lowell) is weliswaar gedink dat hy omtrent so groot soos die Aarde moet wees. Daar is nie besef dat hy ook ’n maan het nie en die hele planeet-maan-kompleks is aangesien vir ’n enkele, heel aansienlike planeet.

Eers veel later is agtergekom dat Pluto net ’n kleinerige wêreldjie met ’n maan (genoem Charon) is—dat hy in der waarheid so klein is dat hy hoogtens die naam mini-planeet of dan wel dwergplaneet waardig is. Charon is eers in 1978 ontdek. Dit is omdat hierdie maan so naby aan sy moederplaneet is dat hulle een dowwe skynsel gevorm het wanneer hulle met teleskope van die Aarde af bekyk is.

Maar uiteindelik moes sterrekundiges ernstig besin of Pluto se tjank as "planeet" nie afgetrap moes word nie—want met hoogs verbeterde waarnemingsinstrumente is dit heel moontlik dat nog ’n tros Pluto’s in die Sonnestelsel se buitewyke opgespoor kan word. Trouens, so onlangs as in 2003 is ’n ruimtelike voorwerp verder in die diep­ruimte ontdek, ’n vrieskoue konglomeraat van gesteentes en ys wat ’n deursnee van sowat 2500 km het en 27 persent meer massief is as Pluto. Die deursnee van Pluto is naastenby 2306 km.

Hierdie nuut ontdekte dwergplaneet, wat ook ’n maantjie het en aanvanklik 2003 UB313 (bygenaamd “Xena”) genoem is, het op 13 September 2006 ’n amptelike naam gekry, te wete Eris. Die dwergplaneet is genoem na die Griekse godin Eris, ’n verpersoonliking van twis en onvrede.

Die hemelliggaam Eris was aan die einde van 2007 steeds die grootste bekende dwergplaneet in ons sonnestelsel. Eris se maantjie Dysnomia (voorheen bygenaamd “Gabrielle”) is genoem na die dogter van die mitologiese Eris. (Kyk kunste­naarsvoorstelling van Eris en Dysomia onderaan hierdie bladsy.)
 
Die dramatiese besluit oor Pluto is geneem op ’n konferensie van 2500 sterre­kundiges van 75 lande, nadat die groepleiers lank en hard gedebatteer het oor ’n ander voorstel dat ’n paar ander grotere mini-voorwerpe soos Pluto in die Sonne­stelsel tot volwaardige planete opgegradeer moes word. Daardie voorstel is egter afgestem.

Pluto is nog nooit deur ruimtetuie besoek nie, maar in 2006  het die Amerikaanse ruimteagentskap NASA sy "New Horizons" van $700 miljoen na Pluto gelanseer—’n onbemande verkenningstuig wat, as alles volgens plan verloop, die dwergplaneet doer ver ná sowat nege jaar sal bereik.

LINKS: Die New Horizons-verkenningstuig se lansering by Cape Canaveral, Florida, op 19 Januarie 2006. Daar word gehoop dat hy op 14 Julie 2015 die eerste snuffeltuig sal wees wat by Pluto arriveer.

Foto: NASA

Volgens ’n NASA-baas raak Pluto se "verminderde status" darem nie die New Horizons-sending nie. Hy sê NASA sal voortgaan om die wetenskaplik interessantste voorwerpe in die Sonnestelsel te gaan bekyk, ongeag by watter kategorie hulle ingedeel word.

Dit lyk immers of Pluto nie wil ophou om ons te verras nie. Vroeg in 2006 het navorsers wat met die wentelende Hubble-ruimte-tele­skoop werk, bevestig dat twee ander mane van Pluto ontdek is. Die ontdekking is reeds in Mei 2005 gedoen, maar daar moes tot 15 Februarie 2006 gewag word om seker te maak van die vonds. Die nuut ontdekte mane staan bekend as Nix en Hydra. Hulle is egter blykbaar nie naastenby so groot as Charon nie.

Maar hoe lyk dit op Pluto? Rotsagtig, reken die geleerdes. Daarby het hy ’n baie dun atmosfeer van waarskynlik metaan. Die atmosferiese druk is slegs sowat een 100.000ste van die druk by seevlak op die Aarde. Daar is ligte verskuiwende streke van vermoedelik veryste stikstof en donker dele van vermoedelik metaan-ys.

Sekere sterrekundiges het eenmaal gedink Pluto was vroeër ’n maan van Neptunus, wat weens ’n botsing met ’n ander ruimtelike voorwerp in ’n nuwe wentelbaan om die son uitgewerp kon gewees het. Die maan Charon sou ’n samestelling kon wees van ligter rommel wat deur dié botsing ontstaan het. Daar is egter ook ander teorieë oor Pluto en dit lyk of die teorie dat hy ’n Neptunus-maan was nie juis meer aanvaar word nie.

Pluto en sy eie drie mane... twee van hulle piepklein
 

BO: Pluto en sy mane. Die twee kleintjies, Nix en Hydra, is eers betreklik onlangs ontdek, dog met afmetings van slegs ’n geraamde 40 tot 160 km is hulle maar piepklein.

Krediet: M. Mutchler (STScI), A. Stern (SwRI), en HST Pluto Companion Search Team, ESA, NASA
  

Maar alles is relatief... Pluto self word verdwerg
deur die Sonnestelsel se grootste mane...

 



BO: Pluto (regs onder in hierdie kompilasie) is so so klein dat hy selfs ’n buksie is as hy met van die grootste mane in die Sonnestelsel vergelyk word (van links na regs en van bo na onder): Ganymede, Titan, Callisto, Io, die Aarde se Maan, Europa en Triton.

Kompilasie van NASA-foto’s

 

 

 
Dwergplaneet Eris en sy mini-maantjie in die vrieskoue verte
 

 
BO: ’n Kunstenaarsvoorstelling van die dwergplaneet Eris en sy maantjie Dysnomia (die klein grys skyfie reg bokant hom). Eris, wat in 2003 in die diepruimte ontdek is, is ’n vrieskoue konglomeraat van gesteentes en ys. Hy het ’n deursnee van sowat 2500 km en is 27 persent meer massief is as Pluto. Die deursnee van Pluto is naastenby 2306 km. Die maan Dysnomia se breedte word op minder as 150 km geraam. (Lees in die vertelling oor Pluto hierbo meer oor Eris en Dysnomia.)

Illustrasie: A. Schaller (STScI) / NASA


Maar presies hoe word besluit watter hemelliggame as dwergplanete kwalifiseer?

’N DWERGPLANEET is ’n hemelliggaam in die Sonnestelsel wat aan die volgende vier vereistes voldoen:

•  Hy volg ’n wentelbaan om die Son.
•  Hy het genoeg massa sodat hy weens sy eie swaartekragwerking naastenby ’n bolronde vorm aanneem.
•  Hy is nie ’n satelliet nie.
•  Hy het nie die omgewing van sy wentelbaan “skoongemaak” nie. (Om die omgewing van ’n wentelbaan skoon te maak, beteken dat ’n planeet se swaartekrag so oorheersend is dat daar in sy nabyheid in sy baan geen ander liggame van vergelykende grootte voorkom nie, buiten sy eie natuurlike satelliete of ander wat onder die invloed van sy swaartekrag verkeer. Só is Pluto nie ’n planeet nie, maar ’n dwergplaneet, omdat hy nie sy wentelbaan-omgewing skoongemaak het nie, maar dit met voorwerpe van die Kuipergordel soos die sogenaamde plutinos deel.)

Die nuwe benaming “dwergplaneet” is in 2006 deur die Internasionale Astronomiese Unie (IAU) aanvaar.

 

 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad