Asteroïdes
Kleiner as dwergplanete
, maar groter as meteoorstene... en hulle wentel in hul honderdduisende om die Son...
 

  Inhoudsblad

 

LINKS: Die asteroïde 951 Gaspra (hier met sy kleure versterk) is die eerste wentelende asteroïde in die ruimte wat ooit van naderby deur die mens bekyk is en wel deur middel van die verkennings­tuig Galileo. Dié ruimtespioen het Gaspra op 29 Oktober 1991 beloer toe die tuig na die planeet Jupiter onderweg was. Die asteroïde se afmetings is slegs 18,2 by 10,5 by 8,9 km.

Krediet: GSFC / NASA
 

 

Dis ’n magtige skare van onreëlmatig gevormde hemelliggaampies... en hul grootste konsentrasie is in ’n “gordel” tusssen die planete Mars en Jupiter



BO:  Die asteroïdegordel tussen die bane van die planete Mars en Jupiter, waar die grootste konsen­trasie van asteroïdes voorkom. Lees hieronder meer oor hierdie hoofgordel en ander konsentrasies van asteroïdes.

Illustrasie op hierdie bladsy in Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web deur die illustreerder tot openbare besit verklaar (“in the public domain")

MET die term asteroïde word gewoonlik verwys na ’n onreëlmatig gevormde, klein hemelliggaampie wat om die Son wentel—ten minste kleiner as ’n dwergplaneet. Asteroïdes is wel groter as meteoorstene, wat in die reël slegs tien meter of minder in deursnee is.

Verreweg die meeste asteroïdes—waarvan honderdduisende al ontdek is en sowat vyfhonderd steeds maandeliks ontdek word—wentel in die hoofgordel tussen wentelbane van Mars en Jupiter.

Daar word gemeen dat die reuse-planeet Jupiter se aantrekkingskrag so groot en ontwrigtend is dat hy hoeka keer dat die asteroïdes saamkoek om ’n enkele hemelliggaam te vorm.

Die asteroïdes se massa is in elk geval nie baie groot nie. Daar is al geskat dat almal in die hoofgordel saam net sowat vier persent van die massa van die Aarde se Maan bevat, en hiervan beslaan Ceres sowat ’n derde. Ceres is die grootste asteroïde wat nog ontdek is, maar hy word nou as ’n dwergplaneet geklassifiseer.

Bewenewens die hoofgordel van asteroïdes, kry ons ook ’n groot groep soge­naamde Trojaanse asteroïdes, wat Jupiter se wentelbaan met hom deel. Hulle word Trojane genoem vanweë die gebruik om hulle die name van karakters in die Trojaanse Oorlog van die oud-Griekse legendes te gee—die name van Trojane sowel as Grieke. Daar is inderdaad ’n Griekse én ’n Trojaanse groep asteroïdes in Jupiter se wentelbaan.

Tussen Mars en Jupiter is ook die sogenaamde Hilda-familie van asteroïdes.

Daar is natuurlik ook ander groepe elders: altesaam sowat twintig tot dertig erkende families met nog tientale minder sekere groeperings.

 

 
Die asteroïde en sy mini-maantjie

 


BO: Party asteroïdes het selfs hul eie maantjies—of as die een nie groot genoeg is om die hoofliggaam te wees waarom die ander een willoos dans nie, wentel hulle sommer om mekaar. Die asteroïde hierbo heet 243 Ida en die naam van sy klein maantjie, regs van hom op die foto, is Dactyl.

Dactyl is die eerste natuurlike satelliet van ’n astero
ïde wat ontdek is. Hierdie kleurfoto is saamgestel uit beelde wat die snuffeltuig Galileo in Augustus 1993 verkry het toe dit sowat 10 500 km van Ida was. Ida is 53,6 by 24,0 by 15,2 km groot en is reeds baie jare gelede, in 1884, ontdek. Die bestaan van Dactyl was egter ’n verrassing en sy ontdekking in die jare negentig het die debat beëindig of asteroïdes mane het of nie. Dactyl (1,2 by 1,4 by 1,6 km) is maar iets breër as wat Tafelberg in die Kaap hoog is, en wentel een keer elke 1,54 dae om Ida op ’n gemiddelde afstand van 108 km.

Foto: GSFC / NASA

 

 
Ysere Kleopatra... ’n harde been om te kou!

 

REGS: Dit lyk soos ’n been wat deur ’n hond verrinneweer is—maar met ’n lengte van sowat 217 km en ’n breedte van nagenoeg 94 km is dit darem ’n yslike been. Wat meer sê, hierdie kolos bestaan waarskynlik meestal uit ’n allooi van yster en nikkel, waaraan geen kosmiese hond sommer sou wou knabbel nie.

Die illustrasie is ’n voorstelling deur ’n kunstenaar van die asteroïde 216 Kleopatra in die hoofgordel van aste­roïdes.

Omdat dit baie miljoene kilometers van die Aarde af is, kan die beson­dere vorm nie met optiese teleskope waargeneem word nie. Dit word afge­lei van beelde wat verkry is deur radarseine van die liggaam af te kaats. Die asteroïde Kleopatra is al die ongewoonste vorm in die Sonne­stelsel genoem.

Krediet: NASA