Aarde
“Blou Albaster”—ons waterryke oase van lewe
  

  Ons 8 planete

1 van 7

Vorentoe 

BO: Die Aarde met sy Maan verder weg in die onmeetlike ruimte. Danksy al die ontwikkelings met satelliete en ruimtevlugte besit ons vandag die wonderlikste reliëfbeelde van ons eie planeet.


 
BO: Soos ’n blou albaster, só het die Aarde vir die Maanreisigers van Apollo 17 gelyk toe hulle op  7 Desember 1972 dié beroemde foto van hul tuisplaneet geneem het—op ’n afstand van nagenoeg 29
.000 kilometer. Die vasteland van Afrika is duidelik sigbaar, met slierte wolke wat oor Suid-Afrika hang. Die ruimtevaarders het op daardie tydstip die Son van agter gehad en hul treffende beskrywing van die Aarde as die “Blue Marble” het legendaries geword. Sedertdien is nog, en selfs meer skouspelagtige, “Blue Marble”-foto’s geneem.

Foto: Johnson Space Center / NASA
 


Moeder Aarde... so herbergsaam

IN vergelyking met al die ander plekke wat ons ken, is die Aarde baie beslis ’n oase in die ruimte, die enigste planeet in ons Sonnestelsel wat lewe kan onderhou soos ons dit ken. Maar ’n buite-aardse besoeker, as so iets ooit bestaan, sou heel waarskynlik nie hier na intelligente lewe op land wou gaan soek nie, maar eerder in die see. Ons wêreld is immers ’n waterplaneet—75 persent van die Aarde is onder water.

Die Aarde, die derde planeet van die Son af, bestaan uit verskillende hoofdele: die atmosfeer van gasse, die vloeibare hidrosfeer (oseane, mere, riviere en ondergrondse waterbronne), die litosfeer (vaste aardkors en boonste mees soliede mantel), met daaronder die benede-mantel (warm, vaste stowwe in ’n taai-vloeibare toestand) en in die middel die kern (vermoedelik vloeibaar aan die buitekant, maar vanweë die groot drukking met ’n soliede bal van hoofsaaklik yster daarbinne).

Konveksiestrome in die vloeibare buitekern wek waarskynlik die planeet se massiewe magneetveld op.

Die Aarde se atmosfeer bestaan hoofsaaklik uit stikstof (78%) en die lewens­belangrike suurstof (21%), met ander gasse daarby (1%).


Deursnee van die Aarde:
Ons planeet se presiese deursnee is 12 756,34 km by die ewenaar en 12 713,54 km van pool tot pool. Die onvolmaakte sfeer dy uit by die ewenaar.
Digtheid: 5,52 gram per kubieke sentimeter.
Gemiddelde afstand van die Son: 149 600 000 km (1 Astronomiese Eenheid)
Revolusie om die Son:
 Die Aarde voltooi een omwenteling in 365,256 dae met ’n snelheid van sowat 29,8 km/sek.
Rotasie om sy as:
23 uur, 56 minute, 4,1 sekonde.
Oppervlaktemperatuur: Gemidddeld 14°C, maar daar is groot temperatuurwisselings tussen die poolstreke en omgewing van die ewenaar. Ander faktore, soos koue en warm seestrome, beïnvloed ook die temperatuur.
Getal mane: Een (die Maan, ook genoem Luna). Die Maan, met sy deursnee van 3476 km, is so groot in vergelyking met die Aarde dat ’n mens die Aarde-Maan-kompleks eintlik as ’n dubbele planeet kan beskou. Kyk aflewering oor die Maan van die Aarde.

  Ons 8 planete

1 van 7

Vorentoe 


 Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad