Wanneer die koue suidewinde begin waai en die see aan ons kus in “bloed” verander...
Opskrif: Rooigety: Die Gif in die Golwe
Rooigety

Rooigety aan die WeskusREGS: ’n Ruimtefoto van ’n vorige opwelling van rooigety aan die Kaapse Weskus.

Foto regs: NASA/GSFC/LaRC/JPL, MISR Team
Foto regs bo: Earth Observatory / NASA

•   In die herfs van 2007 raak dit toe weer sulke tyd aan die Weskus by die Kaap—die owerheid, in hierdie geval die Department van Omgewingsake en Toerisme, waarsku die publiek om geen skulpvisse uit die see te eet nie. Die rede? Nog ’n toeslag van giftige rooigety. Mense wat nie wil luister nie en aan die skulpkos weglê, kan selfs verlam raak en tot binne twee uur sterf.

•   Ons hoor elke nou en dan van rooigetye, dog baie mense weet steeds nie presies wat dit beteken nie. Maar die mariene wetenskap in Suid-Afrika dek talle interessante terreine en een van die fassinerendste is die studie van die rooigetye aan ons kus.

•   In hierdie artikel lig die kenners ons dus in oor wat aan die gebeur is wanneer die see in “bloed” begin verander... wanneer hordes dooie visse op die strande uitspoel of duisende krewe uit die water vlug...

Rooigety en dooie visseREGS: Rooigetye kom in verskillende wêrelddele in die see voor en word oral gevrees, selfs dié wat nie giftig is nie. Want die vinnige vermeerdering en afsterwing van die alge wat dit veroorsaak, kan uiteindelik ’n geweldige suurstoftekort in die water beteken, wat tot kolossale visvrektes lei.

Foto: WHOI / NOAA

J

Y STAAN op die strand en kyk na die uitgestrekte blou van die see. Skielik, hier duskant, sien jy die geheimsinnige rooi blerts, asof die oseaan op hierdie kol in bloed verander het. En iets kriewel op die sand. Dis ’n ganse magdom krewe.

Hulle vlug uit die see uit, op soek na suurstof, omdat die onheilspellende rooi water besig is om hulle te versmoor.

Rooigety. Elke nou en dan lees of hoor ons daarvan. Dan word mense deur die media gewaarsku om nie skulpvis te eet wat van dié plekke af kom nie. Tog verstaan min mense wat dié rooigetye werklik is—hoe dit ontwikkel en hoe dit mense kan affekteer.

Die term rooigety is boonop misleidend, want dit kleur die water nie altyd net rooi nie. Benewens rooi, kan dit ook bruin, oranje, pers of geel word.

Die verkleuring word veroorsaak deur digte konsentrasies van klein plantjies (alge)—die fitoplankton—in die see.

Een van die soort alge wat rooigety veroorsaak (elektronmikroskopiese foto)REGS: Een van die soorte rooigety-alge, soos waargeneem deur ’n elektronmikroskoop.

Foto: NOAA

Die kleure in die see wissel na gelang van die spesifieke fltoplankton-spesie, die kleurpigmente wat dit bevat, die grootte en konsentrasie daarvan, die tyd van die dag en die hoek waarteen die sonstrale op die water val.

Die meeste rooigetye langs die Suid-Afrikaanse kus word veroorsaak deur ’n groep fitoplankton wat as die dinoflagellate bekend staan. Hierdie eensellige organismes kan kort entjies swem met die hulp van twee sweepagtige aanhangsels wat flagella genoem word.

Hoe ontstaan ’n rooigety?

Rooigety by Hongkong, 1999•   DIT kom gewoonlik in die nasomer of herfs langs die Kaapse Wes- of Suidkus voor. Die suidewinde wat dan waai, voer koue, voedingsoutryke water uit die dieper see na die oppervlak—’n proses wat as opwelling bekend staan.

In hierdie opgewelde water is die dinoflagellaat-siste, die onaktiewe vorm van die organismes wat meestal in die afsaksels op die seebodem lê. Die hoë konsentrasie voedingsoute in die opgewelde water, tesame met die temperatuur, geskikte soutgehalte en genoeg lig, laat die siste ontkiem. Die vinnige groei en verdeling van die dinoflagellate, soms tot miljoene selle per liter water, hul saambondeling deur die wind en seestrome, asook hul vermoë om na die oppervlak te swem, laat ’n rooigety ontstaan.

 Word die toestande in die oppervlakwater ongunstig, vorm hulle weer dormante siste wat na die seebodem afsak.

 Wat is die gevolge van rooigety? 

DIE meeste rooigetye lewer nuttige bydraes tot die planktonproduksie, maar nou en dan het dit ook skadelike gevolge.

•   Fisieke skade: Digte konsentrasies van die organismes kan visse versmoor deur hul kieue te laat verstop of só te irriteer dat hulle nie genoeg suurstof uit die water kan opneem nie. ’n Tyd gelede is ook ontdek dat sekere dinoflagellaat-spesies op visweefsel teer en dus ’n vis binne ’n paar uur kan laat vrek.

•   Suurstofuitputting: Rooigetye kan ook seediere indirek doodmaak deur ’n tekort aan die opgeloste suurstof in die water te veroorsaak. As massas van die rooigety-organismes vrek omdat die voedingsoute in die water opgebruik is, neem die bakterieë vir verrotting so toe dat hulle die seediere van hul lewensnoodsaaklike suurstof beroof. Dit is waarom krewe ook op die strand kan uitloop.

•   Direkte vergiftiging: Toksiene (gifstowwe) wat deur sekere dinoflagellate geproduseer word, is van die gevaarlikste gifstowwe wat die mens ken. Die bekendste is die neurotoksiene wat normale senuweewerking ontwrig.

•   Indirekte vergiftiging: Toksiese fitoplankton wat in die spysverteringskanaal van diere soos mossels, oesters en gapermossels opbou, kan die dood veroorsaak van voëls, mariene soogdiere en ook mense wat die diere eet. Dis belangrik om daarop te let dat die gif ook nie deur hitte vernietig kan word, byvoorbeeld deur die diere te kook nie.

Hoe rooigety die mens aantas

DAAR is vier soorte indirekte vergiftiging wat skadelik vir die mens is:

•   Paralitiese skulpvisvergiftiging (PSV)—in baie opsigte die ernstigste:

Die dinoflagellaat Gonyaulax catenella sorg gereeld vir PSV langs die Weskus en het reeds verskeie mense laat sterf. Ná ’n tintel-, prikkel-, steek- of brandsensasie van die lippe, tone en vingerpunte weens die eet van vergiftigde mossels, volg verlamming van die arms, bene en nek. Ander simptome ontwikkel en die persoon kan binne 2 tot 24 uur aan respiratoriese versaking sterf.

•   Diarretiese skulpvisvergiftiging (DSV):

Die organisme wat dit veroorsaak, is die dinoflagellaat Dinophysis acuminata, wat die gifstof okadaïese suur produseer. Die simptome—waarskynlik dikwels nie opgemerk nie omdat dit nie te ernstig is nie—is diarree, naarheid, braking, maagpyn en kouekoors.

•   Neurotoksiese skulpvisvergiftiging (NSV):

Gymnodinium nagasakiese is die dinoflagellaat wat gewoonlik aan die Suid-Afrikaanse kus vir hierdie soort vergiftiging sorg. Uitbrake was al in Valsbaai in die Kaap, waar die organisme die water in die herfs olyfgroen kleur. Simptome is sensoriese abnormaliteite en sluit duiseligheid, tintelende sensasies, vergrote pupille en warm en koue gloede in. Die simptome verdwyn gewoonlik binne drie dae en niemand is nog daaraan dood nie. Hierdie rooigety-organismes kan ook mense se oë, neus en keel irriteer as dit voorkom in die seesproei wat teen hulle aanwaai.

•   Amnesiese skulpvergiftiging (ASV):

ASV is vir die eerste keer in 1987 langs die kus van Kanada waargeneem toe drie mense dood en meer as honderd akuut vergiftig is nadat hulle gekweekte mossels geëet het. Dit word deur die organisme Nitzschia pungens veroorsaak, en simptome sluit maagkrampe, braking en neorologiese reaksies soos disoriëntasie en geheueverlies in. Geen gevalle van ASV is, sover bekend, nog in Suid-Afrika aangemeld nie, maar daar word vermoed dat die organisme wel in ons kuswater voorkom.

•  Lede van die publiek kan die volgende amptelike nommer skakel en deur ’n antwoordmasjien ingelig word oor die jongste stand van rooigety aan ons kus: 021-434-4457 (die inligting word ook in Afrikaans verstrek).