By Coetzenburg* vlieg ’n rugbybal...
 
* en op duisend ander velde
  

Rugby... die bal, die spelers, die veld en die pale...

 
Braaivleis, rugby
en nasietrots!
 
  
  
  


Agtergrondmusiek “By Coetzenburg loop ’n waterstroom” met vriendelike
vergunning van
Ons Blêrkas

 

Dr. Danie Craven se standbeeldDie Wêreldbeker, Super-rugby, die Drienasiereeks, die Curriebeker en die Vodacombeker... vir die Suid-Afrikaanse rugbyverslaafde kan jy weinig omtrent enige van hierdie belangrike kompetisies vertel. Tog is daar stellig talle belangstellendes wat nie presies weet hoe elk van hierdie rugbyreekse nou eintlik beslis word nie. Hier is alles in ’n neutedop...

 

REGS: Die standbeeld by Coetzenburg op Stellenbosch van wyle die rugbyadministrateur dr. Danie Craven (1910-1993), wat in sy lewe so ’n monumentale rol gespeel het om dié sport te bevorder dat hy selfs Mnr. Rugby genoem is. ’n Beduidende deel van wat Suid-Afrika oor ’n lang tyd op die plaaslike en internasionale rugbytoneel vermag het (al was dit in die tyd van rasseskeiding) is aan “Dok Craven” te danke, en sy nalatenskap is steeds wel deeglik met ons. Die Cravenweek-kompetisie vir skolerugby is na hom genoem, asook die Danie Craven-stadion en die Danie Craven-rugbymuseum op Stellenbosch.
 

Foto: Daniël Jacobs
  

Artikel vir Mieliestronk.com geskryf deur

LW Olwagen van Plettenbergbaai,

gerekende skrywer van geestelike boeke wat hier ook iets van sy rugbykennis tot Mieliestronk se databank toevoeg

 

O

M net te skryf dat rugby een van Suid-Afrika se gewildste sportsoorte is, is heeltemal te min gesê. Vir ’n baie groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse sportpubliek is die spel immers ’n deel van hul leefwyse. Wanneer jou gunstelingspan verloor, voel dit vir jou of jy slegte nuus ontvang het wat jou persoonlik raak. Wanneer jou span wen, is dit asof jy self presteer het.

 

Suid-Afrika het in 1891 sy eerste internasionale wedstryd teen ʼn toerspan van Brittanje gespeel, maar die nasionale span het eers in 1906, vir die eerste keer, as die Springbokke bekend geword toe ʼn Suid-Afrikaanse span, met die befaamde Paul Roos as kaptein, in Brittanje getoer het.

 

In die vier toetswedstryde op toer het hulle Ierland en Wallis geklop, teen Engeland gelykop gespeel en teen Skotland verloor. Dit is hierdie span wat die grondslag gelê het vir die beroemdheid wat die Springbok-wapen en die groen en goue kleure tot vandag toe omgeef.

 

Die land het naamlik deur die jare heen ’n trotse rekord opgebou as oorwinnaars oor ander rugbylande en dit het hul ondersteuners in so ’n mate bederf dat hulle niks anders as ’n oorwinning van hul nasionale span verwag nie.

 

Die opskiet van die muntstuk voor ’n toets teen Engeland tydens die Springbokke se geskiedkundige eerste toer na die Britse Eilande in 1906

BO: Die opskiet van die muntstuk voor ’n toets teen Engeland tydens die Springbokke se geskied­kundige eerste toer na die Britse Eilande in 1906. Links voor is die Engelse kaptein, V. Cartwright. Regs in die jas staan die Bokke se kaptein, Paul Roos. Hierdie toets is in ruwe reënweer gespeel en het gelykop geëindig met een drie elk. (’n Drie het toe nog werklik drie punte getel en nie vyf soos vandag nie.)

Foto: Histories en vry van kopiereg (“Public Domain, Old”)

 

Maar hoe lyk rugby vandag in Suid-Afrika? Sport het, soos geen ander Suid-Afrikaanse instelling nie, gewys dat dit die krag het om ou wonde te genees. Hiervan word ook insiggewend vertel op die webwerf SouthAfrica.info, waar sekere van die inligting in ’n aantal van die paragrawe hieronder verkry is.

 

In die ou Suid-Afrika met sy apartheid – só skryf SouthAfrica.info – is rugby as die witmansport en selfs dié van die Afrikaner beskou omdat dit die laasgenoemde se gunsteling-wintersport was, terwyl die meeste ander bevolkingsgroepe sokker gespeel het. Apartheid het ook die nasionale span grootliks ontoeganklik gemaak vir gemeenskappe van kleur.

 

Maar toe die Springbokke in 1995 die Rugby-Wêreldbeker op eie bodem gewen het, het Nelson Mandela op die veld verskyn, geklee in ʼn nommer-6 trui soos die span se kaptein, Francois Pienaar, ʼn wit Afrikaner – en die twee het mekaar omhels in ʼn spontane gebaar van rasseversoening wat harte regoor die land week gemaak het.  ʼn Enkele oomblik, en 400 jaar van bitterheid het skielik so kleinlik gelyk.

 

Francois Pienaar, Nelson Mandela en dié Beker

 

BO: Francois Pienaar, Nelson Mandela en dié Beker.

Samestelling deur MSKARG. Foto van Pienaar: © World Rugby Awards (Fair use assumed, being a small postage size crop-out of the original).  Foto van Mandela: U.S. White House (www.house.gov)

Daar was vier groot hoogtepunte sedert Suid-Afrika se terugkeer uit internasionale isolasie. Die eerste was in 1995 toe die land rugby se grootste toernooi, die Wêreldbeker, gehuisves het.

 

Die Springbokke het tot die eindstryd op Ellispark deurgedring waar hulle, aangemoedig deur ʼn fanatieke skare en die hele Suid-Afrika se steun, die All Blacks met 15-12 in ekstra tyd verslaan het om die sport se mees gesogte trofee omhoog te hou.

 

Die Bokke se vertoning met ʼn openingsoorwinning oor die verdedigende kampioen, Australië, en ʼn finale oorwinning oor die gunsteling, Nieu-Seeland, het die land verenig en mense van alle kleure saamgesnoer, slegs ʼn jaar ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing.

 

Die tweede hoogtepunt was in 1998, toe Suid-Afrika Nieu-Seeland se houvas verbreek het op die Drienasiereeks, ʼn kompetisie tussen die “drie grotes” van die Suidelike Halfrond, met Australië as die derde deelgenoot.

 

Die Kiwi’s het die eerste twee kompetisies gewen sonder om ʼn wedstryd te verloor, maar Gary Teichmann se 1998-span het met moed en durf in al vier hul wedstryde geseëvier om die titel vir die eerste keer te verower.

 

Die derde hoogtepunt was ’n langdurige triomftog waarin die Springbokke op hul 1998-Drienasiestitel voortgebou het. Dit was ʼn reeks van 17 opeenvolgende oorwinnings, om die wêreldrekord te verbeter wat tussen 1965 en 1970 deur Nieu-Seeland opgestel was (met ’n string seges wat destyds heel gepas deur Suid-Afrika beëindig is).

 

In sy 1997/98-opmars het Suid-Afrika Australië, Nieu-Seeland, Frankryk,

Engeland, Skotland, Ierland, Wallis en Italië verslaan – almal, miskien met die uitsondering van Italië, gerekende spanne onder die wêreld se elite.

 

Ná ʼn ruwe tydperk, waartydens Springbokafrigters met ʼn angswekkende spoed gekom en gegaan het, is Jake White in 2003 aangestel. Hy sou voortgaan om die span in meer wedstryde te lei as enige ander vorige Springbokafrigter. Hy was ook aan die roer van sake toe die vierde groot hoogtepunt bereik is.

 

Percy MontgomeryLINKS: Heelagter Percy Montgomery (gebore 1974) – hy was die grootste puntemaker in die Wêreldbeker-kompetisie van 2007 toe hy ’n sleutelrol gespeel het in die Springbokke se tweede geslaagde opmars na die wêreldkroon en die verowering van die William Webb Ellis-trofee.

 

Foto (deur ons gewysig) deur Adrian (netclectic) van Skotland, wat dit op hierdie bladsy by flickr op die wêreldwye web gepubliseer en dit gelisensieer het ingevolge die Creative Commons Attribution-Share Alike 2.0-lisensie, wat kopiëring en wysigings vergun mits aan sekere vereistes voldoen word

 

In Oktober 2007 het Suid-Afrika Engeland met 15-6 in die eindstryd van die Wêreldbekerkompetisie in Parys geklop, nadat die Bokke in die hele toernooi onoorwonne was. Met dié oorwinning het hulle hulle by die Australiërs aangesluit as die enigste spanne wat die William Webb Ellis-Trofee twee maal verower het.

  

Kort daarna is Jake White aangewys as die Internasionale Rugbyraad (IRR) se Afrigter van die Jaar en die kookwater-Bokvleuel Bryan Habana as die IRR se Speler van die Jaar. Die Springbokke is as die IRR se Span van die Jaar vereer. En in Februarie 2008 is hulle deur die beoordelaars van die prestigeryke Laureus World Sports Awards tot Wêreldsportspan van die Jaar benoem.

 

Peter de Villiers (gebore 1957) het Jake White as Springbokafrigter opgevolg, en hy het in 2009 aan die spits gestaan van nog ’n jubeljaar in Suid-Afrikaanse rugby. Die Bokke het die toerende Britse en Ierse Leeus geklop en ook in die Drienasies met die kroon weggestap. (Boonop het die Bulls as ’n Suid-Afrikaanse span die Super 14-reeks gewen.)

 

Die jaar 2009 het wel op ’n laagtepunt vir die Springbokke geëindig wat maar rampspoedig gevaar het op hul Europese toer. Kenners het hul powere laaste vertonings aan oormoegheid toegeskryf. Die pyn is weliswaar versag toe die Bokke daarna nogmaals as die IRR se Span van die Jaar aangewys is.

 

Maar die feit dat ons kookwater-skrumskakel Fourie du Preez nie tot Speler van die Jaar benoem is nie (Nieu-Seeland se Richie McCaw het die eer te beurt geval) het die wenkbroue erg laat lig oor waarom Du Preez oor hy die hoof gesien is. Briljanter as wat hy gespeel het, kon niemand anders nie, het baie kenners gemeen.

 

In die Drienasies-reeks in 2010 kon die Bokke weer nie die mas opkom nie—’n groot teleurstelling nadat soveel van hulle verwag is, veral in die lig daarvan dat Suid-Afrikaanse spanne so uitstekend gevaar het in die Super 14.

 

2011 se Wêreldbekerkompetisie is met groot durf en veggees deur die Bokke aangepak. Dit het vir baie kenners selfs gelyk of hulle dit kon regkry of die beker op Suid-Afrikaanse bodem te hou, hoewel daar ’n verpletterende aantal beserings onder die blink sterre was en daar wyd gevoel is dat die kern van die span ietwat te oud was om nog op hul beste wees.

 

En toe kom die groot teleurstelling. Die Bokke is met 11-9 deur Australië in ’n kwarteindwedstryd uitgeskakel—in ’n kragmeting waarin die Suid-Afrikaners kennelik die oorhand gehad het en wat hulle selfs volgens sekere onafhanklike kenners glad nie verdien het om te verloor nie.

 

Baie is agterna gesê oor die Nieu-Seelandse skeidsregter se rol in die debakel, met kritiek wat gewissel het van “sy duidelike bevooroordeeldheid” tot dat die oomblik te groot was vir fluitjieblaser en dat hy “heeltemal uit sy diepte was”. Die Bokke was nog selde so op hul stukke soos daardie dag, en hoe moes hulle dan nog gespeel het om die wedstryd te wen? is gevra.

 

Leeu, haan, silwer varing, springbok en wallaby

BO: Diere (en ’n soort plant) wat met ’n vyftal van die groot spanne in wêreldrugby vereenselwig word. Van links is ’n leeu (die Britse en Ierse Leeus), haan (die Hane, die Franse nasionale rugbyspan), silwer varing (wat verskyn op die logo van die All Blacks van Nieu-Seeland), springbok (die Springbokke, die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan) en wallaby (die Wallabies, die nasionale rugbyspan van Australië).

Krediet: Alle foto’s hierbo is openbare besit (“All images above are in the public domain”)

 

¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯¯

Rugbykompetisies waarin
Suid-Afrikaanse spanne speel

•   Die Rugby-Wêreldbekertoernooi

Webb Ellis-trofeeWilliam Webb EllisREGS: Die mees gesogte rug­by­prys op aar­de, die Webb El­lis-tro­fee, waar­voor die rug­by­na­sies se top-spanne bereid is om soveel bloed te sweet by die Rugby-Wê­reld­beker­toer­nooi. Die tro­fee is genoem na Wil­liam Webb Ellis (1806–1872), die skool­seun van die dorp Rugby in die Engelse graaf­skap War­wick­shire wat vol­gens oor­lewering die spel rugby “uitgevind” het. LINKS BO is ’n skets van hoe Webb Ellis as volwassene gelyk het nadat hy ’n predikant geword het. Die legende lui dat die jong William op ’n dag sokker gespeel het en—totaal strydig met die reëls—met die bal in sy hande na die opponente se doellyn gehardloop het pleks van om dit te skop. Daar is egter weinig rede om te glo dat die konsuis impulsiewe Webb Ellis werklik die “pa” van rugby was. Verskillende soorte voetbal is immers reeds in die Middeleeue gespeel waarin daar met die bal gehardloop kon word.

DIE Wêreldbekertoernooi is ’n internasionale kompetisie wat elke vier jaar plaasvind en waarin die wêreld se kampioenspan in rugby bepaal word. Die volgende kragmetings om die wêreldkroon sal in 2015 en 2019 plaasvind, met onderskeidelik Engeland en Japan as die gashere. Vorige toernooie het as volg verloop:

Jaar

Gasheerland(e)

Wenspan

Teenstander

Eindtelling

2011

Nieu-Seeland

Nieu-Seeland

Frankryk

 8-7

2007

Frankryk

Suid-Afrika

Engeland

15-6

2003

Australië

Engeland

Australië

20-17

1999

Wallis

Australië

Frankryk

35-12

1995

Suid-Afrika

Suid-Afrika

Nieu-Seeland

15-12

1991

Engeland

Australië

Engeland

12-6

1987

Australië en Nieu-Seeland

Nieu-Seeland

Frankryk

29-9


•   Super-rugby

SUPER-RUGBY is die grootste rugbyklubkampioenskap in die Suidelike Halfrond, met deelnemende spanne uit Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland.

 

Dit het in 1996 begin en is aanvanklik die Super 12 genoem, omdat daar destyds ’n dosyn mededingende spanne  was. Later is nog twee spanne tot die kompetisie toegevoeg en is die toernooi herdoop tot die Super 14.  Van 2011 af, met die toevoeging van ’n vyftiende span, staan dit slegs bekend as Super-rugby—hoewel die naam Super 15 nie-amptelik nog baie gebruik word en seker nie gou uit die volksmond sal verdwyn nie.

 

Wedstryde word nou in 41 lande uitgesaai.

 

Die deelnemende spanne is:

 

A)  Vyf staatspanne van Australië:

 

1.   Reds (gevestig in Queensland, Australië)

Die Reds verteenwoordig Queensland in die kompetisie. Hul tuisveld is in Brisbane en hulle speel hul tuiswedstryde op Suncorp Park.

 

Tuisvelde van Australië se Super 14-spanneKaart gegrond op ’n landkaart uit die Amerikaanse CIA se World Factbook (openbare besit—“in the public domain”)

 

2. Waratahs (gevestig in Nieu-Suid-Wallis, Australië)

Die New South Wales Waratahs verteenwoordig die grootste deel van Nieu-Suid-Wallis (NSW), maar nie die Riverina-streek of ander suidelike dele van die staat nie. Dié word verteenwoordig deur die Brumbies, wat in Canberra gevestig is. Die naam en embleem kom van die waratah, die staatsblom van NSW. Hul tuisveld is die Sydney Football Stadium by Moore Park in Sydney.

 

3. Brumbies (gevestig in Canberra, Australië)

Die Brumbies (eers bekend as die ACT Brumbies) verteenwoordig die Australiese Hoofstad-Terroritorium (Engels: Australian Capital Territory of ACT) en die suidelike NSW-streke. Die naam Brumbies kom van die wilde perde wat in Canberra se hinterland voorkom. Hul tuisveld is die Canberra-stadion in Canberra.  

 

4. Western Force (van Wes-Australië)

Western Force is in Perth, Wes-Australië, gevestig. Die span het in die 2006-seisoen in die Super 14-kompetisie begin meeding, maar het toe laaste geëindig. Sedert 2007 het hul vertonings egter grootliks verbeter. Hul tuisveld is die Subiaco Oval in Perth.

 

5. Melbourne Rebels (van Victoria)

Melbourne is die vyftiende span wat tot die Super-toernooi  toegelaat word, nadat dit Suid-Afrika se Southern Kings (wat by ons rugby in die Oos-Kaap sou moes bevorder) die loef afgesteek het in die keuse van ’n bykomende Super-rugby-span.  Die lisensie is aan Victoria, Australië, toegestaan, en die span staan bekend as die Melbourne Rebels. (Dit is insiggewend dat die bekende Australiese rugby-afrigter Eddie Jones al gesê die Rebels moes nie tot Super-rugby toegevoeg gewees nie. “Hulle is daarin omrede TV-regte,” het hy gesê.)

 

B)  Vyf Nieu-Seelandse franchises, waarvan elk
uit ʼn aantal provinsies bestaan:

 

1. Blues (gevestig in Auckland)

Die Blues, voorheen die Auckland Blues, verteenwoordig die unies Northland, North Harbour en Auckland. Die Blues se tuisveld is Eden Park in Auckland.


Tuisbasisse van Nieu-Seeland se Super 24-spanneKaart gegrond op ’n landkaart uit die Amerikaanse CIA se World Factbook (openbare besit—“in the public domain”)

 

2. Chiefs (gevestig in Hamilton)

Die Chiefs (aanvanklik bekend as die Waikato Chiefs) se tuisveld is die Waikato-stadion in Waikato.

 

3. Hurricanes (wat hul tuisbasis in Wellington het)

Die Hurricanes (aanvanklik bekend as die Wellington Hurricanes) se tuisveld is Westpac Stadium in Wellington, regdeur Nieu-Seeland bekend as die Cake Tin weens sy vorm.

 

 4. Crusaders (met hul tuisbasis in Christchurch)

Die Crusaders (aanvanklik bekend as die Canterbury Crusaders) verteenwoordig die provinsiale rugbyunies Buller, Canterbury, Mid-Canterbury, South Canterbury, Tasman en West Coast. Hul hoofveld is AMI-stadion, vroeër bekend as Jade-stadion en Lancaster Park.

 

5. Highlanders (met hul tuisbasis in Dunedin)

Die Highlanders (aanvanklik bekend as die Otago Highlanders) verteenwoordig die rugbyunies Otago, North Otago, en Southland. Die Highlanders kry hul naam van die Skotse immigrante wat die streke Otago, North Otago en Southland in die 1840’s en 1850’s gevestig het. Hulle hoofveld is Carisbrook in Dunedin, met ander tuiswedstryde wat in Invercargill en Queenstown gespeel word.

 

C)  Vyf spanne van Suid-Afrika:

 

1. Cheetahs

Die Cheetahs, vir borgdoeleindes bekend as die Vodacom Cheetahs, se franchise-gebied omvat dié van die Curriebeker-unies Vrystaat, Griffons en Griekwas. In terme van provinsies kan die Cheetahs spelers werf uit die Vrystaat Cheetahs, Noord-Vrystaat en Noord-Kaap (Griekwas). Hulle speel tuiswedstryde op Vodacom Park in Bloemfontein en Vodacom Park in Kimberley.

 

Die Cheetahs was een van die twee nuwe franchises wat in 2006 tot die Super 14-kompetisie toegetree het, die ander een was Australië se Western Force. Voor die Super 14 se 2006-seisoen is die Cheetahs-gebied in die Cats-franchise verteenwoordig.

 

2. Stormers

Die Stormers, vir borgdoeleindes bekend as die Vodacom Stormers, is in Kaapstad gevestig en sentreer rondom die Westelike Provinsie-unie, maar werf ook spelers uit die Boland Kavaliers. Hulle speel tuiswedstryde op Nuweland, Kaapstad, en Boland Park, Wellington.

 

 3. Sharks (Kwazulu/Natal)

Die Sharks is in Durban gevestig en sentreer rondom die Natal Shark-unie, wat ook in Durban gevestig is, en hulle werf spelers vanuit die hele KwaZulu-Natal. Hulle tuisveld is die King’s Park-stadion, vir borgdoeleindes ook bekend as die ABSA-stadion, in Durban.

 

4. Lions

Die Lions is in Johannesburg gevestig en is gesentreer rondom die Goue Leeus-unie. Hulle gebruik ook spelers van die Luiperds (Noordwes) en Pumas (Mpumalanga). Hul tuisveld is op Ellispark in Johannesburg.

 

5. Bulls

Die Bulls, vir borgdoeleindes ook bekend as die Vodacom Bulls, is in Pretoria gevestig en sentreer rondom die Blou Bulle-unie. Hulle gebruik ook spelers van die Valke. Die Bulls se tuisveld is Loftus Versfeld in Pretoria.

 

 

Superrugby-kampioene:

Super 14

2011: Reds (Aus)

2010: Bulls (SA) 

2009: Bulls (SA)

2008: Crusaders (NS) 

2007: Bulls (SA)

2006: Crusaders (NS)

Super 12

2005: Crusaders (NS)

2004: Brumbies (Aus)

2003: Blues (NS)

2002: Crusaders (NS)

2001: Brumbies (Aus)

2000: Crusaders (NS)

1999: Crusaders (NS)

1998: Crusaders (NS)

1997: Blues (NS)

1996: Blues (NS)

Voor 1996 het die lande se beste provinsies teen mekaar gespeel:

1995: Queensland (Aus)

1994: Queensland (Aus)

1993: Transvaal (SA)

 

 

Super-rugby word georganiseer deur SANZAR, ‘n konsortium wat in 1996 gestig is deur die rugbybeheerliggame van Australië (ARU), Nieu-Seeland (NZRFU) en Suid-Afrika (SARFU). Dit is geskep nadat rugby in 1995 die beroepsarena betree het.

 

SANZAR organiseer ook die Drienasiestoetsreeks, waarvan in die volgende afdeling meer vertel word.

 


 

•   Drienasies

DIE Drienasies is ʼn jaarlikse internasionale rugbytoetsreeks waarin Australië se Wallabies, Nieu-Seeland se All Blacks en Suid-Afrika se Drienasies-trofeeSpringbokke mekaar die stryd aansê. Die reeks word op ʼn weg- en tuisgrondslag gespeel.

 

Oorspronklik het die drie nasies elk twee keer teen mekaar kragte gemeet, maar dit is in die begin van 2006 tot drie keer elk verander.

 

Die eerste toernooi het in 1996 plaasgevind en is deur Nieu-Seeland gewen, wat in die meeste jare daarna ook die wenspan was. Australië het in 2000 en 2001 met die Drienasies-trofee weggestap en Suid-Afrika in 1998, in 2004 en toe weer in 2009. In 2010 was Nieu-Seeland weer die wenner en in 2011 Australië.

 

 


 

•   Curriebeker

 DIE stryd om die Curriebeker is die vernaamste provinsiale rugbykompetisie in Suid-Afrika. Daar is reeds in 1892 die eerste keer om hierdie beker meegeding, destyds met die Westelike Provinsie, Oostelike Provinsie, Griekwaland-Wes en Transvaal as die deelnemende bonde. As sodanig is dit een van die oudste rugbykompetisies op aarde.

 

CurriebekerREGS: Die Curriebeker.

 

Baie van die stoerste ondersteuners van die Curriebeker-stryd weet egter vandag nie meer waar die naam “Currie” dan nou eintlik vandaan kom nie. Hulle kan dan verras wees om te hoor dat dit die naam van ’n Britse skeepsbaas was.

 

Toe die eerste Britse rugbyspan in 1891 in Suid-Afrika getoer het, het die Britte, wat per skip hier aangekom het, ’n belangrike goue trofee met hulle saamgebring. Dit is aan hulle gee deur sir Donald Currie, eienaar van die skeepsredery Union-Castle, wat die toerspan hierheen gebring het. Sir Donald se opdrag aan die Britse span was om die trofee in Suid-Afrika te oorhandig aan die beste span teen wie hulle tydens hul toer sou speel. Hierdie span was toe Griekwaland-Wes.

 

Griekwaland-Wes het Currie se goue beker daarna aan ons rugbybase oorhandig, en die edelman se geskenk het gou die mees gesogte trofee in Suid-Afrikaaanse rugby geword – en dit gebly, tot vandag toe. Die eerste plaaslike stryd om die Curriebeker is in 1892 deur die Westelike Provinsie gewen.

 

Sir Donald CurrieLINKS: Sir Donald Currie.

 

Tot en met 2009 was die Westelike Provinsie boonop die mees suksesvolle provinsie in die geskiedenis van die beker met 32 titels agter sy naam (vier gedeel). Die WP word gevolg deur die Blou Bulle met 23 (vier gedeel).

 

Die Curriebeker-kompetisie vind min of meer tussen Julie en Oktober plaas. In sy huidige formaat word die 14 deelnemende spanne in twee afdelings ingedeel, te wete in agt Premierliga- en ses Eersteliga-spanne.

 

Die spanne, in alfabetiese volgorde, is: Blou Bulle, Boland Kavaliers, Grens Bulldogs, Arende, Valke, Vrystaat Cheetahs, Goue Leeus, Griffons, Griekwas, Luiperds, Mighty Elephants, Natal Sharks, Pumas en Westelike Provinsie.

 

 

Curriebeker-kampioene (sedert 1994):

2011: 

2010: Natal Sharks

2009: Blou Bulle

2008: Natal Sharks

2007: Vrystaat Cheetahs

2006: Blou Bulle / Vrystaat Cheetahs

2005: Vrystaat Cheetahs

2004: Blou Bulle

2003: Blou Bulle

2002: Blou Bulle

2001: Westelike Provinsie

2000: Westelike Provinsie

1999: Goue Leeus

1998: Blou Bulle

1997: Westelike Provinsie

1996: Natal Sharks

1995: Natal Sharks

1994: Transvaal

  

 
•   Vodacombeker

 DIE stryd om die Vodacombeker het ʼn belangrike kompetisie op die Suid-Afrikaanse rugbykalender geword. Dit vind dieselfde tyd as die Super 14-kompetisie plaas en skep gevolglik ʼn platform vir talentvolle jong spelers wat andersins dalk nie ʼn kans sou gekry het om hul slag te wys nie. Dit vorm ʼn vrugbare teelaarde vir sterk spelers uit die voorheen agtergeblewe gemeenskappe.

 

Die stryd om die Vodacombeker word in twee afdelings verdeel – Noord en Suid – met die twee top-spanne uit elk wat sake in die semi-finale uitspook.

 

Die Noorde bestaan uit die Goue Leeus, Griffons, Luiperds, Pumas, Valke,

Blou Bulle en Griekwas. Die Suide se spanne is die Olifante, Boland

Kavaliers, Grens Bulldogs, Vrystaat Cheetahs, Arende, Westelike Provinsie en KZN Wildebeeste.

 

Van die 2010-seisoen af is daar ook twee spanne uit van die buiteland wat aan die kompetisie deelneem. Hulle is die Pampas XV van Argentinië (wat in die afdeling Suid speel) en die Welwitschias van Namibië (afdeling Noord).

 

 

Vodacombeker-kampioene:

2011: Pampas XV

2010: Blou Bulle

2009: Griekwas

2008: Blou Bulle

2007: Griekwas

2006: Valke

2005: Griekwas

2004: Goue Leeus

2003: Goue Leeus

2002: Goue Leeus

2001: Blou Bulle

2000: Vrystaat Cheetahs

1999: Goue Leeus

1998: Griekwas

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad