Laat wiel met rubber!
 
Gomlastiek en waar dit vandaan kom



AL OOIT die wit ''melk'' gesien binne-in die stingels van die sydissels of dalk ook perdeblomme wat in jou tuin groei? Dis mos daardie wydverspreide soorte onkruid met die geel blomme en vlokkige saadjies—die sade wat soos mini-valskermpies van die plante wegsweef om elders wortel te skiet.

Wel, nog van die sydissels en perdeblomme se soort melk kry ons ook in veldplante soos ons inheemse noorsdorings, melkbosse en giftige vingerpolle. Om natuurlik nie eens te praat van die ryklike voorraad wat ’n mens in vyebome sal aantref nie.

Maar daar hou dit nog lank nie op nie. Wat meer sê, daar is ’n swetterjoel—sowat 2 000—plantsoorte wat só ’n melk afskei, wat lateks genoem word. Eienaardig, maar dit lyk of niemand egter seker is presies waarom dit gebeur nie.

Die beste raaiskoot is dat dit ’n afvalproduk is wat plante opgaar pleks van om daarvan ontslae te raak. Dit kan vanselfsprekend ook wees dat die melk die plante so onsmaaklik maak dat dit vyande weghou.

Maar al sou die melk straks van geen besondere nut vir ten minste sekere lateks-plante wees nie, sal die mensdom nie maklik sonder lateks kan klaarkom nie.

Want as lateks stol, kry ons rubber. As dit reg bewerk word, kry ons baie sterker rubber. En is dit dan nie hierdie kosbare gomlastiek wat die wiele van die wêreld se motors alte gerieflik laat draai nie?


HOEWEL rubber weliswaar vandag op groot skaal kunsmatig vervaardig word, bly natuurlike rubber steeds sterk in aanvraag. Die reuse-bande van groot straalvliegtuie moet byvoorbeeld grootliks van die natuurlike produk gemaak word, omdat dit meer hittebestand as die sintetiese is.

Hoewel soveel plante lateks bevat, kom feitlik al die wêreld se natuurlike rubber van die Para-rubberboom (Hevea brasiliensis). Dit is inheems aan Brasilië, maar is in die negentiende eeu na Asië gebring, waar dit op groot skaal in Thailand, Indonesië, Maleisië en Sri Lanka gekweek word.

Die wit melk word verkry deur snitte in die bas van die Para-rubberboom te maak en die ''bloeiende'' boom se uitskeiding in ’n bakkie op te vang
(FOTO). Terloops, dié boom moet nie verwar word met die ander melkdraende rubberboom Ficus elastica, wat by ons dikwels as ’n tuin- of potplant gekweek word nie. Dié is eintlik ’n soort vy!

Nog ’n dwaling is dat lateks die sap van die Para-rubberboom is. Die sap vloei inderdaad veel dieper binne-in die boom, terwyl die melk vlak lê. Dit verg vernuf van die ''boom-melker'' om sy snitte so te maak dat hy nie die kambium (die selvormende groeiweefsel tussen die hout en bas) beskadig nie. As te veel van die kambium seerkry, hou die boom op groei en maak hy ook nie meer melk nie.


W
AAR het die mensdom rubber begin gebruik? Daar is geleerdes wat reken dat die antieke Maja in Suid-Amerika so vroeg as 1600 v.C. lateks aangewend het om rubberballe en hol mensefigure te maak, asook om byvoorbeeld byle aan hul stele vas te heg.

Maar dit sou eers in die 1800’s wees dat ’n Amerikaner, ’n sekere Charles Goodyear
(BORSBEELD), die moderne vorm van rubber ontdek het. Voor 1839 was rubber onderhewig aan die gesteldheid van die weer. As die lug warm en klewerig was, was die rubber ook so. Wanneer dit koud was, het dit hard en bros geraak.

Goodyear se resep, ’n proses wat vulkanisering genoem word, is ontdek toe hy ’n mengsel van rubber en swawel per ongeluk op ’n warm stoof laat val het. Die resultaat was ’n stof wat nie deur die weer beïnvloed word nie en tot sy oorspronklike vorm terugspring nadat dit gerek is. Op die koop toe is dit waterbestand en gelei dit nie elektrisiteit nie. 
Tog is Goodyear—wat terloops nie die stigter was van die nywerheidsreus wat sy naam dra nie—in 1860 in volslae armoede in New York oorlede. Hy het die manier uitgevind om rubber ten volle te benut, maar sy probleem was aanvanklik dat niemand hom wou glo nie. Daarna het hy hom in soveel onverkwiklikhede vasgeloop om sy patent te probeer beskerm dat hy ’n enorme skuld laat ophoop het.

Dit was ook nie eens sy idee om motorwielbande van rubber te maak nie. Hierdie eer kom ander toe, terwyl dit ’n Skotse veearts, John Boyd Dunlop, was die eerste lugband gemaak het.

Dunlop
(FOTO) het, só word vertel, in Noord-Ierland gewerk toe sy negejarige seun hom een môre in 1888 van sy probleem vertel het. Die seun, wat met sy driewiel deur die hobbelrige klipstrate van Belfast gery het, het gekla dat die geskud sy sitvlak seermaak.

Motorwielbande was destyds van soliede rubber. Hulle was weliswaar beter as die ou bande van hout, leer of yster, maar het steeds nie vir die beste vering gesorg nie.

Dunlop het egter so ietwat oor sy seun se verknorsing nagedink, ’n stuk tuinslang in drie dele opgesny, die dele met water gevul, die ente toegeprop en hulle aan die driewiel se wiele geheg. Die seun kon nou heelwat geriefliker ry.

’n Besoekende vriend het aan Dunlop voorgestel dat hy lug pleks van water gebruik—en dié idee het hom so geslaag bewys dat hy dit in dieselfde jaar in Brittanje gepatenteer het.

En só is die lugband gebore—danksy ’n neulerige knaap se seer sitvlak!

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad