+

Rooi Kruis
Die wenverhaal van barmhartigheid

 
Samaritane van hierdie humanitêre organisasie is gedurig besig om êrens op aarde nood en lyding te verlig.
Hulle help gewonde soldate, krygsgevangenes en burgers in tye van oorlog of onrus, soos tans in Irak. Hulle jaag na tonele van natuur- en ander rampe om slagoffers by te staan, soos onlangs weer met die tsoenami. Waar hongersnood heers, deel hulle kospakke uit. Op maatskaplike gebied is hulle ewe bedrywig. En dit het alles begin by een man wat byna 150 jaar besluit het dat daar heeltemal te min mensliewendheid in ons gebroke wêreld is. Maar dit het iets verskrikliks gekos om hom tot hierdie besef te laat kom…

  


GROOT ILLUSTRASIE ONDER: 'n Gesneuwelde en 'n gewonde soldaat op die slagveld by Solferino, Noord-Italië, in Junie 1895. Dit was die hel van die duisende gewondes in hierdie slag wat die Switserse filantroop Jean Henri Dunant (INLAS, LINKS ONDER) laat besluit het dat iets gedoen moes word om die lyding in sulke gevalle te verlig—wat tot die stigting van die Rooi Kruis gelei het. Op die foto REGS ONDER kan gesien word hoe Solferino vandag lyk.
  

..................... Die Slag by Solferino
   

J

EAN HENRI DUNANT is tot in sy siel geskok. Dié sakeman van die Switserse stad Genève is in Junie 1859 op reis deur Italië toe hy op ’n dag van ’n massiewe bloedbad te hore kom en besluit om self te gaan kyk hoe die plek lyk waar dit plaasgevind het. Daar aangekom, is hy die verbysterde getuie van ’n onbeskryflike toneel.

 

Die Italiaanse Bevrydingsoorlog het ’n verskriklik bloedige tol geëis. Sowat 400 000 soldate—Italiane, Sardiniërs en Franse aan die een kant en Oostenrykers aan die ander—het mekaar die stryd aangesê in die Slag by Solferino in Noord-Italië. Die verbete geveg het vyftien moordende ure geduur. En nou lê sowat ’n tiende of 40 000 van die krygers dood of gewond op die slagveld. 

 

Vir die gesneuweldes kan Dunant niks meer doen nie. Maar die ontsettende lyding van die gewondes aan altwee kante—koorsig, hulpeloos en verlate in die veld—laat hom spontaan ingryp.

 

Dunant troos waar hy kan, verbind die gewondes en gee ’n sluk water aan sterwendes net voordat hulle die laaste asem uitblaas. Hy gaan haal ook vroue-helpers op die nabygeleë dorp Castiglione en gelas dat hulle die gewondes van die vyand net soos hul eie gewondes moet behandel.

 

Die ongekunstelde vroue verstaan sy boodskap van mensliewendheid met aangrypende insig. Ja, goed, signore Dunant, hulle sal doen wat hy vra. "Siamo tutti fratelli, " antwoord hulle meelewend. Dit beteken: "Ons is almal broers."

 

DIE hel van Solferino sou sy eie gruwelike hoofstuk in die wêreldgeskiedenis inbrand—maar daardeur is oë van ’n onbetrokke wêreld ook vir die nood van oorlogsgewondes geopen. Want uit die saad van intense medelye wat Dunant op daardie dag gesaai het, het uiteindelik ’n humanitêre organisasie gegroei waarvan die naam en embleem tot vandag toe in alle beskaafde lande eerbiedig word: die Internasionale Rooi Kruis.

 

Dunant kon maar nie die lyding van die hulpeloses vergeet nie. Nadat hy na Genève teruggekeer het, het hy gaan sit en sy ervarings op geskrif gestel. Hy het sy boek Un souvenir de Solfèrino genoem—’n Herinnering aan Solferino—en kopieë daarvan aan al die regerings in Europa gestuur.

 

Die boek het bitter hard op die gewete van die beskaafde wêreld gedruk en die meeste regerings het Dunant se boodskap deeglik ter harte geneem. Sestien lande het dan ook altesaam 26 afgevaardigdes gestuur na 'n konferensie wat in 1863 in Dunant se tuisstad, Genève, gehou is.

 

Op die konferensie is aanbeveel dat vywillige verenigings in elke land gestig word om na oorlogsgewondes om te sien.

 

In 1864 het regeringsverteenwoordigers in Genève regsgeldigheid aan die organisasie verleen deur hulle te verbind tot ’n internasionale verdrag vir die beskerming en versorging van gewonde soldate. Ter ere van Switserland, die land waarin die konferensie gehou is, is die embleem van die organisasie aanvaar: ’n rooi kruis op ’n wit agtergrond (LINKS BO), die omgekeerde van die Switserse vlag (LINKS ONDER).

 

Dunant, wat in 1828 gebore is, is in 1901 uit erkentlikheid vir sy humanitêre ywer met die Nobelprys vir vrede vereer. Hy is in 1910 oorlede.

 

Die verenigings van die Rooi Kruis het mettertyd hul bedrywighede uitgebrei om ook vredestydse dienste in te sluit.

 

En in Islamitiese lande is die rooi kruis-embleem sedert 1949 meestal vervang deur ’n rooi halfmaan en, in Iran, ’n rooi leeu met ’n rooi son daaragter. Trouens, die Rooi Kruis heet die Rooi Halfmaan in die meeste Moslem-lande.

 

Rooi Kruis-museumREGS: Die Rooi Kruis-museum in Genève. Die organisasie se internasionale hoofkantoor is ook in dié Switserse stad.

 

Allerhande verdrae is oor die jare met betrekking tot die Rooi Kruis gesluit, maar hulle is in 1949 in vier nuwe verdrae saamgevat. Dié word elke vier jaar op die intemasionale konferensie van die Rooi Kruis hersien. Die intemasionale komitee, wat uit hoogstens 25 lede bestaan, is almal Switsers wat in Genève gesetel is. Die liga van Rooi Kruis-verenigings is die intemasionale federasie van die organisasie en ’n permanente skakel tussen nasionale Rooi Kruis-verenigings.

 

Grondbeginsels

 

DIE Rooi Kruis put sy krag uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in die Bybel. Dit is liefde wat in dade tot uiting kom oral waar mense hulpeloos of swak is, of bedreig, beseer, gevange gehou of veronreg word.

 

Die Rooi Kruis se werk is gegrond op agting vir menswaardigheid, en berus op vyf grondbeginsels: die werk moet neutraal en onpartydig, in die diepste sin van die woord mensliewend wees, en ook vrywillig en onafhanklik verrig word. Waar één van hierdie grondbeginsels ontbreek, kan daar nie meer sprake van Rooi Kruis-werk in die ware sin van die woord wees nie.

 

Dit is besonder belangrik dat oorlogsgewondes of gevangenes wat die wapen neerlê, nie meer as vyande beskou word nie; voorts, dat by die behandeling van gewondes en gevangenes geen onderskeid gemaak word op grond van nasionaliteit, godsdienstige oortuiging of ras nie.

 

HIERDIE grondbeginsels is in 1866 vir die eerste maal in die Pruisies-Oostenrykse oorlog toegepas, en in die Eerste Wêreldoorlog kon die organisasie sy onontbeerlike nut bewys as daar nog ooit iemand was wat daaraan getwyfel het.

 

Rooi Kruis-verpleegstersREGS: Rooi Kruis-verpleegsters.

 

Die grootste adressentrale ter wêreld het in die Eerste Wêreldoorlog in Genève ontstaan, met sewe miljoen kaarte waarop die naam, rang en kamp van krygsgevangenes aangedui is. Slegs op hierdie manier was dit moontlik om hul naasbestaandes te laat weet waar hulle is, pakkies aan hulle te besorg, en hulle later by te staan wanneer hulle huis toe sou gaan.

 

In dieselfde oorlog het honderde Rooi Kruis-treine met swaar gewondes snags oor die grense beweeg om gevangenes te ruil. Treine het ook uit die noorde na die suide beweeg om ondervoede kinders uit Duitsland na Switserland te bring, en uit Switserland weer noordooswaarts met lewensmiddele vir die hongerlydendes in Wenen.

 

Die Rooi Kruis in Suid-Afrika

 

DIE eerste Suid-Afrikaanse Rooi Kruis-vereniging is in 1896 in die ZAR (Transvaal) gestig, met pres. Paul Kruger as die voorsitter. Die Vrystaatse vereniging is die volgende jaar gestig.

 

Dié verenigings van die Kaapkolonie en Natal was takke van die Britse Rooi Kruis totdat al vier in 1913 in die Suid-Afrikaanse Rooi Kruis verenig is.

 

In die Anglo-Boereoorlog rondom die eeuwisseling van 1900 het ambulanskorpse van verskillende lande in Suid-Afrika saamgewerk. In die Eerste Wêreldoorlog het Suid-Afrika ambulanse en verpleegsters oorsee gestuur en hospitale in Engeland en Frankryk ingerig. In die Tweede Wêreldoorlog het hulle sake rakende Suid-Afrikaanse gevangenes hanteer en verskillende hospitale ingerig.

 

Tans word hulp ook tydens nasionale rampe verleen, terwyl mynwerkers in noodhulp opgelei word.


+

Embleem

 

DIE Rooi Kruis-embleem is ’n heraldiese rooi kruis op 'n wit agtergrond—die omgekeerde van die rooi en wit op die Switserse vlag. Dit is tegelyk ’n huldeblyk aan die stigter en sy geboorteland. In Islamitiese lande, uitgesonderd Iran, neem die Rooi Halfmaan as organisasie en embleem die plek van die Rooi Kruis in. Die eweknie is Iran is die Rooi Leeu en Rooi Son.

Omdat die genoemde ander "Rooi" verenigings dieselfde take as die Rooi Kruis verrig, word hulle erken en staan hulle onder beskerming van die Internasionale Rooi Kruis- en Rooi Halfmaan-Beweging, wat sy hoofkantoor in Genève, Switserland, het.
 


            Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad